Jou unieke krisis

Hoe ervaar ’n mens die pyn wat jou oorkom? Watter gewaarwordinge word deur pyn losgewoel? Wat sê of dink jy? Hoe reageer jy teenoor ander mense? En wat sê jy vir God … en oor God?

Mense ervaar pyn verskillend. Daarom reageer hulle ook verskillend. Ek hoor dikwels dat mense wat deur ’n persoonlike krisis gaan‚ moedeloos beweer: “Julle verstaan my nie; julle weet nie hoe ek voel nie!”

“Julle verstaan nie”

Voordat jy iemand probeer wysmaak dat jy tog verstaan of darem probeer verstaan‚ moet jy net eers die persoon se opmerking goed ontleed. Wat die persoon sê‚ is eenhonderd persent waar! Jy of enigiemand anders – hoe naby ook al aan daardie persoon – kan nie regtig verstaan hoe hy of sy dink en voel nie. Elke mens ervaar en verwerk sy omstandighede op ’n unieke manier. As ons die woordjie “verstaan” hier gebruik‚ bedoel ons dus om presies te weet hoe iemand voel.

Hoewel jy nie volledig met iemand anders kan identifiseer nie‚ kan jy tog baie aan daardie persoon kom; in so ’n mate dat hy of sy ten spyte van die weerstand en opstand voel dat jy daar hoort. Hoe verdien jy so ’n staanplek by iemand in nood?

Gevoelens verskil

Jy moet ook weet dat dit vir die persoon oor ’n gevoelservaring gaan. Die krisis het sekere gevoelens losgemaak. Jy sou waarskynlik met ander gevoelens gereageer het. Daarom moet jy rekening hou met mense se eiesoortige gevoelslewe en respek daarvoor toon. Maar dan moet jy weet (en die ander persoon moet dit algaande ontdek) dat gevoelens geen permanensie het nie. Dit is veranderlik. Vanaand huil jy en môre lag jy weer. Moet dus nie ’n persoon evalueer op grond van sy of haar gevoelsmatige reaksie op omstandighede nie. Soek saam met haar na die vastighede wat onder gevoelens kan lê en as ankers kan dien vir ’n nuwe lewensdag.

Woorde wat skok

As ’n mens Job se storie lees‚ raak jy by tye ongemaklik. Hoe durf Job so oor God praat? En selfs mét God! Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde:

“Die pyle van die Almagtige deurboor my‚ ek word geleidelik deur hulle vergiftig. Verskrikkinge van God bedreig my” (Job 6:4).
“Eintlik is dit om ’t ewe‚ daarom dink ek: of ’n mens skuldig is of onskuldig‚ God vernietig jou tog. As ’n vloedramp skielik die dood bring‚ lag God oor die wanhoop van die onskuldiges. Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose‚ en Hy maak die regters partydig. As dit nie Hy is wat dit doen nie‚ wie dan?” (Job 9:22-24).
“Vind U dit goed om my te laat swaar kry om wat U gemaak het‚ met veragting te behandel‚ maar die planne van die goddeloses met sukses te bekroon?” (Job 10:3).
“Waarom vermy U my en beskou U my as u vyand? Wil U ’n verwaaide blaar skrikmaak‚ ’n droë stoppel agtervolg dat U so ’n bitter lyding vir my beskik en my laat boet vir die sondes van my jeug?” (Job 13:24-26).

Kan jy glo dat dit dieselfde man is wat kort nadat die rampe hom getref het‚ die volgende belydenis uitgespreek het?

“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (Job 1:21).

Wat het dan gebeur? Waarom klink dit asof Job nou ’n ander deuntjie sing? Al wat gebeur het‚ is dat Job se belydenis nou aan sy lyf getoets word. Die pyn hou nie op nie. Omstandighede verander nie handomkeer nie. Die aanslag op sy liggaam en gees raak al hewiger. En dan praat Job sy hart uit.

