God staan op in die hemelse vergadering
Lees: Psalm 82
Teks: Psalm 82:8
Ons kan op verskillende wyses na dinge kyk. Ons kan byvoorbeeld na n skildery kyk en dan die geheel raaksien. Of ons kan na dieselfde skildery kyk en op n spesifieke deel daarvan fokus. Nou gebeur dit dikwels dat ons n gedeelte uit die Bybel lees en so daarop fokus dat ons die geheel uit die oog verloor. Dit kan nogal gevaarlik wees.
Dit beteken dan dat ons versigtig moet wees om nie iets uit perspektief te sien nie. Die Bybel is wel oor baie eeue heen deur baie mense geskryf onder leiding en inspirasie van die Heilige Gees maar die boodskap van die Bybel vorm n besondere eenheid. Kyk ons na die groot booskap van die Bybel dan help dit ons mos juis om die detail en die afsonderlike gedeelte beter te verstaan.
Die opstanding van Jesus laat ons dadelik dink aan die kruisiging. Dit moet ons oë ook vestig op die hemelvaart en op die wederkoms. Dit alles vorm deel van die groot geheel. Die opstanding van Jesus is mos die begin van sy laaste tydjie op aarde met sy volgelinge. Weliswaar verskil dit van die paar jare toe Hy elke dag met hulle was. Nou verskyn Hy van tyd tot tyd aan hulle. Hierdie tydjie tussen die opstanding en die hemelvaart het Jesus gebruik om aan sy volgelinge te verskyn en sy woorde te bevestig. Hy mobiliseer sy volgelinge nou om sy werk voort te sit en uit te dra.
|
Dit is asof mens kan sê dat hierdie tyd in die kerklike jaar ons wil herinner aan ons taak en roeping op aarde.
|
Psalm 82 begin met n besondere toneel skildering. Die Psalmis sien God in die hemelse vergadering tussen die hemelwesens staan (die Hebreeuse woord kan ook met mens vertaal word). Daar is dikwels in die Ou Testament na n koning en sy ministers as gode verwys. Die beeld wat hier gebruik word is die van n koning wat in sy paleis staan met die hoë amptenare wat rondom hom sit. In daardie tyd was dit die gebruik dat die koning op sy troon gesit het as hy sy onderdane onderrig het. Van tyd tot tyd vergader die parlement om bestuursake te bespreek. In die beeldspraak van Psalm 82 staan God in die parlement op. Pleks dat julle die aarde op koers hou sê Hy skud en bewe dit onder julle wanbestuur (Ps. 82:5).
Die minister van Veiligheid wat vir orde verantwoordelik was het sy plig versuim; want daar is wanorde.
Die minister van Justisie wat moes omsien na die reg het misluk; want daar is onreg.
Die ministers van Welsyn Gesondheidsorg en Ekonomie wat moes omsien dat almal genoeg het om te eet het gefaal; want daar is arm en honger mense.
Maar nou gaan die koning opstaan en as regter n uitspraak lewer. Voel u die spanning oplaai? God staan op. Nou word hier nie iets gesê oor die betrokke saak nie. Ook nie oor wie die beskuldigde of aangeklaagde is nie. Dit laat die spanning net nog meer oplaai. Wat gaan die Here sê? Die uitspraak van die Here vind ons in verse 3-7.
Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer julle moet die mens in nood en die arme bevry hulle uit die mag van die goddelose red; maar julle weet niks julle verstaan niks julle gaan eenvoudig in duisternis voort en so word die fondamente van die wêreld geskud. Ek het wel gesê: Julle is almal gode almal met mag beklee. Maar nou julle sal elkeen sterwe soos n mens en aan julle einde kom soos enige maghebber.
Die Here kyk vanaf sy hemelse troon neer op wat op aarde gebeur. Dan sê Hy wat Hy van die mens en in die besonder van sy kinders verwag. Wat verwag God van ons?
God verwag van ons dat ons reg moet laat geskied in die besonder teenoor die mense in nood en die weeskinders. Dit was nog deur die eeue altyd so dat mense in nood dikwels uitgebuit is. Kinders wat nie ouers of ander wat na hulle omsien het nie val dikwels ander ten prooi en word uitgebuit en mishandel. Ons kyk so maklik ander pad. Ons sluit ons oë vir die nood van ander. Ons vergeet van die kinders in kinderhuise. God sê dat Hy van ons verwag dat ons reg moet laat geskied. Dit beteken mos ook dat ons so moet optree dat die nood verlig word en aan hulle die geleentheid gegee moet word om hulle volle potensiaal te bereik.
Die Here sê verder dat Hy verwag dat almal en in die besonder sy kinders n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige moet lewer. Wag n bietjie. Moenie uself verontskuldig en sê dat u nie n landdros of regter is nie en dat dit dus nie van toepassing op u is nie. Wat sê ons oor en van diegene wat hulpeloos
is? Wat is ons kommentaar op die bedelaar langs die pad? Hoe oordeel ons oor diegene wat in ellende verkeer? Ons kan mos so maklik sulke negatiewe en afbrekende opmerkings oor ander maak.
