Die vrug van die Gees is … GEDULD

Lees: Matteus 18:21-35
Teks: Matteus 18:21-35

Sien jy die mense wat in die huis wegkruip? Dis ons. Die mense wat agter die trappehuis wegkoes? Dis ek en jy. Ons vermy die skuldinvorderaars. Dis die aand voor uitsetting. Die bank het ons een dag gegee om ons verband te betaal. Kredietkaart-agente het hulle op die voorste grasperk tuisgemaak. Maar ons is bankrot. Die water is afgesluit‚ die motor teruggeneem‚ die meubels weggeneem‚ en nou klop die inkomstebelasting-agent aan die deur. Hy wil die agterstallige belasting hê. ‘Ek weet julle is daarbinne. Maak oop!’

Ons maak dus oop. Hy sê vir ons hoeveel ons skuld; ons herinner hom daaraan dat hulle wat niks het nie‚ nie kan betaal nie. Hy verwys na tronkstraf‚ en op hierdie stadium klink ’n warm bed buite bereik van die krediteure nie so sleg nie.

Net toe hy die polisie-offisier nader wink‚ lui sy selfoon. Dis die hoof van die Inkomste Belastingkantoor. Hy wil met ons praat‚ hy wil ’n verduideliking van ons hê. Ons het niks. Geen verdediging nie. Net ’n versoek dat geduld beoefen moet word. Hy luister in stilte en vra om weer met die agent te praat. Terwyl die hoof praat‚ knik die kêrel in die pak klere en sê ‘Ja‚ meneer‚ … Ja‚ meneer‚ … ’ Hy klap sy telefoon toe en kyk eers na jou en dan na my. ‘Ek weet nie wie julle is nie‚ maar julle skuld is betaal‚’ sê hy‚ terwyl hy die dokumente opskeur en die stukke laat val.

Miskien het jy nie geweet God het dit vir ons gedoen nie. Miskien het niemand vir jou vertel nie‚ ‘God is ryk in goedheid‚ verdraagsaamheid en geduld’ (Romeine 2:4). Miskien het jy daardie dag toe die predikant Psalm 103:8 gelees het‚ weggedommel: ‘Barmhartig en genadig is die Here‚ lankmoedig en vol liefde.’ Indien wel‚ is dit geen wonder dat jy so gespanne is nie. Dis geen wonder dat jy ongeduldig is nie. Bankrotskap kan die beste van ons baie humeurig maak. Weet jy wat jy moet doen? Gaan uit op die voorstoep. Staan daar waar die kêrel van die inkomstebelastingkantoor gestaan het‚ en kyk na daardie dokumente – daardie stukke wat oor die grasperk versprei lê. Kyk mooi na die bewys van God se oneindige geduld.
Jy was in die skuld!
Daardie kere toe jy sy naam net in vloektaal gebruik het?
Daardie duisende sonsondergange waarvoor jy Hom nooit bedank het nie?
Hy kon die skoonheid om jou gerantsoeneer het‚ maar Hy het nie. Hy was geduldig.
Daardie Sondae toe jy kerk toe is om jou nuwe rok te vertoon?
Dis ’n wonderwerk dat Hy jou nie met naaktheid geslaan het nie. Maar Hy het nie. Hy was geduldig.
En‚ o goeiste‚ al daardie beloftes: ‘Kry my net uit hierdie gemors‚ en ek sal nooit weer lieg nie.’
‘U kan op my staat maak om in die toekoms vir U op te kom.’
‘Ek is klaar met woedebuie‚ Here.’

As verbreekte beloftes boumateriaal was‚ sou ons ’n hele nuwe woonbuurt kon bou. Het God nie meer as genoeg rede om ons te trap nie? Maar Hy doen dit nie. Hoekom nie? Want ‘Hy is geduldig met julle’ (2 Petrus 3:9).

In 1 Korintiërs 13 skilder Paulus geduld as die belangrikste uitdrukking van liefde. Die vlagskip wat as geduld bekend staan‚ lei die apostel se Armada van die Liefde – ’n bootlengte of twee voor vriendelikheid‚ hoflikheid en vergewensgesindheid. ‘Die liefde is geduldig’ (1 Korintiërs 13:4).