Let op dat sy woorde eerder vrae as beskuldigings is. Hy verwoord sy verwarring en skok eerder as dat hy ongeloof uit spreek. Nee‚ ongeloof is dit nie‚ want hy praat met God! En in sy bitter vrae is daar ’n geloofsbelydenis verskuil: hy erken God deurentyd as die Een wat die wêreld in sy hande hou. Alhoewel die groot vraag in Job se gemoed die “waarom” van sy ellende en God se rol daarin is‚ neem hy steeds sy toevlug tot God en verwag hy redding van God alleen.

Maar dit neem nie die pyn weg of beantwoord die vrae nie.
So het CS Lewis ook ontdek. Lewis was ’n briljante Britse akademikus wat op ’n gevorderde leeftyd tot bekering gekom het. In verskeie intellektuele publikasies het hy ’n skitterende woordvoerder vir die Christelike godsdiens geword. Hy was voorwaar ’n uitstaande getuie – veral in akademiese kringe. Toe sterf die vrou op wie hy as oujongkêrel verlief geraak het en met wie hy maar enkele jare getroud was. Lewis was teen die grond. Jare tevore het hy in sy boek‚ The Problem of Pain‚ op ’n skitterende wyse oor God se almag en die kwessie van siekte en dood geskryf. Maar toe hy die pad van pyn en dood met sy eie geliefde moes stap‚ het hy anders gepraat. Hy het soos Job gepraat. As ’n mens se hart seer is‚ het jy nie veel erg aan akademies korrekte antwoorde nie. Dan wil jy nie teologie hoor nie. Jy wil nie gekatkiseer word nie. Jy wil eintlik nie antwoorde op jou vrae hê nie. Jy wil net maar dit wat jy verloor het‚ terugkry – hetsy jou eie gesondheid en liggaamskragte‚ hetsy die dierbare wat dood is. Wat maak die regte antwoord tog saak? Jou enigste troos is dan om met God te praat‚ te baklei‚ te stoei. Om net te weet God is daar om aan vas te hou. Lewis skryf: “Talk to me about the truth of religion and I’ll listen gladly. Talk to me about the duty of religion and I’ll listen submissively. But don’t come talking to me about the consolation of religion or I shall suspect that you don’t understand” (A Grief Observed‚ bl. 28).

Ek hoor in Lewis en Job se woorde opstand en bitterheid en veral onbeskryflike skok. ’n Mens verstaan nie die skok voordat jy nie self geskok is nie. En hier lê ’n belangrike oorgang vanaf die trooster na die gebrokene. Jou geloofwaardigheid bestaan daarin dat jy self deur ’n skokervaring was. Al verstaan ons nie mekaar se harte en gevoelens eenhonderd persent nie‚ kan ons tog vir mekaar vertel van die skok‚ die ontreddering‚ die oop seer wat daardeur veroorsaak is. En daarvandaan kan ons help om ’n pad te vind – ’n pad na heling.

Die sterkes

Ek ken mense wat in hulle pynervaring ongelooflik sterk was. Hulle huil nie. Hulle raas nie. Daar is geen opstand nie. Net ’n flou glimlag en skynbare gelatenheid. Dit verstaan ek nie. Inderdaad het ek ook ervaar hoedat sommige van hulle op ’n dag heeltemal vou. Hulle kan die spel nie langer volhou nie‚ want in hulle geval was dit ’n spel. Hulle het gemeen dat mense dit van hulle verwag om so positief‚ so “gelowig” te reageer. Hulle het veral gedink dat God dit van hulle verwag. Daarom het hulle ten spyte van die byna onuitstaanbare stryd in hulle binneste ’n beeld van ’n goeie geloof voorgehou; altans‚ wat hulle as ’n goeie geloof beskou het. Totdat hulle nie langer kon nie. En dan is dit lelik. Dan borrel al die ingehoue frustrasie en woede uit. Dit is jammer dat niemand ooit vir hulle gesê het dat dit nie verkeerd is om te huil en selfs te rebelleer nie.

