|
Preek:
|
25 April 2004 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Filippense 1
|
|
Teks:
|
Filippense 1:4-5
|
|
Tema:
|
Blydskap in ons soeke na sin
|
DAAR is ’n verskil tussen geluk en blydskap in die lewe. Ons almal wil gelukkig wees. Vir baie mense is dit inderdaad ’n lewensideaal. En ons doen alles in ons vermoë om dit na te jaag: Ons koop en versamel‚ ons soek gedurig weer nuwe ervarings‚ ons koester ons liggaam. Geluk soek ons gewoonlik in dinge‚ in wat ons kan besit en ervaar‚ in ons omstandighede‚ in ons liggaam.
Ek dink nie dit is op sigself verkeerd nie. Die probleem ontstaan wanneer ons reken dit is al wat daar in die lewe is. Want as ons speelgoed breek of ons gesondheid knak of ons in ’n finansiële krisis beland‚ is die vraag: Wat bly oor? Waarin vind ons dán ons geluk? Of verdwyn ons gevoel van gelukkig-wees dan? Ook in die wyer samelewing lyk dinge nie goed nie. Armoede‚ MIV/vigs en geweld is op ons voorstoep. Nou kan dit so maklik gebeur dat ons – in ’n poging om aan hierdie moeilike omstandighede te ontvlug – juis ons geluk in allerlei dinge begin soek.
Met blydskap is dit egter anders as met geluk. Blydskap lê dieper onder die oppervlak. En dit is omdat blydskap gebou is op die vaste versekering dat ons enigste ware troos in die lewe in God lê. In God se liefde vir ons‚ in God se betrokkenheid by ons‚ in die wete dat God daar is – kom wat wil! Ons omstandighede bepaal ons geluk‚ terwyl ware blydskap in Christus wortel.
Paulus skryf aan die gemeente in Filippi as iemand wat hierdie dieper blydskap‚ wat nie van omstandighede afhang nie‚ self ervaar. Hy is immers in die tronk en het dus alle rede om mismoedig eerder as vol vreugde te wees. Hy skryf aan hierdie gelowiges met wie hy ’n besondere verhouding het. Sy brief getuig dan ook van sy liefde en toegeneentheid teenoor die Filippense. Hulle was vir hom ’n bron van blydskap. Dit is nie verniet dat ons hierdie brief ’n blydskapbrief noem nie‚ want dit beklemtoon ware Christelike vreugde. Ja‚ 16 keer skryf Paulus van blydskap en vreugde. Elke bladsy straal hierdie boodskap uit.
Wat sou die bron van sy blydskap wees. Kom ons ontdek saam en put daaruit vir ons eie omstandighede. Want ware blydskap gee ’n mens nuwe energie vir die groot uitdagings waarvoor ons staan.
Kom ons begin by die begin:
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
Hierdie groet waarmee Paulus die gemeente groet herinner hulle dadelik daaraan aan wie hulle behoort en terselfdertyd is dit ook ’n groet waarin twee van die mooiste evangeliewoorde saam gebruik word: “genade” en “vrede.”
Hierdie twee woorde verteenwoordig die gewone groet wat in twee tale gangbaar was.
Die Grieke se groet was “charis” wat genade beteken.
Die Joodse groet was weer: “shalom” wat vrede beteken.
Die Bybel gebruik daardie twee woorde‚ maar gee aan elkeen ’n heeltemal nuwe en veel ryker inhoud.
- Die woord “genade” beteken: goedheid en guns wat geskenk word sonder dat daar enige sprake van verdienste kan wees (vgl. Rom. 3:23-24). Dit is goedheid wat bewys word aan mense wat dit glad nie werd is nie‚ inderdaad juis ten spyte van hulle onwaardigheid.
- Die woord “vrede” dui op veel meer as net ’n vrede wat die afwesigheid van rusie en konflik beskrywe. Dit het die totale welsyn van mense in gedagte‚ hulle hoogste heil. Om te verduidelik: ’n egpaar het nie noodwendig vrede as hulle nooit stry nie. Dit mag wees dat hulle nooit stry nie omdat hulle nie meer met mekaar praat nie. So ’n huwelik is leeg. As ’n man en vrou ware vrede in hulle huwelik beleef‚ beteken dit hulle beleef ’n volheid van vreugde‚ die getroude lewe in sy volle rykdom. Die geheim van hierdie vrede‚ in die Bybelse sin van die woord‚ is dat dit herstelde verhoudings‚ versoening as grondslag het – en dit is van genade ook waar.
“Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus‚” lui die groet. Daarmee is die geheim en oorsprong aangedui: dit kom van God wat dit deur Jesus Christus‚ sy Seun‚ bewerk het en skenk. Nêrens anders is dit moontlik of te vind nie. Genade beteken dat God ons die saligheid skenk sonder dat ons dit ooit verdien het of kan verdien. Ons sondes is vergewe al verdien ons dit nie‚ omdat Jesus Christus dit vir ons verdien het. Dit is ook alleen omdat Hy ons met God versoen het‚ dat ons vrede met God en met ons medemens het – ook vrede met onsself.
