|
Preek:
|
2 September 2001 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Efesiërs 5
|
|
Teks:
|
Efesiërs 5:6-20
|
|
Tema:
|
Goddelose tye
|
KATEGORIES stel Paulus dit‚ sonder vrees vir teenspraak‚ asof hy redelik alwetend is; “… ons lewe in ’n goddelose tyd.” Die lidmate in Efese het sekerlik hulle koppe bevestigend geskud toe hulle die aanmerking van Paulus gehoor het. Heel moontlik het die afgodstempel van die godin Artemis‚ die godin van vrugbaarheid‚ wat in hulle stad was‚ voor hulle oë opgekom. Miskien was hulle van voor af bewus van die agteruitgang in sedelike en morele standaarde in hulle stad.
Die apostel se woorde tref ons ook‚ nie waar nie? Dit is oral rondom en in ons. Regverdiges word gestraf en misdadigers word beloon. Die wat moet regeer‚ steel en die wat hard werk word met hoë belastings verarm. Dobbelsale en gesellinklubs verrys waar daar skole en klinieke gebou moet word. Ons kan werklik met Paulus se woorde identifiseer dat ons in ’n goddelose tyd lewe.
Daar is mense wat beweer dat Paulus hierdie uitdrukking as ’n soort kode gebruik wat net Christene sou verstaan. Dekodeer jy dit‚ beteken dit ons leef in die finale periode voordat Christus gaan terugkom. Ons leef in die tyd waar verdrukking sal toeneem‚ die magte van die Antichris gemonster sal word‚ en daar ’n groterwordende geween en ’n gekners van tande sal wees. Dis die tyd waarin die merk van die dier op mense se voorhoofde getatoeëer gaan word en ’n mikroskyfie in elkeen van ons ingeplant gaan word waarsonder jy nie sal kan koop en verkoop nie.
Dit lyk nie vir my dat dit Paulus se bedoeling was nie. Hy praat hier in algemene terme van die tyd na Jesus se hemelvaart en voor sy wederkoms. Dis ’n tyd wat nie net sleg is nie‚ nie net boos is nie‚ nie net vol van sonde en verval en boosheid is nie‚ maar ’n tyd wat jy met ’n waaksame optimisme moet benader. Eintlik is dinge nie besig om slegter te word nie‚ maar beter! Kyk mooi: hy sê “vroeër” het mense in die “duisternis” geleef (5:8). Dinge is in die donker gedoen en mense het met hulle onheilsdade weggekom. Mense het geleef asof in ’n koorsdroom van aaklighede. Dit was asof die dood regeer het. Nou kan hy uitroep (5:14): “Word wakker‚ jy wat slaap‚ en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” Oortuigend verklaar Paulus dat die donker dinge van die verlede nou uitkom: “Maar alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val.” Dis nou die tyd van lig. Vir my is dit baie om oor optimisties te raak.
Tog noem Paulus dit steeds ’n goddelose tyd. Dit is goddeloos‚ nie omdat donker magte al hoe sterker word nie‚ nie omdat die Antichris al besig is om sy mikroskyfies te vervaardig om in elkeen van ons se skedels in te plant nie‚ nie omdat dit lyk asof misdadigers in werklikheid Suid-Afrika regeer nie – dit is goddeloos omdat mense nog steeds optree asof hulle in die donker is. Hulle rol steeds rond in hulle nagmerriedrome; hulle hou aan met hulle donker duiwelse dinge; hulle is vasgevang in die haat‚ die afguns‚ die bitterheid‚ die kultusse van gister.
Dit is wat Paulus bedoel as hy sê ons leef in ’n goddelose tyd. Hy bedoel eenvoudig daarmee dat ons in die verlede leef; aankarring soos altyd; nie wil verander nie; vasklou aan ’n vergete en verganende era in die geskiedenis van mense.
