Preek:

15 Augustus 1993 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Hosea 6

Teks:

Hosea 6:1-6

Tema:

Die verlore seun van die OT


IEMAND het gesê dat ons hier in Hosea 6 te doen het met die verlore seun van die Ou Testament. By hierdie een sowel as die een in Lukas 15 was daar ’n tyd van innerlike worsteling‚ by albei was daar ’n opstaan‚ by albei was daar ’n terugkeer en die rigting van terugkeer was dieselfde – huis toe. Hieroor aanstons meer.

Hoofstuk 6:1 en verder het ’n heel ander toon as hoofstuk 5. Terwyl die volk deurentyd weg van God beweeg het – agter die Baäls (hoofstuk 1-4) en agter die vreemde volke aan (hoofstuk 5) – is hulle hier weer op pad terug na God‚ soos dit hoort. Wat met Israel gebeur het tussen die beskrywing in 5:15 en 6:1 word nie gesê nie. Terwyl die houding in die vorige hoofstuk nog getuig van ’n sondige beterweterigheid‚ lees ons in die woorde van 6:1 iets van ’n ootmoedige belydenis van mense wat die roede van God gevoel het. Juis om dié rede klink die oproep tot terugkeer in 6:1 – “Kom ons gaan terug na die Here‚ want Hý het ons verskeur maar sal ons weer gesond maak‚ Hý het ons geslaan maar sal weer ons wonde verbind” – so eg‚ so oortuigend.

Mense wat só praat‚ bedoel dit tog seker ernstig met God. Maar by ’n belydenis bly dit nie. Daar is ook ’n verklaring van voorneme (v 3): Kom ons wy ons aan Hom toe (daar staan letterlik: “laat ons najaag om die Here te ken”). Hierdie kennis van en toewyding aan die Here wat hulle as gevolg van die versuim van die priesters nie kon bybring nie (hoofstuk 4)‚ word nou by die terugkerende volk ’n voorneme van die hart. Nee‚ nie net ’n voorneme nie‚ maar ’n ywerige strewe. Die woord wat hier vir streef (v 3) gebruik word‚ is dieselfde as wat in 2:6 vir die onvermoeide “opsoek” van die Baäls gebruik word en in 12:2 vir die toewending tot die vreemde volke (“hy hou hom op met wind” – beeld van die nietigheid van dié magte).

Dit is asof Israel met die uitspraak wil sê dat die energie en krag waarmee hulle indertyd hierdie dinge nagevolg het‚ voortaan sal gebruik tot diens van die Here. Verder is daar ’n ontwaking van ’n nuwe vertroue en sekerheid in die Here en sy beloftes: Die Here sal verskyn‚ so seker as die son opkom‚ Hy sal na ons toe kom soos stortreën (v 3). Mens sou kon sê ons het hier ’n uitdrukking van egte Bybelse vroomheid. Met so ’n gemeente sal God tog seker tevrede wees!

Maar hoekom is sy oordeel oor hierdie oënskynlik vroom lewens wandel dan so anders? Die antwoord daarop word in Hosea 6:4 – “Wat moet Ek met jou doen‚ Efraim? Wat moet ek met jou doen‚ Juda? Julle liefde is soos ’n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou” gevind. Aan ywer en voornemens en offers (v. 6) het dit by hierdie Ou Testamentiese gemeente nie ontbreek nie. Daarom kan geen een hulle van laksheid en louheid beskuldig nie. Maar tog het daar iets gehaper aan daardie kenmerk wat die hart is van ware Bybelse vroomheid‚ naamlik die liefde. Daar was geen standhoudendheid in hulle liefde nie.