Daar is ander wat nie vou nie. Nie omdat hulle ’n spel speel nie‚ maar omdat hulle die pad van huil en woede klaar geloop het en toe tot rus gekom het. Hulle het sterk geword omdat hulle eers swak was.

Moet dus nie na die sterk gelowiges kyk en meen dat hulle maar altyd sterk was nie. Gaan vra hulle uit oor die Job-ervarings in hulle lewe. Die woord “berusting” is nie ’n kitswoord nie. ’n Mens berus nie oombliklik nie. As jy dit beweer‚ is jy vals. Dan is dit net lippetaal. Berusting is die eindproduk‚ die vrug van ’n bloei- en groeiproses. Die vrug van berusting kom eers na die pyn van winterkoue en snoeimerke.

Stormweer

Met ander woorde: voor die berusting is daar die storm. En in die storm raak ons paniekerig. Soos dié nag op die see van Galilea …

Alles het die vorige dag goed verloop. Die manne het met ’n welbehaaglikheid in die skuit geklim. Daar was Jesus se woorde. Sy lering. Sy charisma. Sy teenwoordigheid. Maar toe steek die storm op. Eers begin die wind rukkerig en sterker waai. Toe word die deining al hoër. En in hulle gemoedere kom daar vrees. Dit word ’n oorlewingstryd. Hulle kragte word min. Die skuit kan net soveel impak verduur. Uiteindelik: Jesus! Waar is Hy? Hoekom doen Hy niks? Sal Hy ons laat vergaan terwyl Hy slaap?

Dit is een van die klein Bybelse kameë van my en jou pynlewe. Ons onthou die rustigheid‚ die welbehaaglikheid‚ die byna volmaaktheid‚ veral as ’n mens daaraan terugdink. En dan bevind jy jou skielik in die middel van ’n storm. Jy veg vir oorlewing. Jou kragte word al minder. “Hierdie storm gaan ek nie oorleef nie. Die kragte teen my is net te sterk. Die middele tot my beskikking is net te swak. “Here‚ waar is U? Slaap God dan? Gee Hy nie om nie?”

Die dissipels vat die slapende Jesus aan die arm en skud Hom wakker. “Here‚ ons vergaan!” Daar is nie nou tyd vir vrae nie‚ maar Here‚ hoe kan U slaap as ons U so nodig het?

Hoe graag sou ons nie vir God aan die arm wou vat en Hom wakker skud nie? “Here‚ ek is besig om te vergaan onder die pyn! Hoe kan U dan slaap?”

Maar ons God slaap nie. Hy wag. Hy wag om ons genadig te wees. Om vir ons te wys op ons klein geloof. En om ons bewus te maak van sy almag.

Die dissipels was verstom. Waaroor? Oor die manier waarop Jesus dit regkry om ’n seilskip op die stormsee te hanteer? (Is dit nie wat hulle van Hom verwag het nie? Het hulle nie verwag dat Jesus moes kom help water uitskep en die skuit help vlot hou nie?) Maar toe maak Hy die storm stil! Hy bring rus op die water. En Hy bring rus in mense se harte. Hy doen uiteindelik baie meer as wat mense ooit kon droom‚ want Hy is God …

Berusting

Dit is mos presies wat God vir my en jou wil doen. Hy wil rus bring. Hy wil nie net help water uitskep nie‚ maar Hy wil die storm stil maak.

Daar is dinge wat onomkeerbaar is. ’n Ledemaat wat jy in ’n ongeluk verloor het‚ groei nie weer aan nie. Dooies word nie weer lewendig nie. Dan ontstaan die soort storm waar jy nie soseer bang is vir die dood nie‚ maar vir die lewe. Hoe gaan ek dit regkry om so verder te lewe? God wil ook dié storm stil maak. En dan wil Hy jou leer om nuut te begin lewe.

