God‚ die Heer regeer!

Lees: Psalm 47
Teks: Psalm 47:8

Die inhuldiging van ’n koning of staatspresident is ’n luisterryke en vreugdevolle gebeurtenis. Daar gaan nie alleen baie beplanning in so ’n situasie in nie‚ maar dit werk aansteeklik: almal deel in die vreugde. Die wat ouer is‚ sal die republiekwording onthou. Ons kan maar dink aan die groot feesvierings met die inhuldiging van die laaste twee staatspresidente. Dit was asof die land tot stilstand gekom het. Vir ’n lang tyd het ons net gehoor van al die voorbereidings wat getref word. Duisende was betrokke om alles gereed te kry. Dit was asof alles opsy geskuif is vir die groot geleentheid. Geld en tyd en werk is nie ontsien om hiervan ’n grootse en luisterryke geleentheid te maak nie. Die inhuldiging is nie net deur duisende bygewoon nie‚ nie alleen het nog meer daaraan deel gehad deur die TV nie‚ maar orals is fees gevier. Mense het ’n bietjie vergeet van hulle kommer en sorge. Hulle het anderdinge opsy geskuif en behoorlik fees gevier.

Psalm 47 handel oor ’n baie besondere troonsbestyging.
Dit handel oor die troonsbestyging van die Here!

In die Ou-Testamentiese tyd was dit die gebruik dat die tempel drie dae voor die einde van die jaar ontruim is. Dan is al die voorwerpe uit die tempel en stad geneem. Die tempel is skoongemaak. Die verbond tussen die Here en die volk is dan eintlik “verbreek.” Die volk het dan buite die stad naby die tempelvoorwerpe byeengekom. Daar is hulle voor die keuse gestel: kies dan wie julle wil dien. Die volk moes ’n keuse maak. Hulle moes terugkyk na die jaar wat verby is. Hulle moes dan besluit Wie hulle in die nuwe jaar gaan dien. Hulle kon kies of hulle die Here wil dien en of hulle liewers die gode van die ander volke of die gode van hulle voorvaders wou dien. Hulle moes ’n besluit neem oor aan Wie hulle hulle lewens in die nuwe jaar gaan wy. As die volk gekies het om die Here te dien‚ dan is hulle driemaal ingelig oor die erns van hulle keuse en die gevolge wat dit inhou. As hulle hulle keuse bevestig het en hulle lewens opnuut aan die Here toegewy het‚ dan het die prosessie op die nuwejaarsdag na die tempel beweeg. Die tempelvoorwerpe is teruggeneem na die tempel.

Daarna volg die troonsbestygingsfees van die Here. God gaan op na sy tempel toe onder gejubel‚ die Here gaan op terwyl die ramshoring blaas (Ps. 47:6). Die Here gaan as Koning om sy troon te bestyg. Hy kom om vir die volgende jaar vanuit sy tempel te regeer oor sy volk. Dit was dan juis ook een van die kernbelydenisse in die Ou Testament: die Here is Koning.
Hy regeer.
Hy regeer oor sy volk.
As Koning het Hy sy volk beskerm en versorg. Hy het omgesien na die belange van die wat nie na hulle eie belange kon omsien nie: die swakkes en hulle wat nie regsstatus gehad het nie‚ soos die weduwees en wese. Hy het sy volk versorg en vir hulle gegee wat nodig was. Hy het hulle land en lewensruimte aan hulle gegee en hulle beskerm teen aanslae en aanvalle van buite. Hy is Koning!

Dit is jammer dat ons nie hierdie fees in ons kerklike kalenders opgeneem het nie. Miskien is ons baie armer omdat ons nie soos hulle die ou jaar uitgaan en die nuwe jaar ingaan nie. Miskien moet ons iets hiervan terugbring. Ons moet tog ook van tyd tot tyd onsself onder die vergrootglas plaas en kyk na ons verhouding met die Here. Ons moet miskien juis meer erns maak om van tyd tot tyd weer opnuut te kies Wie ons wil dien en ons lewens aan die Here wy. Ons moet Hom telkens opnuut ons Koning maak en sy koningskap vier!

Die belydenis dat God koning is‚ vind ons al in Genesis 1. Die Bybel begin met die belydenis dat God Koning is. Daar staan juis dat God in die begin‚ dit wil sê in die tyd nog voor Hy amptelik sy troon bestyg het‚ vir Homself ’n koninkryk geskep het. Alles wat ons ken en sien‚ is die koninkryk van God. Hy is in sy wese Koning. Anders as ander konings het Hy nie ’n koninkryk nodig om koning te kan wees nie. Hy is in sy wese Koning en skep vir Hom ’n koninkryk: die totale kosmos. Geen wonder dan dat die jaarlikse troonsbestyging van die Here so ’n hemelse vreugdefees was nie.

