Preek:

31 Desember 1998 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Eksodus 33

Teks:

Eksodus 33:14‚ 15

Tema:

Hoop vir die nuwe jaar


“Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?” Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie‚ moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.”

Eksodus 33:14-15

DAAR is tog iets betowerends‚ iets byna misterieus in die wisseling van die jare. Nie dat ’n blote datum ’n mens se lewe handomkeer kan verander nie. Maar dit laat jou dink aan die tyd. Jare wat kom en gaan. Geleenthede wat kom en gaan. Drome wat kom en gaan. En met bravade verklaar jy dat jy nie die goeie goed wil laat gaan nie. Jy wil dit nou ’n slag vashou en benut.

Dis wanneer ’n mens so vir ’n paar oomblikke tot stilstand kom en vorentoe kyk dat jy soek na hoop. As jy nugter en met berekende realisme boeke opmaak en begroting opstel‚ weet jy dat die toekoms altyd ’n mate van ’n waagstuk is. Het die geskiedenis dan nie al male sonder tal geleer dat omstandighede onvoorspelbaar kan verander nie? Maar ’n mens durf nie toelaat dat die negatiewe rapport uit die verlede jou laat versteen nie. Jy moet vorentoe leef. Jy moet hoopvol leef. En daarom is dit nodig om ’n visie vir die toekoms te hê. As ’n mens visie het‚ het jy hoop. Want ’n visie dring jou altyd vorentoe. Die toekoms in. Met verwagting. Met doelwitte.

Nou is daar ook baie mense met die mooiste drome in hulle hart. Doelwitte en verwagtinge het hulle. Soms is hulle met bruisende geesdrif besiel. Hulle kan net nie wag om uit die wegspringblokke te blits nie. En hulle het bruisende selfvertroue.

Maar nou is dit ook gevaarlik! Natuurlik is dit reg om te droom en met hoop die droom na te streef. Dis net gevaarlik om te veel selfvertroue te hê. Die lewe wat vandag soos ’n lokkende onontginde goudmyn voor jou lê‚ kan môre of oormôre vir jou ’n dodelike strik word. Met die oog op die toekoms moet jy nie dubbeld kyk of twee rye spore loop nie. Jy sal moet ráák sien en reguit loop. En dis wat Moses graag wou doen. Moses het voor sy en die volk se toekoms by die tekenbord gestaan.

Moses het vir ’n paar oomblikke padlangs vorentoe gekyk. Hoe lyk die pad wat voorlê? Watter praktiese implikasies gaan dit vir my hê? Kom ons sluit aan by die gesprek tussen Moses en die Here.

Hierdie teks kom uit ’n gesprek‚ ’n gesprek tussen God en Moses. En daar wás ook heelwat om te bespreek‚ want daar het heelwat gebeur. Eksodus 33 volg op die verskriklike geskiedenis van die goue kalf. Tussen God en Israel het alles in skerwe gelê. Israel was die skuldige. Van daardie oomblik af het Moses ook nie meer gemoedsrus gehad nie. God sê hier aan hom: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”
[“Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?”– OAV]
Dit was so – Moses was nie gerus nie. Glad nie gerus nie. Hy was so onrustig dat hy nie durf verder gaan het nie. Daar is hy met die erbarmlike volk alleen in die onherbergsame woestyn. Hy het niks waarop hy kan terugval nie. Moses is op homself aangewys. En wie sou dan nie onrustig wees nie?

Ek wil Moses nie te laag aanslaan nie. Hy was immers ’n man van formaat; ’n man van verstand en breë opvoeding‚ onderleg in al die wysheid van die Egiptenare. Hy was ’n baie bekwame organiseerder‚ ’n wyse wetgewer‚ ’n magtige figuur van wie krag en leiding uitgegaan het. Maar Moses was nugter en vroom genoeg om te weet dat hy beslis nie daarmee die woestyn kan in nie.

