Wat is jy werd vir die koninkryk?

Lees: Matteus 25:14-30

Miskien voel dit vir jou‚ as jy Jesus se storie oor die goue munte deurlees‚ dat hierdie heer darem alte streng teenoor sy werkgewers optree. Maar stel jou nou net vir ’n oomblik voor dat jy op ’n dag na jou plaaslike bankbestuurder toe gaan. In jou sak het jy die totale bedrag wat jy in ’n 100 jaar sou verdien. Nogal ’n yslike groot klomp geld‚ nê. En jy vra hom baie mooi om tog mooi om te sien na die geld‚ dit wys te hanteer‚ want een of ander tyd gaan jy dit weer nodig kry. Jy weet nog nie wanneer jy weer sal terugkom nie‚ maar jy sal dit beslis weer kom opeis. Intussen verloop daar ’n baie lang tyd. Sê maar so tien jaar. Nou is jy een mooi dag weer terug by daardie bank‚ in daardie selfde bankbestuurder se kantoor‚ om jou belegging op te eis.

Voor jou oë staan die bankbestuurder dan op en sluit die kluis van die bank oop. En daar haal hy presies daardie selfde sak geld wat jy tien jaar vantevore gegee het‚ net so uit die kluis uit en gee dit vir jou. En hy sê: “Luister‚ ek het sommer al daardie eerste dag toe u hier instap‚ gesien dat u sommer baie kwaai is. Daarom het ek besluit om liewer geen kanse te vat met u geld nie. Ek het dit toe liewers die hele tyd hier weggesteek. Hier gee ek dan nou vandag vir u u geld net so weer terug. Elke sent is nog daar. Ongelukkig is daar natuurlik geen rente by nie‚ maar u geld is darem veilig.”

Wat sal jy sê?
Ek weet gelukkig nie‚ maar een ding is baie seker: jy sal woedend wees. Jy sal die saak definitief verder neem. Jy sal vir die bestuurder sê: “Man‚ hoekom het jy nie destyds al vir my gesê jy is nie van plan om iets met my geld te doen sodat dit kan groei nie? Dan het ek dit na die bank net oorkant die straat geneem.” Daarby sal jy seker ’n ouditeur vra om vir jou die rente te bereken wat die geld oor daardie tydperk moes verdien‚ en ’n eis instel teen die bank daarvoor. Jy sal hulle eenvoudig nie met so ’n slenter laat wegkom nie. Dan behoort jy mos goed te verstaan hoekom hierdie heer van Matteus 25 so ontsteld was. “Vat net alles van hom weg‚” het die heer onmiddellik gesê. “Iemand wat so onnosel met geld werk‚ kan nie daarmee vertrou word nie. En gooi hom uit. Ek wil hom nooit weer sien nie.”

Miskien voel jy nog altyd dat die heer darem onnodig streng met die derde slaaf was. Hy wou maar net veilig speel. Na alles was dit ’n enorme klomp geld wat die heer aan hom toevertrou het. Hy het wel net één munt vir hom gegee om voor te sorg‚ maar hou darem in gedagte dat só ’n goue munt omtrent soveel geld werd was as wat ’n werker in twintig jaar sou verdien. Hoeveel verdien jy‚ terloops‚ in twintig jaar? Dis ’n aardige klomp geld‚ en dit het hierdie arme man skoon bewerig gemaak om net daaraan te dink.

Maar onthou‚ hierdie is ’n gelykenis. Jesus wil vir ons hiermee iets leer van sy koninkryk. Wat is sy boodskap? moet ons ons afvra. Wat wil Jesus vir ons leer met die heer se reaksie? Hoekom is hy dan so kwaai? En wat presies ís dit wat die werker verkeerd gedoen het?

