Elke tyd het sy eie idee van wat heerlik is. Ons tyd se idee daarvan word gedra deur die drie afgode van die Westerse wêreld wat Richard Forster aandui: geld‚ seks en mag. Daarom is die heerlike mense van ons tyd die ryk mense‚ die mense met prestige‚ die ouens wat dinge doen en wat dinge laat gebeur. En natuurlik ook die mense wat ’n onbeskaamde seksuele krag uitstraal: die mooi mense. Aan die een kant idealiseer ons die heel mens‚ die mooi mens‚ die sensuele mens. Maar iets in ons word ook getrek deur die mens wat soos lord Byron is: “Mad‚ bad and dangerous to know.”
Geld‚ seks en mag is die gode van ’n tyd wat hom verbeel hy is sonder gode. En die gode het nog altyd die heerlikheid vergestalt.
Maar heerlikheid kry in Jesus ’n ander en beslissende gestalte. Hierdie man wat sy bokleed uitgetrek en voete gewas het‚ hierdie Mens wat kaal aan die kruis gehang het‚ dís hoe heerlikheid rêrig lyk. Want dis hoe God se liefde vir ons lyk‚ en dis hoe Jesus se gehoorsaamheid aan God se liefde lyk.
Hierdie inleiding is vir ons belangrik omdat Paulus in ons teksvers by ons in die Naam van Christus pleit‚ om soos Christus‚ nederig en vriendelik te wees. Die gemeente van Korinte het Paulus daarvan beskuldig dat hy sy werk as apostel op menslike manier uitoefen en nie deur die Heilige Gees nie. In antwoord hierop vra Paulus hulle om na hom te luister met die gesindheid van Christus‚ nl. in nederigheid en vriendelikheid.
Die Griekse woord vir “nederig” (prautes) laat hom nie so maklik vertaal nie. In die 1953-vertaling is dit deurgaans met sagmoedig vertaal. In die 1983-vertaling word dit vertaal met sagmoedig (vier keer)‚ nederig (vier keer)‚ beskeie (een keer)‚ vriendelik (drie keer)‚ bedagsaam (een keer) en ootmoedig (een keer). Minsaam of teer sou ook bygevoeg kon word. Elkeen van die vertalings dui ’n faset van die betekenis van die oorspronklike woord aan. Jy kan elkeen van hierdie betekenisse op Christus toepas: dit pas Hom soos ’n handskoen. Hy is dit alles!
En nou sê Paulus: Gelowiges moet dieselfde gesindheid as Jesus hê
Christus moet nie net aanbid word vir alles wat Hy is nie. Die aanbidders moet soos Christus word! Hulle lewe moet Christus se nederigheid‚ sagmoedigheid‚ ootmoed‚ beskeidenheid‚ bedagsaamheid‚ minsaamheid‚ teerheid en lieftalligheid uitstraal sodat hulle “as volgelinge van Jesus” herken word vgl. Hand. 4:13
Dit kom nie vanself nie! Ook nie deur te probeer om Jesus na te boots nie. Dit kan slegs gebeur as ’n mens nuut gemaak is.
Alles! Sy uitkyk‚ sy gesindheid‚ sy reaksie op impulse van buite‚ sy buie‚ sy hoogmoed‚ sy hardekwas-geit‚ sy onbeskoftheid‚ sy ekkerigheid‚ onbedagsaamheid – alles het verander! Hy het ’n nuwe natuur ontvang.
Kolossense 3:12 lui: Julle moet “meelewend‚ goedgesind‚ nederig‚ sagmoedig en verdraagsaam wees.” Maar dit help niks om dit aan mense voor te skryf wat nog nie eens by 2 Korintiërs 5:17 gekom het nie. Dan is dit net ’n moralistiese prekie wat gemors word op mense wat dit in elk geval nie kan uitleef nie. Nee‚ die opdrag van Kolossense 3:12 kom tot mense van wie Paulus (in dieselfde vers kon sê: “Julle is die uitverkore volk van God” en ook: “Julle (is) saam met Christus uit die dood opgewek” en “Christus is julle lewe (vers 1 en 4).
Slegs aan sulke mense kan gesê word: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was” (Fil. 2:5).
Sou jy doen wat Jesus gedoen het? Hy het ’n volmaakte kasteel verruil vir ’n smerige stal. Hy het die aanbidding van engele verruil ter wille van ’n groep moordenaars. Hy kon die heelal in sy handpalm hou‚ maar Hy het dit prysgegee om deur ’n eenvoudige jong maagd in die wêreld gebring te word. As jy God was‚ sou jy op strooi slaap‚ aan die bors gevoed word‚ en doeke dra? Ek sou nie‚ maar Christus het.
