Preek:

19 Maart 1995 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Jona 1:17 - 2:10

Teks:

Jona 1:17 en 2:1‚ 2

Tema:

Help my Here!


EINTLIK is die hoofstuk indeling van die 1953-vertaling hier nie so goed nie. Die Hebreeuse Bybel het net sestien verse in die eerste hoofstuk‚ maar elf verse in die tweede. En so hoort dit ook logies byeen. Daarom plaas ons vers 17 van die 1953-vertaling by hoofstuk 2.

Uit die Ooste kom die verhaal van ’n jong man wat by geleentheid aan ’n wyse man ’n vraag‚ wat op daardie tydstip in sy gemoed geleef het‚ gevra het: Wanneer sal ek God vind? Die wyse was‚ soos wyses maar maak‚ in diep bepeinsing‚ gesete op ’n rivieroewer. Sonder waarskuwing gryp hy toe die jong man en druk hom al spartelende en protesterende onder die kabbelende stroom in.

Die jong man het probeer losruk‚ maar die wyse se greep was soos yster. Ná wat gevoel het soos ’n ewigheid‚ toe die jong man se ore begin suis en sy verstand begin duisel‚ het die wyse net so skielik sy greep verslap. Die jong man het hygend bo die watervlak verskyn en na ’n tiental diep teue verontwaardig aan die wyse gevra: “Waarom het u dit gedoen? Waarom?” Waarop die wyse geantwoord het: “Wanneer jy só na God smag soos jy na suurstof gesmag het‚ wanneer jy só na Hom skreeu soos jy in jou binneste om asem geskreeu het … dan sal jy God vind.”

Jona word deur die lot‚ maar eintlik deur God‚ in die water gewerp … en deur ’n vis onder gehou.

Ons wonder of God nog in beheer is terwyl Jona afsak in die see en die seewier om sy kop draai. Terwyl hy afsak in die dieptes wat hy oor homself gebring het‚ wonder ons of dit dan die einde van Jona beteken? Maar God het vir Jona so lief dat hy Jona met ’n groot vis agterna sit. Nog een van God se speelgoed (Ps. 104:25-26)! Selfs die donker dieptes wat destyds ontoeganklik vir die mense was‚ omdat hulle nog nie duikbote en Gemini’s gehad het nie‚ word deur die Here beheers. Die groot vis luister vir Hom.

Hy laat toe dat die groot vis Jona insluk omdat hy Jona êrens heen wil vervoer. Waarheen? Ons sal nog moet sien. Op die oomblik is Jona op pad na die doderyk. Af en af daal hy‚ sak hy nog verder weg van God af‚ tot op die bodem van die see (die simbool van chaos). Is dit dan die hel? Afgesny van mense en van God? Oorgelaat aan die wil van ’n redelose donker dier se binneste? Oorgelaat aan jou eindbestemming wat jy self gekies het? Drie dae en nagte in die vis se maag.

Ek dink nie ons moet te lank by die vis stilstaan nie. As God wat die son kon maak (Gen. 1)‚ dieselfde son kon laat stilstaan (Jos. 10)‚ en ook eendag weer uit die hemel kan wegneem (Op. 22)‚ is ’n vis met ’n maag groot genoeg vir Jona sekerlik geen probleem nie? Hier moet ons soos kinders wees en ons gelowig naïef verbly oor die wonder van Jona se verlossing.

Want hier gaan dit tog oor die redding van ’n mens‚ en hiervoor sal God géén steen onaangeroer laat nie; sal Hy‚ as dit moet‚ al die visse uit al die oseane van die wêreld stuur om sy mens te red. Hiervoor sal Hy selfs sy eie Seun uit die hemel stuur … en Hy het! Om dit te verstaan vra van ’n mens geloofsnaïwiteit‚ vra van jou kinderlike geloofsvertroue.

