|
Preek:
|
29 Februarie 2004 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Galasiërs 6
|
|
Teks:
|
Galasiërs 6:1-5
|
|
Tema:
|
Dra mekaar se laste
|
DIE wêreld beskou iemand met mag‚ besittings‚ prestige en posisie as ’n groot persoon. Jy het iets bereik as ander mense jou dien. In ons selfsugtige kultuur met sy “ek eerste”-mentaliteit wil mense beslis nie soos dienaars optree nie.
Jesus het mense egter aan die hand van hulle diens beoordeel‚ nie hul status nie. God bepaal hoe groot jy is deur hoeveel mense jy dien‚ en nie hoeveel mense jou dien nie. Dit druis so sterk in teen die wêreld se begrip van ’n “groot” persoon dat ons dit maar moeilik verstaan‚ laat staan nog dóén. Die dissipels het geredekawel oor wie die hoogste posisie verdien‚ en tweeduisend jaar later mik Christen-leiers in kerke‚ kerkverbande en ander bedienings nog steeds vir die hoogste poste.
Duisende boeke is al oor leierskap geskryf‚ maar min‚ indien enige‚ oor dienaarskap. Almal wil lei; niemand wil ’n dienaar wees nie. Ons wil eerder generaal as weermanne wees. Selfs Christene wil “dienaar-leiers” wees‚ nie net sommer dienaars nie. Om soos Jesus te wees‚ is egter om ’n dienaar te wees. Dis wat hy homself genoem het.
Christene wat omgee‚ dra mekaar se laste.
Die 1953-vertaling wat meer letterlik is‚ het vers 5 vertaal met “want elkeen sal sy eie pak dra.” Persoonlik verkies ek hier die 1953-vertaling omdat dit die teenstelling wat die Grieks wil deurgee‚ baie mooi beklemtoon.
Kyk jy na vers 2 en vers 5 in die 1953-vertaling en ook in die Grieks dan wil dit lyk asof daar ’n teenstelling tussen die twee verse is. Vers 2 praat van ’n “las” en vers 5 praat van ’n “pak.” In die Grieks “baros” en “phortion.” “Las” in vers 2 verwys na ’n swaar pak wat iemand moet dra; iets wat vir iemand amper te swaar is om self te dra. Die woord “pak” in vers 5 verwys amper na iets soos ’n rugsak wat net jy op jou skouers kan neem. Dit was gewoonlik gebruik van ’n soldaat wat sy eie rugsak moes dra.
Daar is sekere laste in my lewe wat net ek kan dra; verantwoordelikhede wat ek nie na ander kan delegeer nie en wat ek self moet doen. Ekself‚ en nie iemand anders nie‚ kan die man in ons huis wees. Ek is pa en ek moet die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan dra. Ek moet die werk wat God aan my opgedra het doen‚ iemand anders kan dit nie vir my doen nie. Daarom moet ek my las self dra. Elke soldaat is verantwoordelik vir sy eie rugsak. Mense wat nie hulle verantwoordelikhede wil nakom nie‚ of wat dit gerieflikheidshalwe aan ander gee‚ is besig om aan God ongehoorsaam te wees en daarmee saam mis hulle ook ’n groot seën wat hiermee gepaard gaan. Dit is waarna vers 5 verwys.
Vers 2 verwys egter na daardie laste van die lewe wat te swaar is om te dra‚ die beproewinge wat dikwels na gelowiges toe kom. Daarom is hierdie oproep so belangrik: “Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus” (Gal. 6:2). Hierdie oproep in vers 2 staan in die konteks van om iemand wat gesondig het weer reg te help. As iemand in die kerk gesondig het‚ dra ons nie sy skuld nie‚ maar ons kan hom help om die las van die gevolge daarvan te help dra en op dié manier kan ons hom reghelp.
Daar is baie laste in die lewe waaraan ons kan help om mense mee te help om dit te dra. Dit is juis die wonder van die gemeenskap van die heiliges‚ dat ons wat mekaar ken‚ wat waarlik broers en susters vir mekaar is‚ mekaar se laste kan dra. As jy iemand nie ken nie‚ kan jy hom natuurlik ook nie help nie. Dit is juis hier waar die kerk hom van die wêreld moet onderskei – in die wêreld wil ons glad nie bymekaar betrokke raak nie‚ maar dit kan tog nie in die kerk nie. Ons bely tog ek glo aan die gemeenskap van die heiliges en dan sê ons daarmee dat elkeen van ons verskillende gawes van die Here ontvang het en dat ons hierdie gawes nie net vir onsself moet hou nie‚ maar dat ons dit moet aanwend tot nut en voordeel van mekaar.
