|
Preek: |
20 Februarie 2005 te Gereformeerde Kerk Lyttelton |
|
Lees: |
Eksodus 2:11-25 |
|
Teks: |
Eksodus 2:11-22 |
|
Tema: |
Is jy bedag op God se plan in jou lewe? |
EEN van die sentrale motiewe agter die vertelling in Eksodus 1‚ is om ons te verseker dat‚ ook in ’n tyd toe die volk soms daaroor getwyfel het‚ die Here die hele tyd ’n vaste plan ook vir dié stuk geskiedenis gehad het. In Eksodus 2 word hierdie boodskap nou ’n tree verder geneem. Hier word vir ons meer gesê oor hóé die Here sy plan volvoer het. Die belangrikste punt in verband met hierdie stuk geskiedenis in Eksodus is so voor die hand liggend‚ so eenvoudig en tegelyk so ongelooflik dat ’n mens dit sou kon miskyk.
Die God van Abraham‚ Isak en Jakob sit die Farao skaakmat met gebruikmaking van ’n paar vroue en ’n Joodse seuntjie‚ ’n hakkelaar‚ wat uit die water van die Nyl gehaal word. Die Here gebruik mense vir die uitvoering van sy plan op aarde!
Oor die implikasies van hierdie waarheid moet ons ’n oomblik goed nadink. Ervaring leer dat baie gelowiges nie probleme het met die algemene beginsel dat God mense gebruik vir die ontplooiing van sy plan op aarde nie. Dit is selfs nie moeilik om dit van spesifieke individue te glo nie. Maar om hierdie saak vir jousélf toe te eien‚ om so te begin dink oor jou eie lewe – dit is ’n ander storie.
Dit lyk my selfs makliker om te aanvaar dat die Here my liefhet en Hom oor my saligheid ontferm as wat dit is om te glo dat ek een van die mense is wat Hy in diens wil neem en wil gebruik in sy gange deur die geskiedenis. Miskien het ons kerke vir ’n groot deel skuld hieraan. Ek het die indruk dat ons die afgelope klompie dekades dalk net te in die algemeen oor God se wil vir ons lewens en oor bekering gepraat het. Ons het ’n soort algemene‚ grys Christendom sonder roeping verkondig – tot ons eie skade.
Die wonderlike boodskap van die Bybel is dat die Here nié net die mensdom en mense in die algemeen gebruik nie‚ maar dat Hy spesifieke mense by die naam roep en voorberei vir spesifieke opdragte. Eksodus 2 vertel van ’n God wat nie net met volke en nasies besig is nie‚ maar ook tot in die huise van gewone mense kom. Ons sien dit hier in die lewe van Moses. Later in die OT sien ons dit weer by konings‚ priesters en profete‚ maar ook by gewone mense‚ en selfs by donkies! (Matt. 21:2-3; Num. 22:28-33).
As Christus kom‚ sien ons dit nog meer oorvloedig by die dissipels (wat doodgewone mense was)‚ by die vroue en selfs by die kinders. Op Pinksterdag word die wonderlike volheid van hierdie werkswyse van God onthul as ons hoor dat die Gees van die Here uitgestort word‚ nie net op sekere mense nie‚ maar op álle vlees en dat kinders‚ jongmense en ou mense insgelyks dienaars en medewerkers van God kan wees.
Voordat ons verder gaan luister na die verhaal van Moses en Israel‚ is dit belangrik dat ons hierdie deel van die evangelie van die Ou Testament goed hoor. God het ’n draaiboek voorsien waarin daar vir elkeen van ons ’n rol is om in te speel: spesifieke dinge wat gedoen moet word‚ spesifieke woorde wat gesê moet word‚ spesifieke geleenthede wat raakgesien moet word‚ spesifieke mense wat gehelp moet word …
En kom ons sê dit vir mekaar – elke mense is ’n geroepene – of jy dit erken of nie. Die Een wat jou roep is die Here. En as iemand roep dan verwag hy ’n antwoord. Antwoorde‚ nie net in woorde nie – dit natuurlik ook; maar antwoorde veral in dade: in dit wat jy doen en nie doen nie. So verwag God ook antwoorde van jou‚ want jy is sy geroepene. Dis nie toevallig dat jy vandag lewe nie. Dis ook nie toevallig dat jy op die plek is waar jy is‚ en in die posisie is waarin jy is nie.
