|
Preek:
|
13 Junie 2004 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Filippense 4:10-20 en Jesaja 40:26-31
|
|
Teks:
|
Filippense 4:13 en Jesaja 40:26-31
|
|
Tema:
|
Blydskap omdat ek tot alles in staat is
|
STEPHAN COVEY skryf in sy bekende boek Seven habits of highly effective people dat ons almal afhanklik gebore word. Van die oomblik waarop ’n embrio ontstaan‚ is dit afhanklik van die baarmoeder. Die naelstring verbind die embrio aan die ma vir die lewensnoodsaaklike voedsel. ’n Baba is absoluut afhanklik van ons versorgende liefde. In die verskillende ontwikkelingsfases verskil die graad van ’n kind se afhanklikheid. Namate hulle groter word‚ groei hulle behoefte egter om onafhanklik te wees.
Volgens Covey is dít dan ook die tweede groot proses op pad na volwassenheid: die beweging van afhanklik-wees na onafhanklik-wees. Dis ’n geleidelike oorgang na onafhanklikheid – emosioneel‚ intellektueel‚ sosiaal en finansieel.
Wat maak onafhanklikheid so aantreklik vir ’n mens? Want dit bevestig dat ek “in staat” is. Waartoe is ek “in staat”? Ek is in staat om in my eie behoeftes te voorsien. Ek hoef nie meer in iemand anders se oë te kyk vir die kos wat ek eet‚ die klere wat ek aantrek‚ die plek waar ek bly‚ die voertuig waarin ek ry nie.
Meer as dit: Ek is in staat om sonder inmenging self te besluit wie ek wil wees‚ waar ek wil werk‚ met wie ek my wil assosieer en wat ek met my lewe wil doen. As daar een ding is wat die advertensiewese baie goed verstaan‚ dan is dit hierdie diepe dors na onafhanklikheid. Of dit die denimbroek is wat ek dra‚ die parfuum wat ek moet aansit‚ die drankie wat ek moet drink‚ of die soort kitskos wat ek moet eet – dié goed vertel vir almal hoe onafhanklik ek is.
Wat dit nog wonderliker maak‚ is dat almal jou gelukwens met hierdie “in staat wees”-status. Die droom van mondig word‚ leef in elke jong mens.
Maar die advertensie-ideaal van onafhanklik individualisme het nie ’n plek in Paulus se lewe gehad nie. Inteendeel‚ dit was juis vanuit die Bron van krag – die krag van die opgestane Christus – dat hy in staat was om die lewe vierkant in die oë te kyk.
So wys hy dan dat sy onafhanklikheid nie los staan van sy afhanklikheid van God en interafhanklikheid van ander mense nie. Dit is presies die punt waarmee Stephen Covey sy boek afsluit: Aan God kom die finale erkenning toe.
Eeue tevore het een van Israel se grootste aan sy volksgenote hierdie geheim verkondig deur vir hulle te sê:
Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal‚ dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag‚ sy groot mag‚ sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie. Waarom sê jy dan‚ Jakob‚ waarom kla jy‚ Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie‚ my reg gaan by my God verby”? Weet jy dan nie‚ het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God‚ Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie‚ Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag‚ Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat‚ selfs manne in hulle fleur struikel en val‚ maar dié wat op die Here vertrou‚ kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke‚ hulle hardloop en word nie moeg nie‚ hulle loop en raak nie afgemat nie (Jesaja 40:26-31).
Luister mooi na wat hy gesê het.
- Dis menslik om moeg en afgemat te raak (Jes. 40:30).
Die jongmanne‚ manne in hulle fleur‚ na wie hy verwys‚ was die seuns van sy volk wat vir militêre diensplig uitgesoek was: die sterkstes. Die profeet sê: selfs die sterkes onder die mensekinders kry hulle tye van insinking wanneer hulle moeg en afgemat raak. Hoeveel te meer sal die gewone sterfling die ervaring ken! Dis menslik om soms moed te verloor. As jy dan boonop begin dink: die Here het my vergeet‚ kan ’n vlaag van depressie jou lam slaan.
Dan‚ sê Jesaja‚ is daar ’n tweede waarheid om te onthou:
- God word nooit moeg en afgemat nie (Jes. 40:28-29).