Psalm 47 bevat ’n oproep om fees te vier en die Here te prys. Al julle volke‚ klap julle hande; juig tot eer van God met ’n jubelende stem. So begin hierdie Psalm. Dit loop soos ’n goue draad deur die Psalm. Die sentrale tema van die Psalm is die oproep om die Here te prys. In vers 7 vind ons nie minder as vier keer die oproep: Prys God! nie.

Ten spyte van hierdie oproep om God se Koningskap te vier‚ het ’n verhaal wat ek onlangs gelees het eintlik as ’n geweldige teenstelling teenoor God se Koningskap gestaan:

In die jaar 1732 het die koning van Frankryk‚ Lodewyk XV‚ ’n kennisgewing in die St. Medard begraafplaas in Parys laat opsit‚ wat sekerlik menige verbyganger soos dooies in hulle voetspore moet laat vassteek het.
Dit het so gelui:

Op las van Koning Lodewyk XV‚ koning van Frankryk: God word hiermee verbied om wonderwerke in hierdie plek te doen.

Wel‚ wat het gebeur? Dit is met groot vreugde en verligting dat ek kan rapporteer dat die Here na Lodewyk se kennisgewing gekyk het‚ en nie eers ’n oog geknip het nie. Hy het maar net aangehou om te doen wat Hy van ewigheid af doen: om God te wees‚ die Koning van die konings‚ en die Here van die here. Nie alleen in dié begraafplaas nie‚ maar in elke hoekie en om elke draaitjie van Lodewyk se koninkryk het die wonderwerke van God se koninkryk net aangehou om te gebeur‚ wonderwerke van verlossing‚ van die oorskryding van grense en die oorwinning oor teenkantings‚ wonderwerke wat nie alleen elke millimeter van Frankryk gedek het nie‚ maar inderdaad die hele wêreld. Wonderwerke op las van dié Koning. Lank lewe die Koning.

God kan nie ingeperk‚ óf uitgeperk word deur iemand nie. Hy moet eerder geprys word deur almal. Soos wat gebeur in Psalm 47. Hierdie is waarlik ’n uitdagende klein psalm‚ ’n psalm wat die waagmoed van die geloof sonder skroom uitspreek. Dit roep nie alleen alle volke van die aarde op om hulle hande te klap en met ’n jubelende stem tot eer van God te juig nie (vgl. v. 2)‚ maar verklaar dit as ’n feit dat al hierdie volke inderdaad alreeds onder die heerskappy van God staan. Hy is die groot Koning oor die hele aarde (vgl. v. 3). Die psalmdigter droom met oortuiging van ’n wêreldwye fees van al die nasies‚ selfs ’n samesmelting van al die nasies met Israel – die volk van God – met net een doel: om dié Een wat op die troon sit te aanbid. In ’n sekere sin‚ tipies van die Ou-Testamentiese erediens‚ word die toekomstige moontlikheid van God se wêreldwye heerskappy alreeds as ’n teenswoordige werklikheid voorgespeel‚ gevier. Dit is ’n profetiese psalm‚ hardkoppig vrolik‚ besig om God se toekoms in die teenwoordige tydsvorm uit te roep‚ te leef‚ te sing …

Psalm 47 sê vir ons op Opstandingssondag God regeer.
Want Christus het die dood oorwin!
Hy het alle mag in die hemel en op aarde ontvang (vgl. Matt. 28:18).
Daarom het God Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is‚ sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is‚ die knie sou buig‚ en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader (Fil. 2:9-11).

Soms wonder mens of ons nie te maklik afgestomp raak in ons kerk toe gaan nie. Ons kom hier aangejaag. Ons kom om iets te ontvang. So asof elke diens iets moet sê oor ons. So asof die eredienste altyd net om ons moet draai. Nou is dit nie verkeerd nie. Natuurlik kom ons kerk toe om te hoor wat die Here vir ons wil sê. Natuurlik kom ons kerk toe sodat ons geestelik versterk kan word; getroos kan word; bemoedig kan word; kan hoor wat die Here van ons verwag. Maar dis nie al nie. Ons kom juis kerk toe om die Here te prys. Miskien is dit nodig dat ons‚ al is dit net van tyd tot tyd‚ kom uitsluitlik net om die Here te loof. Dit is wat Psalm 47 vir ons wil sê. Kom ons loof Hom. As ons dit doen‚ dan moet ons dit met volle oorgawe doen. Lees mens Psalm 47 dan blyk dit dat hulle baie bly was. Byna uitbundig. Hulle klap hande. Hulle sing met jubelende stemme. Hulle juig. Die ramshorings word geblaas. Die trompette weerklink. Die lofsange is duidelik hoorbaar. Almal in die nabyheid kan hoor: hier is groot vreugde. Mis ons nie die vreugde element nie? Is ons eredienste vreugdevolle byeenkomste?