Die Griekse woord wat hier vir geduld gebruik word‚ is ’n beskrywende woord. Figuurlik beteken dit ‘om lank te neem voordat dit kook’. Dink aan ’n kastrol kokende water. Watter faktore bepaal die spoed waarteen dit begin kook? Die grootte van die stoof? Nee. Die kastrol? Die houer het dalk ’n invloed‚ maar die belangrikste faktor is die intensiteit van die vlam. Water kook vinnig as die vlam hoog is. Dit bereik kookpunt stadiger as die vlam laag is. Geduld ‘hou die vlam laag’.

Dis ’n goeie verduideliking‚ nie waar nie? Geduld is nie naïef nie. Dit ignoreer nie wangedrag nie. Dit hou bloot die vlam laag. Dit wag. Dit luister. Dit kook nie gou nie. Dit is hoe God ons behandel. En‚ volgens Jesus‚ is dit hoe ons ander behoort te behandel.

Hy het eendag ’n gelykenis vertel van ’n koning wat besluit het om die rekeninge van sy skuldenaars te laat vereffen. Sy rekenmeester het ’n kêrel opgespoor wat nie duisende of honderdduisende rande geskuld het nie‚ maar miljoene. Die koning het summier bevel gegee dat die man en sy vrou en kinders verkoop moes word om die skuld te betaal. As gevolg van sy onvermoë om te betaal‚ sou die man alles en almal wat vir hom lief en dierbaar was‚ verloor. Maar …

‘Die man het voor hom [die koning] neergeval en gesoebat: “Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.” Die koning het hom jammer gekry‚ hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.’ (Matteus 18:26-27)

Die woord geduld‚ wat hier vertaal is as ‘gee my tog uitstel’‚ kom as ’n verrassing. Die skuldenaar soebat nie vir genade of vergifnis nie; hy soebat vir geduld. Wat ook eienaardig is‚ is hierdie buitengewone verskyning van die woord. Jesus gebruik dit twee keer in hierdie verhaal en nooit weer nie. Dit verskyn nêrens anders in die Evangelies nie. Dié skaars gebruik van die woord beklemtoon dit juis – byna soos ’n soort eerste-eeuse merkpen. Jesus beperk die woord tot een gebeurtenis om ’n punt te maak. Geduld is meer as ’n deug vir lang toue en diegene wat moet wag. Geduld is die rooi tapyt waarop God se genade na ons kom. As daar geen geduld was nie‚ sou daar geen genade wees nie. Die koning was egter geduldig‚ en die man met die multi-miljoen rand skuld is vergewe.

Dan kom daar egter ’n wending in die verhaal. Die kêrel wat pas vergewe is‚ kies kortpad na die voorstede toe. Daar vind hy iemand wat weer vir hóm geld skuld.

‘Toe daardie man buite kom‚ het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg‚ en gesê: “Betaal wat jy skuld!” Sy mede-amptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: “Gee my tog uitstel‚ ek sal jou betaal.” Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.’ (vers 28-30)

Die koning was verstom. Hoe kon die man so ongeduldig wees? Hoe durf die man so ongeduldig wees! Die ink van die GEKANSELLEER stempel was nog klam op sy eie skuldbewyse. Sou jy nie ’n bietjie meer barmhartigheid van hom verwag het nie? ’n Mens sou dink dat iemand vir wie so baie vergewe is‚ baie liefde sou betoon. Maar hy het nie. En sy gebrek aan liefde het daartoe gelei dat hy ’n dure fout begaan het.

Die onversoenlike dienskneg word na die kasteel teruggeroep.

