|
Preek:
|
16 Maart 1997 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Efesiërs 4:1-16
|
|
Teks:
|
Efesiërs 4:1-16
|
|
Tema:
|
Die taak van die kerk
|
DIS ONGELOOFLIK‚ as ons daaraan dink‚ hoe baie ons gemeente‚ en sekerlik honderde ander gemeentes van verskillende kerke‚ soos passasierskepe werk. Daar is ’n groot klomp passasiers‚ en ’n klein klompie bemanningslede. Die meeste van die lidmate is redelik gemaklik op die skip. Hulle sit rustig op hulle dekstoele en sonbaai. So elke nou en dan kom daar ’n kelner verby wat kom hoor of hulle nie iets wil hê om te eet of te drink nie.
Meestal is daar ook kamerdiens beskikbaar waar dit wat die passasiers wil hê in hulle kajuite afgelewer sal word. Van tyd tot tyd stap die hoofkelner‚ of die kaptein van die skip tussen die gaste deur om te hoor of alles nog in orde is: “Is die drankies koud genoeg? Is die sop warm genoeg? Is die diens flink genoeg?”
En oor die algemeen is die passasiers tevrede. As jy ’n meningsopname sou maak‚ dan noem hulle vir jou die positiewe punte van die skip maklik op: “Die diens is goed‚ veral die konsertgroep wat gisteraand die opvoering gehou het‚ en daai kulkunstenaar – kan hom gerus weer kry vir ’n vertoning!”
Hier en daar is daar natuurlik ietsie wat pla. Al die kelners is nie altyd ewe hoflik nie. Party mors die sop op die passasiers se klere. Ander maak ogies vir die mooi meisies onder die passasiers in plaas daarvan om hulle werk te doen.
As ’n mens die saak van die bemanning se kant af bekyk‚ dan begin jy dit dalk so bietjie verstaan. Die probleem is dat die kelner wat die sop gemors het‚ vir 24 uur nie geslaap het nie‚ want sien‚ toe hy van diens af kom as kelner toe laat weet die kaptein daar is ’n krisis in die enjinkamer‚ hy moet die werktuigkundiges gaan help. Toe spandeer hy die hele nag lank om olie van die enjinkamer se vloer af op te vee.
Dieselfde het gebeur toe die aartappelskiller in die kombuis dros. Toe moes een van die ander kelners dubbelskof werk om die ete betyds klaar te kry. Na ’n week se dubbelwerkery sonder oortydbetaling‚ besluit die twee kelners hulle het genoeg gehad‚ en in die volgende hawe‚ klim hulle van die skip af. Toe kort daar nog meer bemanning.
Dit maak dat die wat oorbly moet harder werk‚ en veral: dat hulle werk moet doen waarvoor hulle nog nie opgelei is nie. Daar is egter nie tyd om hulle op opleidingskursusse te stuur nie‚ want die passasiers begin ongeduldig raak omdat hulle nou al self hulle glase kombuis toe moet vat as hulle klaar is.
’n Passasiersboot is daar ter wille van die passasiers. Sy hoofdoel is om passasiers gelukkig te hou‚ en om wins te maak vir die maatskappy wat hom besit. By die eerste tekens van gevaar maak ’n passasiersboot dat hy wegkom uit die gevaarterrein en skuil iewers in ’n veilige hawe.
Ons moet ’n verskil maak wanneer ons aan God se kant en in sy diens in die wêreld wil leef. Nou moet u my mooi verstaan. Dit beteken nie elkeen van ons moet ’n Bybel gryp en mense stormloop en probeer bekeer nie. Op ’n oorlogskip moet daar nog steeds aartappels geskil en skottelgoed gewas word. Daar moet nog steeds skoon wasgoed beskikbaar wees vir die soldate.
Maar al dié dinge is in diens van die doel van die skip: om die teiken te tref.
As gemeente sal ons vir ons ’n paar doelwitte moet stel‚ ’n paar teikens hier in ons omgewing bepaal – sake waarby ons in die Here se Naam ’n verskil kan en moet maak in ons gemeenskap. Om ons te help om hierdie doel te bereik het die Here sekere besondere gawes aan die kerk gegee.
