Preek:

8 Mei 1994 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

1 Korintiërs 3:1-19 en Jakobus 1:25-27

Teks:

1 Korintiërs 3:1-4 en Jakobus 1:25-27

Tema:

Geestelike groei


’N MENS se kinders hou jou nederig. Sodra jy begin dink: “My kind is so soet‚ so anders as ander …” moet jy al weer verleë vir sy manewales voor die kuiergaste verskoning maak. ’n Kind bly nou maar eenmaal ’n kind. Maar: ’n grootmens wat ’n kind wil bly‚ is nog ’n groter verleentheid.

Dit was juis dié soort verleentheid waarmee Paulus in Korinte gesit het. Die Korintiërs self het allermins gedink dat hulle nog kinders in die geloof was. In hulle eie oë was hulle geestelik baie volwasse. Hulle was onder die indruk dat hulle oorgeloop het van die Heilige Gees. Hulle kon mos in tale praat en alles … Maar dit was nie die beeld wat Paulus van hulle gehad het nie. Hy skryf: “Ek kon nie met julle praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie … maar soos met kindertjies” (vers 1).

Paulus wou nie die Korintiërs moedswillig seermaak met dié skerp woorde nie. Hy wou hulle eerder help om hulle babaskoene te ontgroei. Dit wil Paulus dan juis doen deur iets spesiaals by hulle tuis te bring. Jy kan ’n mens wat deur God se Gees gelei word‚ duidelik uitken! Uit sy optrede sal jy gou kan aflei wie sy lewe beheer‚ die Gees of die wêreld.

En die skokkende nuus vir die Korintiërs is dat wat Paulus by hulle sien‚ beslis nie geestelike helde is nie‚ maar babas! Soos twee dogtertjies wat in hulle gestoei eerder ’n pop sal breek as om haar vir die ander een te gee‚ skeur die Korintiërs mekaar met jaloesie en twis uitmekaar.

Saam sit hulle in die kerk‚ maar hulle kyk met oë vol afguns na mekaar. En dis nie al nie. Die oë vol jaloesie kan ook in vlymskerp woorde verander. Die een moet net ’n opmerking maak waarvan die ander nie hou nie‚ dan is die duiwel los. Hierdie onverdraagsaamheid wat uit groeperings in die kerk voortvloei‚ kom nie van God af nie. Dit laat Paulus die vraag stel: as dit die dag in ’n Christen of ’n kerk se lewe so onverdraagsaam daaraan toe gaan‚ wie is in beheer van daardie kerk of Christen – die Gees of die wêreld.

Die “babasiekte” is natuurlik in die lig van wat in 1 Kor. 2 gesê word‚ vir enige kerk dodelik. Die kiem wat die siekte veroorsaak is gebrek aan Geesvervulling. In 1 Kor. 2 het Paulus dit so duidelik gemaak dat God deur sy Gees aan sy kinders wil wys hoe Hy voel en dink: wat Hy vir hulle lewens beplan! Maar hoe kan hy dit doen as sy kinders eerder die wêreld se leiding aanvaar?

Dit is dan ook juis Paulus se frustrasie met die Korintiërs (vers 2). Deur sy Gees lei God ons dieper en dieper in sy verborge raadsale in‚ verstaan ons meer en meer van God en van onsself. So kan ons al hoe meer van die vaste kos verteer wat die Gees alleen gee. Wie egter nie onder die leiding van die Gees staan nie‚ bly maar altyd by die eerste melkies van die evangelie. So mag hy elke Sondag soos ’n baba “hoor” sonder om te verstaan.

In sy digbundel Wit Korbeel skryf PW Buys die gediggie “Parkeermeters.” Dit handel oor wat elke Sondag met so baie mense in die kerk gebeur‚ naamlik … niks nie. Die gediggie verwoord die prediker se ervaring van die erediens en dit lui so:

PARKEERMETERS

Die teks het my gegryp‚
my aan die brand gesteek.
Ek het die hele week
gewerk‚
gebid‚
gesmeek‚
geëksegetiseer‚
gesweet‚
gewik‚
geweeg‚
geworstel om die diepe sin
glashelder en konkreet
te vergestalt.
Dit vloei‚
dit stroom‚
dit breek uit my:
verlore seun wat tuis kom by die vaderhuis –
o wonder van die kruis!
Wanneer ek amen sê‚
wys hul gesigte stom
daar is ’n halfuur om.


Wat die leraar in die gedig beleef‚ word deur baie predikante Sondae beleef: al effek wat die preek op mense registreer‚ is dat die tyd van die erediens uitgeloop het. Mense kom kerk toe en gaan huis toe soos parkeermeters. Het u nie al soos ’n parkeermeter in die kerk gevoel nie? U sing saam met die gemeente‚ u luister na die Skriflesing‚ u neem die preek in‚ en … daar gebeur net mooi niks nie. Al wat u aan die einde van die erediens geregistreer het‚ is dat die tyd verbygegaan het.