Hy het hierdie boodskap begin deur sy geloofsgenote na die sterrehemel op ’n helder aand te laat opkyk (v. 26). “Wie het die sterre geskep?” vra Hy. Hy weet hulle ken die antwoord: hulle God het al daardie sterre gemaak en laat hulle soos ’n leërmag ordelik op hulle vaste bane uittrek. Nie een val uit sy hand nie (v. 26). Die ewige‚ onveranderlike Skepper en Onderhouer van alles word nooit moeg en afgemat nie. Wat meer is: Hy weet van alles en vergeet nooit nie‚ want “sy insig is ondeurgrondelik” (v. 28-29). Hoe kan hulle dan beweer: Hy het van ons vergeet? (v. 27). Hierdie God “gee die vermoeides krag‚ Hy versterk dié wat nie meer kan nie.”
Dan leer Jesaja sy moedelose volksgenote wat die geheim is.
- Die wat op die Here vertrou‚ kry nuwe krag (Jes. 40:31).
Die geheim is: geloofsvertroue‚ ’n innige verhouding met die Allerhoogste. Wie op Hom vertrou‚ kan hardloop sonder om moeg te word‚ dit wil sê: hulle sal opgewasse wees teen die dae wat buitengewone eise stel. Hulle kan ook loop sonder om afgemat te raak‚ dit wil sê: hulle sal die soms vervelige roetine van elke dag met blydskap kan hanteer.
Dan gebruik Jesaja ’n baie leersame beeld:
- Dié wat op die Here vertrou‚ vlieg met arendsvlerke (Jes. 40:31).
Wat sou die beeld van die arendsvlerke wil sê? Waarskynlik dat geloof‚ saam met die suiwerste uiting daarvan: gebed‚ verloste mense in staat stel om moed te hou en bokant jou omstandighede uit te styg‚ soos Paulus kon.
Paulus sou dadelik wou byvoeg: dat geloof en gebed vir die gelowige mens soos die arendsvlerke van Jesaja se beeldspraak kan wees‚ lê nie in hulleself nie‚ maar in Christus. Sonder Hom is geloof waardeloos en gebed in elk geval nie moontlik nie!
Daar is ’n sterk verband tussen Paulus se getuienis oor die krag wat Christus gee en Jesaja se boodskap oor die nuwe krag vir dié wat op die Here vertrou. Die woord vir “vertrou” wat Jesaja gebruik‚ kan letterlik vertaal word: “op die Here wag.” Die woord verwys sonder twyfel na die volk se Messiasverwagting. Wanneer Simeon die kind Jesus in sy arms neem‚ word gesê dat hy “uitgesien (het) na die koms van die Verlosser van Israel” (Luk. 2:25). Letterlik staan daar: Simeon het die Messias “verwag”‚ dieselfde woord wat Jesaja eeue tevore gebruik het. Die Messiasverwagting was ou Israel se hoop en die geheim vir volharding. Dit het telkens ’n klein oorblyfsel van die volk met nuwe moed besiel. Wanneer menslike moed aan sy einde gekom het‚ het dit hulle nuwe krag gegee om te volhard.
Soos hulle met geloofsverwagting na Hom vooruitgekyk en moed geskep het‚ kon Paulus hardloop sonder om moeg te word en hoop sonder om afgemat te word – ook wanneer sy pad in diens van die evangelie deur donker dieptes gelei het. Paulus se getuienis: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee‚” is sinoniem met Jesaja se boodskap: “Dié wat op die Here vertrou‚ kry nuwe krag.”
Een van die Bybel se riglyne is dat ons nie op ons eie krag alleen moet staatmaak nie:
’n Mens oorwin nie deur eie krag nie!
1 Samuel 2:9
Die Here is my krag
Eksodus 15:2
Hy gee die vermoeides krag‚ Hy versterk dié wat nie meer kan nie
Jesaja 40:29
Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie
Matteus 22:29
Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet … hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo
Efesiërs 1:18-19
Vir dié wat deur God geroep is‚ is Christus die krag van God
1 Korintiërs 1:24
Soek julle krag in die Here en in sy groot mag
Efesiërs 6:10
Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien
2 Petrus 1:3
Hierdie paar teksverwysings (en daar is nog baie meer!) maak dit duidelik hoe sinloos dit is om slegs uit jou eie menslike kragbron te probeer put. Dit waarborg vir jou geen oorwinning nie. Jy sal inderdaad kragteloos word. Jy raak uitgeput as jy net uit jou eie krag put.
God se kragbronne is egter ’n onuitputbare Bron. Ons moet dit net benut en daaruit put. Dit stel ons tot alles in staat. In Christus kry ons krag om sinvol‚ suksesvol en vreugdevol te leef.
Bid altyd oor alles‚ want daardeur maak jy jou vas aan God en aan die krag van God. Hy raak kragtig betrokke by jou lewe.