Dit is soos ’n môre wolkie (v. 4) wat blitssnel voor die bloedige warm Palestynse son die wyk neem. Hieroor is God diep teleurgestel. Daar klink iets van ’n Goddelike verleentheid in hierdie woorde: Wat moet ek met jou doen‚ Efraim? Wat moet Ek met jou doen‚ Juda? (v. 4). Hoe dikwels het God nie al in die verlede probeer om hierdie kwaliteit by hulle in te prent nie. Hy het die profete gestuur (v. 5) om aan hulle lewens te arbei en te werk. In die oorspronklike Hebreeus staan daar dat Hy aan hulle “gekap”‚ en “gehamer” en “gebeitel” het om aan hulle die Godgewilde vorm te gee‚ ook al het dit dikwels beteken dat hulle daardeur neergekap‚ vernietig is. Maar tog het hulle dit nie ter harte geneem nie. Daarom‚ sê God‚ sal my straf oor julle kom so seker soos die lig (v. 5).

Die volk het in die tyd van Hosea onder die invloed van die Kanaänitiese godsdiens in ’n belangrike opsig in hulle godsdienstige lewe verkeerd gegaan. Hulle het klem gelê op die uiterlike‚ die offers‚ God vra die hart‚ die liefde. Daarom dat Hy in vers 6 sê: Ek verwag liefde eerder as offers.

By die lees van die gedeelte word mens weer van nuuts af bewus van die diepgewortelheid van die menslike skuld en sondigheid. Ja‚ dat mens selfs in die godsdiens‚ waar dit tog om God moet gaan‚ gaan probeer om die Here om die bos te lei. Asof Hy tevrede sou wees met oppervlakkige godsdienstige handelinge‚ terwyl die hart‚ wat tog die sentrum van die lewe is‚ verstok en onveranderd bly.

Ons het vanoggend ’n voorbereidingsdiens met die oog op die heilige nagmaal wat ons DV volgende Sondag gaan vier. Hoe ernstig is ons met ons voorbereiding om aan die tafel van die Here te kom aansit waar Hyself teenwoordig is? Of gaan ons die Here ook probeer om die bos te lei?

Dis miskien maklik om nou ’n vinger na Israel te wys en te sê: “Maar dit is tog glashelder waar Israel in hulle godsdienstige lewe verkeerd gegaan het. Offers kan tog nie ’n plaasvervanger word vir ware toewyding nie!” Maar is ons nie baie dikwels skuldig aan dieselfde tipe dwaling nie? Is ons offers werklik die uitvloeisel van ’n intieme verbondenheid aan die Here‚ of het dit in die plek daarvan gekom? Dien ek die Here sodat Hy vir my sal sorg of omdat ek Hom liefhet en Hy die Here is?

Is ons barometer vir geestelike vroomheid nie presies op dieselfde lees geskoei as dié van Israel van ouds nie: hoe gereeld ek kerk toe gaan‚ hoe groot my kerklike en ander bydraes vir minderbevoorregtes is en hoeveel tyd ek aan die dinge van die Here afstaan nie? Dit is baie mooi en noodsaaklike kwaliteite‚ maar nou is die gevaar dat my hele godsdiens daarin kan opgaan en ek daaragter kan skuil en dit stel in die plek van ’n egte Bybelse vroomheid. God is nie geïmponeer met ’n vlugtige boetelied en uiterlike godsdienstigheid nie. Hy stel net in opregte toenadering‚ liefde en toewyding belang.

Die Fransman Voltaire het die bekende uitspraak gemaak dat dit God se ambag is om te vergewe! Dit was ook hierdie mense se houding. Hulle het gedink dat as hulle maar ’n effense beweginkie in God se rigting maak‚ Hy dit aan hulle verskuldig is om hulle te vergewe en vir hulle ’n nuwe lewe te laat begin. Hoeveel het ons van Voltaire in ons godsdiens? Ons is ook so gevul met die gees van hoogmoed dat ons dink God is baie aan ons verskuldig. En wanneer ons wel tot ’n belydenis kom‚ is dit dikwels bloot ’n tegniek waardeur ons uit die moeilikheid probeer kom.

As jy vasgedraai het in jou huwelik en ander verhoudinge en alles al probeer het‚ maar niks wil werk nie‚ dan wend jy jou tot God want Hy het nie ’n ander keuse as om in te gryp en te help nie! Ons liefde vir God is nog yler as ’n môrewolkie terwyl ons liefde vir onsself so dik saamgepak is in ons harte.