Nou gaan u sekerlik vra: “Maar wat moet dan gebeur?” Die antwoord is eenvoudig. Ons moet geestelik groei‚ na God toe en na mekaar toe. As ons bid en sing en luister moet ons groei in ons verhouding met die Here en moet ons groei in ons verhouding tot mekaar.

Die probleem met die gemeente in Korintiërs is nie dat die Heilige Gees nie die saad wil laat groei nie; die probleem is nie God wat nie groeikrag wil gee nie; die probleem is dat mense hulle nie deur die Gees wil laat lei nie. “Broers”‚ sê Paulus “ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie.” As mens nou nie groei in jou geloof nie‚ wat is die gevolge daarvan?

Jy vergroei en verstar. In plaas daarvan dat jy na God toe groei in die strale van die lig‚ word jy besmet deur die radioaktiewe strale van die duisternis. In stede daarvan dat jy na ander mense toe groei‚ groei jy na binne toe en daar vorm ’n harde dop om jou wat jou ontoeganklik maak.

Paulus kla oor die Korintiërs se gebrekkige vergroeisels. Hulle is jaloers op mekaar en baklei onder mekaar. Ergste van alles is‚ hulle vorm klieke. Die een sê hy is van Apollos se groep‚ die ander van Paulus se groep. Dit hoort nie in die kerk nie. In die kerk mag mense nie van mekaar af weg groei nie‚ maar hulle moet juis na mekaar toe groei.

Kliekvorming in die gemeenskap is een van die gevaarlikste dinge wat daar is. Ons Afrikanernasie is baie lief daarvoor. Dit gebeur by skole‚ by gemeentes‚ by politieke organisasies. Mense raak met mekaar bevriend‚ en voor jy jou kom kry‚ vorm hulle so ’n klub van wedersydse bewonderaars. As iemand van buite af probeer om ’n bydrae te lewer‚ dan vind hulle dit moeilik om sogenaamd “in te kom.”

Die gemeente van Christus is ’n plek waar elkeen van ons die plig en verantwoordelikheid het om ons medemens wat buite staan in te trek. Dit gaan vir ons om ’n doel wat baie hoër is as onsself. Ons kan die luuksheid van kliekvorming nie bekostig nie. Ons kan dit nie aanvaar dat sekere mense aanvaar en ander mense uitgestoot word nie.

Elkeen van ons het egter ook die verantwoordelikheid om maar partykeer moeite te doen om in te skakel. As jy voel dat die gemeente nie vir jou die ruimte bied om te kan groei nie‚ kom met ’n voorstel‚ inisieer ’n aksie; ons sal nooit inisiatief onderdruk nie. Al voel jy nie so nie‚ bied jouself aan vir werk. Laat ons nie altyd vra wat die kerk vir ons kan doen nie‚ maar ook partykeer vra wat ons vir die kerk van Jesus Christus kan doen.

As ons dus werklik groei‚ dan groei ons in ons verhouding met die Here en ons groei in ons verhouding met ons naaste. In teenstelling met die jaloesie en twis en wêreldsheid en kliekvorming waarvan Paulus praat‚ kom daar liefde vir mekaar‚ verdraagsaamheid vir mekaar‚ vergewensgesindheid teenoor mekaar. Ons kom beter met mekaar oor die weg.

Ons moet ook na God toe groei. Jakobus sê dat die Heilige Gees ons wil leer wat egte en suiwer godsdiens is. Die Heilige Gees wil daardeur Christus in ons verheerlik en ons aan Christus gelykvormig maak. Hy wil ons vervul‚ en lei‚ en leer en oortuig‚ en seën‚ en verander‚ en heilig‚ en bekragtig … om eg en suiwer voor die aangesig van God die Vader in die wêreld te leef.

’n Bekende Nederlandse teoloog het eenkeer gesê: Ons is nie mense sodat ons kan Christene word nie‚ maar ons is Christene sodat ons mense kan word.
Egte mense.
Gelowige mense.
Goeie mense.
Godwelbehaaglike mense.
Godvrugtige mense.
Geesvervulde mense.
Wyse‚ heel mense.
Die Heilige Gees wil van ons mense maak soos wat Jakobus dit hier in sy brief beskryf … Die vraag is: Glo ons dit? Het Jakobus se eerste lesers dit geglo? Daar is soveel aanduidinge dat hulle dit nie geglo het nie‚ nie kans gesien het om waarlik hulle lewens daarop te bou nie …

Daar is aanduidings dat hulle wel die woorde (1:23)‚ die wet van die koninkryk van God (2:8) gehoor‚ gereeld gehoor het‚ selfs graag gehoor het‚ en dan ’n oomblik lank die waarheid daarvan ingesien en hulle daaroor verbly het. Hulle het hulle lewens daarin gespieël gesien‚ die redes vir hulle ongelukkigheid skielik begryp – en gesnap hoe hulle genees kan word. Maar toe het hulle weggedraai van die spieël en dadelik weer alles vergeet (1:24). Soos parkeermeters.