Paulus noem ’n paar dinge wat mense nog altyd gedoen het. Die ou tipe heidense godsdiens het om “kicks” gedraai. Om die vrugbaarheid onder die kuddes‚ en onder die gesaaides te stimuleer‚ was daar by sommige tempels prostitute gewees tot diens van die plaaslike mans. Paulus sê dis “’n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.” Hiermee het die misbruik van drank gepaard gegaan. Wyn is as afkomstig van die god Bacchus beskou. Mense het geglo dat wanneer hulle wyn drink‚ hulle die god inneem. Onder die invloed van drank het hulle dan dinge gedoen waaroor hulle later skaam was. As Paulus dus sê: “Moet julle nie aan drank te buite gaan nie …” praat hy nie as ’n vriendelike verteenwoordiger van die Alkoholiste Anoniem nie. Hy vermaan mense om ’n breuk met hulle verlede te maak.
Die goddelose tye waarin ons leef‚ is ook omdat mense aanhou vasklou aan verbygegane dinge. Eendag het ek met ’n vrou van so twee–en-twintig gewerk. Sy was van skooldae af aan dwelms verslaaf. Om dwelms in die hande te kry‚ het sy by satanistiese kultusse betrokke geraak waar ryk en vooraanstaande mense hulle dwelms in ruil … gegee het. Sy wou selfmoord pleeg en het‚ om die waarheid te sê‚ probeer. Verder het sy aan ’n dieetsiekte gely en kon nie aan haar verlede ontsnap nie‚ maar het herhaaldelik in haar ou gedragspatrone teruggeval.
“Word wakker‚ jy wat slaap‚ en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” Dinge het verander.
Die verlede het ’n verskriklike greep op mense. Jy en ek weet hoedat ’n gebeurtenis of twee uit ons kinderjare skielik uit die niet te voorskyn kom en ons in ’n nagmerrieslaap kan indompel. Jy en ek weet hoedat ons al hard probeer het om nie te doen wat ons ouers aan ons gedoen het toe ons klein was nie – en dan op ’n dag besef dat dit makliker gesê as gedaan is. Jy kan nie op eie krag nuut word nie. Daarom gee Paulus vir ons ’n positiewe alternatief. Hy vul sy “word wakker” met nuwe inhoude. Hy haal die blinddoeke van ons oë af en wys ons dinge in die helder lig van Jesus Christus. Hy deklameer ’n nuwe moontlikheid in hierdie goddelose tye (5:19): “Nee‚ laat die Gees julle vervul …”
Nadat Paulus in die algemeen die gelowiges opgeroep het om te breek met hulle ou sondige natuur en om volkome volgens die wil van God te leef en heilig te wees (4:17-24)‚ gee hy vervolgens spesifieke riglyne vir die nuwe lewe:
Moenie leuens vertel nie
“Noudat julle die valsheid afgelê het‚ moet julle onder mekaar die waarheid praat‚ want ons is lede van dieselfde liggaam" (Ef. 4:25). Die liggaam kan nie teen homself verdeeld wees nie. Leuens breek die liggaam af‚ dit verlam dit. Dit is soos wanneer die witbloedliggaampies die rooibloedliggaampies begin vernietig.
Is leuens en valsheid nie dalk een van die dodelike bloedsiektes wat ons gemeentelike lewe ondergrawe en verlam nie?
Julle moet die waarheid praat. Dit is ons opdrag. Jesus Christus is die waarheid. Dit wat ons vir mekaar sê en oor mekaar sê moet as ’t ware deur Christus self gesensor wees.
Moenie kwaad word en sondig nie
Dit beteken nie dat ’n Christen nie mag kwaad word nie. Om kwaad te word is ’n normale reaksie by die mens.
Ons lees in die Bybel dat by sekere geleenthede God se toorn ontvlam teen sy volk. Ek kan nie dink dat toe Jesus die mense met ’n sweep uit die tempel verdryf het Hy baie vriendelik gewees het nie. Die Bybel gee toe dat ’n mens soms kan kwaad word. Die punt is dat wanneer ons kwaad word ons as mense met ons sondige natuur maklik ’n prooi van die sonde raak. Dit kan natuurlik ook wees dat ’n mens baie keer kwaad word‚ nie omdat God se eer aangetas word nie‚ maar omdat daar nie aan jou sondige begeertes toegegee word nie.