‘“Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het nie?” Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.’ (Matteus 18:32-34)

Die koning se geduld het geen verskil gemaak in hierdie man se lewe nie. Vir die dienskneg was die genade wat aan hom betoon is‚ bloot ’n gekanselleerde toets‚ ’n koeël wat nie getref het nie‚ ’n kaartjie waarmee tronkstraf vrygespring is. Hy was nie verstom deur die genade van die koning nie; hy was bloot verlig dat hy nie gestraf is nie. Hy het baie geduld ontvang‚ maar self niks gegee nie‚ wat ons laat wonder of hy werklik die geskenk wat hy ontvang het‚ verstaan het.

Indien jy dit moeilik vind om geduld te beoefen‚ mag jy dalk dieselfde vraag vra. In watter mate is jy met God se geduld deurtrek? Jy het daarvan gehoor. Daarvan gelees. Miskien het jy Skrifgedeeltes daaroor onderstreep. Maar het jy dit al ontvang? Die bewys is jou geduld. Geduld wat die hart binnedring‚ is geduld wat vryelik gegee word. Indien geduld nooit ontvang word nie‚ lei dit tot hope probleme‚ waarvan gevangenskap maar een is. Onthou jy waarheen die koning die onversoenlike dienskneg gestuur het? ‘Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het’ (Matteus 18:34).

Sjoe! sug ons. Dis maar goed daardie verhaal is net ’n gelykenis. Dis maar goed God stuur nie die ongeduldiges in die werklike lewe tronk toe nie. Moenie so seker wees nie. Selfbeheptheid en ondankbaarheid skep dik mure en eensame tronke.

Ongeduld hou nog steeds die siel gevange. Om daardie rede reageer God vinnig om ons dit te help vermy. Hy doen meer as om net geduld van ons te vra; Hy bied dit vir ons aan. Geduld is ’n vrug van sy Gees. Dit hang aan die boom van Galasiërs 5:22: ‘Die vrug van die Gees is liefde‚ vreugde‚ vrede‚ geduld.’ Het jy vir God gevra om vir jou die vrug te gee? Wel‚ ek het ’n slag‚ maar … Maar wat? Het jy‚ nouja‚ het jy ongeduldig geword? Vra Hom weer en weer en weer. Hy sal nie ongeduldig word omdat jy aanhou soebat nie‚ en jy sal geduld ontvang terwyl jy aanhou bid.

Dit is duidelik hoe hierdie gelykenis ’n antwoord gee op Petrus se vraag. Jesus het sonder grense liefgehad. Daarom moet ons dit ook doen met ons “skuldige” naaste.

Want ons is daardie amptenaar. Dit is ons oneindige skuld wat vergewe is. En dit is ons wat daarom ook lankmoedig behoort te wees met ons medemense.
Dis so eenvoudig soos dit.
Behalwe dat‚ as ons nie onder die indruk daarvan is dat ons sélf vergewe is nie‚ ons natuurlik van die hele gelykenis en van die hele koninkryk geen snars sal verstaan nie.

En inderdaad‚ sê die bekende prediker Helmut Thielicke‚ is dit die groot gevaar van alle oppervlakkige prediking en alle moralistiese praatjies oor die geestelike lewe. As ons nie verstaan wat sonde en skuld en genade en vergifnis is nie; as ons maar net dink die evangelie wil van redelik ordentlike mense nog ’n bietjie méér ordentlike mense maak‚ sal ons die ABC van die koninkryk van die hemel nie kan volg nie.

Nee‚ ons moet begryp dat dit óns lewe is wat geknel en ontsier was deur skuld en vrees‚ wat tot frustrasies‚ spanninge en konflikte van allerlei aard gelei het. Dit is óns wat onder die bedreiging van dood en verganklikheid geleef het. Dit is teenoor óns wat die Koning lankmoedig en genadig en geduldig was. Dit is óns wat daarom vir die eerste maal waarlik kan leef‚ as vrye mense‚ wat ’n nuwe lewe gegun is.

Dáárom is dit so vanselfsprekend dat ons ook mekaar sal vergeef‚ lankmoedig sal wees met mekaar‚ mekaar ’n nuwe lewe sal gun. Omdat God óns vergewe het‚ aanvaar‚ en die lewe gun.

