|
Preek:
|
19 Junie 2005 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Eksodus 34
|
|
Teks:
|
Eksodus 34:14
|
|
Tema:
|
Is jy regtig gelukkig?
|
SKAKEL die TV aan en jy sien vir Dr. Phil wat vir jou vertel hoe om in kontak met jouself te kom‚ en dan sal jy gelukkig wees. Nog ’n bietjie later sit ons vasgenael en kyk na Oprah waar sy vir mense vertel hoe hulle lewensresepte moet gebruik om lewensprobleme op te los. Nog later kan jy inskakel by “Crossing over with John” waar hy geliefdes van ’n afgestorwene kamtig met mekaar in kontak bring sodat die agtergeblewenes nou regtig vrede en geluk kan ervaar. Intussen word jy deur advertensies gebombardeer met beelde wat vir jou vertel hoe wonderlik die lewe nou eintlik is. As jy geld het kan jy jou verlustig in die branders wat sy valletjies onderrok op die strand van die een of ander eksotiese eiland‚ uitrol. Intussen is die New Age besig om te sê dat ons maar net moet hande vat en saam staan en almal moet almal akkommodeer dan is jy regtig gelukkig. Moenie iemand anders konfronteer nie‚ want sê nou net hy/sy is reg en dan sit jy met ’n rooi gesig. Kom ons vat hande en sing “ring a ring of rosies” en almal sal gelukkig wees. Gaan woon ’n kursus by om jou eintlike doel op aarde te ontdek en DAN sal jy gelukkig wees. Ons eintlike doel op aarde is mos niks anders nie as om God te verheerlik. As ek alles so rondom ons aanskou‚ alles wat jou kan insluk‚ dan wonder ek met groot erns‚ maak ons nog tyd om by God te wees?
Ek vra weer: Is jy regtig gelukkig?
Ek kan regtig verstaan dat geleerdes sê dat die eerste gebod die eintlike hart van die hele Bybel is.
En wat staan daar? Ek is die Here jou God … Jy mag naas my geen ander gode hê nie. Jy mag naas My nie jou hoop op ander gode stel nie. Jy mag naas my nie jou verwagting oor môre op iets anders plaas nie. Want wat gebeur as jy dit doen? Kyk vir Israel. Daardie Tien Gebooie was nog nie eens geskrywe nie‚ toe sê die volk vir mekaar: Julle weet‚ dit is darem nou al lank dat Moses daar bo op die berg by God is. Sê nou die man kom glad nie terug nie? Ons God het ons nou wel uitgelei uit Egipte‚ uit die plek van slawerny‚ en ons het nogal ’n Paasfees gehad‚ lammers geslag‚ bloed aan die deure gesmeer – alles wonderlik‚ en ons is toe daar weg. Maar hier in die woestyn lyk dinge darem nie goed nie. Dink julle nie ons moet die Here net so ’n bietjie help nie? Hy is dalk nie meer heeltemal in beheer nie. Kom ons maak ’n goue kalf – ons eie god – sodat ons darem net kan sien hier is iets waaraan ons kan vashou vir ons geloof. Want God is bietjie onsigbaar. Hy is daar agter die wolke‚ daar bo op die berg.
Toe Moses sien hoe ontrou die volk was‚ raak hy so woedend dat hy die klippe waarop die wet geskryf was‚ flenters gooi. Maar in God se ongelooflik groot genade het Hy later die verbond hernuwe en die Tien Gebooie is weer op kliptafels geskrywe (Eks. 34:1).
Toe kom die wet weer na hulle toe‚ weer met die eis: “Julle mag nie ’n ander god vereer nie‚ want Ek‚ die Here‚ eis onverdeelde trou aan My” (34:14). En wat doen God se volk? Hulle het skaars die beloofde land binnegegaan‚ waar hulle die enigste volk‚ met ’n enkele God was (die ander volke het ’n veelgodedom gedien)‚ of hulle begin weer twyfel. Hulle sê vir mekaar: Ons God sê nou wel Hy is die enigste Here‚ God oor die hele wêreld‚ maar dit is darem nou al lank droog. Lyk ons Hy sukkel ’n bietjie. Moet ons nie dalk daar by die landerye gaan dans vir die god van die reën nie? Dalk help dit. Dis nie dat hulle – of ons! – die Here heeltemal wil vervang nie‚ o nee! Dit is net dat ons naas Hom ook op ander dinge vertrou.