Gesonde kwaad word‚ word uit liefde gebore. ’n Mens kan kwaad word omdat God se eer aangetas word. Omdat jy Hom liefhet en sy kind is‚ raak dit jou indien iemand sy Naam in die gedrang bring.
Hoe moet ons voorkom dat uit ons kwaad nie sonde gebore word nie? “Moenie ’n dag kwaad afsluit nie” (Ef. 4:26). Ons mag hierdie kwaad in ons nie koester nie. Ons moenie daaroor broei nie. Dit sal beteken dat ons dadelik moet werk aan ’n geskil wat moontlik tussen ons en iemand anders ontstaan het.
David Augsburger skryf ’n baie mooi boekie oor hoe ’n mens konflik behoort te hanteer. Hy neem die boekie Caring enough to confront en beweer ’n mens het vyf opsies.
- Ek sal jou kry
In enige geveg moet iemand wen en iemand moet verloor. Ek is dus jammer‚ maar ek gaan nie in vir verloor nie – so kan ’n mens redeneer. Die gevolg is dat jy alle konflik soos ’n geveg beskou wat jy ten alle koste moet wen. Hierdie soort wen-verloor-houding vra baie mag maar min liefde. Die doel voor oë is om te wen‚ ook die argument te wen. Dit maak nie saak of verhoudinge in skerwe spat nie.
- Ek gee lewer pad
So baie mense kies hierdie uitweg. Hulle is nie lus vir al die drama en onenigheid nie dus gee hulle liewer pad. Om pad te gee kan ook beteken dat julle nog saam in dieselfde huis bly maar dat jy jou emosioneel onttrek. Die rede vir hierdie “gee-maar-pad”-houding is dat daar geglo word daar is geen sin in al die konflik en stryery nie.
So kan ’n huwelikspaar maar net so bolangs oor koeitjies en kalfies gesels en verder in dodelike stiltes verval omdat een van die partye eerder padgee as om konflik te bewerk. Dit sê Augsburger is ’n pad uit‚ nie ’n pad deur die probleem nie.
- Ek gee lewer in
Hierdie houding is baie dieselfde as die vorige. Die persoon glo dat om hoegenaamd te verskil afbrekend is. Al die beslissings word dus aan die ander persoon oorgelaat. Daar is geen eie inisiatief of mening nie‚ want “dit lei tog net tot spanning en konflik.” Dit is amper ’n “deurmat”-houding. “Hier is ek‚ trap maar op my. Dit is beter as spanning.”
- Ek ontmoet jou half pad
So op die oog af klink dit nogal nie ’n slegte oplossing vir konflik nie. Konsensus is mos deesdae aan die orde van die dag. Laat ons geen fout maak nie. Ware konsensus tussen twee persone bestaan nie uit ’n helfte van die een en ’n helfte van die ander nie. Daardie twee helftes maak gewoonlik nie ’n hele nie.
Die enigste antwoord vir konflik is:
Kom ons praat dit uit
Wanneer daar ’n probleem tussen twee persone ontstaan moet hulle die genade kry om saam na die probleem te kyk en dit uit te praat en deur te praat.
Dit lyk my dit is presies wat Paulus hier bedoel. Sorg dat julle die saak uitpraat voor julle gaan slaap. Daarmee wil hy sê hierdie gesprek moet so gou as moontlik plaasvind‚ dit moenie onnodig uitgestel word nie.
Om kwaad te bly vir mekaar is om die duiwel ’n vatkans te gee in ’n mens se lewe. Daar is min dinge wat ’n mens se geestelike groei so aan bande lê soos wanneer jy in een of ander rusie gewikkel bly met iemand anders. Ag‚ en hoe maklik gee ons die duiwel nie hierdie vatkans nie. Ouers en kinders wat net nie weer kan vrede maak nie. Bure wat stry oor water of oor drade wat gebreek het. ’n Mens sou ’n oneindige lys van dinge kan opnoem wat mense toegelaat het om onenigheid tussen hulle te bring.
Kom ons maak ’n bietjie bestekopname van die belangrike dinge wat ons toelaat om ons op ’n permanent vyandige houding met ander mense te plaas. Die Here gee ons die opdrag om dit uit die weg te gaan ruim.
