Preek:

30 Julie 2006 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Hebreërs 7

Teks:

Hebreërs 7:25

Tema:

Christus bid vir ons


HEBREËRS is ’n boek oor geloof‚ maar dan heel spesifiek: geloof wat beproef word‚ geloof wat swaar kry‚ geloof wat vervolg word‚ en geloof wat daarom dreig om traag te word.

Hebreërs probeer dus nie mense wat nog nie glo help om te glo nie‚ maar wil eerder mense wat wel glo‚ maar – as gevolg van omstandighede – swaar kry om te blý glo‚ help om aan te hou. Hebreërs wil sulke mense opnuut oortuig dat dit tog “beter” is om te bly glo‚ ten spyte van die swaarkry en opofferings daaraan verbonde.

Waarom kry hulle swaar om te bly glo? Waarskynlik as gevolg van ’n hele paar redes‚ wat almal met mekaar saamwerk.

Volgens baie uitleggers is Hebreërs gerig tot sogenaamde tweede of selfs derde geslag Christene. Hulle ouers‚ en miskien selfs reeds hulle voorouers‚ het dus al tot geloof gekom. Dit beteken natuurlik dat hulle nie sélf al die traumas‚ maar ook al die ekstase en die intensiteit van radikale bekering en ingrypende toewyding‚ ervaar het nie. Wat hulle betref‚ het hulle maar so groot geword. Hulle was maar altyd in gelowige huisgesinne. Die belydenis van Jesus Christus is dus nie op dieselfde diepgrypende wyse van hulle ontpers as van hulle ouers en grootouers nie. Hulle het as ’t ware met dié Christelike belydenis opgegroei onder die invloed en voorbeeld van voorgangers en ander gelowige mense wat ’n betekenisvolle‚ vormende invloed op hulle lewens gehad het.

Vir sulke tweede of derde geslag Christene‚ wat as ’t ware met die belydenis grootword‚ en onder invloed staan van ander gelowige mense‚ is die versoeking dikwels sterk om self baie gewoond te raak aan die inhoud van die belydenis‚ om ook minder emosioneel daaraan verbonde te wees en dit meer intellektueel of teoreties te ervaar as ’n stel waarhede wat maar net aanvaar moet word. Sulke Christene beleef dan ook heel eiesoortige geloofsprobleme‚ veral wanneer hulle – soos hier in Hebreërs – voor uitdagings en krisisse te staan kom.

Sake begin vir hulle moeilik raak. Hulle sien nie die onmiddellike vervulling van die beloftes waarop hulle leer hoop het nie. Alles bly maar net dieselfde. Die verwagtinge wat hulle grootouers en hulle ouers so intens ervaar het en wat enige oomblik vervul sou word‚ bly onbeantwoord. Niks gebeur nie.

Hulle het doodgewoon moeg begin word; was op die punt om uit te sak in die geestelike wedloop‚ tou op te gooi‚ terug te val in die Joodse geloof waaruit hulle gekom het. Jesus vra te veel‚ en gee te min‚ het hulle bewus of onbewus geredeneer. Ja‚ Jesus vra hopeloos te veel‚ en Hy gee hopeloos te min. Ons is mense van vlees en bloed‚ en vlees en bloed kan ook net soveel verduur.

Om moeg te wees. Handdoek te wil ingooi. Wie van ons ken nie dié gevoel nie? Ons situasie verskil natuurlik heelwat van dié van die Hebreërs. Maar ook ons leef in ’n komplekse tyd waarvan die uitdagings genoeg is om ons te laat steier‚ ons met die hande in die hare te laat‚ skynbaar sonder raad. Die globale prentjie van hongersnood en armoede is genoeg om enige mens met ’n hart ineen te laat krimp; die pandemie van vigs wat volgens alle aanduidings in die volgende aantal jare soos ’n golf oor ons gaan spoel‚ is genoeg om enige mens te laat wanhoop; die krisis van geweldsmisdaad en bedrog en ander vorme van morele verval is genoeg om enige mens van vlees en bloed te wil laat vlug‚ te laat wegkruip‚ of ten minste van pure skok en uitputting viervoet te laat versteen.

En tog bestaan die kerk na ál die eeue nog steeds en is jy wat vanoggend hier in die kerk sit‚ ook ’n konkrete bewys daarvan. Wat is dit wat maak dat die kerk ná 2000 jaar‚ waarin ander organisasies en verenigings gekom en gegaan het‚ steeds voortbestaan? Menslike gesproke moes die kerk tog al lankal van die toneel verdwyn het‚ onder die groot druk van buite en die daling en vertwyfeling van binne ineengestort het. En tog‚ kyk‚ hier is ons!