Paulus gee aan ons drie praktiese riglyne in hierdie gedeelte. Eers verduidelik hy wat ons moet doen: Dra mekaar se laste. Dan sê hy vir ons hoekom ons dit moet doen: Omdat Christus se liefdeswet dit van ons eis. En derdens en laastens verduidelik hy hoe ons dit moet doen: in nederigheid.
Wat moet ons doen?
Die klem val hier op “reghelp.” Broers‚ as iemand in die een of ander sonde val‚ moet julle wat julle deur die Gees laat lei‚ so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp (“katarizo”) – om iemand te help sodat hy/sy deeglik toegerus is om sy/haar verantwoordelikhede na te kom. (Galasiërs 6:1).
Reghelp is nie om jou te verheug is iemand anders se ellende nie.
Party Christene geniet dit vreeslik as ander in sonde val‚ want hulle dink‚ dat hulle dan goed lyk. Tog kan dit in die kerk van die Here nie waar wees nie. As een lid ly‚ dan ly al die ander lede saam (1 Kor. 12:26). Daarom kan die oog nie vir die voet sê‚ “jammer vir jou jong‚ maar die spyker is in jou en nie in my as oog nie.” Daardie voet kan maklik ontsteek raak en net nou net nou dan is die oog ook daardeur beïnvloed. Moet jou dus nie verheug as ’n lid struikel en in sonde val nie.
Reghelp is ook nie om te openbaar nie.
Ons word ook nie geroep om die wêreld van die sonde van ons mede-gelowiges te vertel nie. Daar is sommige Christene wat daarvan hou om vuil wasgoed in die openbaar op te hang.
Toe Noag dronk en naak in sy tent gelê het‚ het Gam vir hom gelag en dadelik vir sy ander broers gaan vertel (Gen. 9:20-23). Sem en Jafet het egter die tent binnegegaan en hulle vader se naaktheid bedek‚ want so leer ons in Jakobus 5:20 en 1 Petrus 4:8 dat die liefde ’n menigte sondes bedek. Liefde maak nie dat die sonde nie meer bestaan nie‚ dit kan God alleen in sy groot genade doen. Liefde kondoneer‚ praat ook nie die sonde goed nie‚ maar liefde beskerm die sondaar en daarom is daar geen rede waarom sondes aan die groot klok gehang moet word nie.
Reghelp is ook nie om iemand te verwerp nie.
Reghelp het in die Grieks ook die betekenis van om ’n gebreekte arm of been te spalk. Of ook om ’n gewrig wat uit potjie is‚ weer terug te sit. Jy kan geen gebreekte been spalk as jy dit nie sagkens doen nie. As jy dit met koevoet sou probeer doen‚ dan kan jy verwag dat die been dalk net op ’n ander plek ook sal breek.
Die vissermanne het ook die woord geken. In Matteus 4:21 word die woord gebruik waar die dissipels besig is om hulle nette reg te maak. Indien die nette nie reggemaak sou word nie‚ dan kon dit maklik skeur en sou dit van geen nut meer vir die vissers wees nie. As Christene nie reggehelp word nie‚ kan hulle ook nie later gebruik word om vissers van mense te wees nie.
Soldate het ook die woord geken. Want dit kan ook beteken om ’n weermag toe te rus. As ons dus nie Christene wat gesondig het reghelp nie‚ sal hulle nooit in staat wees om weerstand te kan bied teen onder andere die aanslae van die lewe nie.
Matrose het ook die woord geken. Want dit kan ook beteken om ’n skip toe te rus vir die reis wat hy gaan onderneem. As Christene wat gesondig het‚ nie reggehelp word nie‚ dan sal hulle ook nie in staat wees om hulle lewensreis suksesvol te voltooi nie.
Wanneer ons dus iemand help wat gesondig het of afgedwaal het‚ dan is dit soos om ’n been te spalk‚ om geskeurde nette reg te maak‚ om ’n weermag toe te rus en ’n skip vir sy vaart voor te berei. Dit is wat ons doen wanneer ons ander gelowiges help om weer in die gemeenskap van die gelowiges te funksioneer.
Is daar dalk iemand wat jy ken‚ of dalk iemand naby aan jou wat dit dringend nodig het‚ dat jy sy las sal help dra. Wat is jou houding teenoor so ’n persoon? Kry jy lekker dat hy/sy geval het? Verkondig jy sy sonde van die dakke af? Dalk verwerp jy so ’n persoon. God sê‚ jy moet hom/haar reghelp.
Hoekom moet ons dit doen?
Dra mekaar se laste‚ en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Gal. 6:2). Ons weet wat die wet van Christus is‚ Hy het dit self in Joh. 13:34 gegee: Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet‚ moet julle mekaar ook liefhê. Die Fariseërs was gou om iemand te oordeel en sommer te veroordeel ook‚ want hulle het geen liefde in hulle harte gehad nie. Wanneer iemand nie aan hulle standaarde voldoen het nie‚ dan het hulle niks met so ’n persoon uit te waai nie.