Hierdie gawes is soos ’n liggaam se senuwee- en spiersisteem wat sorg dat ’n hand se vingers saam vat en die voete reg saam kan hardloop. Die kerk se gawes is belangrike gawes. Sonder senuwees en spiere sou die tong en slukderm en die maag nie gekoördineerd hulle funksies kon uitvoer nie. Die belangrike ding om hier te verstaan‚ is dat elkeen van ons‚ so seker as wat ons die geloof ontvang het‚ ook ’n gawe ontvang het OM IN DIE GEMEENTE DIENSBAAR TE WEES. Lidmate wat nie hulle gawes gebruik nie‚ gaan algaande geestelik dood.
Nou wil almal gewoonlik weet hoe ’n mens jou gawe kan ontdek en waar jy dit kan gebruik. In die lig hiervan is dit baie belangrik om eers die volgende misverstande uit die weg te ruim:
Gawes is nie geestelike rangkentekens op jou skouer nie.
Gawes is ook nie geestelike medaljes op jou bors nie.
’n Mens kry nie jou gawe deur in jouself te delf nie.
Gawes se oorsprong lê by die Here.
Hy gee self vir ons gawes. Sy gawes ontwikkel in jou as jy regtig die Here liefhet‚ as iets van aanbidding en lofprysing in jou lewe ’n werklikheid word. Al hierdie dinge kan eintlik net begin gebeur as jy kan leer om weg te kyk van jouself en jou eie belange‚ as jy na God kan begin kyk om dan deur sy oë die wêreld te sien.
Efesiërs 4 sê die gawes wat Jesus aan die kerk gee is die ampte: die amp van gelowige (amper die belangrikste)‚ profete‚ die evangeliste‚ die herders‚ die leraars‚ die kategete‚ die lede van die finansiële kommissie‚ die ouderlinge‚ die diakens – ELKEEN WAT BETROKKE IS BY DIE KERK SE ORGANISATORIESE STRUKTUUR – EN DIT SLUIT JOU OOK IN.
’n Amp is nie soos ’n rang in die weermag wat jou seggenskap oor ander mense gee nie. ’n Amp is meer soos ’n ambag. Jy is aan die gemeente gegee om as ’t ware in ’n oorpak te kom werk en te dien. Die kenmerk van die kerk se ambagsmanne word in vers 2 gegee: “Wees altyd beskeie‚ vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde.”
Die kerk se ambagsmanne is dus die senuwees en spiere en gewrigte wat die ledemate aan mekaar verbind en koördineer sodat dit ’n lenige liggaam kan vorm. Paulus stel die taak kortliks soos volg in vers 12: “Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.”
Hoe moet hierdie manne en vroue nou die kerk se lidmate gaan toerus? Paulus sê jy moet soos ’n dokter of ’n verpleegster wees. Die woord toerusting is dieselfde woord wat in Grieks vir die spalk van ’n been of ’n arm gebruik word. Die ampsdraers moet die lidmate in gelid bring. Hulle moet die wat gebroke is‚ spalk en sorg dat hulle geestelik en liggaamlik gesond is.
Die tweede funksie van die ampte is om die lidmate se werk in die gemeente te koördineer. Ons kerk is ’n begaafde kerk vol begaafde mense. Wat dikwels ontbreek is die koördinering van hierdie gawes. Mense werk soms teen mekaar. Daar moet gesorg word dat dinge glad en georganiseerd verloop. Hulle moet soos gesonde spiere‚ senuwees en gewrigte die ledemate laat saamwerk deur te sorg dat die kerk se werk op ’n ordelike en georganiseerde wyse gedoen word.
’n Derde taak is om die ledemate te voed sodat hulle kan groei en groot word en sterk word. Dit sluit in dat daar gesorg moet word dat die Woord in al sy fasette‚ van prediking‚ kategese‚ huisbesoek‚ bybelstudie en huisgodsdiens onderhou word.
