Die uitverkiesing – ’n nagmerrie?

Oor dié saak word deesdae liefs die swye bewaar. Predikante preek bra selde daaroor. Lidmate vermy die onderwerp veiligheidshalwe. Vir sommige lidmate is dit so te sê ’n taboe: iets waaroor ’n mens so min as moontlik moet dink en wonder en praat. Maar so in die stilligheid kwel dit hulle tóg en vra hulle hulleself af of ’n mens ooit seker kan wees …

Dit gaan om die leer van die uitverkiesing en die vraag waaroor ons almal die een of ander tyd duidelikheid wil kry (al gee ons ook anders voor): is ek deur God uitverkies … of nie?

As dit waar is dat die kerke van Gereformeerde inslag deesdae min aandag aan die uitverkiesingsleer gee‚ was dit vroeër anders gesteld. Ons Gereformeerde kerkvaders het die leer van die uitverkiesing sterk beklemtoon as een van die sentrale leerstukke van die kerk. Calvyn het so ver gegaan om dit “die hart van die kerk” te noem. Vir die lidmate van die Gereformeerde kerke was die feit dat God hulle in genade uitgekies het‚ steeds van die allergrootste belang: hulle het vanuit hierdie oortuiging gedink en geleef.

En vandag? Die rede vir die “onderbeklemtoning” van die Bybelse leer van uitverkiesing in ons tyd‚ moet waarskynlik gesoek word in die skewe voorstelling wat al te dikwels in die verlede daarvan gemaak is.

Daar is geen skeiding tussen uitverkiesing en Christus nie.

Moet ’n mens‚ afgesien van jou geloof in Christus‚ ook op ’n ander manier sekerheid kry of jy uitverkies is? Die probleem is dat ’n mens‚ as jy eers eenmaal in dié rigting begin dink‚ byna onvermydelik in ’n maalstroom van onsekerheid en vertwyfeling beland. Want op watter ander manier as deur jou geloof in Jesus Christus kan ’n mens ooit sekerheid kry dat jy verlos is?

Die vraag is nou: kan ons op grond van die Bybel die verlossing in Jesus Christus en die uitverkiesing van God van mekaar skei asof dit twee losstaande sake is? Is dit reg om die uitverkiesing en die optrede van Jesus Christus as twee afsonderlike dinge te sien wat in die tyd ver uit mekaar lê en min met mekaar te doen het?

Die antwoord is: nee.
In die Nuwe Testament kom ’n paar sleuteltekste voor wat duidelik wys dat dit ten ene male verkeerd is om so skeiding tussen die uitverkiesing en Jesus Christus te maak. Al hierdie tekste verbind die uitverkiesing en Jesus Christus juis ten nouste aan mekaar. Luister byvoorbeeld na Ef. 1:4 en 5: “So het Hy‚ nog voordat die wêreld geskep is‚ ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons‚ volgens sy genadige beskikking‚ toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.” Let ook op 2 Tim. 1:9: “Hy het ons gered en geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen‚ nie op grond van ons dade nie‚ maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”

In albei hierdie tekste word die uitdrukking “uitverkies in Christus” of “uitverkies deur Christus” gebruik. Die verband tussen die uitverkiesing en die verlossing in Jesus Christus word soms ook in ander woorde uitgedruk‚ soos by 1 Pet. 1:19 en 20: “… julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus‚ die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem‚ maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom.”

Christus en ons uitverkiesing

Kom ons kyk nou van naderby na wat presies met die uitdrukkings “uitverkies in Christus” en “uitverkies deur Christus” bedoel word.

Die Bybelse uitdrukking “uitverkies in Christus” sê vir ons dat ’n mens die uitverkiesing net reg kan verstaan as jy dit in die lig van die verlossingswerk deur Jesus Christus benader. Christus en die verlossing deur Hom gee ons as ’t ware ’n venster op God se uitverkiesing. As ons deur hierdie venster na die uitverkiesing kyk‚ sien ons raak dat dit in die uitverkiesing om heil en genade gaan‚ dat die uitverkiesing gemotiveer is deur God se ontfermende liefde vir die gevalle mens.

Jesus Christus bied ook in ’n ander opsig die enigste toegang tot die uitverkiesing van God. Daar is naamlik geen ander weg waarlangs ’n mens deel kan kry aan die uitverkiesing as deur geloof in Jesus Christus nie. ’n Mens kry nie deur selfverloëning‚ deur bepeinsing of selfs deur die blinkste goeie werke daaraan deel nie. Die geloof in die Persoon en werk van Jesus Christus is die enigste toegang.
Om in Jesus Christus te glo‚ is om deel te hê aan die uitverkiesing van God!
Dit is daarom heeltemal onnodig vir ’n gelowige om te tob oor die vraag of hy regtig uitverkies is. As hy in Jesus Christus glo‚ kan hy verseker weet dat hy in genade deur God uitverkies is. Die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is ware geloof in Christus‚ die kinderlike vrees van God‚ die droefheid oor die sonde volgens die wil van God‚ die honger en dors na die geregtigheid‚ ens. (2 Kor. 13:5) (DLR 1.12).

Hoe voer Jesus Christus die uitverkiesing uit? Deurdat Hy optree as bemiddelaar tussen God en mens. Maar‚ anders as die meeste bemiddelaars (soos wanneer ’n derde party byvoorbeeld die bemiddelaar is vir die vrylating van gyselaars)‚ gaan Christus as bemiddelaar nie self skotvry uit nie. Inteendeel: Hy bemiddel die verlossing van die uitverkorenes deur die losprys vir hulle sonde en skuld met sy eie bloed te betaal. En net daarom – omdat Hy‚ die enigste Een wat sonder sonde is‚ sy lewe as ’n versoeningsoffer afgelê het – kan die uitverkorenes gered word.

