Johannes begin sy Evangelie op ’n hoë noot. Hy raak in vervoering oor Christus en skryf in byna digterlike taal: “In die begin was die WOORD daar‚ en die WOORD was by God‚ en die WOORD was self God.” Dan besing hy Christus: Alles het deur Hom tot stand gekom; in Hom is lewe en Hy is die ware lig. Maar die wonderlikste is dat hierdie WOORD mens geword en onder ons kom woon het. Hy het genade en waarheid gebring en die Vader aan ons bekend gestel.
Johannes is die enigste Bybelskrywer wat Christus die Woord noem. Hy doen dit ook in 1 Johannes 1:1. Dit herinner sterk aan die begin van sy Evangelie: “Van die begin af was Hy (Christus) daar … Hy is die Woord‚ die Lewe.”
Waarom noem Johannes vir Christus die WOORD?
Daar word verskillende antwoorde gegee. Die aanneemlikste is dat Johannes geweldig beïndruk was deur die Ou-Testamentiese voorstelling van die krag‚ die uitwerking en die skeppingsmag van God se woord. In Psalm 33:6‚ 9 staan byvoorbeeld: “Deur die woord van die Here is die hemele gemaak … Hy het gepraat en dit was so‚ Hy het beveel en dit was daar.” Net so kragvol en skeppingsmagtig as God se woord‚ wil Johannes sê‚ is Christus ook. Daarom is Hy die Woord van God‚ die éintlike Woord‚ die grootste‚ diepsinnigste en wonderlikste Woord van God‚ die Woord wat lewe en lig bring en waardeur God met ons praat (Hebreërs 1:2).
’n Woord is iets heel besonders. Dit gee uitdrukking aan wat in jou binneste omgaan‚ hoe jy is en hoe jy voel. Deur jou woorde openbaar jy iets van jouself aan ander mense. Jou woorde verraai jou.
Maar ons weet hoe ontoereikend menslike woorde kan wees. Ons kan soms nie woorde vind wat werklik uitdrukking gee aan die diepste emosies van ons hart nie. Dan voel ons dat ons maar net stotter en stamel. Ons kry nie gesê wat ons so graag wil sê nie.
Maar met God is dit nie so nie. Hy het in een enkele Woord (Christus) alles gesê wat Hy wou sê‚ in een enkele Woord Homself volledig uitgedruk. In daardie Woord lê sy diepste gedagtes. Daarmee sê Hy hoe Hy oor ons dink en hoe lief Hy ons het. Met daardie Woord maak Hy sy hart vir ons oop.
Johannes het seker ook aan die Hebreeuse woord vir “woord” gedink: dabar. ’n Kenner beskryf die betekenis van dabar so: dit wat van iemand uitgaan en waardeur hy homself laat ken. Dit is presies wat Christus is. Hy is die Woord wat van God uitgaan en waardeur God Homself laat ken. Johannes skryf dat Christus‚ wat self God is‚ en die naaste aan die Vader is‚ God bekend gemaak het (Johannes 1:18). Letterlik: Hy het God ge-eksegetiseer (uitgelê) of verklaar. Hy is die Woord van God.
Die ooreenkoms tussen Johannes 1:1 en Genesis 1:1 is opvallend. Johannes het dit waarskynlik doelbewus so beplan dat die begin van sy Evangelie en die begin van Genesis dieselfde is. Dié boeke begin met: “In die begin …” In altwee gaan dit oor die spreke van God. In Genesis 1 lees ons telkens: “God het gesê …” In Johannes 1 bereik dit wat God sê ’n klimaks as Hy sy groot‚ allesomvattende en pragtige Woord‚ Jesus Christus‚ die wêreld instuur.
Dit is juis in Genesis 1 dat ons leer dat God se woorde anders as mense se woorde is. As God praat‚ gebéúr daar dinge‚ ontstaan daar nuwe dinge. Hy sê: “Laat daar lig wees‚” en daar is lig. Wat Hy sê‚ gebeur. Sy woord is skeppingsmagtig want dit bring tot stand wat voorheen nie daar was nie.
So is dit ook met Christus‚ die WOORD VAN GOD. Daar sit onmeetbare krag in hierdie Woord‚ krag om‚ soos God se woord by die skepping‚ iets nuuts te skep en ’n nuwe begin te maak; krag om in ons chaos in te daal en orde te bewerk. Paulus skryf (letterlik) in 2 Korintiërs 5:17 dat iemand wat aan Christus behoort‚ ’n nuwe skepping is. Christus‚ God se Woord‚ bring nuwe skeppinge‚ nuwe mense‚ tot stand.
Soos God‚ deur sy woord‚ lig oor die donker wêreld gebring het‚ bring Christus lig in donker harte. Ja‚ Hy is Self die ware lig wat elke mens verlig (Johannes 1:9).
Die wonder is egter dat God wil hê dat hierdie Woord nie net gehóór moet word nie‚ maar dat Hy ook sigbaar en tasbaar gemaak moet word. Johannes skryf: “Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja‚ ons het … met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord‚ die Lewe” (1 Johannes 1:1).