God sê verder dat Hy van sy kinders verwag om die mens in nood en die armes te bevry en te red. Nie om hulle jammer te kry nie. Nie om nie hulle nood te vererger met ons woorde en optrede nie. Ja natuurlik moet ons hulle ook jammer kry. Maar God vra meer. Hy vra dat ons daadwerklik iets sal doen. Ons moet hulle bevry en red. Dis gelade woorde. Ons assosieer mos bevryding en redding met verlossing. Mense wat vasgevang is in die greep van armoede kan dikwels nie self daaruit kom nie. Hulle het hulp nodig. Dis ons godgegewe roeping om hulle te help. Voordat hulle wegsink en vergaan.
Hoe pas dit nou in by wat ons aan die begin gesê het? Het die Here nie in die Ou Testament met die mense gepraat en gepraat nie? Oor en oor op verskillende maniere en deur baie mense het die Here dieselfde boodskap na sy kinders gestuur. Maar helaas dit was asof hulle net nie kon of wou hoor wat Hy sê nie. Toe het Hy sy Seun gestuur om vir ons te kom wys hoe dit wat God so baie gesê het gedoen moet word. Het Jesus nie juis gekom vir elkeen wat in nood is nie? Het Hy nie juis in liefde uitgereik nie? Het Hy nie gekom om te soek en te red die wat verlore gaan nie? Het Hy nie juis vir ons kom wys wat liefde beteken nie? Hy het mos ook vir ons die volmaakte voorbeeld kom stel. Na sy opstanding mobiliseer Hy dan sy volgelinge om voort te gaan met sy werk. Nou moet ons na sy voorbeeld leef. Soos Hy geleef het moet ons leef. Soos God nog altyd verwag het dat die mens wat sy skaduwee behoort te wees moet optree.
Psalm 82 gaan dan verder. Die Here die Regter wat in die hemelhof staan en kyk wat in sy koninkryk aangaan sê nie net wat Hy van sy kinders verwag nie maar sê ook wat Hy sien. Wat sien die Here as Hy na ons kyk?
Hy sien n gebrek aan kennis en insig. Julle weet niks en verstaan niks. Julle gaan eenvoudig in duisternis voort. Dis kras woorde. Ons dink mos ons is so slim. Kyk net na alles wat die mens kan doen. Kyk hoe het ons al gevorder. Ons kan maklik maan toe vlieg. Ons het rekenaars en allerlei ingewikkelde masjiene. Ons kan atome split. Ons kan so baie dinge doen. Miskien tegnologies. Maar wat weet ons? Wat verstaan ons? Hoekom ploeter ons so in duisternis voort? Dit is skokkend as ons daaraan dink dat die probleme en veral die verhoudingprobleme waarmee die mense in die Bybelse tyd geworstel het vandag nog presies dieselfde probleme is waarmee ons worstel. Ons sien mense vandag nog dieselfde flaters begaan as in die tyd van Dawid. Ons hoor nog dieselfde vrae waarmee geworstel word as waarmee daar in die tyd van die Ou Testament geworstel is. Ag die mens is tog so onnosel.
Dan volg n moeilike vers. Miskien sal dit ons help as ons dit as n sarkastiese opmerking sien. Iets wat die Here so tong in die kies sê. Julle is almal gode. Die woord wat hier vir gode gebruik word is presies dieselfde as wat aan die begin vir hemelwesens gebruik word. Dit kan verwys na hemelwesens maar dit kan
ook na mense verwys. Die mens wil tog so graag n hemelwese wees. Die kroon van die skepping. Die wat mag het. Is die strewe na mag nie een van die dodelikste kankers wat die mensdom nog altyd bedreig nie? Dink maar aan die verhaal van die toring van Babel. Toe al wou die mens mag hê. Dink maar aan die mens in die tuin. Toe die mens soos God of beter gestel: gelyk aan God wou wees. Dis mos wat sonde eintlik is: om self god te wil wees. Ons sieklike magsbeheptheid en strewe na grootheid lei tot ondergang sê die Here hier.
Dis of mens die hartseer hier hoor uitslaan. God het sulke hoë ideale vir sy kinders gehad. Maar daarvan kom min of meer niks tot sy reg nie. Die vraag is dan wat sien God vandag? Hierdie Psalm laat mens mos dink aan die Nuwe Testament wat sê dat Jesus aan die regterhand van God staan. Hy kyk ook na wat aangaan. Hy kyk of sy koms die moeite werd was. Wat doen ons? Volg ons sy voorbeeld of ploeter ons sonder kennis en insig in duisternis voort met net die strewe na mag voor oë?