God gebruik hier geweld om Jona teen homself te beskerm. Hy gebruik Jona se doodswens om Jona ’n nuwe lewe te gee. Nou is Jona by sy uur van waarheid. Wie is jy? Want wie vlug voor God‚ vlug ook vir homself. Miskien moet ons partykeer oor ons eie dood nadink want dit sal ons lewe in ’n nuwe perspektief plaas. Wie is ek? En waar gaan ek heen? Waarvandaan vlug ek?

Waar ek met hierdie vrae worstel‚ moet ek een of ander tyd kan weet dat God naby is. Voor die dag breek is die nag op sy donkerste. Drie dae en drie nagte in die vis se maag verwys terug na die drie dae en nagte wat die Israeliete moes vas en bid voordat hulle verlos is uit Egipte. Dit is ’n bedekte verwysing na die Pasga. Ons vind hierdie drie dae-konsep ook in Ester 4:16‚ waarna die verlossing aanbreek.

Die drie dae is die stuk niemandsland tussen lewe en dood. Die opvatting het destyds onder die Jode bestaan dat wanneer ’n liggaam gedurende die drie dae en nagte geen teken van lewe toon nie‚ sal die siel daarin nie meer terugkeer nie. Die gebruik het bestaan om die graf van die oorledene na drie dae te besoek om seker te maak of die oorledene wel dood is. Na drie dae is daar geen hoop meer tot ’n terugkeer na die lewe nie.

In my donkerste uur is ek baie naby aan God. Dan is dit net ek en Hy. Hy sien my soos ek is‚ weerloos. Want dan is ek gestroop van al my pretensies en staan ek voor Hom naak‚ soos Adam en Eva in die tuin. Maar as ek so swak is‚ is ek sterk. Want as ek leegloop van myself kan God se krag in my inkom en my meesleur na ’n nuwe lewe. Die drie-dae konsep is onontbeerlik vir ’n nuwe lewe.

Dit is daar waar die ou mens afgesterwe word deur die verdienste van Christus. Ja‚ sonder God sou dit hel gewees het. Maar Hy staan by ons. Christus was daar waar ons nog moet kom. Hy het die dood oorwin ter wille van ons. Hy is die Here van die land en die stad‚ van die see en die skip‚ van die kwaai wind en die groot vis‚ van die matrose en van Jona. Hy is jou en my God.

In sy nood roep Jona na die Here en hy vind dat Hy hom hoor. Dit is asof God sit en wag vir die oomblik wat ons Hom nodig kry. Hy is nie soos mense wat verwyt in die ek-het-jou-mos-gesê trant nie‚ maar is gewillig om ons gebed te verhoor. In hierdie dieptes (her)ontdek Jona juis die lewende God – die Een wat hoor en handel. Dit is nie toevallig dat sy gebed grotendeels ’n samevoeging van sinsnedes uit die Psalms is nie (8‚ 31‚ 42‚ 69‚ 142).

Hy keer terug na die bekende gebede‚ maar bid dit asof vir die eerste keer! Hy roep tot die handelende God – die Een wat geskiedenis met Israel gemaak het. Jona doen dit‚ al sit hy in die dieptes van die doderyk en oënskynlike Godverlatenheid‚ omdat hy hóóp op die aanskoue van die heilige tempel en God se teenwoordigheid. In die dieptes hoop hy op die toppunt van saligheid! Hy troos homself met die herinnering aan wat was – omdat dit weer kan wees! Trouens‚ sy gebed praat van sake wat God reeds gedoen het!

Dit is die paradoks van ware berou: om in die nulpunt van ellende te staan‚ en tog te roem in die moontlikheid‚ ja‚ in die keerpunt van die genade. Om in die dieptes van die dood te weet: “Hulp kom net van die Here af” – nie van die nuttelose afgode nie. Om in die stikdonker lofliedere te sing en offers te bring. Só – deur die hoop heen – word die doodse dekor om Jona tekens van God se groot genade‚ word die dieptes van sy ellende vir hom juis die dieptes van God se liefde!

Agter alles in my lewe kan ek vraagtekens plaas‚ maar agter die genadige trou van my God net uitroeptekens. Jona moes dit ook doen toe hy so plotseling – onverwags deur daardie vis gered is. Tot vers 6 van sy gebed was hy seker daarvan dat hy sou sterf.

