|
Preek: |
13 Oktober 1996 te Gereformeerde Kerk Lyttelton |
|
Lees: |
2 Konings 5:1-14 |
|
Teks: |
2 Konings 5:1-14 |
|
Tema: |
Geloof en rede |
MAAR dat kan ik niet geloven is die titel van ’n boek‚ uit Engels vertaal‚ wat in ons boekwinkels op die rak staan. Die skrywer‚ JAT Robinson‚ bepleit daarin ’n herinterpretasie van die evangelie‚ ’n interpretasie wat vir die hedendaagse mens aanvaarbaar sal wees.
Want‚ so sê Robinson‚ die nugterdenkende mens van ons tyd kan die evangelie soos dit tradisioneel deur die kerk verkondig word‚ net nie meer glo nie. Dat Jesus werklik die Seun van God is‚ dat Hy uit ’n maagd gebore is‚ wonderwerke gedoen het‚ uit die dood opgestaan het en eenmaal weer op die wolke sal kom‚ druis in – as dit letterlik opgeneem moet word – teen alle logika en gesonde verstand. “Dat kan ek niet geloven‚” sê Robinson (’n teoloog!). Hoe kan die kerk verwag dat mense in ons eeu van wetenskaplike en tegnologiese prestasies nog so iets moet glo! En jy? Dink jy ook so?
Is dit so dat die evangelie vandag skielik‚ nóú eers‚ vir die menslike rede ’n struikelblok geword het? Is dit iets nuuts? Tog nie. Daar was nog altyd mense wat beweer het dat die evangelie en selfs net die geloof in God nie die toets van die rede kan deurstaan nie.
Reeds in Paulus se tyd het die denke Griek en die trotse Jood op die prediking van die gereageer met ’n “maar dat kan ik niet geloven.” Tóé al was die woord van die kruis ’n ergernis vir menslike wysheid. Tóé al was die weg waarlangs God verlossing bewerk‚ vir mense nie redelik aanvaarbaar nie.
En is Naäman‚ die Siriese oorlogsheld‚ eeue vantevore nie ook deur dieselfde dat-kan-ik-niet-geloven-houding so byna na sy graf gestuur nie.
Kom ons gaan kyk.
Dit is belangrik dat ons dat ons iets van die agtergrond van Naäman sal vertel‚ so nie sal ons nie die wonder wat met hom gebeur het verstaan nie.
Naäman se hele geskiedenis word in 2 Konings 5 breedvoerig vertel. Tog word sy naam in die Nuwe Testament net in Lukas 4:27‚ net een keer genoem.
Hy was die militêre hoof van Assirië se weermag. Sy land was geleë aan die westelike oewer van die Tigrisrivier. Hulle staatsgod is Assur genoem‚ die oorlogsgod. Nineve‚ Jona se bekende sendingveld‚ was hulle hoofstad. Met militêre mag het sy land ’n imperialistiese moondheid geword wat die hele wêreld wou verower en beheer.
In een woord: Naäman‚ was ’n belangrike man. Hy het die hoogste trap van die leer bereik. Hy sou vandag goed kon inpas in ons statusbehepte samelewing. Baie mense meet jou mos aan jou geld‚ watter bestuurder van watter maatskappy jy is‚ hoeveel grade geraam teen die voorhuismuur hang‚ in hoeveel rade en komitees jy dien …
Met ’n paar meesterlike pensketse speld die Bybel ’n paar medaljes aan sy generaal-uniform: hoof van die leër‚ ’n gesiene man‚ geniet die aandag van die koning‚ ’n dapper soldaat. Dit is ’n indrukwekkende curriculum vitae.
Fier en kiertsregop het hy op sy strydwa gestaan wanneer hy‚ ná een van sy veldtogte‚ die hoofstad ingery het. Agter sy strydwa sien almal die bedremmelde‚ beteuterde rytjie krygsgevangenes. Dan skree die trotse‚ histeriese mense: Viva‚ Naäman! Maar ná die dag van roem wanneer ek in my slaapkamer my gordel losmaak‚ my medaljes afspeld en my uniform uittrek‚ het daar die klein‚ ronde wit kolletjies gesit. Die vingerafdrukke van die sluipende dood. Die Bybel gebruik die vierletter-woord “maar” – maar melaats.