Die vertrekpunt van die storie is dat ons ook diensknegte is presies net soos hierdie drie. Net soos in hulle geval‚ is ons Here ook nie op die oomblik sigbaar en tasbaar by ons nie. Hy het weggegaan hemel toe‚ en nie een van ons het die vaagste idee wanneer Hy weer kom nie. Vir al wat ons weet‚ kan dit môre wees. Of volgende jaar‚ dalk. Of dalk eers wanneer die volgende millennium aanbreek. Ons weet nie. Ons hoef ook nie te weet nie. Wat wel vir ons belangrik is‚ is wat Jesus met hierdie gelykenis vir ons sê: “Julle moet te alle tye gereed wees.” Dit is wat Jesus van ons vra. Hy soek nie in die eerste plek die klomp wins op sy belegging nie. Onthou‚ die heer van ons storie was ook nie net in die geld geïnteresseerd nie. Lees maar vers 21 (Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou‚ oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde’! (Matt. 25:21) EN vers 23.

Hy het nie omgegee dat die een maar helfte van die geld inbring wat die eerste een geïn het nie. Hy was geweldig ryk‚ sodat die klomp geld wat hy aan hulle toevertrou het‚ nie aan hom so ’n reuseverskil gemaak het nie. Kyk‚ hy sê sommer reguit dat dit in sy oë “min” (oor min was jy getrou) was. Nee‚ baie eerder as in die geld was hy geïnteresseerd in die feit dat hulle getrou was.

Net so verwag óns Here ook nie van ons die onmoontlike nie. Hy verwag nie in die eerste plek dat ons vir ’n geweldige opbrengs sal sorg om so vir ons ’n plekkie in die hemel te verseker nie. Al wat Hy van ons verwag‚ is dat ons getrou sal wees.

Goed en wel‚ sê jy dalk. Ons moet getrou wees. Dit klink nie na ’n onredelike versoek nie. Ons sal seker almal heel gemaklik daarmee akkoord gaan. Maar die groot vraag is: Wat beteken dit? Hoe en in watter opsig verwag Jesus moet ’n mens getrou wees?

Onthou hierdie gelykenis sluit direk aan by die vorige een wat handel oor die tien meisies. Ons moet bewus wees van die feit dat ons met Christus se wederkoms rekenskap sal moet gee. En dit is vir daardie afrekening dat hierdie gelykenis ons wil voorberei.

Om dit te verstaan moet ons dalk maar die storie weer heel van voor af vat: by die dag toe die heer aan sy knegte die goue muntstukke oorhandig het. Kom ons vra ons dan eerste van alles af: Wat presies is dit wat Jesus‚ ons Here‚ aan ons toevertrou het voordat Hy weg is? Waarna verwys hierdie klomp muntstukke‚ hierdie skat waarvoor ons verantwoordelik is?

Dis hier waar mense die gelykenis dikwels heeltemal verkeerd verstaan. Eintlik was dit die Ou Vertaling van die Bybel wat hulle hier ’n bietjie “mislei” het. Onthou jy nog dat hier sprake was van “talente” wat die heer aan sy knegte uitgedeel het voor sy vertrek? Hy het vir die een vyf “talente” gegee‚ vir die ander twee en vir die derde een net een. Die probleem daarmee is dat ons vandag iets heeltemal anders onder die woordjie “talent” verstaan as wat hier in Matteus 25 staan.

Dit het mense laat dink dat die Here vir mense verskillend begaaf het deur vir die een meer natuurlike aanleg te gee as vir die ander. Dan kon ons die outjie met die een talent eintlik baie jammer kry. Was sy selfbeeld met sy enkele talentjie nie dalk net só sleg dat hy nie kanse wou waag daarmee nie? het ons gewonder. Maar agter hierdie redenasie lê ’n heeltemal verkeerde opvatting van wat die “talente” van Matteus 25 is. Dit het heeltemal niks met natuurlike aanlegte en gawes te doen nie. Dit was ’n vertaling van die Griekse woordjie “talanton” wat eintlik ’n gewigseenheid was. ’n “Talent” is dus ’n ou Griekse muntstuk wat uit een talanton goud gemunt is. Dit het met talente soos ons dit ken niks te doen nie.

