Preek:

30 Junie 1996 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Amos 3

Teks:

Amos 3:9-12

Tema:

Hofsitting op die berge


HET u al ’n hofsitting meegemaak? Gewoonlik gee dit ’n mens koue rillings. Veral as mens hoor wat op die klagstaat staan. As die getuies geroep word en daar word sulke verdoemende getuienis gelewer. Dan hou almal gewoonlik asem op‚ want nou moet die vonnis gevel word. Dan leef die vraag weer‚ sal die regter verlof tot appèl toestaan?

Hier in ons teksverse sien ons so ’n hofsitting. Daar word getuies geroep‚ die klagstaat word gelees‚ die vonnis word gevel en selfs verlof tot appèl toegestaan. Ja‚ nou skroom Amos nie meer om aan die sondes van Israel groot publisiteit te gee nie.

Al die goddeloosheid en onreg wat daar tussen die mure van Samaria aangaan‚ moet nou in die openbaar aan die kaak gestel word. Boodskappers word links en regs uitgestuur. Asdod‚ een van die Filistynse stede‚ en Egipte moet die bestemming van die boodskappers wees.

Hierdie boodskappers kry dan ook ’n spesiale opdrag: As julle in dié stede kom‚ moet julle dadelik na die paleis gaan en vandaar moet julle‚ julle boodskap bekend maak. Israel se boosheid word dus letterlik van die dakke af verkondig. Vir ons Westerse ore klink so iets vreemd‚ maar in die Ooste was dit die normale manier van doen. Die plat dakke van die Oosterse huise was uitnemend geskik vir so ’n openbare aankondiging. Toesprake waarin die volk geadresseer is‚ is dikwels vanaf die dakke van huise gedoen. Die hoë dak van die paleis was dus ’n uitnemende “kansel” en wat daar te sê was kon vêr en wyd gehoor word.

Wat is die boodskap wat daar van die dakke van die paleise afgekondig moet word?

“Kom bymekaar op die Samariaberge‚ kyk na die groot beroering in Samaria‚ die verdrukking daarbinne.”


Die inwoners van Asdod en die volk van Egipte word dus as getuies geroep en spesiaal die ryk paleisbewoners. Die plek van die hofsitting‚ die berge rondom Samaria. Die berge rondom die ketelvormige dal van Samaria het ’n pragtige natuurlike opelug teater gevorm.

Wie daar plaasgeneem het‚ kon alles waarneem wat in Samaria gebeur. Aan hierdie heidense toeskouers sal daar ’n skouspel vertoon word. Van verbasing oor wat daar aangaan sal hulle hulle hande saam slaan. Ja‚ kom versamel julle daar op die berge van Samaria en kom kyk!

Ons weet dat die uitstuur van die boodskappers slegs denkbeeldig is. En tog is die denkbeeldige boodskappers en toeskouers meer as maar net ’n gedagtevlug. Amos is bekommerd oor die verregaande boosheid wat daar in die stad aangaan.

Die noem van Asdod en Egipte is bewys daarvan. Dit is nie maar net twee willekeurige volke nie – nee‚ juis hierdie twee word bymekaar geroep om Israel te beskaam. As die inwoners van Samaria nog enigsins ’n skaamtegevoel gehad het‚ dan sou hulle‚ hulle hoofde laat sak het – dat juis Asdod en Egipte geroep word om na die wantoestand in Samaria te kyk.

Egipte! Was dit nie Israel se verdrukker gewees nie? Ja‚ met hulle geestesoog kon hulle nog sien hoedat hulle vadere as slawe met die kats voortgedrywe word. Hoedat seuns sommer summier soos katte in die rivier verdrink is. As die Jood net die naam Egipte hoor dan kners hy sommer op sy tande. Weg met die verdrukkers!

En dan Asdod! As die slawerny in Egipte tot die gryse verlede behoort‚ dan was die verknegting van die Filistyne sommer heel onlangs. Moes hulle nasionale held‚ Simson‚ nie soos ’n perd met uitgesteekte oë rondloop en die meul trek nie?

Ja‚ dit is wat Egipte en Asdod met Israel gedoen het. Van jongs af is hulle verkneg. In plaas van dat hulle in hul kerker van verdrukking‚ verdrukking afgeleer het‚ het hulle dit aangeleer. Blykbaar het hulle by hulle oorheersers afgekyk oor hoe hulle op die mees geraffineerde wyse die volk kon verdruk (tiranniseer).

Ja‚ versamel julle op die berge van Samaria en kyk‚ dit kan nog erger wees as wat julle gedink het.

In Samaria het wanorde geheers. Die maatskaplike lewe het in die teken van algehele ontwrigting gestaan. Afgesien van die wanorde was die verdrukking van die swakkeres ’n algemene praktyk.