Daar is aanduidings dat hulle die tong nie net gebruik het om God die Vader te loof nie‚ maar ook om ander beelddraers van God te verwens‚ te beledig‚ te veroordeel‚ in ellende te dompel. Daar is aanduidings dat hulle oënskynlik ywerig en entoesiasties en wys en voorbeeldig was‚ maar dat daaragter selfsug en naywer en strydlus geskuil het.

Die verskriklikste is dat hulle gedink het hierdie maniere van hulle is godsdienstige maniere! Dat hulle hulself wysgemaak het dat hulle waarlik Christelik‚ vroom‚ toegewyd‚ religieus‚ geestelik was! Dat hulle onbewus was van hulle ware toestand. Hulle dink wel dat hulle godsdienstig is‚ maar dié soort godsdiens is waardeloos. Dit sal hulle geen ware vryheid bring nie. Dit sal hulle nie waarlik gelukkig maak nie. Presies daarom definieer hy dadelik die ware godsdiens‚ die ware geestelike lewe.

Ware en suiwer godsdiens‚ sê Jakobus‚ word uitgelewe voor God die Vader. Daarmee gebruik hy ’n uitdrukking wat baie belangrik was in die Ou Testamentiese tradisies en wat weer in die geskiedenis van die Christendom ’n sleutelrol sou vervul: voor God. In die Ou Testament: voor die aangesig van God. In die kerkgeskiedenis‚ meermale in die Latyn aangehaal: coram Deo. Ware en suiwer godsdiens is om daagliks coram Deo te leef. Voor die aangesig van God: die Vader van weses en weduwees.

Die God wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt (1:5).
Die God wat aansien gee aan ryk en arm (1:9-10).
Die Gewer van alle goeie gawes van Bo (1:16).
Die Een wat nie verander nie (1:17).
Die Een wat ons deur die Woord van die waarheid in die lewe geroep het (1:18).
Die Een voor wie dit nie reg is om kwaad te word nie (1:20).
Die God wat juis dié wat arm is in die wêreld uitkies om ryk te wees in die geloof (2:5).
Die God wie se wet lui dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (2:8).
Die Een wat mense nie na hulle uiterlike beoordeel nie (2:9).
Die Een wat barmhartig oordeel oor die barmhartiges (2:11-13; 5:11).

Die God vir wie die duiwels sidder (2:19).
Hy wat ’n mens‚ Abraham‚ sy vriend genoem het (2:21-26).
Die Here en Vader na wie se beeld die mense gemaak is (3:9).
Die Een wat vriende van die wêreld beskou as sy vyande (4:4).
Die Een wat hoogmoediges weerstaan maar aan nederiges genade gee (4:6).
Hy wat tot ons nader as ons opreg‚ sonder dubbele motiewe‚ tot Hom nader (4:7-10).
Die Een wat in beheer is van ons lewens (4:13-17).
Die Here wat kom (5:7-8).
Die God wat opregte gebede verhoor en ons genees (5:13-20).

Ware geestelike lewe is om daagliks‚ van oomblik tot oomblik‚ bewustelik voor die aangesig van hierdie God te leef …

Geliefdes‚ ek wil afsluit met die woord van Paulus aan die jong Timoteus: Lê jou op hierdie dinge toe‚ leef daarin‚ sodat almal jou vordering kan sien (1 Tim. 4:15). … leef daarin‚ sodat almal jou vordering kan sien … blaas die vuur weer aan. Die beoefening van sy genadegawe moet vir hom ’n lewenswyse word. Wat meer is: die gawe moet ontwikkel word. Hierdie talent mag nie begrawe word nie. Daar moet ten minste nog een byverdien word. Só sou hy kon groei en weer uit die sinkgat uit opstaan. Timoteus moes ten diepste leer: In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê (1 Tim. 6:12).

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.

GEBED

Here‚ God Almagtig‚ ek voel so magteloos en klein wanneer ek ontdek dat die sinkgat ingeval het en my geestesvuur gekwyn het. Ek voel leeg en skaam wanneer ek tot die besef kom dat my roepingsbesef vervaag het‚ en my genadegawes verwaarloos is. Maar dankie‚ Here‚ dat U my weer optel en deur U Gees inspireer om die vuur aan te blaas en U met entoesiasme te dien. Dankie vir nog ’n kans.

Ek glo aan die gemeenskap van die Heiliges. Nou bid ek vir die gemeente waaraan ek behoort. Gee asseblief dat ons ’n ware groeigemeenskap sal wees. ’n Gemeente wat mekaar liefhet‚ wat in mekaar belangstel‚ wat mekaar aanvul en mekaar vorm. Dankie‚ Here‚ dat ons deel kan hê aan mekaar se groei. Baie dankie vir al die mense wat deur die jare ’n invloed op my lewe gehad het.

Amen