Moenie steel nie‚ maar werk liewer hard
“As iemand ’n dief is‚ moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee” (Ef. 4:28).
Die meeste van ons sal dadelik wil reageer en sê: “Gelukkig is dit darem nou een sonde waaraan ek nie skuldig is nie.” Laat ons egter nie so haastig wees om onsself te verontskuldig nie. ’n Mens kan op baie maniere steel. Jy kan tyd steel van die firma waarvoor jy werk. Om gedurig laat by die werk te kom of voor die tyd reeds te begin oppak‚ of heeldag halfpas te werk beteken dat jy niks minder as ’n dief is nie.
’n Geesvervulde mens is nie net iemand wat elke Sondag op sy pos in die kerk is nie maar ook op sy pos in die werk. ’n Mens kan die goeie naam van iemand anders steel deur deel te neem aan ’n skinderstorie. Die liefde‚ het ons reeds gesê‚ stal ander se foute nie uit nie maar bedek dit eerder.
Moenie vuil taal gebruik nie
“Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is …” (Ef. 4:29).
Jakobus gebruik die mooi beeld van ’n mens se tong wat soos die roer van ’n skip is. Dit is relatief baie klein‚ maar stuur die hele skip. ’n Mens se tong bepaal egter nie net die rigting van jou eie lewe nie‚ maar dit bepaal ook die rigting van ander mense se lewens. Dit wat jy sê kan mense die pad na die lewe laat vind of dit kan hulle soos ’n skip op die rotse laat loop.
Die geweldige invloed van ’n mens se tong wil Jakobus verder benadruk wanneer hy dit ’n klein vuurtjie noem wat ’n groot bos aan die brand kan steek. Hoe het ons nie almal al die ervaring gehad van hoe dit wat in ’n oomblik van onbedagsaamheid gesê is‚ die bos aan die brand gesteek het nie. Die enigste waarborg wat jy en ek het om nie ook maar brandstigters te word wat die wêreld aan die brand sal steek nie‚ is dat ons moet toelaat dat ons tonge onder die beheer geplaas word van die Heilige Gees.
Wat hiermee saamhang is dat ook ’n mens se emosies onder die beheer moet kom van die Gees (vers 31). Dit is wanneer ’n mens opvlieënd verbitterd is dat jy gevaar loop om te begin vloek en skel. Nee‚ die Heilige Gees wil ons help om goedgesind te wees‚ om hartlik te wees‚ om maklik te kan vergewe.
In Efesiërs 5 noem Paulus nog ’n belangrike saak wat veroorsaak dat ons die Heilige Gees bedroef: Moenie dat die seksuele iets vuils word in jou lewe nie. “Soos dit gelowiges betaam‚ moet daar van ontug‚ onsedelikheid in enige vorm‚ of gierigheid … geen sprake wees nie” (Ef. 5:3). “Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg‚ onsedelik lewe of ’n gierigaard is … het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie” (Ef. 5:5).
Daar word beweer dat ’n mens se seksuele drang die tweede sterkste drang in sy lewe is. Die sterkste is die drang na selfbehoud. ’n Mens kan dus verstaan hoekom die duiwel so graag hierdie sterk krag in ’n mens se lewe vir sy eie voordeel wil aanwend. Die mens se seksualiteit is ’n gawe van God. Dit is God wat dit so beplan het dat ’n man en meisie op ’n fisieke manier kan wys dat hulle mekaar liefhet. God self het egter die reëls van die spel van die liefde ingestel. Hierdie reëlboek is die Woord.
Daar is min dinge wat ’n jongmens se geestelike groei so kan vernietig soos ’n liefdeslewe wat nie bly by die reëls van die ware liefde nie.
Al hierdie dinge‚ sê Paulus bedroef die Heilige Gees en staan in die pad dat ons waarlik ’n Geesvervulde lewe lei. Dit is baie belangrik om op te let dat wanneer Paulus oor ’n Geesvervulde lewe praat hy nie maar net klem lê op die negatiewe nie. Hy wil juis die positiewe op ’n duidelike wyse uitspel. “Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee‚ laat die Gees julle vervul” (Ef. 5:18).