Miskien moet ons vra: het dit werklik so erg daaraan toegegaan? Waarskynlik was Israel self verbaas om hierdie beskuldiging aan te hoor. Sake lyk mos nie so treurig in Samaria nie! Eintlik gaan dit nog baie goed. Samaria is ’n florerende stad. Israel geniet voorspoed.

Die Here vra egter nie vir Asdod en Egipte om die staatkundige stabiliteit in Israel te beoordeel of om die uiterlike voorspoed in Samaria te meet nie. Die getuies word op ’n beroering gewys – iets wat onder die glinsterende oppervlak aan die gebeur is. So ’n beroering word selde deur hulle wat die nouste daarby betrokke is‚ raakgesien. Maar wanneer buitestanders op die berge rondom Samaria stelling inneem om sodoende ’n arendsblik op die stad te werp – dan word die skokkende toestand waarin hierdie volk verkeer‚ aan die lig gebring.

Die getuies op die berge‚ wat aan onreg gewoond was‚ het in Samaria dinge gesien wat selfs vir hulle skokkend was. Hoe ironies is dit nie! Die volke wat as gevolg van hulle sondige praktyke berug was‚ is ingeroep om Israel se sonde te aanskou. Die volke wat buite die ligkring van God se openbaring geleef het‚ het getuies geword van die sonde van ’n volk wat daarop aanspraak kon maak dat hulle alleen deur God geken en verlos is.

Die Egiptenare en Filistyne het wel rede gehad om hulle hande in stomme verbasing saam te slaan. Daar was ’n beroering in die stad. Hierdie woord sê vir ons daar was ’n totale omkering van orde – wit word swart genoem en swart wit‚ en goed kwaad en kwaad goed. So gewoond het hulle daaraan geraak dat hulle nie eers meer geweet het wat dit is om reg te doen nie. Die mees elementêre etiese beginsels het soek geraak.

Broeders en Susters‚ die kerk het vandag nog toeskouers wat rondom haar geskaar staan. Hierdie toeskouers is die kinders VAN die wêreld. Onthou‚ ons lewe nou eenmaal IN die wêreld en ons lewenswandel is openbaar. Die wêreld het lank reeds sy oor vir die Woord van God en vir die prediking gesluit. Maar hulle kyk met oë wat wa wyd oop is na die gedrag van die Christen. Hulle verwag van die kerk‚ van u en van my ’n heiliger lewe.

Hierdie mense is om die kerk saamgedrom. Die kleinste vlekkie op ons lewenskleed sal hulle vir jou wys en honend sal hulle dan sê: Hulle dink hulle is soveel beter as ons. Enersyds is hierdie kritiek onregverdig‚ omdat hulle dit uit vyandskap verklaar. Maar andersyds is hierdie kritiek geregverdig. Die wêreld kan en mag van ons iets anders verwag‚ omdat ons ’n ander lewensbeginsel ken.

Nee‚ ons kan dit nie afmaak en sê‚ ons kan ons nie aan die wêreld se opinie steur nie. Hoe lyk ons‚ geliefdes? Het ons nie maar ook deel aan die praktyke van die sondige natuur nie. Is daar nie ook maar by ons naywer‚ woede‚ rusies‚ afguns‚ verdeeldheid‚ uitspattigheid‚ teenwoordig nie. Dink maar net aan rusies. Ons dink dit is nie so erg nie‚ maar daar is ’n groot skroef by ons los.

Daar is baie mense wat beweer dat hulle hulle heelhartig aan God oorgegee het en in sy diens is. Natuurlik is hulle opregtheid bo verdenking en hulle doen baie vir hulle medemens. Naastediens – dit is die wagwoord in hulle lewe. Sommige is met groot opoffering in diens van minderbevoorregtes. Maar eintlik is dit alles dade waaroor die mens self besluit het. Wanneer selfs barmhartigheidsdiens die plek inneem van die aanbidding wat uit ons lewe aan God toekom en ons gemeenskap met Hom verydel‚ verloor dit kontak met die ware Bron van inspirasie en krag.

Hoe besiger jy word in diens van God en van jou medemens‚ hoe noodsaakliker word dit om méér tyd met Hom deur te bring. Versuim hierin sal enige diens wat jy verrig tot blote bystand verskraal.

Juis in ons werk het ons Hom die meeste nodig. Die wêreld wil ons van God af weglei en doen dit dikwels juis deur die werk wat ons vir Hom doen. En ons doen niks daaraan nie. Dit is maar goed so. En dit terwyl Paulus vir ons sê: Laat julle lewe deur die Gees beheers word. En die leiding van die Heilige Gees is nie iets abstraks of apart van ons lewe nie. Dit is nie ’n waterdigte kompartement van ons lewe wat ons net Sondae of per geleentheid oopsluit nie.