Wat is dit wat ons telkens op dreef gebring het? Ons weer moed en hoop gegee het om op te staan en aan te gaan?
Groot kerkleiers?
Ja‚ sekerlik‚ mense soos Luther en Calvyn en ander‚ hét op deurslaggewende tye in die kerkgeskiedenis die kerk in bepaalde rigtings gestuur‚ ’n nuwe lewe gebring.
Martelare?
Beslis‚ hulle bloed was die saad waaruit die kerk gegroei het‚ soos ’n kerkvader tereg gesê het.
Sendelinge?
Sonder twyfel‚ hulle opofferings onder moeilike omstandighede‚ om die evangelie tot by die horisonne van ons wêreld te verkondig‚ was en is steeds die slagare van die kerk.

Dis alles waar. Maar daarmee het ons nog maar aan die oppervlak van die geheim van die kerk geraak. Daar is ’n ander krag‚ ’n groter krag‚ ’n dieper geheim‚ wat deur die Hebreërskrywer in ’n enkele woord‚ nee‚ ’n enkele Naam saamgevat word: Jesus Christus. Op ’n unieke wyse skryf hy oor Jesus‚ anders as enige ander Nuwe Testamentiese skrywer‚ en kontrasteer hy‚ met die Joodse Christene aan wie hy skryf in gedagte‚ die middelaarswerk van Jesus‚ ons ewige Hoëpriester‚ met die werk van die hoëpriesters van die ou verbond. Hy begin nie‚ soos ons dalk sou gedoen het‚ deur vir die moeë Christene te sê: “Ruk julleself tog reg!” nie‚ hy wys hulle eerder opnuut op Jesus. Hy weet immers: Jesus en Jesus alleen is die krag‚ die bron‚ die inhoud‚ die begin en die einde van die Christelike kerk. Trouens‚ sonder Hom ís daar nie iets soos kerk nie.

Hy verskaf nou vier belangrike redes waarom Jesus Christus se eie Hoëpriesterskap dié van die Leviete heeltemal in die skadu stel.

Eerste rede: Jesus oortref die Levitiese priesterskap‚ want Hy maak volkome van die sonde vry (7:11-19).

Tweede rede: Jesus oortref die Levitiese priesterskap‚ want God het sy Hoëpriesterskap met ’n plegtige eed bevestig (7:20-22).

Derde rede: Jesus oortref die Levitiese priesterskap‚ want sy Hoëpriesterskap is blywend (7:23-25).

Vierde rede: Jesus oortref die Levitiese priesterskap‚ want Hy is die heilige en volmaakte priester (7:26-28).


In kontras met die verbygaande‚ aardse priesterskap‚ met sy talle opvolgers‚ is Jesus se Hoëpriesterskap blywend. Ons kry ’n mooi woordspel tussen aanbly en bly. Die dood verhinder die Levitiese priesters om aan te bly (v. 23)‚ maar Jesus bly vir ewig (v. 24). Die Griekse woord vir aanbly‚ naamlik parameno‚ word op ’n Egiptiese papirus gebruik van ’n meisietjie wat vir drie jaar as winkelhulp moes aanbly omdat sy nie haar rekening kon betaal nie. Die gedagte dat Jesus vir ewig bly‚ sluit aan by wat vroeër van Melgisedek gesê is: hy bly priester vir altyd (7:3; vgl. ook 7:8). Van Jesus is ook reeds gesê dat Hy priester geword het deur die krag van onvernietigbare lewe (7:16; vgl. v. 17‚ 21). Die Griekse oorspronklike vir nie oorgedra nie (aparabatos)‚ is eintlik baie sterker as “onoordraagbaar.” Dit dui daarop dat Jesus se Hoëpriesterskap onwankelbaar vasstaan‚ onverganklik is. Dit is absoluut uniek‚ vir ewig onaantasbaar.

