Preek:

28 Maart 1993 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Eksodus 19:1-20:11

Teks:

Eksodus 19:4

Tema:

Verbond … Tyd vir keuses en verbintenisse


DIE woestyn het op eienaardige manier gehelp om die Israeliete gereed te maak vir die pad wat die Here vir hulle in gedagte gehad het. Deur ’n hele reeks dinge wat in die woestyn gebeur het – onder meer dat hulle nie net geleer het om hullesélf beter te ken nie‚ maar ook in die geleentheid gekom het om die Here beter te leer ken – is volk voorberei vir ’n dieper en vollediger verbintenis tot die Here. Dít is die merkwaardige gebeurtenis waarvan in Eksodus 19-24 vertel word.


Die meeste van ons het deur die jare so gewoond geraak aan die tien gebooie dat die oorspronklike impak en die dieper betekenis daarvan meestal by ons verbygaan wanneer ons dit hoor.

Veelseggend is die opmerking van Leopold von Ranke dat die ontmoeting by Sinai die begin van die wêreldgeskiedenis was. Natuurlik was daar gebeure voor die tyd – by Israel se aartsvaders en verder terug (waarvan die Skrif verhaal) en by ander volkere. Nietemin werk die invloed van hierdie ontmoeting by Sinai tot in ons tyd nog onverpoos in die wêreld na. Daarby geld die beslissende vraag:

Hoe staan die mens teenoor die God van Sinai‚ veral in die lig van sy openbaring in Jesus Christus (Matt. 5:17; Rom. 3:31)?

Dit is interessant dat die verbondsluiting met die volk nie reeds in Egipte plaasgevind het nie en dat die Here ook nie daarmee wag totdat die volk in die beloofde land is nie‚ maar dat hierdie geweldige gebeurtenis hom afspeel in die middel van die woestyntyd.

Waaroor gaan die verbondsluiting?

In wese gaan ’n verbondsluiting altyd daaroor dat ’n verhouding wat op losse skroewe gestaan het en waarin daar nie definitiewe afsprake was nie‚ tot ’n punt gebring word waar die betrokke partye ’n vaster ooreenkoms met mekaar aangaan. Vir Israel het dié dag gekom drie maande nadat hulle uit Egipte weg is (Eks. 19:1)‚ toe hulle in die omgewing van die Sinaiwoestyn was. Die derde maand word deur die Joodse tradisie vertolk om met die latere Pinksterdag saam te val‚ maar dit kan nie bewys word nie. In elk geval is dit ’n vaste periode wat verloop het.

Die volle impak en betekenis van hierdie gebeurtenis verstaan ’n mens eers goed as jy dit teen die agtergrond van Eks. 3 lees. Daar het Moses na die Naam van die Here gevra‚ waarskynlik in ’n subtiele poging om ’n soort greep op God te kry. Ons het ook gesien dat die Here hierdie hand wat Moses na Hom toe uitsteek‚ sag maar ferm terugstoot en daarmee as ’t ware vir sy dienaar sê: “Ek sal altyd daar wees” (EK IS WAT EK IS) Moenie probeer om my te dwing nie. My woord sal vir jou en die volk genoeg moet wees.

As ’n mens Eksodus 19–24 teen hierdie agtergrond lees‚ sien jy dat die Here hier in sy groot ontferming en genade die volk tegemoetkom en ’n ekstra tree in hulle rigting gee. Tussen die lyne deur sê die Here hier vir die volk: Goed‚ kom ons gaan ’n vaste ooreenkoms met mekaar aan. Ek het gehoop dat dit nie nodig sou wees nie‚ dat my woord en my beloftes alleen vir julle genoeg sou wees.

Goed‚ dan gee Ek die ekstra tree. Ek is bereid om Myself te bind; om ter wille van julle ’n vaste onderneming te gee. Meer nog: om ’n ooreenkoms‚ ’n kontrak met julle aan te gaan. Ek sal vir julle ’n God wees‚ met alles wat dit insluit‚ en uit al die nasies van die aarde sal júlle my volk wees. En Ek sal vir julle sorg en vir julle alles gee wat julle nodig het en wat Ek reeds aan julle beloof het. “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou‚ sal julle my eiendom uit al die volk wees‚ want die hele aarde is myne” (Eks. 19:5). Hier het ons ’n uitspraak van geweldige betekenis. Die aarde behoort aan die HERE. Al die volke is in die holte van sy hand. En tog is net één volk sy volk: Israel. Hiermee lê Hy nadruk op sy koninklike verkiesing. Hulle is sy oogappel. “Maar jy‚ Israel‚ my kneg Jakob wat Ek uitverkies het‚ nageslag van Abraham‚ my vriend‚ jy wat ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep het‚ en Ek het aan jou gesê: Jou het Ek uitverkies en jou nie verwerp nie” (Jes. 41:8‚ 9).

Uit ons oogpunt gesien is dit die grootste geheimenis denkbaar. God het mense lief – hier sy volk – sonder dat hulle daar iets van verdien. Geen mens kan iets voor Hom neerlê en van Hom eis: “Vergoed my asseblief” nie. Alle mense en volke – ook Israel – verdien sy regmatige oordeel. En tog bevoordeel Hy bepaalde mense deur hulle sy eiendom te maak. Dit kan ek en jy met ons menslike verstand wat bowendien verduister is deur die sonde‚ nooit begryp nie.