Jesus Christus is dus ook nie soos die meeste bemiddelaars vervangbaar nie. Hy voer nie maar net ’n taak vir God uit wat net so goed deur iemand anders gedoen kan word nie. Aangesien Hy en nét Hy aan die kruis vir ons sonde versoening kon doen‚ is daar‚ soos Hand. 4:1 dit stel‚ “geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

In Ef. 1:4 lees ons die volgende opvallende sin: “So het Hy‚ nog voordat die wêreld geskep is‚ ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.” Hier word uitdruklik gesê dat die uitverkiesing plaasgevind het “nog voordat die wêreld geskep is” of‚ soos dit in die 1953-hersiening lui: “voor die grondlegging van die wêreld.” Wat in hierdie en ook in ander tekste (vgl. Ef. 1:11) onderstreep word‚ is die feit dat die uitverkiesing van God ’n ewige uitverkiesing is.

Juis die feit dat die Skrif van ’n ewige uitverkiesing praat‚ maak dit vir mense moeilik om die noue verband tussen die uitverkiesing en die verlossing deur Jesus Christus in te sien. Dit is nie met die eerste oogopslag duidelik hoedat die uitverkiesing – wat nog voordat die wêreld geskep is‚ plaasgevind het – en die versoeningsdood van Jesus Christus aan die kruis op Golgota duisende jare na die skepping onlosmaaklik met mekaar saamhang nie. Mense het ook ’n probleem met die feit dat albei hierdie sake wat so ver uit mekaar lê‚ en nie net een van hulle nie‚ volgens die Bybel van beslissende belang vir ons saligheid is.

Die opmerking dat ons nog voordat die wêreld geskep is‚ uitverkies is‚ word egter juis nie in die Skrif gemaak om die uitverkiesing vir ons iets duisters en bedreigends te laat wees nie. Dit kom in ’n Skrifgedeelte voor wat as ’n loflied bedoel is! Paulus wil daarmee nie iets negatiefs nie‚ maar iets positiefs sê. Hy wil die gedagte; tuisbring dat ons verlossing nie iets is wat onseker of twyfelagtig is nie‚ maar dat dit absoluut vas en volkome onveranderlik is. Dit lê vas omdat dit glad nie van ons veranderlike besluite en planne nie‚ maar uitsluitlik van God se voornemens vir ons lewe nog lank voor ons geboorte afhang.

As sterflinge begryp ons maar min wat dit beteken dat die besluite van God “ewig” is. Ons weet op grond van die Bybel wel dat die ewigheid iets totaal anders as die tyd is. En tog wil ons die ewigheid maar altyd weer in terme van die tyd voorstel. Die ewigheid is vir ons eintlik net oneindige lang tydperk. En ’n ewige besluit van God? —
Dit word vir ons ’n besluit wat God reeds lank gelede‚ in die verre verskiet‚ geneem het. Trouens‚ hoe sou ons dit vir ons anders kon voorstel? En hoe sou Paulus die feit dat God se besluit oor die uitverkiesing ewig is‚ anders kon omskryf as om te sê dat dit ’n besluit is wat geneem is nog voordat die wêreld geskep is?

Maar die ewigheid is iets ánders as die tyd. Dit omvat verlede én hede én toekoms. En God is gister en vandag en môre dieselfde. Die uitverkiesing kan dus nie gesien word as iets wat net op die verre verlede betrekking het nie. Dit het nie slegs voor die skepping van die wêreld plaasgevind nie‚ dit het ook in die geskiedenis van die mens plaasgevind toe God die wêreld in Jesus Christus met Homself versoen het. En dit vind vandag nog steeds plaas as God in sy genade die hart van ’n sondaar nuut maak en hy met geloof in Jesus Christus antwoord!

Ons sou die uitverkiesing ook die dieper dimensie van die verlossing in Jesus Christus kon noem. Die Skrif onderstreep dat dit God is wat in Christus werksaam is. Soos alle ander handelinge van God in die geskiedenis‚ hang die verlossing in Christus egter nie in die lug nie. Die Skrif leer ons dat God se handelinge in die geskiedenis altyd voorafgegaan word deur Goddelike beplanning. God bespreek die saak as ’t ware met Homself en besluit dan tot ’n bepaalde optrede in die geskiedenis. Anders gestel: God is sowel ontwerpend as uitvoerend met die wêreld besig. En so is dit ook met die uitverkiesing en die verlossing in Jesus Christus. In die ewige uitverkiesingsbesluit van God ontwerp Hy sy verlossingsplan met die wêreld. In die kruisdood van Jesus Christus voer Hy sy verlossingsplan in die geskiedenis uit. Só nou hang die uitverkiesing en die verlossing in Jesus Christus met mekaar saam!

Waar kom ongeloof dan vandaan?

Terwyl die Bybel verduidelik dat die geloof wel sy diepste grond in die uitverkiesende genade van God het‚ word ongeloof oral in die Bybel aan die skuld van die mens toegeskryf. Daarom het die Dordtse Sinode van 1618-1619 reeds die volgende hieroor bely: “Van die uitdrukking dat die verwerping op gelyke wyse die oorsaak van die ongeloof en goddeloosheid is‚ soos die uitverkiesing die fontein en oorsaak van die geloof en goeie werke is‚ verklaar die Dordtse Sinode dat hy nie alleen so iets nie bely nie‚ maar so ’n opvatting van ganser harte ook met verfoeiing verwerp” (Epiloog by Dordtse Leerreëls).

Ek vertrou dat die Heilige Gees ook in jou hart ’n jubeling laat opbruis om God te dank vir die verkiesing in Jesus Christus‚ sodat ons saam met Paulus in Romeine 11:33-36 kan jubel.

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
ePos: hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za

Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.

13 April 2005