As mense spot
Lees: Matteus 27:27-31 41-44; Markus 15:29-32; Lukas 22:63-65; 23:35-43
Teks: Lukas 23:34
Die gesprekke rondom die kruis daardie Vrydagoggend was bitter. Van die omstanders: Kom van die kruis af as jy die Seun van God is! Van die skrifgeleerdes: Hy het ander gered maar Homself kan Hy nie red nie. Van die soldate: As jy die koning van die Jode is red jouself.
Bitter woorde.
Bytend van sarkasme.
Hatig.
Oneerbiedig.
Was dit nie genoeg dat Hy gekruisig word nie? Was dit nie genoeg dat Hy as misdadiger beskaam word nie? Was die spykers nie genoeg nie? Was die doringkroon te sag? Was die géseling te kort? Vir party was dit klaarblyklik die geval.
Petrus n skrywer wat gewoonlik nie baie beskrywende werkwoorde gebruik het nie sê dat die omstanders die gekruisigde Christus beledig (1 Pet. 2:23) het. Hulle het nie net gejil of gepraat of geskree nie. Hulle het hom beledig. Hul bedoeling was deur en deur om Hom seer te maak innerlik ook te verwond. Ons het die liggaam gebreek; kom ons breek nou die gees! Hulle het dus hul boë met eiegeregtigheid gespan en skerp pyle vol suiwer gif na Hom geskiet.
Van al die tonele om die kruis onstel hierdie een my die meeste. Watter soort mens vra ek my af sal n sterwende man bespot? Wie kan so gemeen wees om die sout van versmading in oop wonde te vryf? Hoe laag en pervers is dit nie om iemand te hoon wat deurtrek is van die pyn nie. Wie sal na n misdadiger beduie en van die lag uitbars wanneer hy die galgtou om sy nek het?
Jy kan verseker wees dat Satan en sy duiwels die oorsaak was van sulke smerigheid.
Dit is opvallend hoe sterk die bespotting van Jesus in die Evangelies belig word. Dit kom in elkeen van die Evangelies voor. Daarby is dit so dat Jesus bespot is deur verskillende groepe. Die groepe verteenwoordig eintlik die hele samelewing. Daar kan geen twyfel wees dat die bespotting van Jesus sy lyding baie verdiep het nie.
In Lukas 22:63-65 lees ons dat die manne wat Jesus bewaak het aangehou het om met Hom die spot te dryf. Hulle het Hom geslaan en geblinddoek en gesê: Jy is mos n profeet! Sê wie het jou geslaan! Hulle het geweet dat Jesus bekend gestaan het as n profeet. Heel moontlik het hulle al vroeër na Jesus geluister.
Almal het immers geweet dat Hy met besondere gesag die woord van die Here verkondig het. Hulle begryp egter nie waaroor dit gaan nie. Vir hulle is n profeet iemand wat die toekoms voorspel en ook ander voorspellings kan doen soos om geblinddoek te kan sê wie dit is wat Hom geslaan het. Dit is tog nie wat n profeet se taak behels nie. Die taak van n profeet is immers om die woord van die Here oor te dra. n Profeet is nie n voorspeller nie maar n verkondiger van die Woord van die Here!
Die tweede groep wat Jesus bespot het is die soldate. Hulle was in diens van die Romeinse owerheid. Hulle trek sy klere uit en gooi n pers mantel om Hom. Hulle vleg n doringkroon en sit die op sy kop en gee vir Hom n stok in die hand. Hulle buig voor Hom en sê: Ons groet u Koning van die Jode. Hulle spoeg op Hom vat die stok by Hom en slaan Hom op die kop. Die soldate het Jesus verneder. Hulle bespot sy koningskap. Hulle trek Hom spottend aan as koning. Konings het pers mantels gedra. In plaas van n kroon van metaal met edelgesteentes maak hulle n doringkroon. In plaas van n septer gee hulle vir Hom n stok.