Mense spot met die uitverkiesing en sê: “Dit is onregverdig van God.” Sulke mense praat oor iets wat bo hulle begrip is. Hoe sou ons met ons Maker kan twis? Vra maar in die eerste plek: “Is ek regverdig teenoor God‚ my Skepper? Gee ek aan Hom die liefde en eerbied wat Hom toekom?” Ja‚ as Hy ons sou vergeld na wat ons aan Hom weerhou‚ dan sou niemand voor Hom kon bestaan nie.

Sing liewer saam met Paulus: “Aan God‚ die Vader van ons Here Jesus Christus‚ kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy‚ nog voordat die wêreld geskep is‚ ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees” (Ef. 1:3‚ 4). Daarom moet ons en Israel‚ na sy stem luister en sy verbond hou. Ons moet Hom liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.

’n Groot deel van mense se onbehae met die wet van die Here het juis te doen met die feit dat ons hierdie agtergrond nie altyd raaksien en verdiskonteer nie. Alles wat in die verdere Eksodushoofstukke gesê word‚ moet gesien word in die lig van hierdie grootse‚ genadige verbintenis wat die Here met sy volk aangegaan het. Soos te verwagte het die verbond egter ook ’n ander kant. As die Here beloftes maak en ondernemings gee‚ dan verwag Hy dat die volk dieselfde sal doen; as die Here by wyse van spreke sy hand op papier sit‚ verwag Hy van die volk om dit óók te doen; as die Here kan sien om Homself te verbind‚ het Hy reg om te verwag dat Israel óók bereid moet wees om ’n verbintenis aan te gaan.

Ons staan hier by ’n saak wat deur die eeue vir die kerk van die Here ’n baie groot probleem was. Vir baie kerke is dit Probleem Nommer Een omdat hulle ’n hele aantal mense het wat (om verskeidenheid van redes) in God en godsdiens belangstel en daarom op ’n manier meeloop met die kerk‚ maar wat nie kans sien om ’n werklik betekenisvolle verbintenis (“commitment”) tot die saak van die evangelie aan te gaan nie.

So ’n verbintenis is natuurlik iets wat vir min mense maklik kom. Ek wonder soms of hierdie skuheid vir ’n vaste verbintenis nie baie naby lê aan die kern van dit wat die sonde aan ons gedoen het nie. Ons het ’n gewaande vryheid‚ ons meen dat ons keuses en opsies in die wêreld oop is – en dit wil ons tot elke prys‚ tot in die laaste loopgrawe‚ probeer “bewaar” en verdedig.

Al die eeue was dit maar so‚ maar daar is rede om te glo dat dit in die vinnige veranderinge wat óns eeu kenmerk (“nooit” beteken glo deesdae “nie binne drie maande nie”)‚ net nóg moeiliker raak om egte verbintenisse te maak en te hou … En tog kan ons dit op geen manier ontloop nie. Die waarheid is dat‚ as jy hierdie keuses nie self maak nie‚ dit die een of ander tyd vír jou gemaak word. Geen mens kan in der ewigheid al sy opsies oophou nie. Die een of ander tyd moet ’n mens maar besluit waar en waarvoor jy staan in die wêreld.

Van die mees tragiese verhale wat vertel word‚ is seker dié van “suksesvolle” mense wat oud geword het sonder dat hulle ooit iewers in hulle lewe in iets geglo en ’n vaste verbintenis tot iets of iemand gemaak het. Vandag staan die Here weer voor ons en Hy vra: Wat maak jy met my verbond – Ek dra jou op arendsvlerke (v. 4) en jy?

Self sê die Here: Julle moet vir my ’n koninkryk van priesters en heilige nasie wees (v. 6). Die onderdane in die koninkryk van Christus is self konings. Hy het ons verlos en ons is nie meer slawe van die duiwel en die sonde nie‚ maar konings en priesters voor Hom. Ons behoort aan Hom en leef om Hom te dien en eer. ’n Priester doen offerwerk. Maar die priesters van God in Christus se offerwerk is koningswerk.

As vrygekooptes van Christus offer ons onsself gewilliglik‚ ja‚ koninklik. Wanneer laas‚ my broeder en suster‚ het jy werklik iets van jouself geoffer? Iets gegee wat jy nie kan ontbeer nie? Dit is wat die verbond van die Here van jou vra? Die werklike probleem in verband met die verbintenis wat God van mense vra‚ is egter nog groter en ingewikkelder as wat ons hier sien. Dit is nie net moeilik om so ’n verbintenis aan te gaan nie – maar wanneer ’n mens dit wel gedoen het‚ moet jy blykbaar aanhoudend bedag wees op subtiele verstellings of afbuigings waardeur jy die skyn van ’n verbintenis probeer bewaar terwyl die waarheid is dat jou hart glad nie meer in die saak is nie. Ons wil vanaand daarna gaan kyk.

TEN SLOTTE

Die HERE het Israel uitverkies‚ verlos‚ geroep en op arendsvlerke gedra en na Hom toe gebring – om Hom sigbaar by Horeb te ontmoet. En deur die verhaal van die wonder wat met Israel gebeur het te laat opteken‚ het die Heilige Gees aan ons voorgehou hoe Hy ons op arendsvlerke deur die lewe dra om eenmaal voor Hom te staan‚ Hom van aangesig tot aangesig te ontmoet op die nuwe aarde!

Ons moet weet dat dit ’n magtige stryd is om los te breek uit die greep van die stuiptrekkende duiwel‚ maar ook weet ons dat die Here ons elke dag uit die gevare lig‚ en op arendsvlerke dra Hy ons deur die gevare heen om altyd by Hom te wees.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.