|
Preek: |
4 Februarie 1996 te Gereformeerde Kerk Lyttelton |
|
Lees: |
Johannes 1:6-8; 19-28 |
|
Teks: |
Johannes 1:6-8 |
|
Tema: |
Die strooijonker wat sy plek ken |
DAAR is vandag min betrekkinge wat sonder ’n goeie getuigskrif bekombaar is. As mense maak ons nogal baie van getuigskrifte. Hier en daar in die Bybel vind ons ook getuigskrifte; en hierdie uitsprake is van groot betekenis‚ veral as daaraan gedink word dat dit deur niemand minder as God self uitgereik is nie.
Dink byvoorbeeld aan die pragtige getuigskrif wat die Here gee aangaande sy kneg Job: “Daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg‚ godvresend en wat afwyk van die kwaad” (Job 1:8). Of dink aan wat aan Daniël deur sy afgunstige vyande in die vreemde gesê is: “Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie‚ tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens” (Dan. 6:6).
Ook van Johannes die Doper het ons ’n getuigskrif in die Bybel. Van hom het die Here Jesus by geleentheid gesê: “Voorwaar‚ Ek sê vir julle‚ onder die wat uit vroue gebore is‚ het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie” (Matt. 11:11).
’n Getuigskrif is baie keer ook soos ’n foto. Mense wat oor lang afstande begin korrespondeer‚ ruil foto’s uit. Hulle kyk na hierdie foto’s en voel aha ons weet darem nou hoe hierdie persoon lyk en wie hy of sy is. Ons het nie een enkele skildery of portret of afbeelding van hoe Jesus of Johannes die Doper of Jesus se dissipels of enigiemand anders in die Bybel daardie tyd rêrig gelyk het nie.
En tog kry ons in hierdie gedeelte wat ons saam gelees het‚ ’n soort portret van Johannes die Doper. Dis ’n snaakse portret dié. Sê nou maar iemand sou jou ’n foto vra. Nou sê jy jammer jy het nie ’n foto van jouself nie‚ maar jy het ander foto’s van wie jy nie is nie. Jy gee nou drie of vier ander foto’s vir daardie persoon: een van Nelson Mandela‚ een van Evita Bezuidenhout en een van Madonna.
Jy sê vir daardie persoon kyk daarna en dan kan jy ’n goeie idee van my kry omdat jy weet wie ek nie is nie. Belaglik né? Ons sal dit nie sommer doen nie. Ons sal eerder ’n portefeulje‚ ’n fotoalbum van onsself vir daardie persoon gee. Hierdie portefeulje sal foto’s bevat van toe ek gedoop is‚ en van toe ek in Graad ii eerste in die atletiek gekom het en in Graad 12 op die leerlingraad was en graad gekry het en getroud is en van my kinders. Hopelik sal hy of sy dan agterkom wie ek nou eintlik is.
In die evangelie van Johannes word ’n “woordportret” van Johannes die Doper geskilder. In die gedeelte wat ons saam gelees het‚ kry ons egter nie ’n positiewe identifikasie van hierdie man nie. Nee‚ hy word op ’n negatiewe wyse aan ons voorgestel. Die grootste gedeelte gaan oor wie hy nie is nie. Die skrywer gee vir ons ’n portret van die lig‚ en sê nee‚ dis nie hy nie. Hy gee vir ons ’n portret van die Christus‚ en sê nee‚ dis ook nie hy nie. Dan loop ons in die fotoalbum vir Elia raak en die “Profeet” en ons hoor aikona‚ dis ook nie Johannes dié nie.
Tog: as ons hierdie portrette nou klaar bekyk het‚ weet ons redelik baie van wie nou nie was nie.
U sien die Joodse Raad is angstig om te weet wie die man is wat die skares só trek. Daarom stuur die Joodse leiers in Jerusalem gesante na Johannes die Doper toe. Johannes die Doper is immers ’n Leviet‚ die seun van ’n priester; daarom is sy posisie vir die Joodse Raad van deurslaggewende belang‚ veral omdat hy nog doop ook.
Maar hulle kry nie die antwoorde wat hulle soek nie. ’n Mens kan die radeloosheid op die gesigte van die priesters en Leviete sien. Hulle lysie vrae aan Johannes die Doper is almal afgemerk en steeds het hulle nie die finale antwoord nie.