Bo en behalwe dat Psalm 47 van ’n vreugdevolle gebeurtenis getuig‚ praat dit ook van die feit dat hierdie fees ’n universele aard moet hê. Dis nie net die volk en die klompie gelowiges in Jerusalem wat bly is en sing nie. Hier word verwys na die feit dat die volke hande klap en bly is. Dat die heersers van die aarde verenig rondom die koningskap van God. Dis wêreldwyd. Die fees is nie beperk tot die tempel in Jerusalem nie. Ons feesvierings is nie beperk tot ons kerk en ons dorp of stad en land nie. Daar is vandag gelowiges oor die hele aardbol wat saam met ons die Here loof en prys. Ons moet miskien juis weer besef: wat hier gebeur‚ is nie ’n geïsoleerde gebeurtenis nie. Ons besing saam met gelowiges die hele wêreld oor die lof van God. Ons is deel van ’n wêreldwye skare van blye verlostes wat fees vier. God is ons Koning‚ is die lied wat nou oor die hele aarde weergalm. Ten spyte van al ons verskille sing ons almal. Is ons almal bly. So getuig Christene oral oor: God regeer!

Die psalm vind sy uiteindelike vervulling wanneer die hele skepping‚ alles in die hemel en op die aarde en op die see‚ ja‚ alles wat daar is uitroep: … “Aan Hom wat op die troon sit‚ en aan die Lam‚ behoort die lof en die eer‚ die heerlikheid en die krag‚ tot in alle ewigheid” (Op. 5:13).

Omdat genade algemene amnestie uitroep‚ mag die viering daarvan nie bloot deur enkelinge gedoen word nie. Dis ’n spanpoging. Daarom het ons die kerk nodig. Daarom moet ons kerk toe gaan: om ingestem te word by die wêreldwye viering van God deur die kerk‚ ja‚ om ingestem te word vir die toekoms. Die kerk offer aan ons ’n brokstuk van die toekoms. In die proses waarin God geprys word‚ breek die vreugde van die toekoms die hede in. Dit is die wesenlike van elke erediens wat ons bywoon‚ die rede waarom ons sing en preek en bid: as ’n viering teen die vreugdeloosheid‚ as ’n lied teen die nag‚ as ’n feestelike protes teen alle magte of mense wat hulleself bo God wil verhef.

Dit is ook‚ dikwels‚ harde werk. Viering vra vasberadenheid. Soms sal ons liedere tussen geklemde tande moet deurkom. Dikwels word ons versoek om ons wysie te verloor. Wanneer die hel oor ons losbars‚ moet ons maar vashou aan ons hallelujas … teen alles en almal in wat dit wil weerspreek. ’n Mens word herinner aan Rainer Maria Rilke se gedig wat Johan Cilliers aanhaal.

EK LOOF

O sê digter‚ wat doen jy?
– Ek loof.

Maar die dodelike en die monsteragtige‚
hoe verduur jy dit‚ hoe hanteer jy dit?
– Ek loof.

Maar die naamlose‚ anonieme‚
hoe roep jy dit‚ digter‚ nogtans?
– Ek loof.

Waarvandaan jou reg om in elke kostuum‚
agter elke masker te wees?
– Ek loof.

Hoekom ken die stil en onstuimige dinge
soos ster en storm jou?
– Omdat ek loof.


Presies daarom het ons mekaar nodig. Daarom moet ons telkens ingestem word by die viering van die menigte‚ ons stem voeg by dié van elke nasie‚ stam‚ volk en taal wat daar is (vgl. Op. 7:9) om ons moed te laat skep wanneer die donker dinge van die lewe ons vreugde wil versmoor‚ om ons skrale klank só te versterk dat ons God op ’n waardige wyse kan prys. Totdat die heelal daarvan weergalm.

Dat dit met ons kan gebeur‚ is die grootste wonder van almal.

Amen

Ds. Hentie Krüger
hentie@midweek.co.za

Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.

27.03.2005