Dat God betrokke is in ons lewe hou sekere beloftes en waarborge vir ons in. Hy is voluit en end-uit by ons betrokke. As God iets wil‚ volvoer Hy dit. Daarvoor het Hy meer as genoeg krag. Ons as mense het nie onbeperkte krag nie. Ons kragte gee soms in; ons raak moeg; ons hou op. Soms het ons ook nie wilskrag nie – ons hou nie by ons voornemens nie.
Maar God is nie só nie. Wat Hy begin‚ voer Hy enduit. Saam met Paulus‚ is ons ook daarvan oortuig dat God‚ wat die goeie werk in julle begin het‚ dit end-uit sal voer en dit sal voleindig (Fil. 1:6). Deel van die goeie wat God vir ons wil en ook in ons bewerk‚ is die ervaring van lewensvreugde. Dis nie God se wil dat mense sonder lewensvreugde moet wees nie en daarom gee Hy vir ons die krag van Jesus Christus wat ons in staat stel om werklik vreugde in die lewe te kan ervaar. Weet dan en glo dat Hy dit sal volbring.
Dat God by ons betrokke is en krag gee‚ beteken glad nie dat ons self as mense passief moet bly nie. Ons moet ons juis inspan en beywer met die krag wat Hy ons gee en wat kragtig in ons werk (Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk – Kolossense 1:29). Dit bly ons opdrag om die krag van Christus te benut – en onbetrokkenheid by ons te laat verbygaan nie. Ons moet juis dit waartoe Christus se krag ons in staat stel aktief en daadwerklik gaan doen – deur werklike dade te doen. Mense worstel soms met die beperkings wat hulle self op hulle lê omdat hulle nie die opbeperkte krag van Christus volledig gebruik nie. Dié wat sonder enige persoonlike insette sit en wag op lewensvreugde‚ sal … sit en wag!
Jou persoonlike geloof‚ gebaseer op die Christelike godsdiens‚ gee jou die vertroue om met oortuiging te sê: Ek kán‚ ek ís in staat‚ ek kán die lewe uitdagend tegemoet loop‚ ek kán in alle omstandighede sterk staan – met krag‚ die krag van Christus.
Dat ’n mens inderdaad só sterk kan word deur Christus‚ is nie maar net leë woorde nie:
Die koninkryk van God is immers nie ’n saak van praatjies nie‚ maar van krag (1 Kor. 4:20).
Die Griekse woord wat gebruik word vir krag‚ is dinamous. Van hierdie kragtige woord is gebruikswoorde afgelei soos “dinamiet” en “dinamo” (kragopwekker). Vanuit sy krag‚ sy dinamous‚ kan ons Jesus sien as ons Kragopwekker wat ons dinamies en kragtig opwek tot ’n opgewekte lewe. Christus wek ons op met krag om dinamiese lewensvreugde te kan ervaar. Christus se dinamous maak ons dinamies.
As jy egter nie gekoppel is aan die Kragopwekker nie‚ verbeur jy die dinamika. Los van die kragtige Lewensopwekker‚ sal jou lewe kragteloos wees. Jesus self het immers gesê in Johannes 15:5
Sonder My kan julle niks doen nie.
Maar volgens dieselfde teks in Johannes het Jesus óók gesê:
Wie in My bly en Ek in hom‚ dra baie vrugte.
Ons hoef nie vrugteloos besig te wees met die lewe nie. As ons verbind is aan Christus kan ons ’n uiters vrugbare lewe leef. Wanneer ons gekoppel is aan die dinamous van Christus‚ is ons dinamies en gee ons nie moed op nie‚ gaan lê ons nie. Ons gaan voort met krag‚ en groei met vrug.
Selfs wanneer ons swak is‚ ervaar ons die dinamiese krag van Christus. Sy krag is ons beskutting en kom juis tot volle werking wanneer ons swak is (2 Kor. 12:9). Wanneer ons besef dat ons self swak is‚ onbevoeg is‚ kan ons die krag van Christus benut; want wanneer ons swak is‚ steun ons nie meer so baie op ons eie krag nie‚ dan leun ons al meer op die krag van Christus. En juis dit stel ons in staat tot alles. Daarom: as ek swak is‚ is ek sterk (2 Kor. 12:10)‚ want vanweë my eie swakheid neem Christus oor en kom sy krag tot volle openbaring. Deur Christus word ek in staat gestel om lewenskragtige‚ dinamiese lewensvreugde te ervaar.
Benut die krag van Christus!
Aan Hom wat magtig is om julle met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou‚ aan die enigste God‚ ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here‚ aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit‚ die krag en die mag‚ van alle ewigheid af‚ ook nou en tot in alle ewigheid! (Judas 24-25).
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.