Jesus is groot gedoop

Baie mense sę dat Jesus groot gedoop is en dat ons daarom tog seker ook groot gedoop moet word‚ omdat ons Hom moet navolg. Hierdie argument word dan gewoonlik gedramatiseer met die dreigement: onthou‚ jy gaan in die oordeel voor ’n grootgedoopte Heiland verskyn.

In antwoord hierop sou ’n mens kon sę: Maar jy gaan ook voor ’n gekruisigde Heiland verskyn‚ en voor ’n Heiland wat ’n Jood was en geen besittings gehad het nie. Volg jy Hom in al daardie sake ook na? Is dit nie dalk ’n bietjie willekeurig dat jy Hom juis wil navolg in die presiese manier waarop Hy gedoop is nie? En moet ons navolging van Christus nie op ’n veel dieper vlak lę nie – dalk eerder op die vlak van sy nederigheid en selfverloëning‚ sy selflose liefde en opoffering vir ander‚ sy liefde vir sy vyande? Ons moenie hierdie navolging te oppervlakkig maak nie.

Maar daar is oor Jesus se doop ’n veel ernstiger vraag. Met watter doop is Hy gedoop? Die antwoord hierop is: met die doop van Johannes die Doper. En mense wat met Johannes se doop gedoop is‚ is later deur Paulus “oorgedoop” (Hand. 19:1-6) – en tereg ook‚ want daar is ’n groot verskil tussen Johannes se doop en die Christelike doop. Johannes het nie in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop nie. Johannes se doop het nie mense in Christus se sterwe en opstanding ingelyf nie‚ omdat Christus in daardie stadium nog nie gesterf en opgestaan het nie‚ en boonop was Johannes se doop nie ’n sakrament soos die Christelike doop nie.

Al hierdie betekenisse is wesenlik aan die Christelike doop. Johannes se doop was ’n voorvorm van die Christelike doop‚ ’n tydelike oorgangsmaatreël. Ons kan Jesus nie daarin navolg nie‚ want daardie doop bestaan nie meer nie.

Maar daar is ’n selfs nog belangriker saak. Jesus se doop was uniek – ons kan Hom hoegenaamd nie daarin navolg nie. Johannes het ’n bekeringsdoop gedoop (Matt. 3:11). Daarom sou ’n mens eintlik verwag dat Jesus Hom nie sou laat doop nie. Hy het nie nodig gehad om Hom te bekeer nie. Maar tot Johannes se verbasing dring Hy tog daarop aan. Waarom? Omdat Hy in ons plek optree soos Hy later in ons plek sal sterwe. Hy is dus ook in sy doop met sy unieke versoeningswerk besig wat Hy vir ons‚ in ons plek doen – en waarvoor ons Hom net innig kan dankie sę. Dus: net so min as wat ons net soos Hy letterlik gekruisig moet word‚ moet ons letterlik net soos Hy gedoop word.