As jy van melaatsheid doodgaan‚ is dit nie ’n vreeslike roemryke dood nie. Stuk vir stuk‚ ledemaat vir ledemaat‚ gaan jou liggaam agteruit in ’n onstuitbare vrot.
Op een van sy strooptogte het Naäman ’n Joodse dogtertjie op die mark gekoop. Sy was sy huishulp. Op een of ander manier moes sy van die klein wit kolletjies op Naäman se lyf gehoor het.
Ons dink soms dat God met donders‚ aardbewings‚ rukkende winde praat – soos Elia hom die keer by die grot van Horeb (1 Konings 19) misgis het. Hier gebruik Hy die sagte stemmetjie van ’n klein dogtertjie. Toe die verontwaardigende ou ooms by die intog van Jerusalem Jesus skeef aan kyk‚ sing die kinders “Prys die Seun van Dawid!” (Matt. 21:15).
Wanneer die dissipels met hulle hande in die hare sit oor waar hulle kos vir die menigte sou kry‚ kom daar ’n seuntjie met ’n skamele vyf garsbrode en twee vissies (Joh. 6:8-9). Toe sê die Joodse dogtertjie: “Ag‚ as meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom …” (2 Kon. 5:3). Dit het Naäman ook gedoen‚ en toe hy voor die deur van Elisa se huis stilhou‚ stuur die profeet ’n boodskapper na hom met die opdrag: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan‚ dan sal jy gesond word en rein wees” (2 Kon. 5:10).
Was in die Jordaan? Bad in die waters van ’n nikswerd land soos Israel? Het Damaskus se riviere die Abana en die Parpar nie in elk geval beter en skoner water as die Jordaan nie? In elk geval is die Jordaanrivier ’n miserabele‚ vuil modderige‚ watervoortjie in vergelyking.
Ja‚ dit het geloof geneem om só ver te kom. Menslike geloof soek drama. Naäman heg geen geloof aan ’n doktersvoorskrif sonder ’n behoorlike ondersoek nie. Hy is bereid om te betaal: drie honderd twee en veertig kilogram silwer en agt en sestig kilogram goud en tien stelle klere. Kom ons sê: tien miljoen Rand.
Hy sal dit met ’n goeie hart betaal want sy krisis is nie sommer ’n honderd en tien rand enkelbesoek krisis nie; dit verg spesialis behandeling. Melaatsheid soek iets indrukwekkend. Dit was wyse manne‚ dapper manne‚ wat met die woedende siek opperbevelvoerder gaan redeneer het. “As die profeet iets moeiliks‚ iets indrukwekkend gevra het‚ sou u dit gedoen het. Hoekom probeer u nie maar hierdie maklike ding nie. Wat het u in elk geval om te verloor?”
Naäman het dikmond humeurig geswyg. Toe het hy byna onhoorbaar ’n bevel gegee en die prosessie beweeg in die rigting van die Jordaan. Naäman sleep sy liggaam grond toe en steier die water in. Stadig gaan hy onder die water in‚ weer en weer en weer – sewe maal.
Watter vorm neem geloof hier aan? Dis ’n woedende geloof hierdie‚ ’n vernederende geloof. Glo hy werklik dit sal werk? Ek dink nie so nie. Ek dink hy het self nie geweet hoekom hy dit doen nie. Hy het glad nie verstaan wat aangaan nie.
Hy het water met water vergelyk‚ die Abana en die Parpar met die Jordaan. En die water waarin die man ingaan het nie saak gemaak nie; dit was belangrik dat die man in die water ingaan. Sy woede moes in geloof omsit‚ sy grootheid in nederigheid‚ sy vernaamheid in afhanklikheid – al was dit teensinnig en woedend.