Daarom kom lê God sy hand op Moses se skouer. God neem die angs en kommer van hom af. “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”
[“Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?” – OAV]
Van die onuitputlike inhoud van daardie meegaan van God kon Moses nie die volle realisering sien nie. Moses het nie die volle omvang en diepte besef van wat God hier aan sy volk aangebied het nie. Moses het maar net ’n vlugtige blik‚ ’n skaduwee daarvan gesien.

Sélf met ons saamgaan‚ volkome met ons saamgaan tot in die hart van ons woestyn‚ tot in die diepte van ons skuld en dood – toe Hy aan die kruis in ons skuld en ons hel ingegaan het?

Dit is ’n wonderlike gedagte! Daar is niks in hierdie wêreld‚ geen vreugde en blydskap‚ geen arbeid en geen taak‚ geen teleurstelling en mislukking‚ geen droefheid of dood nie‚ of God gaan daar met ons saam. Ja‚ Hy het daardie pad reeds geloop‚ voor ons uitgegaan. Ons loop dus op gebaande weë. Oral lê God se voetstappe. Wel dan kan ons gerus wees. In die Here gerus. Dit is moontlik in hierdie onrustige wêreld en onrustige lewe. God maak ons gerus met sy teenwoordigheid‚ sy vrede‚ sy versoening en sy troos.

Mense gaan miskien ’n entjie van die pad saam‚ en dié wat vir ons baie liefhet‚ gaan miskien die “tweede myl” saam. Maar iewers hou dit op‚ iewers bereik hulle ’n punt waar hulle nie verder saam kan kom nie. Dan moet jy alleen verder. In die eintlike wesentlike dinge loop ’n mens alleen. In u verborge verdriet‚ in u skuld voor God‚ in u donker nag‚ is u alleen. Alleen met u wanhoop‚ eensaam tot die dood. Alleen …

Ek wil dit ten sterkste ontken. U is nie alleen nie. Ja‚ u wanhoop is daar‚ so ook u eensaamheid‚ maar God is ook daar. God is daar van aangesig tot aangesig.

Moses het maar min van God se aangesig geweet. God was nog vir hom in skaduwees en sluiers gehul. Maar vir ons is God se aangesig ontsluier. Toe Hy as kind neergelê is in die krip‚ toe Hy met sy hoof vol bloed en wonde aan die hout van Golgota gehang het‚ tóé het God uit die skaduwees in die helder lig gekom.

Moet Ek self saamgaan?

Nadat Moses gepraat het‚ kom God self aan die woord. “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

Ek dink dat die Here met hierdie vraag wil vasstel hoe opreg sy volk se bedoelinge met Hom is. Hy wil weet hoe opreg hulle toewyding aan die God van die verbond is. Moses se antwoord namens sy volk sal op al die vrae ’n antwoord bied.

Maar eers moet Moses weet wat dit beteken dat God self saamgaan. Hy moet verstaan wat dit beteken as God by mense tent opslaan. Immanuel beteken nie om maar net ’n God gerieflik naby te hê wanneer die nood druk nie. Immanuel beteken dat God heelpad teenwoordig is – nie as toeskouer of passasier nie‚ maar as die Herder wat leiding gee‚ die Koning wat bevele gee‚ die Vader wat gehoorsaamheid eis. God weier om maar net deel van ’n noodplan te wees. Hy weier om as ’n gelukbringer behandel te word. Hy weier ook om soos ’n insleepdiens net maar altyd geroep te word om die wrakke langs die pad te versorg. God met ons‚ beteken eintlik “ons met God.” Hy is aan bewind. Ons volg Hom. Soos wat Jesus dit vir sy dissipels uitgespel het: “As iemand agter My wil aankom‚ moet hy homself verloën‚ sy kruis opneem en My volg.” God is by my as ek by Hom is. Só moes koning Asa in 2 Kronieke 15:2 hoor: “… As julle by die Here is‚ sal Hy by julle wees …”

Daarom moet ek en jy ook vandag die Here se vraag aan Moses goed verstaan. Wil jy regtig die Here by jou hê op jou lewensreis? Nie net of selfs in die eerste plek as die Beskermer God nie‚ maar ook en veral as jou Koning en Heer? God wil graag met jou saamloop. Stap vir stap. Dag vir dag. Hy wil graag inwoon in jou lewe – nie bywoner wees nie.