- Genade beteken: Almal het gesondig‚ en het nie deel aan die heerlikheid van God nie‚ maar hulle word‚ sonder dat hulle dit verdien‚ op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Rom. 3:23-24).
- Vrede beteken: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom. 5:1).
In hierdie kort en kragtige groet herinner Paulus hulle aan die volle evangelie wat hy aan hulle verkondig het en waardeur hulle gered is.
Paulus konkretiseer nou hierdie soeke na sin en lewensvreugde as hy in Filippense 1:4-5 sê: “In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal‚ omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie.” Hulle het saamgewerk in die verkondiging van die evangelie. Mens gee sin aan jou lewe deur daarop ingestel te wees om vir ander liefde te gee‚ deur jouself tot beskikking van jou gemeenskap te stel‚ en deur jou kragte in te span om iets tot stand te bring wat jou ’n doel en betekenis in die lewe gee.
Ons soeke na lewensin en lewensvreugde het ontaard in ’n soort privaat ingesteldheid. Met so ’n ingesteldheid soek jy sin en lewensvreugde NET in jou eie loopbaan‚ familie‚ vriende en gesellige kleingroepe. Dit skep oorgewig individue‚ vir wie die hele lewe draai om wat jy daaruit kan kry – alles draai om jóú vreugdes in die soeke na jóú privaat geluk‚ ongeag van wat in die wêreld rondom jou aangaan. Die gevaar bestaan dan dat ’n mens godsdiens gebruik bloot om jouself gelukkig te hou. Jy kan doof word vir die Skrif se oproep tot diens en verantwoordelikheid vir jou gemeenskap en omgewing. [Ek vra met groot huiwering‚ en in die wete dat daar lidmate is wat werklik nie kan nie – maar is dit nie dalk die rede hoekom ons so sukkel om ouderlinge en diakens te kry nie. Mense het te veel van ’n privaat ingesteldheid‚ want om te dien stel jou bloot en dit is nie net ouderlinge en diakens wat hulle bloot stel nie‚ dit is ook ons wat diens van gelowige staan wat nie bereid is om ons hande uit die moue op te rol nie. Nou bly ek maar in my gemaksone en gebruik godsdiens om myself gelukkig te hou en natuurlik moet die kerk ook help om my gelukkig te hou‚ anders … wel anders doen ek iets anders]
Die eerste ding wat ons van die Filippensebrief verbaas‚ is juis die feit dat Paulus soveel blydskap en vreugde het al skryf hy uit die tronk. Maar waarin lê die geheim van bly wees en lewensvreugde hê vir Paulus? Kyk weer na ons teksvers: “In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal‚ omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie” (Fil. 1:4-5).
Hieruit kan ons ’n paar dinge aflei oor wat Paulus dink die regte dinge in die lewe is om na te jaag. Die eerste ding wat ons by hom leer‚ is dat soeke na lewensvreugde op ’n sekere plek begin – op ons knieë. “In al my gebede” sê dat Paulus besef het: Lewensvreugde begin by ’n dieper besef van afhanklikheid; afhanklikheid van Iemand Anders‚ wat die vrese en vreugdes van sy vriende in Filippi geken het‚ wat trouens Paulus se eie vrese en vreugdes geken het.
William Barclay vertel in sy studie oor Filippense by hierdie vers treffend van ’n gelowige verpleegster wat ’n baie onvergenoegsame pasiënt moes versorg. Sy het hom eendag vertel wat die geheim van haar geluk was. Sy het‚ omdat sy met haar hande werk‚ haar hand gebruik om haar te leer om getrou te bid.
- Haar duim is die naaste aan haar en help haar onthou om vir haar dierbares te bid.
- Die wysvinger laat haar bid vir almal wat onderrig gee‚ in die skool en daar in die hospitaal: hulle wys die weg aan ander.
- Die middelvinger is die langste: hy herinner haar om‚ soos die Bybel leer‚ te bid vir almal wat regeer en gesag uitoefen (1 Tim. 2:1-2).
- Die vierde vinger is die swakste vinger wat haar help onthou om vir die minderbevoorregtes te bid.
- Haar pinkie is die kleinste: laaste van almal bid sy vir haar eie behoeftes en belange.
Maar ’n tweede ding word duidelik uit Paulus se ervaring van lewensvreugde‚ en dit hou verband met die rede waarom Paulus met blydskap vir sy vriende kan bid: Hy sê vir hulle dat hy vreugde put daaruit dat hulle “van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie!” Ook vir Paulus is daar dus ’n nóú verband tussen lewensvreugde en lewensin.