Die soldate het kennis gedra van die aanklag teen Jesus naamlik dat Hy die Koning van die Jode sou wees. Hiermee dryf hulle die spot. Hulle maak Jesus belaglik. Hulle het nie geweet waarom dit regtig gaan nie. Van sy koningskap begryp hulle niks. Eintlik kon mens hulle oor hulle verwaandheid en onnoselheid jammer gekry het as dit nie so tragies was nie.
Die derde groep wat Jesus verneder en bespot is die destydse kerkleiers. Die priesterhoofde skrifgeleerdes en familiehoofde. Hiermee beklemtoon Matteus dat die hele kerkleierskap Jesus bespot het. Hierdie lafaards wag tot Jesus aan die kruis hang voor hulle Hom bespot. Dan kan hulle Jesus nie aanraak soos die manne en soldate nie. Dan kan hulle hulle mos nie verontreinig deur fisiese kontak met Hom nie! Hulle sê: Ander het Hy gered maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan n behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die seun van God. Die kerkleiers spot met Jesus as Verlosser. Soos kerkleiers nou eenmaal kan wees het hulle baie te sê. Hulle erken dat Jesus ander gered het. Hulle kan nie anders nie want daar was mos baie getuies onder andere hulleself. Volgens hulle is die ironie dat Jesus nie vir Homself kan doen wat Hy vir ander gedoen het nie. Feit is dat Jesus Homself nie gered het van die kruis nie juis omdat Hy ander en ons wou red! Met hierdie woorde kom hulle onbegrip na vore.
Ewe arrogant stel hulle spottend n voorwaarde vir geloof: as Jesus van die kruis afkom sou hulle glo. Hoe tragies! Geloof kan mos nooit voorwaardelik wees nie. Hoe kan jy nou wil glo as jy eers wil sien en as daar eers aan jou voorskrifte en eise voldoen moet word? Bowendien as Jesus wel van die kruis sou afkom sou sy versoeningswerk nie voltooi gewees het nie en sou die basis van geloof verval. Hulle spot bereik al dieper dimensies.
Hulle spot met die Goddelike Seunskap van Jesus.
Hulle beweer dat God tog nie omgee vir Jesus nie!
As God iets vir Jesus gevoel het sou Hy Hom gered het spot hulle.
Hoe diep sny hierdie opmerking nie.
Miskien het dit seerder gemaak as enigiets anders wat gesê is.
Hoe laag kan kerkleiers daal!
In Markus 15:29-30 lees ons dat ook die mense wat by die kruis verbygeloop het Jesus gelaster het. Verbygangers spot! Hulle sê smalend: Jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! Red jouself en kom van die kruis af. Die verbygangers het kennelik gehoor wat Jesus gesê het. Miskien was hulle toe aangegryp deur sy woorde. Hulle het immers onthou wat Hy gesê het. Maar ook hulle het dit nie verstaan nie. Nou aap hulle die kerkleiers na met hulle eis dat Hy van die kruis moet afkom en so Homself moet red. In Lukas lees ons dat die volk by die kruis gestaan en lag het (Luk. 23:35). Kan mens dit oorvertel: mense mede volksgenote lag vir iemand wat besig is om te sterf! Is daar dan geen menslikheid nie? Nie eens n dier sal staan en lag as een van sy soort sterf nie maar die kroon van die skepping doen dit. Dis onbegryplik. Kan ons ons indink in die diepte van Jesus se lyding? Hoe kan diegene vir wie Hy die hoogste prys betaal Hom so behandel?
Nog is dit nie die einde van die vernedering en gespot nie. Een van die misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is het Hom ook bespot. Sy spot sluit aan by die van die kerkleiers en soldate. Kan mens glo dat n sterwende mens nog met iemand anders kan spot. Wys net hoe gehard hierdie misdadiger was. Selfs as hy sterf gee hy nie n blou duit om nie en bespot hy Jesus. Die ander misdadiger toon n ander gesindheid. Hy pleit om genade. Hy vind genade.