God kyk by die offers en uiterlikhede verby en sien die hart aan. God verkies liefde eerder as offers (v. 6). Liefde in hierdie verband beteken dat ek my totaal en al op God sal werp‚ al my heil van Hom sal verwag en Hom alleen gehoorsaam. Nie soos Israel wat ook nog ander handvatsels gehad het soos vreemde politieke magte en die afgode waaraan hulle probeer vashou het nie. God vra onverdeelde liefde‚ ’n liefde waar daar nie plek is vir ander dinge buite God nie. Dan is offers nie meer ’n hefboom wat ek gebruik om God se guns in my rigting te draai nie‚ maar ’n spontane gebaar wat groei uit ’n hart wat gevul is met dankbaarheid oor sy verlossing.

’n Ander waarheid in die deel wat ’n mens diep raak‚ is die goddelike bewoënheid en lankmoedigheid oor sy skepsels‚ hulle sondes ten spyt. Die profeet vertel aan ons wat in God se hart gebeur by die ervaring van hierdie dwaling van sy volk. God is met Homself in ’n tweestryd gewikkel: “Wat moet Ek met jou doen‚ Efraim?” Hierdie woorde vertel van baie liefde‚ geduld‚ verdraagsaamheid en begrip wat Israel ten deel geval het en dat God hulle‚ ongeag hulle sonde‚ nog nie heeltemal afgeskryf het nie. Vir Hom is die dwaling van sy volk en kind ’n pynlike saak. God wil nie verdelg nie‚ al roep die sonde van sy volk daartoe. Eerder wil Hy hê‚ soos Esegiël (33:11) sê‚ dat die mens van sy optrede afsien en lewe. Efraim kry nog ’n kans‚ “want Ek is God en nie ’n mens nie” (11:8).

Efraim gaan nou lewe voor die aangesig van die Here. Efraim wil nou tuis bly. Nie meer ver weg onder die Vaderoog uit nie. Nie meer in die verre vreemde nie – daar het hy genoeg ellende gesien! Hy sal ook nie vra vir ’n bokkie om met sy vriende vrolik te wees nie – soos die oudste broer. Want daarmee het dié broer gesê: Die huis‚ die vaderhuis is nie alles nie! Daar het hy nie alles nie. Hy was dus meer kneg as seun in die huis. Efraim verstaan dit goed: dankbaarheid beteken dat ons met ons ganse lewe ons dankbaarheid aan God sal bewys vir al sy weldade.

Die lewe van bekering is nie om God se aangesig te soek op vasgestelde tye in die kerk om maar net daarna jou eie koers in te slaan en die weelde ver van God te gaan soek nie. Die soek van die aangesig van God is nie ’n hoogtepunt hier en ’n bergspits daar in die laagvlakte of leegte van ons lewe nie. Ons hele lewe word ’n hoogvlakte. Ons is nou soos ’n kind in die Vaderhuis wat besig is met liefdesdiens. Vir hierdie kind is die lewe ’n lus en ’n vreugde om voor die aangesig van God te lewe. Laat my asseblief toe om die volgende beeld te gebruik:

“’n Oosterse vors het eenkeer ’n goeie‚ wyse man gesoek om hom in ’n verafgeleë provinsie te verteenwoordig. Hy het ’n sekere raadgewer wat hy vir die pos ingedagte gehad het‚ laat roep en gesê: “Kom saam met my na my tuine.”
Die koning het drie tuine gehad‚ presies eenders in grootte en uitleg. Dieselfde blomme het in al drie gegroei.
“Wel‚” vra die vors toe hulle deur is‚ “wat het jy in my tuine gesien?”
“U majesteit‚” antwoord die raadgewer‚ “om die waarheid te sê‚ ek was teleurgesteld met die eerste tuin. Dit is glad nie na behore versorg nie.”
“En wat van die tweede tuin?” vra die koning.
“Dit‚” antwoord die raadgewer‚ “is ’n goedversorgde tuin.”
“En die derde tuin?” vra die koning.
“Aha! U majesteit‚” antwoord die raadgewer‚ “woorde ontbreek my om dit te beskrywe. Dit is ’n volmaakte tuin.”