Waar daar ’n gemeenskaplike doel is (die verkondiging van die evangelie)‚ is daar rigting en energie. Paulus bid dus met blydskap omdat die Filippense met iets sinvols besig is. Hulle het die goeie nuus wat hulle meer as tien jaar gelede gehoor het deel van hulle lewe gemaak. Deur Paulus te help staan hulle saam met hom in diens van Christus. Dié gemeente was dus bereid om te doen wat God wou gehad het.
Maar dis nie waar die goeie nuus eindig nie. Kyk net wat sê Paulus volgende: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God‚ wat die goeie werk in julle begin het‚ dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Fil. 1:6). God het die goeie werk in die gemeente in Filippi begin‚ en sal dit ook dwarsdeur hulle lewe voortsit.
Die woorde wat hy gebruik vir “begin” en “voleindig” was woorde wat in die Griekse taal verwys het na noukeurige voorskrifte wat die mense moes uitvoer as hulle ’n offer aan hulle gode wou bring. Die lewe van ’n Christen en die bestaan van ’n gemeente word ook deur Paulus geteken in terme van ’n offer tot eer van God. En nou doen ek ’n beroep op julle‚ broers‚ op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Rom. 12:1). Dit is wat dit behoort te wees. “Begin” beteken ’n doelbewuste en besliste daad (soos om iets te open of in gebruik te neem)‚ iets wat noukeurig beplan en volmaak uitgevoer is. Die intensiewe vorm van die werkwoord “voleindig” word gebruik: dit sal seker en gewis voltooi word‚ juis omdat God dit begin het. Sonder Hom was dit alles onmoontlik. Alles is genade. En Hy doen nie halwe werk nie.
Iemand het eenmaal gesê daar is twee dinge waarsonder ons moeilik in die lewe sou oorleef: ultimacy (finaliteit‚ voltooidheid) en intimacy (intimiteit‚ nabyheid). Die behoefte aan sin en rigting in die lewe en die behoefte aan mense wat omgee en saam met wie jy die lewe kan deel – dit is die twee basiese boustene in ons soeke na lewensvreugde.
Dikwels vra ons eers hierdie vrae in die aangesig van die dood. Soms raak dit ook nodig om dié vrae te vra wanneer die kerk van Christus deur allerlei veranderings en transformasieprosesse gaan.
Die feit bly: Ons almal het ’n diepgewortelde behoefte aan lewensvreugde. Ons soek antwoorde op ons ultimate and intimate–vrae. In hierdie gedeelte gee Paulus ons drie fokuspunte in hierdie soeke:
- Eerstens moet ’n mens besef dat jy hierdie vrae eintlik nie self kan antwoord nie. Maar in gebed en in afhanklikheid voor God leer Gód jou die regte vrae stel. Wanneer jy hierdie vrae aan jouself bly rig‚ is jy van nature geneig om net na binne‚ op jóú persoonlike behoeftes‚ te fokus. Dit is jou “slap hande en lam knieë” (vgl. Heb. 12:12) wat jou daaraan moet herinner: Daar is Iemand Anders wat ons moet help om die regte vrae te bly vra.
- Verder wys Paulus ons dat die soeke na vreugde saamhang met besig-wees met die regte dinge in die lewe. Nie maar net óns behoeftes aan vreugde bepaal ons keuses nie‚ maar ook God se wil. Daarom is Paulus dankbaar om die evangelie in woord en daad uit te dra in die alledaagse lewe (bv. armoede‚ MIV/vigs‚ onversoendheid) wat ons kan help bepaal of ons met die regte dinge besig is.
- Derdens verseker Paulus ons dat ons dit nie uit eie krag hoef te doen nie. Ons kry waarborg dat God Self die goeie werk wat Hy in ons begin het‚ enduit sal voer. Hierdie wete bevry ons van die grypsugtige behoefte om lewensvreugde net op ’n persoonlike vlak te probeer vind – in ons besittings‚ werk‚ gesondheid‚ familie of vriende. Natuurlik kan hierdie dinge aan ons vreugde gee. Maar ons is geneig om hulle te beskou as die tasbare bewyse van ons eie insette‚ dan ons self aan ons vreugde gebou het … Die ironie is dat‚ wie lewensvreugde nét in hierdie dinge soek‚ so maklik ontnugter word. Want jy kan in ’n finansiële krisis beland‚ jou gesondheid kan ingee of ’n geliefde kan sterf. Sal hierdie dinge dan nog jou lewensvreugde in stand kan hou.
Dit laat ’n mens dink: Waarin vind ék die diepste vreugde? Wat sal ék doen as ek nog net 24 uur gehad het om te leef? Hoe dankbaar is jy dan om te weet: In my soeke na lewensvreugde help God my fokus op die regte dinge – dié wat werklik sin maak en saak maak.
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.