Maar hulle moet ook maar leer wat ons moet leer. Veral ons wat so op selfontdekking ingestel is. Ons moet eers ander portrette sien‚ voordat ons ’n portefeulje van onsself kan saamstel. Kyk dus na ’n portret van die lig en weet jy is nie die lig nie. As jy begin te glo jy het al die antwoorde vir die lewe se probleme‚ as jy oortuig is dat jy weet hoe ander mense dink en optree‚ dan raak jy arrogant.
Ons begin ander mense manipuleer en onderdruk. Net Jesus Christus is die Lig. Ons moet maar altyd nederig bly en bid dat ons deur hierdie Lig gelei mag word. Kyk dus na die portret van die lig en weet dis nie jy nie.
Ons moet ook weet dat ons nie beter of heiliger as ander mense is nie. Kyk maar na ander mense se portrette en word nederig. In die geskiedenis van die Christendom verskyn talle mense wat vriendelik was‚ gehoorsaam‚ vol medelye en bereid om te vergewe. Ongelukkig was daar ook baie persoonlikhede wat haatdraend was‚ onverdraagsaam‚ twissoekerig en eiegeregtig.
Ons geskiedenis is maar ’n geskiedenis van geloof en ongeloof‚ genade en hardkoppigheid‚ en ons het nog nie juis as Protestante die mark vir goeie werke verower nie.
Die Fariseërs se fronse keep egter net dieper. Hoekom matig Johannes die Doper hom dan aan om mense te doop as hy nie self die verwagte eind-figuur is nie? Die doopseremonie is nie op sigself vir die Jode vreemd nie. As iemand uit die heidendom oorkom na die Jodedom toe‚ word die proseliete doop aan so ’n persoon bedien. En in die afgesonderde gemeenskap van Qumran doop hulleself daagliks as teken dat hulle die ware regverdiges van die eindtyd is. Maar op grond waarvan doop Johannes ook Jode‚ en hoekom roep hy hulle boonop op om hulle te bekeer tot die koninkryk van God?
Johannes se antwoord is soos sy hele lewe – ’n vingerwysing weg van homself af. Die Iemand oor wie dit gaan‚ en wat aan al sy optredes gesag verleen‚ staan tussen hulle. Hy is Iemand met ’n hoofletter (1:26). Waar ’n leerling gewoonlik ’n leermeester (rabbi) se sandaalveters losmaak om só sy nederigheid en afhanklikheid te betoon‚ ag Johannes die Doper homself nie eers waardig om dit te doen nie.
Die een oomblik meen die afvaardiging dat hy die Messias of Profeet kan wees‚ die volgende oomblik verneem hulle dat hy nie eers werd is om dié Iemand van wie hy praat se sandaalveters los te maak nie.
Nou wie is hy eintlik? Die skrywer sê: “Hy was self nie die lig nie‚ maar hy moes oor die lig getuig” (1:8). Hy is die ou in die projektorkamer wat die lig op die doek laat skyn met die portret van Jesus Christus daarin. Johannes die Doper se portret is dié van ’n padmaker. Hy is self nie die een wat op die pad loop nie‚ maar die een wat pad maak vir iemand anders om te kom (1:23). Die portret van Johannes die Doper is die portret van ’n projektoroperateur en ’n padmaker.
As ek en jy die lig was‚ of die profeet of die gesalfde – nou-ja‚ dan was die wêreld verlore. Die goeie nuus is dat daar wel iemand is wat die lig is‚ wel iemand wat beter as ons almal is‚ wel iemand is wat op die grootpad van die hemel afkom aarde toe. Wie is ons dan? Ons is ook maar niks anders as padmakers en projekteurs nie. Ons dade‚ ons woorde‚ wys maar vir ander mense na die God toe‚ na die bron van die bietjie lig wat daar in ons lewens mag wees.
Markus sê Johannes se lig het só helder geskyn (1:5) dat die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem na hom toe gestroom het. Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.
Die vuur van die Heilige Gees het gegloei en gebrand op die altaar van sy hart en sy lewe. Hy was gewillig om te brand – ja‚ om verbrand en verteer te word vir die Here van die leërskare. ’n Brandende hart is ’n hart wat blaak (uitkook) van geesdrif (passie). Die vuur van heiligheid en die gloed van liefde word omgesit in geesdrif‚ ywer‚ entoesiasme en aktiwiteit.