Dit laat ons noodwendig onder die geestelike broodlyn lewe. Die Here gee ons sy Gees in sy volheid om ons elke dag‚ die hele dag te lei. Die suigkrag van die wêreld is so geweldig‚ dat ons die leiding van die Gees juis buite die kerk ook broodnodig het. Buite die invloedsfeer van die Heilige Gees‚ kry die sondige vlees die oorhand en word ons die prooi van ons vyand‚ die Satan‚ wat rondloop en soek om te verslind.

As ons deur die Heilige Gees gelei word openbaar ons die ryke vrugte van die Gees: liefde‚ vreugde‚ vrede‚ geduld‚ vriendelikheid‚ goedhartigheid‚ getrouheid‚ nederigheid en selfbeheersing.

Maar met ons optrede staan ons soms ook in die pad van Christus. Want die wêreld vra: Hoekom moet ek van Asdod na Samaria gaan. Dit is tog maar dieselfde as hier. Maar naas die sigbare is daar ook die onsigbare skare. Daar is Satan wat hom verheug oor ons laksheid. Daar is volgens die skrywer van die Hebreërboek ook ’n groot wolk van getuies rondom ons wat ons aanmoedig om te volhard.

MAAR BO ALLES IS DAAR GOD!

Die onsigbare Toeskouer van al ons dade‚ die onsigbare Toehoorder van al ons gesprekke‚ die onsigbare Ontdekker van al ons gedagtes.

Dit kan natuurlik ’n skrikwekkende waarheid wees. Hý ken ons deur en deur. Daar is geen plek waar ons kan gaan sonder dat Hy daarvan kennis neem nie‚ geen ding wat ons doen‚ geen woord wat ons sê‚ geen gedagte wat by ons opkom nie‚ of Hy weet dit alles. Geen mens kan hom voor die Here anders voordoen as wat hy is‚ en dink hy gaan daarmee wegkom nie. Hy ken al ons weë. En Sy kyk is nie maar ’n raaksien om weer te vergeet nie. Hy kyk om te weeg en te toets. Die prentjie wat Hy sien‚ is ook nie mooi nie.

Want al kyk Hy na die heel beste dade wat ons doen‚ en selfs al hoor Hy die heel mooiste woorde wat ons sê‚ of al lees Hy ons skoonste gedagtes‚ slaag ons nog lank nie die toets nie. Só erg het die sonde ons lewens getref. God het alle rede om ’n finale oordeel oor ons uit te spreek.

En tog mag ons ten minste weet: Hy is die Regverdige en die Barmhartige. Hy sal nooit onbillik met ons handel nie. Maar juis dit kan ’n skrikwekkende gedagte wees. Want as daar gevra word wat reg is‚ is die antwoord dat ons almal skuldig staan.

Omdat God die Alwetende is‚ kan Hy volkome reg oor ons oordeel EN omdat Hy die Alwetende God is‚ sal Hy ook regverdig en reg oor ons oordeel. Skrikwekkend? Nee‚ sy oë volg ons op al ons weë en dit is ’n bewys dat Hy vir ons omgee. Hy stel belang in die fynste besonderhede van ons lewens. Dit sou mos veel erger gewees het‚ as ons dade en ons sonde vir God nie saak gemaak het nie‚ as Hy gesê het: “Ek neem glad nie eers daarvan notisie nie!”

Die groot boodskap van die Bybel is die boodskap van vers 3: TEN SPYTE VAN. Ten spyte van wat ons is en ten spyte van wat ons doen‚ hou God aan om vir ons om te gee. Hy red ons ten spyte van alles. God hou sy kerk in stand ten spyte van die mense in die kerk; ten spyte van dominees wat soms vir die koninkryk ’n verleentheid is; ten spyte van ouderlinge en diakens wat nie altyd hulle plig doen nie; ten spyte van lidmate wat nie altyd meelewend is nie.

Daar is net een by wie se naam daar nie ’n “ten spyte van” staan nie: net by die Naam van die Here Jesus. Agter Sy Naam staan nie “ten spyte van” nie‚ maar TER WILLE VAN: ter wille van jou en ter wille van my.

Daarom gee die Bybel ook aan ons ’n lewensresep: DIE OOG GEVESTIG OP JESUS! Kom ons wy ons opnuut daaraan om op te kyk na Hom in volkome afhanklikheid‚ en met die bede en die voorneme tot ’n heilige lewe en tot diens wat iets beteken vir sy koninkryk.

Want ons weet: Sy oë is op al ons weë‚ omdat Hy vir ons omgee soos niemand anders nie‚ maar ook omdat Hy ons verantwoordelik hou soos niemand anders nie.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.