Henry Nouwen gee raad oor hoe ’n mens met pyn kan saamleef: “How can we live our brokenness? Jesus invites us to embrace our brokenness as He embraced the cross and live it as part of our mission. He asks us not to reject our brokenness as a curse from God that reminds us of our sinfulness but to accept it and put it under God’s blessing for our purification and sanctification. Thus our brokenness can become a gateway to a new life” (Bread for the Journey‚ bl. 221).

Bedaar en erken dat Ek God is … (Ps. 46:11).

Dit is berusting.

En dis daardie berusting‚ daardie beleënheid‚ waarna ons moet soek. Onthou net‚ dis die afronding van ’n proses. Dis nie iets wat jy in jou het omdat jy so ’n sterk gelowige is nie. Dis ’n gawe van God aan swak gelowiges. Berusting beteken nie jy besluit dat jy nou genoeg gebaklei het en tog nêrens gaan kom nie. Dis nie ’n willose gelatenheid nie. Dis nie ’n poging om die verlede te vergeet en die toekoms vreugdeloos aan te pak nie. Berusting beteken om tot rus te kom. Met behaaglikheid. Jy voel nog die pyn in jou bene. Jou asemhaling is nog gejaagd. Jy is dodelik moeg. Maar jy rus soos iemand wat weet die wedloop – altans hierdie gedeelte van die wedloop – is verby. Jy probeer nie vergeet nie. Jy leer om reg te onthou. Jou onthou is deur vuur gelouter‚ die vuur van woede en opstand en trane.

“Bedaar en erken dat Ek God is … ” Berusting is die loslaat van alles waarmee ek myself staande probeer hou het. En om my staan voor God te kry – om te weet wat dit beteken dat Hy God is.

Deurleefde gebrokenheid

Presies wat moet ’n mens met jou pyn doen? Jy kan dit nie keer nie. Jy kan dit nie wegdink nie. Die pyngedagtes martel jou. Die herinneringe maak jou mal. Die verlange oorweldig jou. Die eensaamheid is onbeskryflik.

Hoe kan ’n mens hierdie “ding” wat op jou hele lewe beslag gelê het‚ oorwin?

“I simply don’t see that grief is to be mastered. It is to be lived through as creatively as possible … However‚ we dare not permit grief to master us. Doesn’t it make far more sense if we attempt to find out how grief can be used rather than wasted? How we can be creative in it‚ not destroyed by it?” (Eugenia Price‚ No Pat Answers‚ bl. 47).

Die woord “verwerk” word gewoonlik as ’n algemene term gebruik om iets te probeer sê oor hoe ’n mens op jou hartseer en verlies moet reageer. Wat sê dié woord? Dit lyk my asof dit ten minste sê dat jy self iets moet doen. Dis immers ’n werkwoord. Daar moet ’n proses in jou kop begin. Jy moet bewustelik werk maak van jou pyn‚ soos ’n mens werk maak van ’n fisieke pyn. Jy drink medisyne of gaan spreek ’n geneesheer. Jy weet dat pyn nie normaal is nie. Dit moet gestop word. Jy weet ook dat pynstillers nie die beste oplossing vir ’n siektetoestand is nie. Soek die oorsaak en gebruik middels om dit hok te slaan. In dié trant kan ’n mens ook oor jou smart dink.

Wat jy kan doen

Gaan sit by jou tafel en skryf ’n paar feite oor jou pynervaring op ’n stuk papier‚ byvoorbeeld: Dit sal nie moeilik wees om die eerste vraag te beantwoord nie. Die tweede een kan vir sommige mense moeilik wees‚ byvoorbeeld as dit gaan oor siekte of die gevolge van ’n natuurramp. Dit sal goed wees om die harde werklikheid van die derde vraag in te sien. Daar is dinge wat nie verander kan word nie. Skep moed en skryf dit neer! Die vierde vraag moet jy baie eerlik probeer beantwoord. En ek reken dis presies hier waar jy gaan ontdek dat dinge begin skeef loop.

Wat het jy gedoen?