En dáárom is dit so totaal onverklaarbaar dat ons ander tóg nie van harte vergewe‚ soos wat ons vergeef is nie …

Wat beteken geduld as gesig van die Christelike liefde dus?
Dit beteken om nie die vleeslike weg te volg nie. Om nie mekaar te byt en op te eet en dalk nog te verteer ook nie (Gal. 5:14-15).
Dit beteken dat ons nie die een die ander sal dophou‚ sal kritiseer‚ sal verwyt‚ sal beskuldig‚ en later sal háát nie.
Dit beteken dat ons nie die een die ander niks sal gun nie‚ mekaar sal probeer afbreek en slegmaak en aftakel en verwoes nie.
Dit beteken dat ons nie die een die ander sal beskinder en belaster en beswadder en probeer benadeel nie.
Dit beteken ook dat ons nie eens die milder weg van Petrus kan volg nie. Hy wou nie byt en opeet nie‚ maar vergewe. Maar hy wou dit doen omdat dit beter‚ voordeliger‚ is‚ omdat dit beter menslike verhoudings moontlik maak.

Hy wou tydelik deur die vingers sien‚ maar tog onthou‚ tog tel‚ sodat‚ wanneer die skuld te veel en te erg word‚ hy dit kon ophaal en straf.
Hy wou vergewe‚ maar nie vergeet nie.
Hy wou vergewe‚ maar tog onthou‚ ingeval dit later nodig mag wees.
Hy wou die getal kere wat teen hom gesondig word sorgvuldig onthou – sewe! – sodat hy skuld kon bereken‚ en‚ indien nodig‚ later tog nog ook kon áfreken.Hy wou vergewe met ’n dreigement: Ek vergewe jou nou‚ maar pasop as jy dit die sesde keer doen! Daarna …
Hy wou stilbly kastig oorsien‚ tydelik kans gee‚ maar tog dophou‚ tel‚ wag op nóg ’n fout.

Hy wou die ander sleg laat voel en homself goed. Ons ken dit mos: wanneer ’n ouer stilbly oor wat verkeerd is en net diep bedroef lyk‚ kan dit erger wees as straf. Bloot stilbly is nie altyd vergewe nie!
Nee‚ egte vergifnis is nog weer iets anders.
Dit is om waarlik‚ van harte‚ te vergeet. Nie om te maak of jy nie sien of weet nie‚ maar om terwyl jy weet‚ te vergewe‚ die mens te aanvaar‚ en nuwe lewe te gun.
Geduld is om mense ’n nuwe kans te gee. Om hulle ou mislukkings nooit weer teen hulle te hou nie.
Dis om te wees soos 1 Korintiërs 13 sê: Die liefde reken die kwaad nie toe nie. Hou nie boek van die kwaad nie. Tel nie. Bereken nie. Wag nie vir die dag van afrekening nie.

Die liefde gee waarlik‚ van harte‚ ’n nuwe kans‚ ’n nuwe blydskap‚ en vergeet‚ vir altyd‚ wat agter lê.

Maar hoe sal ons dít tog regkry?
Nie as hierdie eis as ’n wet na ons toe kom nie.
As ons voel dat ons móét‚ dat ons ons moet inspan om te vergewe‚ dat ons maar moet oë toeknyp en sluk en altyd die minste wees‚ want so word ons goeie mense‚ dit word mos van ons geëis … sal ons dit nooit van harte en met blydskap doen nie.

Die wet kan ons nie vry maak en krag gee om dit te doen nie. Dit sal ons net frustreer‚ gespanne en ongelukkig maak. Slegs die Gees kan dit aan ons géé.

En die Gees doen dit deur ons die blydskap te laat beleef dat ons sélf vergewe is‚ aanvaar is‚ veel groter skuld kwytgeskeld is as wat enigeen ooit teenoor ons kan pleeg.
As ons dít verstaan en beleef‚ sal ons ook kan liefhê met lankmoedigheid.