Jesus Christus se hoëpriesterlike werk word toegeëien deur die wat deur Hom na God gaan (v. 25). Na God gaan beteken hier om jou tot God te wend as die enigste Een by wie verlossing te vind is. Calvyn verduidelik dit pragtig. Hy praat eers van die Israelitiese hoëpriester wat‚ wanneer hy in die heiligdom ingaan‚ die name en simbole van die twaalf stamme op sy skouer en bors dra. Die volk kon nie ingaan nie. Hulle moes in die voorhof agterbly. Dan kom Calvyn by die wonderlike “maar” wat ons so telkens in die Nuwe Testament kry: “Maar ons gaan in die geloof tot in die hemel deurdat ons steun op Christus‚ ons Middelaar. Geen voorhangsel is meer in ons pad nie; God openbaar Homself vryelik aan ons en nooi ons liefdevol uit om vol vertroue na Hom te kom.” Ons hoef nie in die voorhof te bly staan nie; ons kan in die hemelse heiligdom self ingaan tot in die Allerheiligste‚ God se troonsaal. Ongelooflik wonderlik!

Dit moet egter gebeur deur Hom (Jesus). Jesus is volgens die Bybel die enigste weg. Die gedagte dat alle godsdienste mekaar uiteindelik bo-op die berg ontmoet‚ is onbybels (Hand. 4:12).

Jesus se offer is die begin van ons verlossing‚ maar die voortgang en die afronding daarvan word verseker deurdat Hy vir altyd lewe om vir ons by God in te tree (Heb. 7:25; vgl. Rom. 8:34). Dit sluit in dat Hy ons saak voortdurend voor God stel. Ons Hoëpriester het ’n “permanente aanstelling.” Hy sal nie “aftree” voordat die laaste lid van God se familie tuis is nie. Dan eers sal sy heilswerk heeltemal voltooi wees (1 Kor. 15:28). Hy is ook altyd beskikbaar. Hy het nie ’n halfdagpos nie. Hy is nooit af met siekverlof nie. Hy is nooit “besig op die ander lyn”‚ of “in ’n vergadering”‚ of onbereikbaar omdat Hy “hoë besoek” ontvang nie. Anders gestel: ek en jy ís die “hoe besoek.”

’n Mens moet hierdie prentjie voor jou geestesoë sien om dit te kan verstaan. Jesus bid vir ons. Hy‚ ons heilige‚ skuldelose en smettelose Hoëpriester (vgl. v. 26) tree vir ons in‚ steek sy hande na God die Vader uit; om ons ontwil. Dag en nag doen Hy dit. Eeu na eeu‚ millennium na millennium. Vir ewig. Vir die vroeë Hebreër-Christene‚ én vir die Christene van die derde millennium. Sonder ophou staan Hy daar aan die regterhand van God die Vader en pleit Hy vir ons. Vir jou‚ vir my‚ vir sy kerk.

Dáárin lê uiteindelik die diepste geheim en krag van die kerk. Nie in óns vrome heiligmaking‚ of óns verbete toegewydheid‚ of óns puik kerklike organisasie‚ of óns skerpsinnige dogmatiese onderskeidings‚ of óns goedberedeneerde sinodale verklarings nie‚ maar in die uitgestrekte hande van ons Middelaar en Hoëpriester‚ ons Voorbidder en Verlosser‚ Jesus Christus.

Jesus bid vir ons elkeen‚ by die naam. Vir Petrus het Jesus gesê: … “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie …” (Lukas 22:31-32). Jesus bid ook vir ons almal saam‚ vir sy kerk‚ dat ons bewaar sal bly van die Bose‚ dat ons met blydskap vervul sal word‚ dat ons toegewy deur die waarheid sal wees‚ dat ons een sal wees‚ dat ons saam met Hom in die hemel sal wees en sy heerlikheid sal aanskou‚ dat dieselfde liefde wat die Vader vir die Seun het‚ in ons sal wees (vgl. Joh. 17).

Wat ’n krag!

Wat ’n troos!

Wat ’n behoud!


Waarlik‚ met hierdie middelaarsgebed staan Jesus borg vir ons bestaan en ons voortbestaan. Daarom is ons nog hier‚ kan ons telkens weer opstaan‚ nee‚ meegevoer word in Jesus se prosessie deur die geskiedenis heen op pad na die eindes van die aarde en die tyd. Ja‚ daar ís so ’n feestelike‚ onstuitbare optog. En ek en jy is deel daarvan! Paulus skryf daaroor aan die Kolossense: Hy [Jesus‚ ons Hoëpriester] het die skuldbewys met sy eise teen ons [eens en vir altyd] tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker‚ het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kolossense 2:14-15).

Hiérin word ons meegeneem‚ meegevoer‚ saam met die skare geloofsgetuies van alle eeue (vgl. Heb. 12:1). In hierdie optog kan ons sing: stotterend‚ maar jubelend; stamelend‚ maar met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap: Christus hou self sy kerk in stand. Hy regeer as Here aan die regterhand van God.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.