Onthou dit‚ laat dit elke dag jou inspirasie wees . Vandag‚ soos elke dag‚ kom maar net één keer in jou lewe. Dit is dus belangrik wat jy vandag gaan doen en hoe jy dit gaan doen. Daar is verskillende maniere van doen.
Jy kan jou roeping ignoreer.
Dit is die lafhartige manier om uitdagings links te laat lê.
Of jy kan retireer.
Dis om rugwaarts deur die lewe te gaan en altyd net te vra: hoe is dit in die verlede gedoen?
Of jy kan konformeer.
Dis om toegewings en aanpassings te maak om almal tevrede te stel en ’n ja-sêer op alles te wees.
Of jy kan kapituleer.
Dan gaan jy nie voluit tot die eindfluitjie blaas nie.
IGNOREER?
RETIREER?
KONFORMEER?
KAPITULEER?
Maar dis nie wat die Here van jou verwag nie. Daar is nog ’n moontlikheid – wees ambassadeur! God se ambassadeur! Want daartoe is jy geroep. Om in die naam van iemand iets te doen‚ beteken sy ambassadeur te wees. “En wat julle ook al doen in woord of in daad‚ doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol. 3:17).
Daarom kan jy met vrymoedigheid jou roeping vervul omdat God jou geroep het. Laat daarom niemand jou ouderdom verag nie‚ ook nie jou jonkheid nie; ook nie jou beperkinge nie. Gewoonlik moet jy iemand daarop wys om nie te veel van hom/haarself te dink nie. Maar dis ewe waar: moet ook nie te min van jouself dink nie. Immers God dink so baie van jou dat Hy jou gemaak het‚ uniek gemaak het en dat Hy jóú juis geroep het tot die vervulling en uitvoering van ’n bepaalde roeping.
Maar terug na Moses. As ons nou gaan kyk na die verdere verloop van sy verhaal‚ sien ons dat die Here dit nie altyd maklik het met sy kinders nie. Dinge begin baie goed. Moses groei op in die Farao se huis as bevoorregte kind‚ maar in 2:11 sien ons dat hy tog nie sy “broers” (vgl. die 1933/53-vertaling) in verdrukking vergeet het nie. Die Hebreërskrywer sou eeue later die essensie van hierdie voorbeeldige lojaliteit aan sy mense mooi raakvat as hy sê dat Moses geweier het om die seun van die Farao se dogter genoem te word en dat hy gekies het om eerder na sy geloofsgenote terug te gaan en saam met hulle sleg behandel te word (Heb. 11:24-25).
Maar dan is dit asof Moses net té slim‚ té vinnig‚ té seker‚ té kordaat‚ té voortvarend is. As hy op ’n dag sien hoe ’n Hebreër “een van sy eie mense”‚ geslaan word deur ’n Egiptenaar‚ kook sy bloed … en op sy beurt slaan hy die Egiptenaar dood (v. 12). ’n Totaal eiesinnige daad waarmee Moses – kom ons sê dit maar kras‚ want dit weerspieël die werklikheid – byna-byna alles opmors. ’n Geskiedenis wat deur die Here fyn beplan en uitgewerk was‚ word in ’n oomblik van onbesonne menslike voortvarendheid van die tafel gevee. ’n Bevrydingsproses wat miskien sonder bloed en sonder plae besleg kon gewees het‚ omdat Moses in die Farao se huis opgegroei het en in sy guns was‚ word onnodig verander in ’n pad besaai met lyding en pyn‚ met rampe‚ ellendes en die dood.
Hoekom het Moses hierdie dwase ding gedoen? Daar is kommentatore wat meen dat Moses nie tyd geneem het om goed te luister en stip te doen wat God gesê het nie. Hy het gedink dat hy weet wat hy moet doen … en toe gaan doen hy min of meer wat God vra … of wat hy gedínk het God vra. Daar begin die moeilikheid.