Paulus spreek sy lesers as broers aan (Gal. 6:1). Om iemand reg te help is dus ’n familie aangeleentheid. Ons is lief vir die huishouding van God en daarom gee ons vir mekaar om.
Dit is wonderlik om volgens die liefdeswet te leef.
Julle moet niemand iets verskuldig wees nie‚ behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet‚ voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie‚ jy mag nie moord pleeg nie‚ jy mag nie steel nie‚ jy mag nie begeer nie‚” of watter ander gebod daar ook al is‚ word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet (Romeine 13:8-10).
Ons kan dus ’n mede broeder of suster reghelp as ons die liefde van Christus in ons harte het. Die manier hoe ons ander mense behandel wat in sonde geval het is ook ’n bewys van jou eie geestelike toestand. Wettisiste‚ soos byvoorbeeld die Fariseërs‚ veroordeel die sondaars‚ maar volwasse gelowiges wat in Jesus Christus se liefde ingeënt is‚ sal altyd probeer om iemand reg te help.
Hoe moet ons dit doen?
So iemand moet in ’n gees van sagmoedigheid reggehelp word. Sagmoedigheid beteken nie dat iemand maar op jou kan trap nie; dit beteken ook nie dat jy swak is nie. Inteendeel ’n sagmoedige persoon is vol van die Heilige Gees‚ want sangmoedigheid is een van die vrugte van die Gees (vgl. Gal. 5:22-23). En Christus self sê: “Geseënd is die sagmoediges‚ want hulle sal die nuwe aarde ontvang” (Matteus 5:5). Die Griekse woord wat met sagmoedig vertaal word beteken so iets soos wanneer jy ’n nuwe perd inbreek en hom dan kan ry‚ want sy krag is nou onder beheer.
Kom ons gaan vir ’n oomblik terug na die mediese voorbeeld wat ons netnou gebruik het. Wanneer ’n dokter ’n gebreekte been spalk‚ dan kan hy dit nie met mag en mening doen nie‚ hy moet dit sagkens doen anders kan hy dalk net groter skade aanrig. Hy gebruik nie ’n koevoet om die been in sy regte posisie te plaas nie. Sien jy‚ en jy gaan nie die dokter beskuldig dat hy swak was toe hy jou been moes spalk nie.
Daarom is dit belangrik om hier ook kennis te neem van Galasiërs 6:1 wat sê: “Broers‚ as iemand in die een of ander sonde val‚ moet julle wat julle deur die Gees laat lei‚ so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp.” En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Wat jy van jouself dink gaan bepaal hoe jy ander mense behandel. As jy aan geestelike hoogmoed sou lei‚ dan gaan jy ander mense hard hanteer‚ want jy is mos beter as hulle; maar as jy self in nederigheid en in afhanklikheid voor die Here staan‚ dan sal jy ook sagmoedig met ander mense wees. Daarom het Christus self die goue reël in Matteus 7:12 neergelê: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen‚ moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
Geestelike hoogmoed is gewoonlik maar die rede hoekom ons nie iemand anders wil reghelp nie. Daarom sê Paulus in Gal. 6:3: “As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks‚ bedrieg hy homself.” Moenie te gou wees om te sê‚ “só iets sal my nooit oorkom nie.” Wees maar liewer nederig en sagmoedig‚ want jy kan self so maklik self in die skande kom.
Daarom moet dit vir ons ’n voorreg wees om mekaar se laste te dra. Ja‚ jy kan en moet jou laste ook vir die Here gee‚ maar dikwels gebruik die Here medegelowiges om mekaar se laste te dra. En as jy iemand se las help dra‚ dan is jy eintlik besig om ’n lieflike geur te versprei. Christene moet net so min ’n las vir mekaar wees as wat ’n kindjie ’n las vir sy moeder is. Daarvoor het Jesus self vir ons die voorbeeld gestel toe Hy op aarde was. Hy het baie laste van baie mense gedra en nooit met een van hulle ongeduldig geword nie. Hy het bo alles die las van ons sonde en skuld aan die kruis gedra.
Jy kan ook verseker weet dat as jy iemand help om sy/haar las te help dra‚ die Here jou verseker ook sal help om jou eie las te dra. Christene wat omgee is Christene wat mekaar se laste dra.
Kom ons maak ons oë en ore daarvoor oop en doen wat Jesus gedoen het. Nie alleen sal ons daardeur gehoorsaam word nie‚ maar ons sal ook op ’n kragtige manier bou aan die gemeenskap tussen mense.
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.