Gelukkig het die Nuwe Vertaling weggedoen met daardie “misleidende” woord. Vandag gaan jy nie meer in die Bybel lees dat die heer vir sy knegte talente gegee het nie‚ maar wel goue munte (wat presies dieselfde beteken‚ maar net soveel makliker is om reg te verstaan)‚ want dit gaan nie hier oor aanlegte‚ oor “talente” wat die Here aan ons gee nie.

Maar dit laat ons nog altyd met die baie belangrike vraag: Wat is dit dan wat die Here aan ons toevertrou het voordat Hy weg is? Die groot gawe wat God aan sy kerk toevertrou het‚ is die gawe van God se koninkryk. Dit is die skat wat Hy in ons hande agtergelaat het. Hy het vir ons verlossing gegee in Jesus Christus; die vreugde en vrede wat Jesus vandag nog bring‚ en die wonderlike voorreg om die beheer van jou hele lewe in die hande van die Koning van hemel en aarde te mag gee met die wete dat Hy altyd weet wat die regte en die beste is. Dit is die skat wat Jesus vir ons agtergelaat het. Jy kan sê dis niks anders as ons Christenskap nie. En dit is baie‚ baie meer werd as goue muntstukke of talente. Die vraag is nou net‚ hoe leef jy jou Christenskap uit?

Baie Christene besluit om liewer‚ soos hierdie derde slaaf‚ veilig te probeer speel. Hulle wil liewer niks waag nie. Daarom probeer hulle eerder die skat wat God gee‚ wegsteek. Hulle probeer dit net vir hulleself hou. Hulle waag nooit om hulle Christenskap voluit uit te lewe nie‚ maar wil eerder volstaan met ’n minimum oorgawe. Die probleem met hierdie keuse is net dat die Here beslis nie met hulle tevrede sal wees wanneer Hy terugkom nie. Ons dien ’n Here wat geen luiheid en geen ontrouheid duld nie.

Dit mag dalk oorbodig klink om spesifiek te sê dat die Christelike lewe ’n geloofsaak is. So baie mense sit hulle lewe lank in die kerk en is selfs baie getroue lidmate van die kerk. Hulle bring hulle kant by al wat ’n aktiwiteit van die kerk is‚ en lewe eintlik ’n baie voorbeeldige lewe. Maar dit alleen is nie genoeg nie. Iewers langs die pad moet jy ook waag met hierdie gawe. Jy moet waag om die geloofsprong te maak. Natuurlik is dit baie gevra om die beheer van jou lewe net so af te staan aan iemand anders. Natuurlik sal jy voor die tyd wonder of jy ooit regtig daarvoor kans sien. Maar soos daardie klein kindjie nie eers twee keer dink as sy pa roep nie‚ maar eenvoudig in sy pa se arms inspring‚ so moet jy ook waag en eenvoudig die geloofsprong neem in die arms van God in.

Vir moderne mens om van alle beheer van sy lewe afstand te doen‚ en ’n ander – selfs as die ander God is – toe te laat om voortaan alle besluite in sy lewe te neem‚ is natuurlik baie gevra. Dis inderdaad ’n waagstuk. Dis ’n enorme waagstuk om te bid soos Jesus ons geleer het: Heer‚ laat u wil geskied‚ met die onuitgesproke implikasie: laat mý wil tog asseblief nie geskied nie. Maar iemand wat sy lewe lank te versigtig is vir daardie waagstuk‚ verloor op die ou end alles.

Wie dít nie waag nie‚ sal nooit wen nie en sal nooit die volheid smaak van die lewe wat God vir sy kinders wil gee nie.

Onthou dat om te bewaar en om te plant twee heeltemal verskillende prosesse is. God het jou nie gered en verlos sodat jy sy gawe in ’n verseëlde kruik kon bewaar en soos gewoonlik voortleef nie. Hy verwag dat jy jou lewe‚ jou gawe en jou ontoereikendheid in die grond van die geloof sal plant en sterf sodat deur jou kan leef. Hy het jou lief‚ maar Hy kyk ook by jou verby na die oes wat Hy deur jou sal lewer.