Dit lyk tog of dit deel is van ware geloof: die nederigheid om ’n klein treetjie te gee‚ sonder om vir ’n groot ene te wag. Die bereidwilligheid om ’n onverwagte antwoord te aanvaar. Dikwels is dit hoe ons God ontmoet – daar waar ons Hom glad nie verwag nie. Ons ontmoet Hom in ’n totaal onbeplande gebeure – miskien nie op ons knieë nie maar in ’n raserige straat-kafee; nie in ’n oomblik van vervoering nie‚ maar in die leegheid van depressie en stres; nie in ’n oomblik van kalmte nie‚ maar in ’n storm van woede.
En nou sit ons met ons melaatsheid‚ ons verlede‚ ons geestelike letsels‚ ons woedende natuur. Die kriptiese voorskrif wat ons kry vir ons genesing is dalk ook iets heel eenvoudig: kyk na die kruis van Golgota. Ons verwag iets meer. Ons kan natuurlik teleurgesteld terugkeer na waar ons begin het. Ons kan voortgaan met ons ou lewe wat noodwendig op die dood uitloop. Of ons kan daardie eerste‚ stadige treetjie gee‚ sonder dat ons dit verstaan.
En Naäman se vel het geword soos dié van ’n klein seuntjie en hy was weer rein. En ek en jy word genees van ons verlede en ons twyfel en ons moedeloosheid vir die dag van môre. En saam met Naäman bely ons dat daar op die hele aarde geen ander God is as Hom wat ons in Jesus aan die kruis ontmoet het nie.
Toe vra Naäman of hy twee muilvragte grond na sy land kan saamneem. Daarmee wou hy ’n altaar bou om die God van Israel te aanbid. Om ’n altaar te bou‚ beteken dat ek daarop sterf. Dit wys heen na die groot houtaltaar wat in die volheid van die tyd hoog in die wye lug van Golgota sou staan – vir Naäman en vir my en vir jou.
Daar is soveel aan ons wat verbrand moet word. So baie lelike dinge. So baie knoetse. Dit word vertel dat die Geneefse hervormer‚ Johannes Calvyn‚ in sy seël ’n hand gedra het wat ’n hart omvat. As onderskrif was die woorde geskryf: Cor mactatum in Sacrificium offero – “Die geslagte hart bied ek u as offer aan.” Het jy ook ’n altaar waar jy daagliks ’n stukkie van jou ou mens verbrand?
’n Mens sou dus‚ geliefdes‚ die evangelie aan die kriteria van menslike wysheid en geleerdheid kon toets. Jy sou dit kon onderwerp aan wysgerige en wetenskaplike kontrole. Jy sou daaroor ’n debat kon voer‚ en dan besluit om dit te verwerp. Só sal God se heilsweg vir jou onsin bly.
Totdat … totdat jy dit kinderlik gelowig aanneem. Totdat jy jou hart vir God se heilswoord oopmaak. Dán klim jy van jou wa af. Dán bad jy in die Jordaan. Dan word jy ’n nuwe mens. Dan roem jy: Nou weet ek daar is maar één God‚ en ek het Hom gevind langs ’n weg wat indruis téén alle menslike logika.
Dán bêre jy jou verkyker‚ want jy sien met die oog van die geloof. En jy hou op torring en verstel aan die evangelie‚ want jy weet dit is in jou hart dat die verandering moet kom. En jy roem in die genade van God.
Kom ons probeer‚ ten slotte‚ dit alles weer Nuwe Testamenties sê: die dood‚ prentjie nommer een is verswelg‚ en word telkens verswelg deur die lewe‚ prentjie nommer twee. Alhoewel die dood ons lewe telkens van binne rysmier‚ word dit self deur die lewe ingehaal en ingesluk!
Die Emmausgangers het dit beleef: terwyl hulle aan die tob was oor die dood van hulle leier‚ Jesus‚ en gevrees het vir die toekoms‚ het daar skielik vir hulle ’n ander werklikheid oopgegaan. Terwyl Jesus saam met hulle aan die tafel was‚ die seën gevra en die brood gebreek het‚ is hulle oë geopen en hulle het Hom‚ die Lewende‚ in hulle midde herken (vgl. Luk. 24:30‚ 31). Ek dink dit is die sin van die lewe‚ om telkens in ons doodsvallei die lewe‚ dit wil sê die Lewende‚ te herken.
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.