|
Preek:
|
27 Februarie 2005 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Hebreërs 12:4-29
|
|
Teks:
|
Hebreër 12:10 & Hebreërs 2:8(b); 9(a)
|
|
Tema:
|
Hoe lyk jou lewensbril?
|
DIE LEWE is broos. ’n Damp‚ noem Jakobus dit (vgl. Jak. 4:14). ’n Lugskim wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn; ’n vlietende sekonde in die lig van die ewigheid; ’n sandkorreltjie êrens op die kosmiese sandvlakte. Die een oomblik is ons nog hier‚ bruisend van lewenslus. Vitaal. Die volgende oomblik is ons weg‚ getref deur die verganklikheid – fataal. Dit kos net ’n enkele telefoonoproep‚ ’n doodsberig ’n besoek aan die geneesheer‚ ’n motorongeluk‚ en ons lewe stort soos ’n kaartehuis ineen. Ons ervaring gee die digter gelyk –
’n Druppel gal is in die soetste wyn‚
’n traan is op elk’ vrolik snaar …
Voorwaar. Dié wete kan jou totaal morbied stem‚ jou huiwerend laat lewe‚ in die MINEUR. Dit kan jou heeltyd oor jou skouer laat loer‚ in krampagtige afwagting op die volgende katastrofe. Die bewussyn van die broosheid van jou lewe kan jou laat versteen‚ jou laat sterf terwyl nog lewe …
Maar dít wil God nie!
Hy wil nie van ons dooie lewendes maak nie‚ eerder mense wat lewe in oorvloed (vgl. Joh. 10:10). Dit beteken nie ’n lewe sonder sy kwota kwellinge nie – dié sal altyd by ons wees – maar ’n lewe in die wete dat God groter is as ons kwellinge en broosheid. Dit beteken ’n lewe met ’n dieperliggende vreugde‚ wat jou selfs in die donker dieptes laat bely: “… ek kom niks kort nie …” want U is by my (Ps. 23:1‚ 4).
Dit is so: gelowiges is mense net soos ander mense‚ uitgelewer aan dieselfde broosheid en wisselvalligheid van ons bestaan. Maar uiteindelik is dít die verskil tussen ’n lewe in MINEUR en ’n lewe in MAJEUR: die wete dat ons in God se hand is‚ en niemand jou daaruit kan ruk nie. Sou terugslae dit kon doen? Armoede? Hongersnood? Teleurstellings? Bankrotskap? Siekte? Dalk die dood? Nee! – Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie‚ die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here (Rom. 8:38‚ 39).
Dís lewe in MAJEUR!
’n Lewe wat nie gekortwiek word deur die broosheid van ons bestaan nie‚ maar juis in die lig daarvan tot volle verwerkliking kom. ’n Lewe wat nie gebou is op sand nie‚ maar op hierdie basiese Bybelse waarheid: God is vir my (Rom. 8:31). ’n Lewe wat geanker is op die Rots.
Daarom is die kleur van jou lewensbril belangrik‚ want dit sal jou alledaagse optrede beïnvloed.
Marion Howard het gesê:
“Die lewe is soos ’n kombers wat te kort is. As jy dit optrek tot onder jou ken‚ kry jou tone koud. As jy opstaan en die kombers onder by die voetenent instop‚ kry jou skouers koud. Gelukkig is die mens wat vroeg in sy lewe geleer het om sy knieë op te trek.”
Hoe dikwels gebeur dit nie dat mense kwaad vir hulleself en die samelewing deur die lewe gaan en nooit regtig ware vreugde ken nie – net omdat hulle nog nie geleer het om hulle knieë op te trek nie.
Hulle donker bril ontneem hulle van vreugde omdat hulle nie meer die sonskynkant van die lewe sien nie.
Dit is byna soos die verhaal van kwajongens wat die oom se snuif met hondemis vervang het. Ná ’n snuifteug ruik die oom iets onaangenaams in die kamer. In die kombuis hang dieselfde onaangename reuk en toe hy boonop die reuk in sy geliefde gemakstoel voor die televisie kry‚ kom hy daar en dan tot die slotsom dat die héle wêreld stink.
Ek glo dat dit die regte lewensbril was wat gemaak het dat Paulus en Silas in die tronk kon sing ten spyte van hulle omstandighede (Hand. 16:25). Paulus skryf uit die tronk aan die gemeente in Filippi: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Fil. 4:4).