Moenie die belegging wat God in jou gemaak het‚ begrawe nie‚ al is dit hoe klein. Hy probeer om jou leegheid te gebruik om sy volheid openlik te vertoon. Moet nooit met die vader van die leuen kant kies en sê: ‘Wel‚ Hy is klaar met my hier’ nie.

God het in werklikheid vir die apostel Paulus gesê: ‘My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is’ (2 Korintiërs 12:9).

Gideon se lewe is eintlik ’n praktiese toepassing van hierdie gelykenis.

Gideon is die klassieke held‚ die onwillige rekruut wat deur God geroep is vir ’n onmoontlike taak onder verskriklike omstandighede.

Gideon se eerste reaksie teenoor die goddelike teenwoordigheid was skynbaar ongeëwenaard in die Skrif. Toe die Here in die vorm van ’n engel aan hom verskyn en vir Gideon ’n ‘dapper man’ noem‚ het Gideon onmiddellik gereageer deur te sê: ‘Ekskuus‚ Meneer‚ maar as die Here by ons is‚ waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het’? (Rigters 6:13).

Die Here se antwoord was net so eienaardig: ‘Gaan met die krag wat jy het (met jou een talent – HJJK) en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe‚ Ek stuur jou’! (Rigters 6:14). God het skynbaar iets in Gideon gesien wat hy nie in homself gesien het nie. Gideon het ’n menslike perspektief van die omstandighede gehad.

Gideon het gedink hy was sterk genoeg om God te kritiseer‚ maar toe die Here die bordjies verhang en hom ’n onmoontlike bonatuurlike opdrag gee‚ het hy vinnig van wysie verander.

Hierdie potensiële held uit die kleinste stam in Israel se visie moes reggestel word. Sy siening van die werklikheid was vaag en verwring deur die eienaardige mengsel van sy persoonlike sterkpunte en vrese. Gideon het nog nie die laagste punt bereik nie‚ maar hy het begin besef dat dit ‘sigbaar’ was van waar hy gestaan het. Hy het gesê: ‘Ekskuus‚ Meneer‚ waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort‚ is die armste in die hele Manasse‚ en van my pa se kinders het ek die minste aansien.’ (Rigters 6:15).

Gideon het twee keer ‘vlieswol’ of toetse onder feitlik onmoontlike omstandighede gebruik in ’n poging om God se opdrag te vermy‚ maar dit het nie gewerk nie. God was daarop uit om hierdie bulderende man op sy woord te daag en van hom ’n nul te maak sodat Hy wonderwerke deur hom kon verrig. Toe die vyande van Israel saamtrek om oorlog te maak‚ het Gideon ’n leër van 32 000 man bymekaar geroep. Toe het God gesê: ‘Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: “Ek het myself gered”’ (Rigters 7:2).

God het vir Gideon beveel om almal wat gebewe het of bang was huis toe te stuur. Tot Gideon se teleurstelling het 22 000 manne dadelik hulle goed gevat. As dinge toe sleg gelyk het‚ sou Gideon dit nog veel erger beleef het.

Weereens het God gesê: ‘Daar is nog te veel.’ Hoekom? God ken mense se harte. As hulle met 10 000 man in die stryd sou tree‚ sou hulle in die versoeking kom om ’n oorwinning deels aan hulleself toe te skryf.

Toe Gideon se leër effektief tot ’n piepkleine mag van slegs 300 man beperk is‚ het God in werklikheid gesê: ‘Nou kom jy op my terrein.’ (Gideon se klein mag van 300 man sou teen ’n geraamde mag van 135 000 man optrek – hierdie ongelykheid was net reg vir ’n wonderwerk.) Dit is weereens bewys dat God se perspektief en die mens se perspektief nie dieselfde is nie.

