|
Preek:
|
28 April 1996 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Jeremia 45
|
|
Teks:
|
Jeremia 45:2
|
|
Tema:
|
God luister fyn
|
Wat is eensaamheid? Ek is seker as ons koppe bymekaar moes sit om ’n definisie te vind‚ dit ’n omvattende oefening kan word. Een van die raakste “definisies” van eensaamheid hoor ons in Psalm 102:7-8:
Ek voel so verlate
soos ’n pelikaan in ’n woestyn‚
soos ’n uil tussen murasies.
As ek wakker word‚
voel ek soos ’n eensame voël
op ’n huis se dak.
Wat laat mense só voel? Dit kán die gevolg wees van eensame afsondering soos dié van ’n man op ’n eiland. Dit kan die resultaat wees van omstandighede wat van my ’n weduwee of wewenaar‚ ’n geskeide‚ of enkellopende gemaak het‚ omstandighede wat meebring dat niemand meer na my vra nie (vgl. Ps. 42:5; 1953-vertaling).
Dit is sekerlik ’n wesenlike kenmerk van eensaamheid: ek is uitgerangeer en niemand gee meer vir my om nie. Daar is niemand meer wat aan my deur klop en vra hoe dit met my gaan nie.
Hulle vra wel: “Hoe gaan dit met jou?”‚ maar dis dikwels dooie woorde‚ dikwels ’n vraag wat nie eers op ’n antwoord wag nie. Mense vra wel‚ maar hulle vra nie meer na MY nie‚ stel nie meer in MY belang nie.
Ek bly tevergeefs luister na voetstappe van mense wat na my toe kom om na my werklike welstand te verneem. Ek wag elke oggend in spanning op die posbode: sou daar vandag vir my ’n brief wees? En elke oggend kom ek ’n bietjie krommer terug van die posbussie. Daar is geen brief nie. Niemand vra na my nie. Ek voel so eensaam soos ’n vergete tas op ’n verlate perron. Maar nou is die verskriklike van eensaamheid nog verder dat jy veral verlate kan voel omring deur ’n skare van mense. Die bekende sosioloog David Riesmann het ’n boek geskryf met die titel The lonely crowd. Dit klink na ’n teenstrydigheid‚ en tog is dit waar.
Juis die massas van ons tyd het eensaam geword. Hoe meer mense‚ hoe meer eensaamheid. Mense wat omring word deur ander mense‚ voel dikwels die meeste mensverlate.
Neem die voorbeeld van die kassiere by die betaalpunt in ’n supermark. ’n Stroom van mense beweeg elke dag by haar verby‚ maar sy sien hulle later nie meer as mense raak nie‚ bloot as klante. Sy is eenvoudig te besig om die pryse in die kasregister in te tik en die rolband te laat beweeg om nog tyd te vind vir eg medemenslike kontak met die mens voor haar.
En omgekeerd: die klante sien haar bloot as ’n funksionaris wat haar werk so gou en goed as moontlik moet afhandel. Trouens‚ as iemand te lank met die kassiere sou praat‚ sou die mense agter in die ry spoedig begin mor oor dié oponthoud …
Maar dis nie net in die groot gedrang dat mense vereensaam nie. Ook in die kleiner groepe soos ’n gesin‚ waar eensaamheid tog veronderstel is om plek te maak vir gemeensaamheid‚ vier dit soms hoogty. Dalk is die eensaamste mens wat jy ken‚ dié een wat saam met jou slaap‚ of dié een wat jy soggens by die skool aflaai‚ of dié een wat saam met jou aan die etenstafel sit. Dalk is diegene in jou huis inderdaad soos uile in ’n murasie …
Jeremia 45 wil juis aan ons verhaal‚ dat jy‚ ja‚ jy persoonlik‚ vir God belangrik is‚ dat God jou hoor‚ ja‚ dat Hy bewus is van jou eensaamheid.
Baruk‚ die sekretaris‚ van Jeremia‚ het al dié profeet se profesieë op ’n boekrol neergeskryf. Dis toe aan koning Jojakim‚ die regeerder van die dag‚ gestuur. Die koning wou dit nie hoor nie. Daar waar hy voor die kaggel in sy paleis sit‚ sny hy die boekrol stukkie vir stukkie stukkend en gooi dit in die vuur.