En dan plotseling: “maar U Here my God het my lewe uit die kuil van die doderyk gered.” Die Here red hom uit die verstikkende water deur die vis. Al is hy nou ook in die ingewande van die seemonster‚ hy kan ten minste weer asemhaal. Die vis is vir hom die bewys dat die Here nog sy God is‚ die troue Verbondsgod wat luister na die geroep van sy kinders: “toe ek wou vergaan‚ het ek aan die Here gedink en my gebed het by U gekom‚ in U heilige tempel.”

Daar is nie ’n gemors waarin jy kan beland wat so ver is dat die Here sy hand nie na jou kan uitsteek nie. Met respek gesê‚ God sal sy hande vuil maak om ons uit die modder te kry waarin ons geval het. Dit is die geweldige krag van God se heiligheid. Dit is nie ’n kliniese skoon heiligheid waarvoor jy ’n afspraak moet maak voor jy die spesialis kan sien nie. Dit is ’n heiligheid waarvoor jy net jou hande kan oophou en die Here sal jou optel.

Dit is die rede waarom Jona ’n loflied sing‚ sy danklied (toda) aan sy God. Ons moet leer om weg te kyk van ons probleme en vir God raak te sien. Net ’n ware kyk op God sal ons die perspektief gee op ons eie lewe wat hoop sal bring. As mens net dag vir dag met jouself worstel‚ kom jy naderhand nie meer uit die draaikolk van die lewe nie.

Ons hart is vanself so boos en vol kwaad dat ons naderhand nie die kaf van die koring kan onderskei nie. Net God kan ons help om dit te doen. Om Hom geleentheid te gee‚ moet ons ’n loflied sing. Dit gee die kwaad in ons geleentheid om te wyk voor Hom.

Dat God die ongehoorsame Jona uit die vis‚ uit die hel‚ uit die dood verlos‚ gee ons moed. As daar vir Jona hoop is‚ moet daar ook vir ons wees. Daar is met ander woorde geen agterstraat‚ geen besmetlikheid‚ geen histerie waarvan Hy ons nie kan verlos nie.

Daarom is daar hoop vir die hopelose‚ genade vir die weerloses‚ hulp vir die hulpelose! Die God van Jona is ’n God van genade. Hy is God met ons!

“Wanneer sal ek God vind?” het die jong man aan die wyse gevra. Sý les moes hy duur leer. Ons nie minder nie. En tog het ook hierdie muntstuk ’n ander sy. Die belangrikste kant van hierdie muntstuk‚ lui: God het óns gevind. Hy het self in die dieptes van die doderyk na ons kom soek‚ só na ons kom soek dat Hy uit sy eie gesigsveld verdwyn het!

Die Seun – die Soeker – skreeu uit die dieptes van sy ellende: “My God‚ my God‚ waarom het U My verlaat?” Hy daal dieper in die dood in as enigeen voor of ná Hom: “Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was‚ so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees” (Matt. 12:40).

So hang alles uiteindelik nie af van hoe hard ek skreeu na God en hoe intens ek smag na die genade nie‚ maar van hoe hard en hoe intens die Seun skreeu en smag. Die evangelie is meer as ’n Oosterse legende. Dit lui: Die graf van die Seun is oop en leeg. Die dieptes het Hom uitgespoeg. Só hard en intens het Hy geskreeu en gesmag dat Hy die dood oopgeskreeu en die graf aan stukke gesmag het …

Dáárom: Help my Here!

“Hoe kon ek van u aangesig‚ my lot
as mens ooit vlug! O God‚

ek sink … u seegras maal en bind
my nietig in u draaikolk soos ’n kind

weer in die moer; maar wand na wand
sluit u genade na alkant.

En op ’n reënerige kus is ek een môre
voor ’n God-erbarmde Nineve herbore.”

(Jona‚ uit: Negester oor Nineve‚ Tafelberg-Uitgewers)


Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.