Kom ons probeer ’n lysie maak van die ent pad wat jy alreeds geloop het: gehuil; gerebelleer; kwaad geword; jou onttrek; slaapmiddels of alkohol begin gebruik; innerlik hard geword; sinies geraak; geweier om in verhoudings betrokke te raak; al meer selfgesentreerd geraak; jou byna waansinnig in jou werk verdiep … Jy sal opmerk dat ek net negatiewe dinge genoem het. Dit beteken nie dat ek meen daar het tot nou toe niks goeds met jou gebeur nie. ’n Tandarts vertel jou mos nie hoeveel goeie tande jy het nie‚ maar hy begin boor aan die slegte tand! Kom ons maak die slegte tande heel. Laat ons die lysie hierbo deurwerk.

Huil‚ rebelleer en kwaad word

Dit is heeltemal normale maniere om op enige skok te reageer. Huil is ’n natuurlike reaksie waarin jou liggaam en gees saamspan om ontlading te probeer vind vir die skok en pyn wat te groot is om te verduur. Dit is goed om te huil‚ maar jy mag nie daaraan verslaaf raak nie. Waak daarteen om jouself tot ’n nuwe huilsessie op te werk. Mense huil soms te veel omdat dit ander se bejammering opwek. Dit maak dat mense na jou uitreik. Tog moet daar ’n tyd aanbreek dat jou huil‚ veral in die openbaar‚ minder moet word sodat jy met ’n normale lewe kan begin. Daar moet ’n tyd kom dat jy nie meer na mense se troos soek nie‚ maar na hulle begeleiding en saamloop op ’n nuwe pad.

Woede en opstandigheid is ook in orde. Dit is ewe-eens ’n natuurlike reaksie. Vir wie is jy kwaad en teen wie rebelleer jy? Is dit nie uiteindelik teen God gerig nie? Die wonderlike is dat net God presies verstaan hoe jy voel. Hy hoor jou vrae en verstaan jou opstandigheid. Maar ook hier moet jy besluit om die een of ander tyd (hoe gouer hoe beter) minder te skreeu en te begin luister. Dalk wil God vir jou iets sê.

Onttrekking

Sommige mense neem hulle toevlug tot onttrekking. Hulle wil net wegkom van al die mense en alleen wees om hulle hartseer in privaatheid te ervaar en verwerk. Ek het nogal begrip vir hierdie behoefte. Hoe goed bedoel dit ook al is‚ die oorweldigende belangstelling van mense kan jou later begin versmoor. Almal wil die beste raad gee en almal hou jou dop om te sien of jy hulle raad volg. Dit is te verstane dat jy stilte wil hê om net weer jou kop skoon te kry.

Maar pasop: onttrekking kan baie nadelige gevolge hê. Sê liewer reguit vir jou vriende dat jy eers net ’n paar dae se rus en alleenheid verkies. Moet hulle egter nie ignoreer of vermy nie. Onthou dat jou vriende en familie God se persoonlike hulpmiddels is deur wie Hy jou wil versorg. Ja‚ word stil en kry kans om dinge vir jouself te probeer duidelik maak. Maar moenie jou deure en luike sluit nie. Ander mense is een van die heel beste roetes tot genesing.

Selfbejammering

Probeer heel eerste om uit die groef van ’n diepliggende selfbejammering los te kom. ’n Duisend mense het al vir jou gesê hoe jammer hulle vir jou is. Bejammering moet end kry. Moenie op ander se bejammering teer en jouself tot trane toe bejammer nie. Neem ’n besluit daaroor. Dit berus net by jouself.

Huil wanneer jy so voel‚ maar moenie op trane begin teer nie. Moenie huil soek nie. Moenie begin dink mense verwag van jou om te bly huil nie. Kry klaar met huil en kry dan iets om oor bly te wees.