In Jeremia 36:27-28 staan daar:
Nadat die koning die boekrol verbrand het met alles daarop wat Jeremia vir Baruk gedikteer het om te skryf‚ het die woord van die Here tot Jeremia gekom: Vat vir jou ’n ander boekrol en skryf daarop al die woorde van die vorige rol wat deur koning Jojakim van Juda verbrand is.
En daar begin Jeremia weer heen en weer in die vertrek te stap en Baruk skryf van voor af. En Jeremia se stem dreun deur die vertrek totdat Baruk die slegte nuus net nie meer kon hanteer nie. Terwyl hy so skryf‚ sug hy by homself: Dit is klaar met my. Die Here voeg net nog lyding by my smart. Ek is al uitgeput van kla. Ek soek net ’n bietjie rus (45:3).
Jeremia hoor nie eens sy sekretaris se sug nie. Sy stem dreun maar voort. Maar dan bly Jeremia stil. Hy ontvang ’n nuwe boodskap – dié een wat Jeremia 45 geword het:
“’n Woord van die profeet Jeremia aan Baruk seun van Nerija‚ toe Baruk opgeteken het wat Jeremia vir hom gedikteer het. So sê die Here die God van Israel oor jou‚ Baruk …”
Jeremia het sy sekretaris se gesug nie gehoor nie‚ maar God het wel. Natuurlik‚ want om te hoor as mense sug is God se spesialiteit. Het Hy dan nie Hagar se gekerm in die wye Arabiese woestyn gehoor toe Ismael van die dors wou doodgaan nie? Het Hy dan nie die gekreun van die Israeliete in hulle Egiptiese slawerny gehoor nie? Het Hy nie die smekende Hanna in die tempel‚ die sugtende Elia onder die besembos en die swetsende Jona onder sy wonderstruik gehoor nie?
GOD HOOR WAAR MENSE SUG
God onderbreek Jeremia se diktaat om eers vir Baruk ’n boodskap te stuur. God onderbreek ’n diktaat oor nasionale en internasionale politiek en ekonomie om na ’n enkeling om te sien: “Die Here sê ek moet vir jou sê … Wat Ek gebou het‚ slaan Ek plat; wat Ek geplant het‚ ruk Ek uit.”
Ek weet hoe jy voel‚ Baruk‚ sê God; maar weet jy hoe Ek voel? Wat Jeremia vir jou dikteer en jy daar neerskryf‚ gaan oor die vernietiging van my eie handewerk. Wat My 700 jaar geneem het om te laat wortelskiet en groei‚ moet Ek nou laat uitruk.
Is dit nie wat mense nog al die eeue aan God gedoen het nie? Wat Hy op die sesde dag as die pronkstuk van sy skepping gemaak het‚ moes Hy die paradys uitjaag. Daarna was dit die sondvloed en die toring van Babel‚ Sodom en Gomorra… En nou is dit sy eie volk‚ wat Hy juis vanweë hulle sugte uit Egipte verlos het‚ wat uitgeruk moet word.
Die ellende wat op die aarde aangaan‚ gaan nie agter God se rug of langs Hom verby nie. Hy sê ook nie maar net “Sies tog‚” en kyk dan anderpad nie. God het meer as meegevoel. Hy het medelye. Letterlik mede—lye. God is betrokke by die lyding.
So betrokke dat sy Seun ’n blote nommer op keiser Augustus se sensuslys geword het en as ’n gewone hande-arbeider tussen houtsnysels in ’n Nasaretse timmermanswinkel gaan werk het. So betrokke by menslike ellende was Hy dat gewone mense Hom aan ’n kruis kon vasspyker …
Nee‚ die gesukkel en gespartel om ’n daaglikse bestaan‚ die geweld en die sinlose moorde‚ die korrupsie en bedrog‚ die werkloosheid en stygende pryse – niks gaan agter God se rug verby nie.