Die woorde wat daardie dag gevlieg het was bedoel om seer te maak. En daar is niks so pynliks soos woorde wat bereken is om seer te maak nie. Dis hoekom Jakobus die tong n vuur genoem het. Sy brandwonde is net so vernietigend en verwoestend soos dié van n blaaslamp.
Kan jy sien wat Jesus nie gedoen het nie?
Hy het nie terugbeledig nie.
Hy het nie teruggekap nie.
Hy het nie gesê: Ek sal jou terugkry nie!
Kom n bietjie nader en sê dit vir my in my gesig!
Wag net tot ek weer opgestaan het ou maat! nie.
Nee dié soort woorde het nie oor Jesus se lippe gekom nie.
Kan jy sien wat Jesus wel gedoen het? Hy het alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel. Of om dit eenvoudiger te stel: Hy het dit aan God oorgelaat om te oordeel. Hy het dit nie op Hom geneem om wraak te sweer nie. Hy het nie op n verskoning aangedring nie. Hy het nie sluipmoordenaars gehuur of die polisie op hulle gesit nie. Verstommend genoeg het Hy tot hul verdediging gekom. Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie! (Lukas 23:34)
Ja die woorde wat daardie Vrydagoggend gespreek is was bitter. Die woordklippe wat geslinger is was bedoel om te kwets. Hoe Jesus met n liggaam deurtrek van die pyn oë verblind deur sy eie bloed en longe wat na suurstof smag tot die verdediging van sulke hartelose boewe kon kom gaan ons menslike verstand te bowe. Nog nooit het enigiemand ooit sulke liefde aanskou nie. As iemand dit al ooit verdien het om wraak te neem was dit Jesus. Maar Hy het dit nie gedoen nie. Pleks daarvan het Hy vir hulle gesterf. Hoe kon Hy dit doen? Ek weet nie. Maar ek weet wel dat my wonde ewe skielik glad nie meer pynlik is nie. My griewe en kwade gevoelens
lyk skielik kinderagtig.
Ons veroordeel die spotters. Miskien moet ons nie al te vinnig oordeel nie. Natuurlik is dit wat hulle gedoen het verwerplik en geheel en al onaanvaarbaar en sonde en behoort dit veroordeel te word. Maar is ons nie deel van die spottende skares nie? Ons staan nie letterlik by die kruis en spot nie maar bespot ons Jesus nie op ander wyses nie?
Die spotters het gespot met die Koningskap van Jesus.
Maak ons nie van die koningskap van Jesus n bespotting as ons leef soos ons wil nie? Ons leef nie aldag in liefde nie. Ons luister nie altyd na alles wat Hy sê en vra nie. Dan spot ons ook met sy koningskap.
Hulle het met Hom as Profeet gespot.
Ons bespot ook Jesus die Profeet as ons nie na sy boodskap luister nie. As ons sy woorde verdraai of ignoreer maak ons n bespotting van sy profetiese taak.
Hulle het Jesus as Verlosser bespot.
Ons bespot Hom ook as ons nie verlostes leef nie! Ons maak n bespotting van Christus as ons leef soos ons elke dag in die koerante lees en oor die TV sien. Wat het van die verlossing in Christus geword; van die uitlewing van sy boodskap en van sy koningskap?
Destyds het mense met Jesus gespot omdat hulle nie verstaan het wat Jesus sê nie. Verdraai ons nie sy boodskap nie? Begryp ons dat Hy gekom en gesterf het om ons vry te maak sodat ons tot sy eer kan leef en dit waarvoor Hy gestaan het en wat Hy ons geleer het elke dag kan uitleef? Hulle het gespot omdat hulle verwaand en arrogant was net soos ons.
Ek wonder soms of ons nie Christus se liefde net so duidelik kan sien in die mense wat Hy geduld het nie as in die pyn wat Hy verduur het.
Verstommende genade.
Amen.
Ds. Hentie Krüger
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.
hentie@midweek.co.za
24.03.2005