Slaapmiddels en ander verdowingsmiddels

Reg aan die begin het ’n familielid of geneesheer vir jou ’n paar pilletjies gegee om net te kan slaap. Dit was goed. Dit het gehelp. Maar enige vorm van medikasie is ’n noodmaatreël wat net die simptome verlig. Sodra jy dit gereeld begin gebruik‚ het jy daarvan afhanklik geword. Jy is dan besig om op ’n langtermynbasis simptome te behandel en inmiddels ’n nuwe siekte op te doen. Staak dit so gou moontlik. Jou doel is om weer ten volle te lewe‚ nie om onder die bedwelming van skadelike middels te probeer voortbestaan nie.

“Don’t deny‚ withdraw‚ or run from your pain. To heal it‚ you have to feel it‚” is Dick Innes se raad (How to Mend a Broken Heart‚ bl. 20).

Hard en sinies

Nou flikker die gevaarligte. Waarom het jy hard geraak? Waarom lag jy sinies oor enige positiewe voorstelle vir innerlike herstel? Is dit nie oor ’n aantal besluite wat jy vir jouself geneem het nie? Jy het besluit dat jou verlies van ’n onherstelbare aard is. Niemand verstaan die hel waardeur jy moet gaan nie. En oor God en godsdiens het jy nou ook genoeg gehoor.

Bewys jouself die guns om eerlik te kyk na ander mense wat sinies en hard is. Hou jy van wat jy sien? Dink jy werklik dat hulle die regte roete gekies het? Waarom doen jy dit dan? Hardheid en bitterheid is selfvernietigend. En dis ’n aaklige manier om tot niet te gaan. Lig liewer jou kop op en maak jou oë oop om die son raak te sien. Die nag se donker gaan verby. Dit word weer dag. Kies die lewe!

Bang vir verhoudings en selfgesentreerd

Die meeste van ons pynervarings het met verhoudings te make – versteurde verhoudings‚ gebroke verhoudings en selfs die finale beëindiging van verhoudings. Hierdie verhoudingskokke maak ons bang om onsself weer in nuwe verhoudings te gee. Selfs bestaande verhoudings word met skuheid en wantroue bejeën. Sê nou ek kry weer seer? Namate ’n mens verhoudings vermy‚ raak jy al meer selfgesentreerd. In ’n verhouding is ’n mens verplig om van jouself te gee‚ om onselfsugtig mens te wees. Buite verhoudings om is jy op jouself aangewys en word jy al meer selfsugtig. Jy sê al meer “ek sal self regkom‚ dankie” en‚ snaaks genoeg‚ dit lyk asof jy wonderlik regkom. Maar dit is ’n illusie. Jy oorleef‚ ja‚ maar jy mis die lewe. ’n Mens kan net werklik tot jou reg kom binne die ruimte van verhoudings. God het die mens as ’n mens-in-verhoudings geskape. Natuurlik kan ’n mens binne verhoudings seerkry‚ maar dis ’n klein prys wat jy bereid moet wees om te betaal vir die groot wins van lewensverryking.

Steek jou kop by die deur uit! Kruip uit jou dop! Gee jouself weer onbevange in ’n verhouding waar jy vir ander iets kan beteken en hulle die kans bied om iets vir jou te beteken.

Wat jy nie moet verwag nie

In die proses van verwerking moet jy nie verwag dat alles seepglad sal verloop nie; dat jy nooit weer gaan huil nie; dat niemand jou ooit weer gaan seermaak met ’n verkeerde woord op die verkeerde tyd nie; dat jy nie soms deur jou emosies oorweldig gaan word nie; dat die pyn vir altyd verby is nie.

Jy moet ook nie verwag om ’n situasie te skep soos dit tevore was nie. Wat jou verlies ook al mag wees: dit sal nooit weer soos vantevore wees nie. Byvoorbeeld: nadat jy jou huweliksmaat se ontrou verwerk het en julle saam met mekaar weer ’n nuwe pad begin loop het‚ moet jy nie dink dit sal weer soos voorheen wees nie. ’n Mens kan nie vergeet wat gebeur het nie. Jy sal daarom moet leer om ’n nuwe pad te loop‚ op ’n nuwe manier te dink‚ as ’t ware opnuut te léér loop! Dit geld ook vir ander verliese. Na die dood van jou lewensmaat kan jy tog nie jare se saamwees uitvee nie! In ’n nuwe verhouding moet jy dus leer om nuut te dink‚ om die verhouding van voor af te konstrueer sonder om mense met mekaar te vergelyk. Dit is immers die wonder van verhoudings‚ naamlik dat elke ander mens ’n unieke ervaring is.