U sien‚ behalwe dat ons moet waag om die beheer oor ons lewe aan die Here oor te gee‚ moet ons ook in nog ’n opsig waag. Ons moet woeker met hierdie gawe wat die Here aan ons toevertrou het. Ons moet die belegging wat Jesus in ons lewe gemaak het‚ dividende laat oplewer. Ons moet dit laat vermeerder‚ dit versprei‚ oral waar ons kom. Die Here verwag van jou om te waag met hierdie gawe. Belê dit in mense se lewe‚ sodat dit baie dividende kan oplewer. Moenie dit probeer wegsteek nie‚ dan is jy ontrou aan jou Here. Bou dit uit in jou eie lewe en in die lewe van die mense rondom jou.

’n Mens kan nie in die geheim ’n Christen wees nie. Dan is jy besig om hierdie kosbare muntstuk te begrawe wat die Here aan jou toevertrou het en loop jy die risiko dat jy op die ou end ook dit sal verloor. Ware oorgawe aan die Here impliseer ook dat jy oral waar jy kom en in elke menseverhouding waarin jy staan‚ jou kleure duidelik sal wys. Jy moet jou volkome vereenselwig met die belange van die koninkryk van God.

Wat ’n stuk troos!
Miskien wonder jy of jy dit ooit sal kan regkry. Jy voel dalk selfs dat jy daarvoor net totaal onbekwaam is. Verwag die Here nie dalk te veel van jou nie? Kyk weer mooi na die verhaal wat Jesus hier vertel. Het die heer ewe veel van al hierdie knegte verwag? Beslis nie. Hy het hulle geken‚ en geweet aan wie hy wat kan toevertrou‚ en van wie hy ook weer wat kan verwag.

Dis die goeie nuus in hierdie gedeelte. God ken ons mos vandag nog elkeen. Hy weet presies wat Hy van jou ook kan verwag; Hy is dan die een wat jou gemaak het. Hy gaan beslis nie van jou meer verwag as wat Hy weet jy kan gee nie. Hy verwag nie van ons wonderwerke nie. Al wat Hy vra‚ is dat jy werklik getrou sal wees‚ werklik betrokke sal wees‚ werklik besig sal wees om te woeker vir sy koninkryk. Onthou‚ Jesus sê hier baie spesifiek van die heer: “Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee.”

Ten slotte is daar net nog een klein misverstand wat ons uit die weg moet ruim. Dis daardie versie amper teen die einde van hierdie gedeelte waar Jesus sê: “Aan elkeen wat het‚ sal meer gegee word‚ en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie‚ sal ook die bietjie wat hy het‚ weggevat word” (v. 29). As jy dit so lees‚ klink dit darem na harde woorde hierdie. Trek Jesus dan hulle wat al klaar baie het voor‚ en dan vat Hy nog by die arme ou wat in elk geval omtrent niks het nie? Dis darem uiters onbillik.

Natuurlik verstaan ons vir Jesus heeltemal verkeerd as ons dink dat dit is wat Hy sê. Ons weet mos darem dat dit glad nie is hoe God met ons werk nie.

Hierdie verkeerde verstaan van die vers hang nou saam met die kwessie van die “talente” waarna ons vroeër verwys het. Maar teen dié tyd weet ons mos darem al dat “die een wat het” nie die besonder begaafde‚ talentvolle mens is wat mooi kan sing én goed met geld kan werk én sê nou maar ook nog die vermoë het om met mense te werk nie. “Die een wat het” is die een wat die gawe van God se koninkryk het‚ met ander woorde‚ daardie persoon in wie se lewe God werklik Koning is. Hy sal al meer ontvang. Hy sal God se seën in hierdie lewe in oorvloed ontvang‚ en daarna selfs ook die gawe van die ewige lewe ontvang sodat hy oorvloed sal hê.

Aan die ander kant sal die een wat nie deel het aan God se koninkryk nie‚ op die ou end niks hê nie. Een wat sy lewe lank digby die kerk bly maar nooit die waagstuk aangaan om God in beheer van sy lewe te stel nie‚ maar lewe asof die evangelie ’n enorme geheim is waarvan niemand mag weet nie. Hý sal niks oorhou nie.

Die geweldige waarskuwing is: ondersoek jouself. Wat maak jy met die skat wat God aan jou toevertrou het?

Amen

Ds. Hentie Krüger
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812

Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.