’n Mens herken dié soort situasie. Ek onthou sulke insidente uit my kinderdae (en het – helaas – met my eie kinders dit ook al ’n keer of wat ervaar!). Daar is iets wat gedoen moet word – ’n boodskap wat oorgedra‚ of ’n pakkie wat iewers afgelewer moet word. Jy luister met ’n halwe oor na die opdrag (deels omdat jy op jou goeie begrip staatmaak‚ maar ook deels omdat jy eintlik op daardie oomblik beset is deur jou eie gedagtes en agendas)‚ besluit dan gou (ná die spreekwoordelike halwe woord) dat jy presies weet wat die opdrag behels (terwyl jy wens dat jou pa kan leer om korter te verduidelik)‚ kry (terwyl jy staan en dink) ’n wonderlik kreatiewe idee oor hoe jy dit nog beter (en veral vinniger!) kan doen as jou pa se langdradige voorstel … en dan mors jy dit op.
Ek glo dat dit iets hiervan is wat in Eksodus 2 gebeur. Dit is die tragiese verhaal van Moses se poging om in eie krag en eie wysheid iets aan sy volksgenote se lot te doen. Somtyds is ons net té slim en té sterk‚ dink ons dat ons nóg beter as God weet‚ en moet ons eers ons kop (en ongelukkig ook ander s’n) stamp voordat ons leer … leer om stip na God te luister en presies te doen wat Hy vra.
As geroepene‚ as ambassadeur van God is dit dus wesenlik belangrik dat jy presies hoor wat die Here van jou vra‚ anders kan die gevolge van jou optrede onberekenbaar wees. Toegepas in ons gemeente wil ek graag vir u op die volgende wys. Ons is tans besig met ’n gemeentebou program wat jou persoonlik gaan insluit; wat van jou sekere opofferinge gaan vra. Jy kan seker sê: Ek het nie tyd nie‚ of iemand anders sal my deel doen‚ of ek dink dit is nie goed genoeg geformuleer nie daarom stel ek nie belang nie‚ of dit gaan nie werk nie‚ of dit is altyd die ou klomp wat besig is ek gaan betrokke raak nie ek gaan iemand anders ’n geleentheid gee (en dan daag niemand op nie)‚ of ek is te oud‚ of ek is te jonk. U weet self daar kan baie redes wees.
Nou het dit tyd geword dat jy goed na jou Opdraggewer gaan luister. Hy leer ons dat ons as een liggaam saam verbind is. Dat die oog nie kan sê omdat hy nie oor is nie‚ is hy nie deel van die liggaam nie. Hy sê as een lid ly‚ dan ly almal saam‚ as een lid bly is‚ dan is almal saam bly. Die een kan nie sonder die ander nie. Ons is onlosmaaklik as liggaam aan mekaar verbonde. En die Skrif (soos dit in Vr. & Antw. 55 van die Kategismus verwoord word) eis dat ons ons gawes tot nut en saligheid van mekaar sal aanwend. Daarom staan ons in hierdie aand voor die Here en moet ons sê: Gaan ons al ons kragte inspan en deelneem of gaan ons terugsit en kritiseer? Wat sê jou Opdraggewer? Gaan jy na Hom luister‚ of gaan jy soos Moses té haastig‚ té slim‚ té seker‚ wees en jou eie koers inslaan?
Hoe eindig die verhaal? Eintlik baie hartseer as ’n mens dit mooi lees. As dinge nie uitwerk soos hy gehoop en verwag het nie‚ dan loop Moses – weg – na Midian toe‚ om ’n nuwe lewe te gaan begin. En as ons vir Moses sou kon vra: Wat nou van jou mense? Wat nou van Israel? Wat van God se plan? Dan sou Moses waarskynlik sy skouers opgetrek het.
Ek lig hierdie punt spesiaal uit omdat dit ons kan help om ’n belangrike saak te verstaan. So baie dinge kan verkeerd loop‚ ons lewens kan so maklik ontspoor as ons die broosheid van ons eie verbintenis aan God en sy evangelie nie goed begryp en genoeg ruimte laat vir groei en leer nie. Dit breek ’n mens se hart om soms te sien hoe mense wat aktief ingeskakel was en hartlik meegeleef het met die gemeente‚ op ’n dag net agteroor in die gemakstoel gaan sit as dinge anders uitwerk as wat hulle gedink en gehoop het. Die gemak waarmee mense in sulke situasies net vergeet van God se plan met hulle lewens en met sy kerk‚ is skrikwekkend.
Gelukkig dien ons ’n groot en wonderlike en geduldige God wat anders‚ groter‚ is as ons. ’n God wat óns nie so gou opgee soos wat ons Hóm opgee nie …
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.