Om dit moontlik te maak‚ het God besluit om iets te doen wat nooit in die hart van ’n mens sou opgekom het nie‚ maar wat Hy gereed gemaak het vir dié wat Hom liefhet (1 Korintiërs 2:9). Johannes beskryf hierdie gebeurtenis in ’n paar sober woorde: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14). Ons kom nou op ’n punt wat spesiale aandag verdien. Ons moet proe watter mooi betekenis‚ watter diepte daar in die woord skuil. Die Grieks sê hier letterlik: die Seun van God het onder ons “tent opgeslaan.” Met hierdie woord haak die evangelis Johannes die nuwe wonder van die menswording van die Seun van God aan die ou gedeelte van ons Bybel vas.
Ons ken die woord “tent” as uitdrukking vir: die tydelike woning op aarde. Die aardsvaders het in tente gewoon. Dié feit moes hulle leer: die vaste plek op aarde‚ die beloofde land is nog nie bereik nie. Elke dag weer moes jy jou tente afbreek en verder trek. Die apostels gebruik dié woord dan ook as beeldspraak vir die sterflikheid van ons liggaam. “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word‚ ons ’n gebou van God het” (2 Kor. 5:1‚ 4; vgl. 2 Pet. 1:13). Sterflikheid‚ tydelikheid: is dit wat Johannes oor Jesus as die Seun van God wil wys? Nee. Dat die Woord sy tent onder die mense opgeslaan het‚ wys ons terug op die ou geskiedenis wat God met sy volk gegaan het.
Die Here het mos saamgetrek‚ toe Israel in tente gewoon en deur die woestyn getrek het! Wat was al die jare die hart van die tentekamp? Die tent van die samekoms! Ja‚ God het ook ’n tent gehad. Daar kon die volk die Here ontmoet. In Eksodus 29:42 lees ons van die lammers wat in die môre en teen die aand geoffer moes word? Twee keer per dag moes ’n lam geoffer word “by die ingang van die tent van die samekoms‚ voor die aangesig van die Here‚ waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek.” So was die Here jare en jare saam met sy volk op pad: met ’n tent‚ soos hulle. Naby en bereikbaar.
Dié herinnering word in jou hart losgemaak‚ wanneer jy hoor: nou het die Seun van God mens geword “en onder ons sy tent opgeslaan.” Die Here het al eerder “onder ons gewoon en sy tent opgeslaan.” God het opnuut by sy volk gekom‚ maar nou op ’n nuwe wyse. Want nou het die wonder gebeur: God die Seun het mens geword! Op dié wyse het God nou te midde van Israel sy tent opgeslaan. Die Seun van God gaan met die mense saam: deur die lewe‚ daagliks. Ja‚ die tempel was na die woestynreis‚ die huis van die Here. Dié huis se waarde neem af‚ noudat Christus gekom het. Want die Here is nou op ’n wonderlike wyse naby. Dit is die heilshistoriese betekenis van “sy tent opslaan”: Israel moes dit kan verstaan. Ons wat die geskiedenis van God ken‚ kan dit verstaan. God in ons midde! Hoe heerlik moet dit wees. Jesus het saamgereis deur die lewe.
Hy deur wie die hele skepping – dus ook die mens! – tot stand gekom het‚ word self ’n mens! Hy word wat Hy geskep het. Die Skepper word skepsel. Die Maker word aan sy maaksel gelyk!
MAAR …
Mense het hierdie Woord-lig nie aanvaar nie en hulle wou met hulle eie woorde mense ‘maak’. Hulle steel toe ’n paar van God se woorde‚ maar soos ons mos nou al weet‚ het hulle nie ’n idee hoe om dit te gebruik nie. Want met die woorde wat hulle by God gesteel het‚ maak hulle toe party mense “groot” … en ander “klein.” Hulle maak party “mooi‚” en ander “lelik‚” party “slim” en ander “dom‚” party “goed” en ander “sleg.” Hulle maak party mense “sterk” met hulle woorde‚ en ander maak hulle “swak” en “weerloos.”
En van toe af was die mense se woorde nie meer lig nie. Dit was donker en swaar en seer en hard. Woorde wat eers goeie woorde was‚ en wat maklik en lig tussen mense gebly het‚ is nou gebruik om tussen mense in te kom‚ om hulle van mekaar af weg te dryf‚ en om mekaar mee seer te maak. Woorde soos “man-mens‚” “vrou-mens‚” “liefde tussen geslagte‚” “ou-mens‚” “jong-mens.” By dit alles dink die mense toe self sommer nog ’n woord uit‚ vir hulle poging om soos God te wil wees: “mag.” In diens van die mag-woord‚ word God se ander mooi‚ ligte woorde toe lelik. “Man-mens” word “mansmens!” “Vrou-mens” word “vroumense!” “Ou-mens” word “outoppie.” “Jong-mens” word “snuiter” en “dien” word “slawerny.” God sien toe wat die mense met sy woorde gemaak het‚ en dit was sleg.
En tog het God se Sagste Woord onder die mense gewoon. Maar jy moes toe al mooi kyk om Hom raak te sien‚ want Hy het bedrieglik baie soos ’n eenkant-toe gestote Jood gelyk wat die gewoonte gehad het om sy tyd met mense deur te bring wat uie eintlik punte getel het in die samelewing nie.
Jesus moes die woorde kom verlos uit die harte en monde van die mense wat ander daarmee seermaak. Hy moes die woorde weer kom maak soos wat hulle aan die begin was‚ lig en helder. Maar eers moes hy wys dat ly self wrede woorde kon oorleef: