|
Preek:
|
28 Mei 2006 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Jesaja 40:12-31 en Efesiërs 3:16-19
|
|
Teks:
|
Jesaja 40:31
|
|
Tema:
|
Die wat op die Here vertrou kry nuwe krag
|
ISRAEL is in ballingskap. Babel heers oor hulle. Hulle is moedeloos‚ kry swaar en het min hoop om van die ballingskap bevry te word. Dan praat die Here deur die profeet oor sy mag en krag:
Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet‚ met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal‚ met ’n maatemmer die grond van die aarde afgemeet‚ met ’n skaal die berge en die heuwels geweeg?
Die nasies is vir Hom soos ’n druppel aan ’n emmer‚ soos ’n stoffie op ’n skaal. As Hy die eilande op ’n skaal sit‚ is hulle soos stofdeeltjies. God het sy troon bokant die hemelkoepel‚ die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane.
Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek‚ oop soos ’n tent vir die mense om onder te woon. Hy maak die vername mense tot niks‚ die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie (verse 12‚ 15‚ 22-23).
Alles in dié wêreld is die skepping van sy hande en rus in sy hande. Hy beheer alles. Hy is die Een met alle mag in die hemel en op die aarde. Dit staan in skerp teenstelling met die mens. Terwyl Hy alle mag het‚ is die mens se eie krag uiters beperk. So sê Hy in vers 30: “Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat‚ selfs manne in hulle fleur struikel en val.”
Ja‚ selfs die fiksstes‚ selfs die een wat die Comrades wen‚ is ’n mens van vlees en bloed. Na 85 kilometer is hy gedaan. ’n Springbokrugbyspan is na 80 minute uitgeput; dis moeë voete wat van die veld afstap. Só beperk is die mens se krag. Hy het so min om op te roem. Die Here God‚ met alle mag‚ is die ware kragbron. Omdat die Heilige Gees self God is‚ is dit ook sy mag en krag.
AAN WIE DEEL HY DIT UIT?
Dié krag is tot die gelowige se beskikking: “Die wat op die Here wag kry nuwe krag.” Die woord “wag” is miskien te passief om die werklike betekenis hiervan te verduidelik (qawah – om angstig te wag op iemand op wie jy jou hoop gestel het; om uitkoms te verwag).
Dit gaan om ’n aktiewe wag – ’n aktiewe vertroue waardeur ek my eie afhanklikheid voor die Here erken. Ek is letterlik nie bereid om enigiets uit eie krag te waag nie. In biddende afhanklikheid soek ek na sy krag; eerlik en opreg soek ek die Here se aangesig en vra ek Hom vir nuwe krag.
HOEKOM?
Die kenmerk van hierdie mense wat op die Here wag is dat hulle aan die einde van hulle eie krag gekom het‚ dat hulle die laaste druppel uit hulle eie tenk opgebruik het en reeds by alle “menslike” vulstasies aangedoen het.
Nou verwag hulle hulle krag nét van die Here. Hulle sit alles op een kaart. Hulle is die behoeftiges wat in hulle nood en ellende en pyn‚ gans hulpeloos na God gevlug het.
HULLE SAL NUWE KRAG KRY.
DIT GEBEUR!
HOE?
Die mense in die tyd van Jesaja sou dié verse nog nie in diepte kon begryp nie. Maar óns kan! Die nuwe krag wat uit die hemelpoorte stroom‚ is die krag van die Heilige Gees wat die wêreld oorspoel. Jesus het beloof dat die Trooster kom – en dít is wat op Pinksterdag gebeur het.
Tien dae lank het die dissipels aktief in gebed en smeking gewag. Op die tiende dag het die hemelse sluise oopgegaan en het die Gees van God oor hulle gevloei. Dadelik het die krag op ’n duidelike manier sigbaar geword: Petrus‚ wat nie eens voor ’n diensmeisie kon getuig nie‚ preek skielik voor ’n reuse skare – en die krag van die heilige Gees breek so duidelik deur dat 3 000 tot bekering kom. Wonders en tekens volg; elke dag word mense gered.
Die Heilige Gees het inderdaad sy woonplek in die wêreld kom maak. Hy is nog steeds hier. Sy krag is steeds tot beskikking van sy kerk. Hy wil van sondaars verlostes maak‚ van vreesagtiges vrymoediges‚ van onheiliges‚ heiliges. Hy wil dit in volle maat gee aan elkeen wat aktief op Hom wag. Hy wil sy krag tot jóú beskikking stel.