“Ja‚” sê die koning‚ “jy het goed geoordeel‚ en nou sal ek jou vertel waarom die tuine so verskil. Die eerste tuin word deur my slawe bewerk wat my dien omdat hulle moet‚ en uit vrees vir straf. Die tweede tuin word versorg deur betaalde amptenare. Hulle sit in die tuin net soveel as wat hulle verwag om daaruit te kry. Maar die derde tuin word versorg deur dié wat my liefhet‚ en hulle is met niks minder nie as die beste tevrede nie.
En nou gaan ek jou na ’n ver land toe stuur om oor ’n deel van my mense te regeer.
Dien nie uit vrees vir straf‚ of uit hoop vir beloning nie.
Dien met liefde en alles sal wel wees.”

Die beste diens is die diens van liefde‚ die soort diens wat nie die koste bereken nie. Plig dra ons net tot die einde van die eerste kilometer‚ maar liefde dra ons tot by die tweede kilometer – die kilometer van vreugde en vryheid.”


Ja‚ dit is ons godsdiens – om voor God se aangesig te lewe. Min van ons doen dit! Soek – dit doen ons nogal! Maar daar lewe! Nou ja! In die begeerte om voor die aangesig van God te lewe word daar twee dinge onderskei: ware geloof en tydgeloof. Die tydgelowige wil graag by die Here kom‚ maar nie daar bly nie. Hy het seker nie daaraan gedink dat om die Here te volg beteken om jou kruis op te neem nie! Hy wil net één kilometer met sy naaste saamstap. Twee kilometer is teveel! Dit is vir hom nie moontlik om sy oog wat hom skade doen‚ uit te ruk nie! Op die lang duur word die eise van Gods Woord te veel‚ dit irriteer – dit steek hom dwars in die krop. En kort voor lank bedank hy die kerk.

Want om voor die aangesig van God te lewe beteken ook: die kaal voete te sit op die gloeiende altaarkole‚ om lewend verteer te word in die diens van die Here! En dit is dan die lewe waartoe Efraim opgewek word én ons. En as ons daaraan dink: Hy sal ons na twee dae lewend maak en op die derde dag laat opstaan – dan staan Christus voor ons oë. Deur Hom alleen is alle opstanding‚ nuwe lewe moontlik. Hier is eintlik‚ met Hosea se mond‚ Christus aan die woord – Hy wat geskeur‚ deur God geslaan was maar na drie dae weer opgestaan het.

Alleen deur hierdie opstanding van Christus‚ die Hoof‚ was die opstanding van Efraim‚ die liggaam moontlik. Watter nut het Christus se opstanding dan vir ons? Is ons ook daardeur opgewek tot ’n nuwe lewe? ’n Nuwe lewe voor sy aangesig! Kom u dit by uself agter? Nuwe lewe‚ soos kostelike fonteine! Nuwe lewe om voor sy aangesig te lewe! Dié lewe is die ware lewe! In beginsel die ewige lewe!

Hoe staan dit met ons? Lewe ek voor die aangesig van God. Of is ek soos ’n slegte seun – wat na ’n aand van jeugmisdaad – weer by die huis wil slaap – by die vaderhuis‚ maar bedags is die teerpaaie van ongeregtigheid die bêreplek van sy lewenswandel? En hoe lyk ons godsdiens nou eintlik? Het ek in Christus opgestaan tot ’n nuwe lewe? Of soek ek in eie krag in my benoudheid so nou en dan die aangesig van die Here? Watter uitwerking gaan hierdie voorbereidingsdiens en nagmaalsviering op my hê? ’n Dringende vraag wat u moet gaan antwoord‚ ja‚ gaan antwoord voor die aangesig van die Here.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.