Hy rig sy brief juis aan mense soos ons. Mense wat hy wil herinner daaraan om hulle lewensingesteldheid een van vreugde te maak. Christene het immers rede om bly te wees! Paulus herinner ons uit die koue sel dat die Here naby aan ons is (Fil. 4:5)‚ só naby dat ons ons begeertes met danksegging aan Hom kan bekend maak. Méér nog‚ sê Paulus: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan‚ sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil. 4:7).
Die regte bril kan ’n tronksel verander in ’n paleis saam met dié Koning. ’n Dorre‚ bar eiland met die naam Patmos word vir ’n banneling ’n ontmoetingsplek met God (Op. 1:9). Selfs die dood verloor sy krag wanneer ons die weerkaatsing van Jesus in ons lewensbril sien.
As jy Christus met eer en heerlikheid gekroon sien‚ as jy hierdie insig het‚ besef jy dat Hy die duiwel oorwin het. En nou is jy bevry! Jy gaan nog sterf‚ ja! Maar die dood het nie ’n ewige houvas op jou nie.
Dit is die insig wat God ons gee. Nou hoef ons nie teen die harde werklikhede vas te kyk nie! En wanneer jy dit besef‚ sal jy nie alarmisties wees nie. Jy sal jou nie deur die harde werklikhede laat mislei om te dink dat dit die enigste werklikheid is nie. Jy sal ook nie pessimisties en swartgallig word nie‚ al is die werklikhede hoe hard. Jy sal deur die werklikhede heen kyk! en Jesus sien‚ insien dat Hy in beheer is.
Maar dan nie om te ontvlug en om jou iewers in ’n ivoortorinkie terug te trek en ’n wêreldmyder te word nie. Dit is nie die boodskap van hierdie Skrifdeel nie. As dit was‚ sou ons godsdiens inderdaad as opium vir die volk getipeer kon word. Immers dan is ons godsdiens niks anders as ’n ontvlugting van die harde werklikhede nie.
Maar nou sal u sê – wel dis alles goed en wel om te sê dat lyding die skadukant van God se skepping is‚ dat God en lyding vertrou kan word en dat ons lydsaamheid aan die dag moet lê in lyding. MAAR HET DIT HOEGENAAMD SIN OM TE LY? Soms sê mense dat God maar net die kwaad toelaat sodat ons gelouter kan word?
Maar moet ek nou daarvoor my man of vrou of oë of wat ook al verloor? As God die kwaad “toelaat” beteken dit dan nie dat Hy nie ook in die kwaad aanwesig is‚ by my is nie? Is dit dan iets wat so half agter sy rug verby my uitkom? Hoe moet ek dan die geslagte Lam van Openbaring verstaan?
Soms sê mense dat God ons in die lyding beproef om te sien of ons Hom werklik liefhet. Iets hiervan skemer miskien deur in die verhaal van die offerande van Isak as dit in Genesis 22:1 lui: “’n Paar jaar later wou God kyk of Abraham werklik op Hom vertrou …” Maar het God dan nodig om dit te wil vasstel? Weet Hy dit dan nie? Kan Hy dit dan nie insien nie? Is Hy dan werklik besig om allerlei proefnemings met ons te doen?
Miskien kan ons die geloofstoets-idee effens herformuleer. Miskien moet ons sê dat God die lyding wat daar is‚ gebruik om ons in die vertroue‚ lydsaamheid‚ geduld en verdraagsaamheid te oefen. God kan‚ omdat Hy magtig is‚ die lyding positief aanwend‚ want net Hy kan goed uit kwaad skep. NET HY KAN SKEP!
Ons kan die goeie skepping van God oppas of ons kan dit in sy teendeel buig‚ maar ons kan die goeie nie skep nie. As God my dan in my lyding help om myself te verander‚ om meer geduld te leer‚ om lydsaamheid te beoefen‚ het Hy nie maar passief staan en kyk of ’n proefneming met my gedoen nie‚ maar het Hy van my ’n nuwe mens gemaak.
In die lyding kom God ons wat glo se ongeloof te hulp‚ omskep Hy dit in vertroue en versterk Hy dit wat aanwesig is.
Is dit dan nie wat met Abraham gebeur het nie? Hy moes in die proses leer dat eers die daad van gewilligheid om te ly die begin van die verlossing is. Dat eers die daad van geloof na vertroue lei. Daarmee het ons miskien effens nader gekom aan ’n antwoord op die sin van lyding. Deurgrond het ons dit egter nie. Of ons dit werklik sal deurgrond‚ is nie so maklik om te sê nie.