Jy moet veral nie verwag dat jou lewe oornag weer gaan regkom nie. Die psalmdigter besing God se genade as ’n oornagwonder in Psalm 30 wanneer hy sê: “Gisteraand was daar nog trane‚ en vanmore lag ek al weer!” Maar dis digterlike taal. Ja‚ vir seker is God se genesing ’n wonder‚ maar dis nie ’n kitskuur nie. Wees dus geduldig. Dank God elke dag dat Hy met sy helingsplan in jou lewe besig is.

Waarop jy kan hoop

Hoop is ’n toekomswoord. ’n Mens hoop dat omstandighede gunstig sal verander. Jy hoop op mooi ervarings op jou toekomspad. En veral wanneer jy vanuit ’n krisis hoop‚ is jou visier ingestel op “beter dae”. Ek het al baie gehoor hoe mense hulle toekomshoop uitspreek as hulle sê: “Ek wens net ek kan vergeet van die seerkry” of “ek wens ek kan ophou huil as ek aan my omstandighede dink” of “ek wens ek kan dit regkry om hom of haar te vergewe” of “ek wens net dat ek weer kan lewe”.

Ek wens net … Maar is jou wens realisties? Of is dit dalk net ’n dagdromery waarmee jy jou seer gemoed probeer salf? Daar is ’n verskil tussen ’n doellose gewens en doelgerigte drome. Jy moet leer om toekomsgerig te dink en nie die verlede te probeer wegwens of terugwens nie. Die blote feit dat jy toekomsgerig begin dink‚ is reeds deel van jou genesing. Kom ons dink ’n paar oomblikke saam oor die toekoms … Waarop kan jy hoop?

Jy kan op die Here vertrou

Jy skrik effens vir wat ek sê. Te veel mense het jou al met mooi teksverse probeer paai en gemeen dat jy moet glo‚ “dan sal alles regkom”. En juis omdat jy so sukkel om te glo‚ het jy al meer vir die teksapostels begin koes. En nou doen ek dieselfde! Nee‚ nie heeltemal nie. Ek verwag nie van jou om met jou persoonlike geloofsprestasie die mas op te kom nie. Ek vra jou om te vertrou. Kom‚ laat ek verduidelik.

Vertroue is nie iets waarmee jy jou eie krag ten toon stel nie. Dit is die daad waarmee jy jou gebrek aan krag‚ jou kragteloosheid‚ bely. Die woord “vertrou” in Hebreeus beteken om jouself aan iemand anders vas te maak. Die digter van Psalm 37 stel dit nog duideliker as hy sê: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg” (Ps. 37:5). Die ou vertaling het gelees: “Laat jou weg aan die Here oor”‚ met ander woorde: laat Hy jou lewenspad vir jou uitwerk. Hierdie vertroue is niks anders as ’n totale oorgawe aan God nie. Dis daardie punt waar jy nederig en eerlik sê: “Liewe Here‚ ek kan nou nie meer nie en ek wil ook nie meer ’n tree verder op my eie nie. Help my‚ asseblief?”

Ek kan jou die versekering gee dat jy die Here kan vertrou. Neem Hom gerus op sy woord. Hy het ’n roete vir jou uitgewerk wat jou weer sal laat beleef wat dit beteken om met hertevoete op hoë plekke te staan. Dink aan jou lyding as ’n nuwe pad wat jy met God begin saamloop. Sien dit as ’n nuwe avontuur in die geloof. “Lyding is ’n inoefening in die geloof‚” skryf Daniël Louw in Waarom? Daarom? “Dit laat ons stilstaan‚ en voorkom sodoende betyds dat al die ryk dom van God se beloftes in ons dolle vaart op soek na sukses‚ by ons verbyskiet. Dit voorkom dat ons geestelik verarm en op die ou end in die agterbuurtes van God se genade wegkwyn.