Psalm 82 sluit met n diep versugting: Kom tog o God! So sluit die boek Openbaring en die Bybel ook mos af. Is dit nie ook ons versugting nie. Kom Here. Kom tog o God regeer die aarde; neem self beheer van die nasies! wat eintlik maar in Nuwe-Testamentiese taal beteken: Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied.
Maar wanneer jy dié woorde in radeloosheid bid antwoord God: Het Ek dié gebed dan nie lankal verhoor nie? Vestig Ek dan nie nou al drie eeue lank my koninkryk in die lewe van gelowige Suid-Afrikaners kerkmense nie? Hoe gebeur dit dan dat daar nog steeds soveel onreg geweld nood en ellende onder julle is? Ek het tog van julle almal gesê júlle is nou kinders van God (Joh. 1:12)? En daarmee staan God dan in die kerkvergadering op om navraag te doen oor wat elke Christen aangevang het in die portefeulje waarin God hom of haar as sy minister aangestel het: in die ekonomie (waar soveel mense deesdae aan wins geoffer word); in die reg (waar dit nie meer duidelik is wat reg is nie); in die welsyn (waar soveel nood is); in gesondheid (waar mense dikwels onversorgd sterf); in die onderwys die joernalistiek
Want dít is tog waar God se koninkryk van geregtigheid en vrede moet kom. As God in die kerkvergadering moet opstaan sal Hy dalk ook bevind dat kerkmense soos van ouds in duisternis voortploeter sonder om iets te verstaan (Ps. 82:4-5)?
Want dis nie eredienste en lofsange in kerkgeboue wat God se koninkryk sigbaar maak nie maar gelowiges in die roetine van hulle daaglikse werk. Waar God se regering en sy koninkryk van geregtigheid werklik in mense se lewensroetine sigbaar word kantel die onwaardige gode en kom daar hoop.
Laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel.
Daarom is hierdie gebed wat ons betref ook n gevaarlike gebed om te bid. Daarin vra ons niks minder nie as die dood van ons sondige eiewilligheid. Daarmee kom gee ons onsself geheel en al prys aan God ook die diepste roersele van ons hart die verste en donkerste uithoeke van ons wil. En niks is moeiliker vir ons om te doen as juis dit nie. Ons beoefen n taaie selfliefde. Ons verkeer onder die indruk dat ons ons wil kan opsmuk. Dat ons self die goeie kan doen self die vrede en geregtigheid kan skep. En dan as die stof gaan lê het na die bombardement en ons tussen die puin staan sê ons nogal: Ons wou nie oorlog hê nie; dit was tog niemand se wil niemand se bedoeling nie.
Hierdie gebed vra dat die verbinding wat Christus tussen hemel en aarde kom lê het tog nou sigbaar mag word.
Wanneer dit gebeur kom daar n sprankeling n vars briesie in hierdie vaal verskriklike wêreld. Iets van die hemel slaan op die aarde deur. Wie na n veldbrand oor die verskroeide aarde loop sien die volgende troostelose toneel: Waar eers gras en bome en blomme was is nou net as en verskroeide stoppels en boomtakke wat soos verminkte vingers die lug ingryp. n Mens hoor nie eens n voël sing of n blaar roer nie. Jy sien nie n sprinkaan spring nie. Dis inderdaad soos n maanlandskap van die dood. Totdat die wonder gebeur dat die lewe terugkeer: Groen halms en blare bars hier en daar eers skugter maar dan onkeerbaar deur die swart as. Voëls begin sing en sprinkane begin spring. Blare klap hande in die wind oor die triomf van die nuwe lewe. Blomme breek hier en daar deur en met hulle kleursinjale lui hulle n nuwe era in. Totdat daar uiteindelik selfs n groter glorie is as voorheen.
Met ons sondigheid met ons eiewilligheid het ons hierdie planeet waarop ons woon in n maanlandskap van die dood verander. Ons het die wêreld die mooi wêreld wat God aan ons toevertrou het uit sy hande probeer ruk en volgens eie wil probeer regeer. Die einde van alles is die dood. Hierop stuur die wêreldgeskiedenis af; met ons bomme en ons kanonne steek ons die wêreld om ons heen aan die brand verwoes ons alles wat God mooi gemaak het verwoes ons mekaar en onsself. Die uiteinde van alles is n uitgebrande planeet n bol as in die heelal. Ons maak straks voorbrand vir die einde wanneer God self sal ingryp en sal oordeel en herstel. Want as die dag van die Here so onverwags soos n dief kom sal die hemel met n groot gedruis verdwyn die hemelliggame brand en tot niet gaan en die aarde met alles wat daarop is vergaan. In daardie dag sal die hemel in vlamme
vergaan en die hemelliggame
brand en wegsmelt. Maar ons leef in
die verwagting van n nuwe hemel en n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers (2 Pet. 3:10 12 13). Waar daar nie meer moorde en massagrafte en missiele sal wees nie maar eerder vrede en voorspoed en
eer aan God!
Amen
Ds. Hentie Krüger
hentie@midweek.co.za
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.
Aanddiens 10 April 2005