Die vraag wat dus vanmôre weer voor ons staan‚ en waarmee ons maar heeltyd moet bly is nie: “Behoort jy aan ’n kerk?” of “Wanneer laas was jy by die kerk?” of “Weet jy waar is die kerk?” of so iets nie. Dit lyk my die vraag wat ons moet antwoord is: wanneer laas was jy kerk? En die Kerk is hulle wat die Here s’n is.
Dis die mense aan wie Hy die boodskap van die versoening toevertrou het. Dit lyk my dus dat ons nie almal pratende‚ prekende sendelinge en evangeliste hoef te wees nie. Nie almal in die kerk het die gawe om dit te doen nie. Maar ons het almal die taak om so te lewe dat ons nie maak dat die ouens wat wel vir ander mense vertel‚ eintlik lieg nie. Ons moet so lewe dat dié mense onder ons wat wel die moed kry of deur die liefde van Christus gedring word om vir iemand anders te vertel dat God hulle liefhet nie hoef te hoor: maar ek sien dit dan nêrens nie. Ons gedrag moet so wees dat dit nie gedurig vir mense nodig is om te sê:
“Ja‚ maar jy moet onthou: die kerk bestaan ook maar net uit sondaars. Ons moet maar die dominee of die ouderling of die diaken of daai lidmaat verskoon.”
Elke keer wat dit gebeur‚ doen ons die boodskap van die versoening skade aan omdat ons dit nie kan bedien ook nie. Dit help regtig niks as die nuwe restaurant die pragtigste bemarkingsveldtog het‚ en die mooiste plakkate uitstal‚ hulle vertel jou van hulle lekker kos‚ maar hulle kos smaak aaklig nie.
Jy is die kerk. Jy behoort aan die Here. Dink bietjie aan jouself as ’n sakrament – as ’n teken wat Christus wil gebruik om mense te herinner daaraan dat sy beloftes vir hulle ook bedoel is.
Om ons weer in ’n verhouding met God te bring‚ is Jesus se liggaam gebreek en sy bloed vergiet. As dít gebeur‚ kom ons weer in ’n verhouding met ons medemens. Die een kán nie sonder die ander nie‚ roep om die ander‚ vloei oor in die ander. Wie in die regte verhouding met God kom‚ word deel van die familiae Dei‚ die familie van God (Augustinus). In dié familie staan ons saam. En reik ons uit na mekaar en na ander.
Overduin‚ ’n Hollandse predikant‚ was leraar van ’n “goeie” gemeente. Die offers was mild en die boeke finansieel gesond. Een nag is Overduin uitgeroep na die sterfbed van ’n buitekerklike man.
“Het jy al van God gehoor?” vra Overduin hom.
“Ja‚ dis ’n vloekwoord‚” antwoord die man.
“Weet jy wie Jesus is?” probeer Overduin weer.
“Dis ’n beeldjie in ’n kerkgebou.”
Die man – het Overduin later vasgestel – het jare lank skouer aan skouer saam met ’n diaken uit sy eie gemeente en ’n lidmaat van die Rooms-Katolieke Kerk gewerk … Die Sondag daarop het Overduin vir sy gemeente gesê: “Julle is sulke gawe mense. Maar julle is sulke wrede mense …”
Mag die Here ons almal help‚ dat ons van hierdie gemeente van Hom‚ ’n effektiewe oorlogskip in sy vloot sal maak. Of jy nou ’n hand of ’n voet‚ ’n oog‚ ’n spier of ’n senuweedraad is‚ jy het op hierdie skip ’n baie spesiale en ’n baie belangrike funksie om te vervul. Ons kan in hierdie dae van vandag nie bekostig om agteroor op dekstoele soos op ’n passasierskip te sit nie.
Kom ek probeer om ’n voorlopige visie vir ons gemeente te formuleer en ek wag nog voorstelle na afloop van die erediens in.
Ons is die gemeente wat in liefde‚ in diens van God en ons medemens tot eer van God wil lewe. Hoe gaan ons dit doen?
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.