Hoe word ’n mens met die Gees vervul? Die manier om God se Gees te ontvang is nie met ’n chemiese middel soos sommige Efesiërs blykbaar van wyn geglo het nie‚ maar iets baie beters. Ons moet van harte saam sing: psalms‚ lofgesange en ander geestelike liedere. Ons moet met ons hele hart tot eer van die Here sing. Ons moet lekker sing. In ’n gemeente moet kreatiewe musiekskepping en -uitlewing aangemoedig word.
Benut elke geleentheid
“Maak die beste gebruik van elke geleentheid” (Ef. 5:16). Om Geesvervuld te wees beteken dat die liefde van Christus jou dring om elke moontlike geleentheid te gebruik om vir Hom iets te doen. “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees” (Hand. 1:8).
Die Heilige Gees maak dit vir ons onmoontlik om te swyg‚ onmoontlik om stil te sit. Laat ons die Here bid dat Hy ons lewe sal vul met bekommernis en hartseer oor ’n maat‚ oor daardie vriend‚ daardie iemand wat ons sien besig is om weg te beweeg van Jesus Christus af. Nie almal van ons kan alles doen nie. Elkeen van ons kan egter iets doen.
Paulus sê ook vir ons dat ons God altyd moet dank. Dit beteken dat ons dinge in ons en om ons nie as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Kom ons begin sommer nou opnoem: my vriendekring‚ my familie‚ my geleenthede om te werk of te leer‚ my gesondheid‚ my talente en gawes‚ my gemeente … Op die een of ander manier‚ as ons God werklik dankbaar is vir al hierdie wonderlike goeters‚ dan begin Hy deur sy Gees in ons werk om dié dinge ook vir ander mense te gee. Luister mooi: ons word God se instrumente; ons begin namens Hom dinge doen; ons is ’n vriend‚ ’n broer‚ ’n suster‚ ’n opleier‚ ’n geneser‚ ’n talentontwikkelaar vir ander mense.
Leef as kind van die lig
Ons leef in die tyd waarin daar baie gepraat word oor versoening. Daar is twee dinge wat nie met mekaar kan versoen nie‚ dit is lig en duisternis. Daar word so baiekeer in die Bybel van Jesus gepraat as die Lig van die wêreld. “In Hom was daar lewe‚ en die lewe was die lig vir die mense” (Joh. 1:4). “Die ware lig wat elke mens verlig‚ was aan kom na die wêreld toe” (Joh. 1:9). Jesus praat van Homself as die lig van die wêreld (Joh. 8:12 en 9:5).
Dit is wanneer Hy kom oorneem in ’n mens se lewe dat Hy die duisternis van sonde verdryf en lig bring (Ef. 5:14).
Die taak van die kerk is om hierdie lig te laat skyn in die wêreld. Daarom skryf Matteus: “Laat julle lig so voor die mense skyn‚ dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is‚ verheerlik” (Matt. 5:16).
Niemand van ons het die lig uit onsself nie‚ ons kan dit nie self opwek nie. Die lig wat ons moet laat skyn kom van God af. Dit is soos die maan wat geen lig in homself het nie. Die lig wat ons sien is die son se lig wat hy na ons weerkaats. Die kerk moet die weerkaatsers wees van God se lig. Daar kom ’n maansverduistering wanneer die aarde inskuif tussen die son en die maan. So laat ons ook dikwels die wêreld inskuif tussen ons en God. Dit beteken duisternis.
Dit is die werk van die Heilige Gees om sorg te dra dat die wêreld met sy baie versoekings en verleidings nie tussen ons en God kom nie. Die Gees maak ons sensitief vir die dinge wat ons lig verduister. Johannes gee vir ons ’n wonderlike troos as hy skryf: “Iemand wat ’n kind van God is‚ doen nie meer sonde nie‚ omdat die Gees van God in hom bly‚ en hy kan nie meer sondig nie‚ omdat hy ’n kind van God is” (1 Joh. 3:9).
Dit maak my minder bang vir die goddelose tye waarin ons leef. God is besig om merkwaardige dinge te laat gebeur‚ nuwe dinge‚ toekomstige dinge‚ en hierin het ons die voorreg om betrokke te wees.
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.