Deur die krag van God word ons veilig bewaar. Wat beteken dit? Onttrekking uit die wêreld‚ om êrens in ’n plek van “veilige bewaring” afgesonder te word? Nee. Om aan die einde van jou lewe te kan terugkyk en sê: “Waarlik‚ ek het nie ’n enkele letseltjie opgedoen nie. Ek het nooit pyn‚ lyding frustrasies en krisisse geken nie. Die Here het my uit alles gered”? Nee. Wel‚ dit kan dit in ’n mate óók beteken.
Sommige Christene word – uit genade – baie beproewings gespaar en het ’n relatief spanningsvrye en lydingsvrye lewe. Sommige word daadwerklik uit doodsgevare gered. Ander ken nie die steekpyne van droefheid wanneer ’n geliefde ná die motorongeluk net nie wil herstel nie‚ net nie weer die oë wil oopmaak en opstaan‚ wégstaan van die mediese masjiene nie. Dat God ons van tyd tot tyd sulke leed spaar‚ is alle rede tot lof. Daarvoor kan Hy nóóit genoeg gedank word nie.
Die teendeel is ook waar: Christene ervaar lyding‚ beproewings‚ krisisse. Slegte dinge gebeur óók met goeie mense. Soms lyk dit asof hulle nie uit doodsgevare gered word nie.
Maar wat beteken die veilige bewaring deur die krag van God dan? Is dit bloot ’n woordespel? ’n Illusie? Wensdenkery? Nee! Ons word nie noodwendig bewaar van lyding nie‚ maar ons word wel bewaar vir die saligheid.
Dit beteken: op weg na hierdie saligheid moet ons soms nog deur die meule gaan. Dit mag vir ons voel of die lewe ons van tyd tot tyd verbrysel‚ soos ’n stukkende pop op die ashoop gooi.
Soms kan die hare waai – maar God het elke haar op ons kop getel (Matt. 10:30). En al verloor ons nou ’n paar hare in die stryd‚ verloor ons nooit die saligheid nie. Al verloor ons ’n paar rondtes in die kryt‚ verloor ons nie die geveg nie.
Wat sou dit ons baat as ons erfenis in die hemel vir ons veilig bewaar word‚ maar nie óns nie. As God se rykdomme op ons gewag het‚ maar ons haal dit nie? Maar nou: ons sál dit in ontvangs neem‚ ons sál die wenlint breek en die prys behaal (vgl. 2 Tim. 4:7‚ 8). Want God bewaar ons daarvoor. Dit het niks met ons eie krag te make nie. Die “volharding van die heiliges” is nie ’n menslike kragtoertjie nie. Dit is selfs nie eens ’n geloofskragtoertjie nie. Dis ’n demonstrasie van God se krag.
Vanweë die oorblyfsels van die inwonende sonde‚ en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan‚ kan die bekeerdes nie in die genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bevestig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is‚ terwyl Hy hulle ook tot die einde kragtig bewaar … Dat hulle nie heeltemal uit die geloof en die genadegawe uitval of ook tot die einde in die sonde bly of verlore gaan nie‚ verkry hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie‚ maar weens die genadige barmhartigheid van God. As dit van hulle afgehang het‚ kon dit nie alleen maklik gebeur het nie‚ maar sou dit ook ongetwyfeld gebeur het. Maar omdat dit van God afhang‚ kan dit glad nie gebeur nie …
(Dordtse Leerreëls‚ Hoofstuk 5:3‚ 8)
Ons is nie alleen nie. Kyk‚ tussen ons staan ’n geslagte Lam … maar as ons mooi kyk‚ sal ons sien daardie Lam is in werklikheid die Leeu van Juda‚ die Een wat die magte van die chaos oorwin het. En daardie oorwinning is besig om gestalte aan te neem midde-in die chaos waarin ons lewe.
Só naby het God aan ons gekom. Só dringend het sy vraag na ons geword. In sy mens- en Godverlatenheid is Hy so een met ons dat ons in óns mens- en Godverlatenheid Hóm kan herken. Op ’n eiland. Of in ’n massa. Of aan ’n galg.
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.