Die gevaar waaraan ons kerkmense blootgestel is‚ is dat ons so gewoond geraak het aan die boodskap van God se liefde dat dit niks meer vir ons sê nie. Dat dit ons nie meer roer nie. Dat ons dink: Ag‚ God is dit aan ons verskuldig. Dis God se werk om te vergewe. Dit is vanselfsprekend.

Dit was die fout van die amptenaar in Jesus se gelykenis.
Hy het nie begryp wat met hom gebeur het nie. Hy het die wonder daarvan nie verstaan nie. Hy was aanvanklik verlig‚ maar eintlik was dit vir hom vanselfsprekend.

Slegs as die genade van God vir ons elke môre nuut is‚ as dit ons elke dag verras; as die voorreg om in Gods Naam ’n nuwe dag te mag beleef – saam met hierdie man‚ saam met hierdie vrou‚ saam met hierdie kinders‚ saam met hierdie vriende‚ hierdie kollegas‚ op hierdie plek in God se goeie skepping – slegs as dit alles vir ons wonderbaar bly‚ as ons die genade-aard daarvan bly herken‚ sal ons van harte kan vergewe – tot sewentig maal sewe keer toe. Ontelbaar‚ sonder berekeninge.

Hoe sal ons dit dus doen?
Hoe sal ons ons bitsige humeure oorwin? Ontslae raak van ons diepgewortelde wrokke? Bevry word van ons onverdraagsaamheid? Hoe sal ons ons vasgeloopte huwelike‚ met hulle oeroue argumente en verwyte‚ kan red? Hoe sal ons ons alledaagse en burgerlike lewe‚ waar skinder‚ kwaadpraat‚ aftakeling‚ etikette omhang‚ wedersydse beskuldigings so vanselfsprekend is‚ verander?

Deur elke dag‚ elke oomblik bewus te wees van ons eie skuld‚ maar bowenal van ons eie vergifnis. Van die voorreg om te mag leef voor God se aangesig‚ voor sy geduld en genade‚ sonder vrees of skuld.

Dan sal ons vry wees om self ook lankmoedig te wees. God se genade‚ God se vrye guns‚ God se geduld – so maak hierdie gelykenis van die koninkryk duidelik – is soos ’n aflosstokkie. Ons neem slegs deel aan die wedloop as ons die stokkie aangee‚ verder gee‚ as ons dit deel. Juis dit is God se bedoeling. Juis dit is die lewensreël van die koninkryk. Vergifnis‚ aanvaarding‚ geduld‚ lankmoedigheid kan ’n kragtige instrument tot lewensvernuwing wees. Solank ons die ander party beskuldig en verwyt‚ is dié uiteraard daarop uit om hulleself te verdedig en te regverdig. Dis eers as hulle agterkom dat ons hulle aanvaar‚ hulle nie verwyt nie‚ hulle ook vergewe dat egte berou en verandering kan plaasvind.

Mense verander meestal nie na ons wense en volgens ons verwyte nie‚ maar wanneer ons hulle aanvaar‚ ruimte vir hulle laat om hulleself te wees‚ hulle liefhet‚ geduldig is met hulle.

Ons het hier te make met die hart van die Christelike lewe‚ met die kern van ’n lewe onder beheer van die Gees. Dit gaan om die vraag of ons lankmoedigheid leer beoefen‚ of ons leer om te aanvaar en te vergewe en ruimte te gee aan mekaar – soos ons aanvaar en vergewe is en vir ons ruimte gegee word.

En oor die eintlike vraag: of ons dalk deur ons eie gebrek aan geduld en vergifnis teenoor ander toon dat ons die lankmoedigheid van God teenoor ons nog nie verstaan het nie.