En hoe antwoord Moses op God se vraag?

As U nie saamgaan nie …

Dit is ’n aangrypende antwoord: Here‚ daar is geen kwessie hieroor nie. Óf U gaan saam óf ons bly net hier! Dit is ’n geloofsbelydenis. Is dit ook jou antwoord? Here‚ die toekomspad is nie my pad nie. Ek wil nie argitek speel nie. Ek wil nie maak asof ek in beheer is nie. Ek wil nie die koers aandui en die septer swaai nie. U moet asseblief voor loop. U moet die Herder wees. Vir my persoonlik. Want op U het ek my hoop gevestig. As U nie voor loop nie‚ moet ek maar liewer hier bly.

Sê jy ook so? En as jy so sê‚ bedoel jy dit van harte?

Ons is anders

God se teenwoordigheid maak ’n verskil aan ’n mens se lewe. Dit is waarop Moses se getuienis neerkom: Here‚ dit is juis u teenwoordigheid wat vir ons anders as die ander maak. Sonder God se teenwoordigheid is ons ook maar net soos die ander. Sonder God se guns is ons lewensvooruitsigte ook maar ongunstig. Sonder God se saamloop is ons hopelose mense.

Immanuel‚ God met ons‚ ons met God‚ en die wêreld merk op dat ons anders is. Veranderde mense. Mense in God se heilige teenwoordigheid. Mense op God se spoor. En ons andersheid is die sprekende bewys‚ die onomwonde getuienis‚ van ons verbondenheid met ’n lewende God. Ons andersheid in die wêreld getuig van die hoop wat in ons lewe. Ons het ’n visie vir die toekoms. Want in ons toekomsdroom is God reeds teenwoordig. En God se teenwoordigheid is nie ’n lugkasteel nie‚ maar ’n werklikheid – in so ’n mate dat ons ons daartoe verbind om sy wil vir ons lewe te soek en te doen.

Here‚ leer my u wil ken sodat ek kan doen wat goed is in u oë.

Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee? As U nie saamgaan nie‚ moet ons liewer bly. Want‚ Here‚ U maak die verskil. U maak alles nuut. U kan inderdaad vrede gee. Bly by ons‚ Heer. Sonder U wil ons nie verder gaan nie!

Ten Slotte

Van die konsert van die lewe kry niemand ’n program nie. Tog glo ons dat ons nie sonder waarborge is nie. Nie omdat ons so heldersiende oor die toekoms is nie‚ maar omdat God in sy liefde en genade van tyd tot tyd vir ons sy rug laat sien. Hy wys ons sy toekoms. Hy herinner ons aan sy magtige dade in die verlede en gee ons so ’n kykie op sy magtige dade in die toekoms. Dit is hierdie skrefies van sy heerlikheid wat God vir ons wys as hy ons voed met die brood en die wyn of ons op soveel ander maniere ontmoet. Dít maak dat ons geborgenheid op ons lewensreis kan beleef – nie omdat ons die toekoms ken nie‚ maar omdat ons geken word deur die Een wat die toekoms vir ons oopgebreek en verseker het aan ’n kruis. As Christene glo ons dat dit juis aan die kruis is dat God sy liefdeshart die duidelikste wys. Daar sien ons in die veragte gesig van die gekruisigde die vreemde heerlikheid van God. Dit is alleen as ons in gehoorsaamheid Jesus volg dat ons hierdie veragte gesig herken as die oorwinnende Lam op die troon (vgl. Openbaring 22:3‚ 4).

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.