Toe Israel nie meer net ’n klomp los stamme in die beloofde land was nie‚ maar soort van ’n staat geword het soos die omringende volke‚ het hulle begin oorlog maak. En toe sê hulle: Ja‚ die Here is nou wel ons Here‚ maar ons het eintlik ’n koning ook nodig. Want ons kan ’n aardse koning darem sien en‚ al sou ons nou aan hom belasting moet betaal‚ sal hy darem vir ons moet sorg.
Wanneer Christus die saligsprekinge uitspreek‚ dan begin Hy met die belangrikste klousule van die “grondwet” van sy nuwe koninkryk:
Gelukkig is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is‚ want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
Wat Jesus in Matteus 5:1-3 sê‚ is dat ’n mens jou totale afhanklikheid van die Here moet besef en vir jou eie behoud en geluk jou oë gefokus moet hou op Hom alléén. As jy gelukkig‚ rêrig gelukkig wil wees‚ maak God alléén die hoofprioriteit in jou lewe. Dit sal ’n ongelooflike positiewe effek op jou lewe hê. Dit sal soos suurdeeg inwerk op al die ander belange en verhoudings in jou lewe.
Mens wat van God afhanklik is‚ weet dat hulle nie sonder Hom kan lewe nie. Daar is ’n “oggendgebed” wat dit só treffend verwoord:
Liewe God,
Sover het dinge vandag nog redelik goed gegaan. Ek het nog nie geskinder of my humeur verloor nie; ek was ook nie aaklig‚ gierig‚ nors‚ klaerig of selfsugtig nie. Ek is oneindig dankbaar daarvoor. Maar oor ’n paar minute gaan ek uit die bed klim‚ en van dan af gaan ek verseker al die hulp nodig hê wat daar vir my beskikbaar is.
Amen
Ons kan met groot vrug die Jode se gebruik volg en elke oggend en aand die Sjema op ons lippe neem. Wat is die Sjema? Sjema beteken letterlik “Hoor!” of “Luister!” Dit is oproep om God lief te hê‚ en so ons eie uniekheid en ons naaste se uniekheid te besef.
Ons vind die Sjema in Deuteronomium 6:4-5: “Luister‚ Israel‚ die Here is ons God‚ Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel‚ met al jou krag.”
En die Hebreeuse woord Sjema het ook die verdere betekenis van “gehoorsaam wees.” Daarom het om reg te luister na God altyd die regte optrede tot gevolg. Geen wonder die kerkvader Augustinus het hierdie waarheid kwytgeraak nie: “Wees lief vir God; doen wat jy wil.” Maar omdat God‚ en net God‚ die belangrikste prioriteit in jou lewe is‚ sal jy altyd die regte ding wíl doen.
Dit is waarom ons teksvers in vandag se tyd so belangrik is. “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.” Daar kán naas Hom geen ander gode wees nie.
Wees nou eerlik‚ het jy al daaraan gedink dat ware geluk in afhanklikheid geleë is? Dis nogal maklik om te sê dat jy van God afhanklik is. Dit klink na die regte ding om te sê. Maar om dit regtig te bedoel is ’n ander saak.