Op slot van sake is die Christelike lewe en getuienis nie maklik nie. Ons moet lewe soos mense wat die Onsienlike sien en hoop op die dag dat die Here alles nuut sal maak. Intussen lewe ons in ’n wêreld wat Hom nie ken‚ nie en Hom nie verstaan nie; in ’n wêreld wat ook die Christen nie goedgesind is nie; ’n wêreld waarin die Christen maar alte dikwels teen die stroom moet gaan‚ standpunt moet inneem‚ vir sy beginsels moet uitkom‚ al is hulle ongewild‚ en ’n eensame stryd teen die magte binne en buite sy lewe moet stry. Dit kan so maklik – soos so dikwels gebeur – ’n martelaarshouding kweek: Kyk hoe swaar kry ek om Christen te wees! Kyk hoe ’n eensame stryd moet ek stry! Nee‚ sê Paulus; nee‚ sê die Woord van die Here‚ niks daarvan nie! Julle moet geduld beoefen. “Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop‚ vervul is. Julle moet dus nie traag word nie‚ maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het” (Heb. 6:11-13). As jy ooit moedeloos voel‚ lees Hebreërs 11 – die wonderlike ry van manne en vroue uit die Ou Testament wat as geloofshelde deur die skrywer van die Hebreërs voorgehou word. Hoekom? Hier staan: “Terwyl hulle steeds geglo het‚ het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is‚ maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig‚ en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.” (Heb. 11:13).

En wat was die geheim van hul lankmoedigheid? Omdat hulle Hom getrou geag het wat dit beloof het “daarom kon hulle met lankmoedigheid wag” (Heb. 11:11). Dit is eintlik die wesenlike kenmerk van ons geloof‚ om blymoedig te volhard selfs as daar niks gebeur nie; ook as daar geen hoë oomblik van emosionele belewing is nie. Dit is lekker om op die bergtoppe van verheerliking te verkeer!

Maar die lewe is nie so nie. Ons vier nie altyd fees nie. Meestal is dit die saaie‚ dooie roetine van elke dag‚ die lang‚ vaal vlakte van die lewe se plig – eentonig‚ en dikwels uiters vervelig. In ons eeu van spoed‚ waar ons in alle sake spoedige resultate eis‚ is geduld miskien die moeilikste en die belangrikste deug van almal. Want hier is geen romanse‚ geen avontuurlike aksie en prestasie nie‚ net die geduldige wag op die Here om my van dag tot dag in Sy genade te dra en getrou te maak aan die hoë roeping waarmee Hy my geroep het. As ’n skip die hawe verlaat‚ waai die vlaggies‚ die orkes speel; die gaste op die kaai en die passasiers gooi linte vir mekaar – dit is ’n vrolike stemming‚ die skip vertrek en almal waai vir mekaar. Maar nou lê die lang seereis voor waarop so baie dinge kan gebeur – die eentonige pad. En dit maak nie saak hoe ’n skip vertrek nie; wat van belang is‚ is hoe hy anderkant aankom.

Ons lewe bevat gelukkig ook hoë momente van wonderlike belewing‚ al is dit hoofsaaklik ’n lang pad van sleur. Ons wat al so ’n bietjie ouer is‚ weet dat die lewe ’n pad van inspanning‚ van oneindige herhaling‚ van vervelige werk is. As ons nie die lankmoedigheid van God in ons lewe het nie‚ sak ons uit‚ ook in ons Christelike lewe. Maar ons moet getrou bly aan Hom wat in Sy oneindige geduld weier om ongeduldig te word met die wêreld wat sy rug op hom gedraai het‚ wat lankmoedig oor ons is en nie wil hê dat sommige moet vergaan nie‚ maar dat almal tot bekering moet kom. As dit ons Here se houding teenoor ons is‚ wat kan ons beter doen as om ook met lankmoedigheid ons lewensweg te bewandel omdat ons Hom getrou ag?

Hy wag met oneindige geduld op jou en my. Hy wag miskien vandag dat een of ander vir die eerste maal werklik sal sê: “Here‚ sien my kom‚ kom tot aan U sy; was my in U dierbaar bloed‚ U bloed gestort vir my”; of dat u weer‚ nadat u lank op moedverloor se vlakte gesit het‚ u kruis sal opneem om Hom daagliks na te volg; of dat u weer met nuwe toewyding en nuwe oorgawe sal kom. Hy wag met lankmoedigheid op jou en my.

Amen

Ds. Hentie Krüger

Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.