Victor Frankl het êrens geskryf dat ’n mens in dié opsig baie soos ’n hond is. As jy vir ’n hond iets met jou vinger wys‚ kyk hy nie in die rigting waarheen jy wys nie‚ maar na jou vinger. In sy hondewêreld bestaan daar nie so iets soos ‘wys’ nie. Daarom weet hy ook nie dat hy moet ‘kyk’ waarheen die vinger wys nie.
Lyding‚ sê hy‚ is moontlik so ’n goddelike wysvinger wat iewers heen beduie‚ maar ons weet nie dat ons moet ‘kyk’ in watter rigting die vinger wys nie‚ of beter nog‚ ons weet nie waarheen om te kyk nie. Ons bly maar teen die vinger self‚ die lyding self‚ vaskyk.
Daarom mag ons nie moed opgee nie‚ al is die swaarkry ’n pynlike ervaring en langdurige proses. Ons moet ook nie vaskyk teen die sigbare en daaronder beswyk nie‚ want dit is net vir ’n tydjie en van verbygaande aard‚ maar ons moet let op die onsigbare dinge‚ die geestelike seëninge in Christus en die ewige heerlikheid wat daaraan verbonde is. Ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. Die Here sien alles in ’n ander lig as ons. Ons is geneig om net op die teenwoordige te let terwyl die Here sien wat die teenwoordige vir die toekoms en ewigheid inhou; ons is geneig om slegs die liggaam raak te sien terwyl die Here die oog het op die welvaart van die siel.
Ons is geneig om onder beproewing te sug terwyl die Here daaragter die heerlikheid van die Vader en die vernuwing van ons geloofslewe sien.
En dis wat die Hebreërskrywer ons wil leer. Alles geskied “tot ons beswil.” Daarom moet ons altyd goeie moed hou want al vergaan die uiterlike mens weens swakheid en vermindering van liggaamskragte‚ ondergaan die innerlike mens nie ook aftakeling en agteruitgang nie‚ maar word dag na dag vernuut; hoe langdurig die beproewing vir die beproefde ook al mag lyk‚ is dit maar vir ’n oomblik‚ en ’n ligte verdrukking in vergelyking met die alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid wat dit later afwerp (2 Kor. 4:16‚ 17).
Christusgelykvormigheid‚ voortgaande heiligmaking en heerlikmaking is die uitwerking en doel van beproewing in die lewe van die gelowige wat sy geloofsoog en gedagtes voortdurend op Jesus Christus rig en in gelowige gemeenskap met Hom bly.
Beproewings is kragtige middels om ons nader aan die Here te lei. Dit is liefdesbewyse van God hoewel dit dikwels in ’n koevert met ’n swart randjie tot ons kom. Die onbegryplike weë van die Here met ons as gelowiges lei tot ons geestelike voordeel en ewige blydskap en tot eer en verheerliking van God.
Daarom wil ek met die volgende gedagte afsluit:
SY NOOD GEE ONS DIE NOOT
Toe God die skepping en die lewe voltooi het‚ het Hy gesien dat dit goed was – ja‚ Hy het gesien dat dit baie goed was (Gen. 1:31). En God het dit aan die mens opgedra om die skepping en die lewe te dirigeer in een groot en omvattende lofsang tot eer van God.
God het van die mens ’n stemvurk gemaak wat die skepping en die lewe moes instem tot God se eer en lof. Maar toe die mens in sonde val‚ toe breek sy stem – van toe af was die lied van die lewe vals. MAAR GOD GEE DIE MENS NIE PRYS NIE.
Hy gee aan die mens sy Skrifwoord as die bladmusiek vir die lofsang‚ te midde van lyding‚ tot sy eer. En Hy gee sy Seun Jesus Christus. En as Christus aan die kruis sy lydingsnood uitkla‚ dan gee Hy daarmee aan die mens die regte noot terug – sodat die mens weer sy ere-posisie kan inneem as dirigent van die lewenskoor tot eer van God.
En daarom kan elke Christengelowige weer uitvoering gee aan die opdrag om tot eer van die Here ’n nuwe lied te sing. Want dit is moontlik. Die mens moet sy lewenslied slegs instel op Christus en die Woord van God as bladmusiek lees.
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.
GEBED:
Here‚ hoe broos is my lewe nie! Kosbaar. Leer my om geduldig en dankbaar voor u te lewe en om my dae só te gebruik dat ek wysheid mag bekom (Ps. 90:12). My dae is getel. Maar dankie dat dit U is wat dit getel het‚ wat al my lewensdae in u boek opgeskrywe het nog voordat ek gebore is (Ps. 139:16).
Amen