Dit bring ons by ons volgende hoofgedagte:
HOE GESKIED HIERDIE VERSTERKING VAN DIE INNERLIKE DEUR DIE HEILIGE GEES?
In Efesiërs 3 sê Paulus dat God ons deur sy Gees krag gee om innerlik sterk te word (ho éso ánthropos). Dis eintlik dubbele krag: Die Gees gee krag sodat ons krag kan kry. Ons moet dit nie vergeet nie: Hoe swak ons ook al is‚ ons het in ons ’n Inwoner wat sterker is as enige mag wat binne of buite ons is. Hy wil ons in staat stel om elke dag oorwinnend te lewe.
Nou voeg Paulus nog iets by om te wys hoe groot en hoe oorvloedig hierdie krag is wat ons innerlik sterk maak. Hy sê dat hy bid dat hierdie sterk maak van die innerlike deur die Heilige Gees sal plaasvind “uit die rykdom van God se heerlikheid”‚ of “volgens die rykdom van God se glorie.”
Dit dui vir ons die maat van versterking aan. God se heerlikheid is onoortreflik. Dit is ’n rykdom wat so groot is dat dit nie bepaal kan word nie. Nou sê Paulus dat ons volgens hierdie maat versterk moet word. Met ander woorde daar is geen perke aan die versterking nie – net soos daar geen perke aan die rykdom van God se heerlikheid is nie.
Ons moet nooit sê dat ons sterk genoeg is nie. Ons moet nooit dink dat ons nie meer sterker kan word nie. Ons staan nog maar aan die rand van dié krag wat God werklik aan ons wil gee deur sy Gees. Ons het nog weinig begrip en ondervinding van die oorvloedige krag wat God se Gees in ons kan bewerk.
Hoeveel krag ek ook al reeds ontvang het‚ daar bly nog altyd groter moontlikhede oop want die maat van my versterking is so onbeperk soos die rykdom van God se heerlikheid!
Ons volgende hoofgedagte is:
WATTER UITWERKING HET SY KRAG?
In Jesaja word daar drie dinge genoem en in Efesiërs 3 noem Paulus nog twee dinge; ons wil na elkeen van hierdie vyf dinge gaan kyk.
- HULLE VLIEG MET ARENDSVLERKE
- HULLE HARDLOOP EN WORD NIE MOEG NIE
- HULLE LOOP EN RAAK NIE AFGEMAT NIE
- SODAT CHRISTUS IN ONS HARTE KAN WOON
- SODAT ONS DIE LIEFDE VAN CHRISTUS KAN KEN
- Hulle vlieg met arendsvlerke
Die arend is die kragtigste onder die voëls. Wanneer hy hoog bo die aarde vlieg‚ kan hy afkyk. Op ’n bewolkte dag kan hy selfs styg tot bokant die wolke en hom koester in die son se strale.
Dié mens wat die Heilige Gees in sy lewe het‚ hoef nie meer in sonde en ellende rond te ploeter nie. Die Gees lig hom uit sy sondetoestand op sodat hy hom kan koester in God se genade. Met die geloofsoog kan ons vanuit dié hoë posisie afkyk na die wêreld met sy probleme en bekommernisse. Ons geloofsoog laat ons sien dat God in beheer is. Hierdie krag wil die Heilige Gees aan ons en in ons skenk.
- Hulle hardloop en word nie moeg nie
Die beeld dui op buitengewone omstandighede. In gewone omstandighede loop ons. In buitengewone omstandighede hardloop ons. Die mens in wie die Gees van God woon‚ kan seker wees van die krag van God as omstandighede donker is. Israel is in ballingskap in buitengewone omstandighede. Hulle kan uithou en aanhou omdat die krag van God hulle dra.
Ons wat na die uitstorting van die Heilige Gees leef‚ ervaar dit veel meer. By die dood van ’n gesinslid‚ by ’n langdurige siekbed van ’n geliefde‚ by die krisis rondom ’n kind‚ is daar die besef: ek ontvang krag waaroor ek self nie kan beskik nie. Ek kan nie glo dat ek kan aanhou en uithou nie. Dit is die krag van die Heilige Gees wat in jou woon en jou dra. Dit gee jou kalmte en rustigheid wat jou laat aanhou hardloop ten spyte van omstandighede. Hieruit kan ons geweldige vertroosting put.