As jy sou weet dat slegs enkeles sou omgee dat jy kom‚ sou jy steeds kom? As jy sou weet dat hulle wat jou liefgehad het‚ jou sou uitlag‚ sou jy nog steeds omgee? As jy sou weet dat die tonge waarvan jy die Skepper is‚ jou sou tart‚ die monde wat jy gemaak het‚ na jou sou spoeg‚ die hande wat jy gevorm het‚ jou sou kruisig‚ sou jy Skepper van mense wou bly? Sou jy die verlamdes en die bedlêendes belangriker as jouself ag? Jesus het.
Hy het Homself verneder. Hy het die posisie vanwaar Hy aan engele opdragte gegee het‚ verruil om op strooi te slaap. Vanuit die posisie waar Hy sterre vasgehou het‚ het Hy afgedaal na waar Hy Maria se vinger vasgehou het. Die handpalm wat die heelal vasgehou het‚ is deur die spyker van ’n soldaat deurboor.
Hoekom? Dit is wat die liefde doen. Dit ag die ander belangriker as die self. Jou siel was belangriker as sy bloed. Jou ewige lewe was belangriker as sy aardse lewe. Jou plek in die hemel was vir Hom was vir Hom belangriker as sy plek in die hemel. Hy het dit prysgegee sodat jy joune kon hê. Hy het jou so lief‚ en omdat Hy jou liefhet‚ is jy vir Hom van die allergrootste belang. Dit is nederigheid in aksie.
Onthou nou‚ geliefdes‚ die vernuwing is nie net ’n eenmalige gebeurtenis nie. Dit is ’n proses wat tot aan die einde van jou lewe moet voortduur. Jy moet nie net ’n nuwe lewe ontvang nie‚ maar ook “’n nuwe lewe lei” (Rom. 6:4).
Paulus skryf: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (Rom. 12:2). Hierdie verandering moet voortdurend plaasvind. Die woorde: “innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” (2 Kor. 4:16)‚ moet oor jou lewe geskrywe staan. Efesiërs 4:23-24 moet waar word: “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is.”
HOE KRY ONS DIT REG?
“Nederigheid” is ’n vrug van die Heilige Gees (Gal. 5:22-23). Wat ons sondige natuur begeer‚ is in stryd met wat die Gees wil‚ en omgekeerd. Daarom moet gelowiges hulle “deur die Gees laat lei.” Diegene wat aan Christus behoort‚ “het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (Gal. 5:17‚ 24-25). Dit is die enigste manier waardeur Christus se gesindheid ook ons s’n kan word: as die Heilige Gees dit in ons werk.
Jesus sê aan sy volgelinge: “Leer van My.” Dan voeg Hy ook die rede by waarom hulle juis by Hom moet leer: “want Ek is sagmoedig en nederig van hart” (Matt. 11:29).
Nederigheid is dus‚ volgens Jesus‚ ’n noodsaaklike kwalifikasie vir elke Christen. Dit behoort prominent op sy CV genoem te word. Omdat Hyself so ’n oorvloed daarvan het‚ is Hy (Christus) vir sy leerlinge ’n uitstekende onderwyser.
Nou kan ons dit mos vanoggend met die doop baie prakties maak. So pas het ons saamgesing:
“Wie nie needrig soos die kindjie
wat hier tussen julle staan‚
so die Godsryk wil ontvang nie‚
sal daar geensins binnegaan.”
Skrifberyming 16-1:2
Dan bedoel Jesus presies dit. Wie nie passief‚ soos ’n suigeling‚ in sonde ontvang en gebore‚ sonder ’n enkele prestasie of kwalifikasie voor Hom kom nie‚ ja‚ uit genade na Hom toe gebríng word nie‚ sal nooit die koninkryk van God kan binnegaan nie.
Inderdaad. Die koninkryk is vir swakkes‚ kragteloses‚ skuldiges‚ selfs nog voordat hulle besef dat hulle só is. Hiervan is hierdie klein suigeling vanoggend vir ons ’n voorbeeld‚ ’n simbool‚ ’n konsentrasie van sondige menswees. Verstaan mooi: Jesus het nie die kindertjies geseën omdat hulle engeltjies in doeke is nie‚ maar sondaars tot die dood toe. Hy seën hulle sodat hulle verlos kan word‚ en soos klein Lasarusse in doeke uit die dood kan opstaan (I.L. de Villiers).
Bonhoeffer bid aangrypend oor nederigheid:
In my is dit aanddonker‚
maar by U is lig.
Ek is bang‚
maar U versterk my.
Ek is eensaam‚
maar U is by my.
Ek is rusteloos‚
maar by U is vrede.
In my woed daar bitterheid‚
maar by U is berusting.
U weë gaan my verstand te bowe‚
maar U ken die regte pad vir my.
Werp al julle bekommernisse op Hom‚ want Hy sorg vir julle (1 Pet. 5:7). Ja‚ julle nederiges stort julle hart voor Hom uit (vgl. Ps. 62:9).