Iemand het tereg gesê:
Elke groot en toonaangewende gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis is die triomf van een of ander entoesiasme.
Die wêreld het vandag so ’n groot behoefte aan sulke mense: mense wie se hart‚ soos die van die Emmausgangers‚ brandende in hulle geword het.
Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het‚ en julle was gewillig om julle ’n rukkie in sy lig te verheug (Joh. 5:35).
Johannes se hele optrede is net die vervulling van God se opdrag om soos ’n strooijonker voor die bruidegom uit te gaan. Nadat ’n strooijonker die bruilofsfees gereël het‚ staan hy terug en geniet dit as alles volgens plan verloop. Johannes die Doper doen nog meer. Hy bring die Bruidegom (Jesus‚ die Messias) en die bruid (die Kerk as gelowiges) bymekaar uit. Daarmee is sy taak afgehandel. Dis ’n nederige taak‚ maar daarvoor is hy deur God gestuur (3:28). Hy sal nou stil-stil van die verhoog verdwyn sodat die kollig op die Hoofspeler in God se groot plan kan fokus.
U sien‚ dit hang nie daarvan af hoe groot en mooi die lamp is nie. U en ek het moontlik nie sulke buitengewone talente nie. Ons is bes moontlik maar van die mindere ligte! Groot skares vergader nie rondom ons soos rondom Johannes die Doper nie. Per slot van sake is ons maar heel gewone mense. En tog – as ons gewillig is om die lampie van ons lewens in sy hande te plaas‚ sal Hy ons met vrug gebruik.
Hy sal ons dra na en plaas op die plek waar Hy ons wil laat brand en skyn: in ons eie huis‚ in ons omgewing‚ in ons buurt‚ of dalk op een of ander plek waar Hy juis net vir ons wil en kan gebruik.
Soms voel ons dat die plek te nederig en te beskeie – te eentonig – vir ons is; soms voel ons dat ons te eenvoudig en beskeie is vir die voortreflike werkkring wat Hy ons toewys. Maar daarvan kan ons wel seker wees: Hy weet waar Hy die lamp van u en my lewe die beste kan gebruik. Ons kan dit werklik met groot gerustheid aan Hom toevertrou.
Wie was Johannes die Doper dan? Iets baie snaaks het gebeur. Hy het begin word wat hy nie was nie. Hy laat ’n lig skyn. Hy begin soos die Christus lyk: hy sterf as middelaar in die tronk. Herodes verwar hom met Jesus. Jesus self sê hy is die profeet‚ hy is Elia.
Daar word vertel dat Franciscus van Assisi homself baie sterk met die lyding van Christus identifiseer het. As gevolg hiervan het hy sogenaamde stigmata ontwikkel – merke op sy liggaam wat baie lyk soos die wonde van Jesus. Hy het merke op sy hande‚ sy voete‚ sy sy‚ asook op sy kop en skouers ontwikkel. Hy het soos Jesus begin lyk.
Dit is dié wonder wat met Johannes die Doper gebeur het. Die foto’s van die lig en die Christus en die Profeet en Elia het oor mekaar begin skuif. Johannes het geword wie hy nie was nie.
Is dit nie wat Paulus van ons vra as hy sê “beklee julle met Christus” nie? Is dit nie dieselfde wat Paulus ervaar het‚ toe hy gesê het: “Ek leef nie meer nie‚ maar Christus leef in my”?
Wie is jy? Wie is ek? Hoe lyk ons? Ons is nie die lig nie‚ nie die Christus nie‚ nie die profeet nie‚ nie Elia nie. Dit is na hulle foto’s wat ons wys en sê: “Dis nie ek dié nie.” En hoe meer ons na die lig wys‚ en hoe meer ons na Jesus wys‚ en hoe meer ons na die Profeet wys en na die Elia wat gekom het wys‚ hoe meer word dit ook ons portret.
En nou sal niemand hoef te vra vir wie ek werk of hoe God lyk nie. Hulle sal kyk na my en na jou en ’n portret van God deur Jesus Christus begin raaksien.
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.