Daar gaan geen omstandighede wees wat vir my te swaar is om te dra nie. Die Heilige Gees as Trooster sal my van dag tot dag en van oomblik tot oomblik troos sodat ek kan aanhou hardloop. Niemand van ons weet watter krisisse daar in die toekoms op ons wag nie. Wat ons wel weet en waaraan ons kan vashou‚ is dít: Die wat op die Here wag kry nuwe krag. Hulle hardloop en word nie moeg nie.
- Hulle loop en raak nie afgemat nie
Die Heilige Gees is nie net by ons en net ’n Trooster wanneer ons in buitengewone omstandighede is nie. Hy is nie net ’n krisis-God nie. Hy is ook ’n Trooster in gewone omstandighede. Die Heilige Gees wil ons ook nie in gewone dae alleen los nie; Hy wil ons elke dag krag en entoesiasme gee. Hy wil my dra deur my sleurwerk van wasgoed en skottelgoed. Hy gee my die krag vir die roetine van kantoor- en tikwerk. Hy rus my toe met krag wanneer ek elke dag se gewone beslissings moet neem. Ek kan aanhou loop‚ want Hy loop sáám met my.
Ons leef in ’n tyd waar groot klem gelê word op die buitengewone gawes van die Heilige Gees. In tale spreek‚ wondergenesings‚ en buitengewone gebeure word gesoek as tekens dat die Heilige Gees werksaam is.
Mense wat egter nét hierna soek‚ is arm. Die Gees wil ons veel meer gee as dit. Hy wil in ons wees‚ by ons wees‚ elke dag en op elke plek. By die werk‚ in die huiskring‚ in die teekamer‚ tydens die pouse en op die sportveld. Oral. Dié wete het tog groter waarde as om altyd na die buitengewone te soek. Hy is by ons – altyd en in alle omstandighede.
- Sodat Christus in ons harte kan woon
Waarom het ons krag nodig vir so ’n “eenvoudige” en “maklike” sakie‚ net om Christus by ons te laat inwoon? Die antwoord is‚ by die natuurlike mens‚ by die ou mens‚ by ons sondige natuur is daar ’n geweldige weerstand teen Christus. Hy wil niks met Christus te make hê nie. Ons moet goed begryp: As Christus by ons inwoon‚ verander alles. Paulus sê: IEMAND WAT AAN CHRISTUS BEHOORT‚ IS ’N NUWE MENS. DIE OUE IS VERBY‚ DIE NUWE HET GEKOM. (2 Kor. 5:17). Teen hierdie verandering stry die ou mens gedurig. Dis nie sommer so ’n stryd nie.
Sommige Christene gee naderhand op en oorhandig die leisels van hulle lewe aan hul sondige natuur. Christus word teruggedruk in ’n klein kamertjie van hulle lewe – ’n Sondagkamertjie‚ ’n kerkkamertjie – maar vir die orige lewe hulle asof Christus nie bestaan nie‚ asof Hy nie in hulle harte woon nie.
Daarom is die geweldige krag van die Heilige Gees nodig. Sonder daardie krag is daar geen enkele mens wat in staat is om sy lewe elke faset daarvan‚ so geheel-en-al vir Christus oop te stel dat Hy ryklik daarin kan woon nie.
- Sodat ons die liefde van Christus kan ken
Nou sal ons weer wil sê: Maar het ons dan so ’n groot krag nodig om vir ons te leer om die liefde van Christus te ken? Ons ken dit mos! Ons weet mos wat Hy vir ons gedoen het‚ dat Hy ons so liefhet dat Hy selfs vir ons aan die kruis gesterf het.
Ja‚ maar ken ons dit werklik? Begryp ons hoe wyd en ver en hoog en diep daardie liefde is? Het dit ooit werklik tot ons deurgedring en hou dit ons voortdurend op ons knieë? Want dít moet ons weet: Om Christus se liefde te ken is iets heel anders as om bv. my skoolwerk te ken. Want as jy Christus se liefde ken‚ dan doen dit iets aan jou. Dit verander jou. Dit maak van jou só mens soos Paulus dit hier stel: Ons word dan mense wat in die liefde gewortel en gegrondves is. Soos ’n plant uit die grond groei‚ sy hele bestaan uit die grond put‚ so moet ons in die liefde van Christus groei.
Wat wil ek TEN SLOTTE vir u sê?
Net dit: DIE WAT OP DIE HERE WAG KRY NUWE KRAG!
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.