Waaraan dink jy as jy sê dat jy van God afhanklik is? Dink jy aan brood en botter? Dink jy aan die gespook dag na dag om kop bo water te kan hou? Dink jy aan God vanaf ’n siekbed? Dink jy aan ’n verhoudingskrisis wat jy nie kan oplos nie? Dink jy met ander woorde aan dié dinge waarmee jy met al jou beskikbare middele ongelukkig niks meer kan doen nie. Nou moet ’n hoër hand maar help. Kan ’n mens wat in redelike welvaart leef werklik weet wat afhanklikheid beteken? Kan jy miskien met dié stelling saamstem:
AFHANKLIKHEID VAN GOD IS VIR ONS MEESAL ’N TOEVALLIGE NOODERVARING EN NIE ’N DAAGLIKSE LEEFWYSE NIE.
As dié stelling waar is‚ het ons ’n totaal verkeerde idee van wat afhanklikheid van God beteken. Dan gaan dit vir ons alleen maar om noodhulp ten opsigte van lewensmiddele en lewensnood. Dan dink ons aan God se bystand slegs in materiële terme.
Oor afhanklikheid kan ’n mens ’n hele klomp dinge sê‚ waarvan die belangrikste is dat geen mens afhanklik wil wees nie. Die mens wat afhanklik gebore word‚ aan die begin afhanklik geskape is‚ is deurentyd besig om homself van dié afhanklikheid te probeer loswoel. Hy wil graag onafhanklik wees. Sy eie baas. Bo uitkom‚ heel bo as dit kan. Hy wil niemand in die oë kyk nie. Hy wil niemand se genadebrood eet nie. Hy wil voor niemand bakhand staan nie.
Daarom is die mens ’n soeker na al die dinge wat hom onafhanklik kan maak. Geld en status en mag en gesondheid. Calvyn het dit goed begryp. Daarom skrywe hy dat die probleem met Christenmense – nie met heidene nie! – is dat hulle meesterfabrikante van veelgodedom is. Ons maak ’n bedryf daarvan om naas God vir ons ander “gode” te fabriseer. Jy ken die versekeringsmaatskappy wat in hulle reklame so ’n groot geel sambreel wys en sê: Koop ons polisse‚ dan maak ons oor jou ’n groot sambreel oop‚ daai multiplex-sambreel. Hy cover alles.
Nou‚ so maak ons ook. Ons sê: Ek glo natuurlik in God. Ek sal Hom nooit los nie (asof dit nie Hy is wat óns vashou nie!). Maar ’n mens kan darem nie net op die Here vertrou nie. Jy moet realisties wees in die lewe. Jy moet darem vir breër beskerming soek in die lewe. En dan hang jy jou hart op aan so ’n multipleks van ander gode naas die Here God. Dis dodelik.
Geluk en vrede is om volledig van God afhanklik te wees en Hom volkome te vertrou vir môre en oormôre.
Dis mos wat God ons oor geloof leer:
Om te glo‚ is om seker te wees van die dinge wat ons hoop‚ om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Hebreërs 11:1).
Dit is wat ons as Christene in hierdie land van ons nodig het‚ ’n onwrikbare vertroue op God alleen; in ons huwelike‚ in ons gesinne‚ in ons besighede en in ons kerke. God sal sy beloftes waar maak. Dit gee ons die krag om vooruit in die verte te kyk en te juig. En intussen aan te gaan met hard werk en woel en praat en preek en moeg raak‚ en weer aangaan. Want ons sien die vervulling van God se beloftes in die verte.
Ek gaan nou “Amen” sê en as ek dit klaar gesê het en jy sê vir my‚ predikant ek het nie ’n idee wat vorentoe in my eie lewe moet gebeur nie‚ dan kan ek net vir jou sê: Nou moet jy jou juis nie bekommer nie. Want jy kán nie en hoef ook nie noodwendig te weet nie. Maar God weet. Jy is nou presies op die plek waar jy moet wees. Onmagtig in jouself. Volkome afhanklik van God. Jy gaan nou ’n woestynreis saam met God binne‚ waarin jy dikwels sal sê: Ek weet nie lekker hoe en waarheen nou nie‚ maar elke dag sê jy ook: Here‚ gee my net die manna vir vandag. Want ek gaan hierdie pad saam met Ú loop. Dan is jy regtig gelukkig!
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.