“In ’n sekere sin is lyding ’n beproewing. God beproef ons egter nooit tot breekpunt toe nie‚ slegs tot groeipunt” (bl. 67‚ 69).

Jy sal self jou litte moet roer!

“Only by letting yourself experience grief‚ can you move beyond it. Beyond – not to your old way of being or what once was ‘normal’; not to denial of your hurt; not to resentment and bitterness. But beyond to fully integrating loss into your life‚ to richer understanding‚ renewed purpose‚ deeper spirituality‚ rebirth” (Karen Katafiaz in Grief Therapy).

Sodra jy by die vertrekpunt verby is‚ sal jy jou sokkies moet optrek! Reg gehoor‚ ja! Want dit moet jy mooi verstaan: om op die Here te vertrou beteken nie dat jy hande gevou moet wag dat dinge uit die hemel vir jou gedoen word nie. Na die mate wat jy oor vermoëns en geleenthede beskik om met God saam te werk‚ moet jy jouself ten volle tot sy beskikking stel. Luister fyn na wat God vir jou te sê het deur sy Woord‚ deur ander se bemoediging‚ deur preke en opbouende leesstof‚ deur Christenvriende se raad. Luister fyn en bid dat die Heilige Gees jou sal help om te onderskei sodat jy uiteindelik die regte besluite kan neem. En maak dan‚ soos Paulus ons aanmoedig‚ “die beste gebruik van elke geleentheid” (Ef. 5:16). Gee jou lewe vir die Here‚ vertrou Hom daarmee‚ en word sy medewerker in die beplanning van jou toekoms.

Elke nuwe dag is ’n gawe van God

Beskou elke oomblik van jou lewe as genade – ’n gawe uit God se hand. Wat jy met die genade doen‚ is jou saak. Jy kan die genadetyd omhuil of omtob of omlees of om-enigiets. Maar uiteindelik moet jy rekenskap gee van wat jy met God se gawe gedoen het. Slegte omstandighede kan veroorsaak dat ’n mens kosbare lewenstyd by jou laat verbygaan omdat jy so hard besig is om op jou omstandighede te reageer. Dit is verstaanbaar dat ’n mens se normale dagprogram deur negatiewe omstandighede soos siekte en dood omvergegooi word. Maar op ’n dag sal jy bewustelik jou tyd weer met die gewone dinge moet vul. Jy sal jou gedagtes moet leer om op gewone dinge te konsentreer. Jy moet vir jouself die doel stel om voluit te lewe‚ om die lewe te geniet en dit vir ander mense mooi te maak.

Want die lewe gaan voort? Vir jou én vir die mense rondom jou. En die lewe is ’n gawe van God. Hy wil graag hê dat jy moet leef en die gawe wat Hy vir jou gee‚ voluit benut.

Glo my: jy en God gaan ’n groot sukses van jou lewe maak?

Genesingsterapieë

Daar is verskillende dinge wat ’n mens kan doen om jou genesing te bevorder. Jy sal in die biblioteek talle boeke kry oor hoe om verskillende soorte verliese te verwerk. Daar word vanuit verskeie vakkundige benaderings goeie leesstof aangebied. Ek wil my nie op enige vakkundige terrein begewe nie‚ maar net op grond van ’n paar Bybelverhale kyk na die manier waarop mense toentertyd op hulle nood gereageer het‚ en hoe dit vandag nog vir ons waardevolle raad kan inhou.

Die routerapie

’n Mens rou nie net oor die dood van ’n dierbare nie; jy rou oor enigiets wat jy as ’n fundamentele verlies ervaar. ’n Mens rou oor jou huis en jou vriendekring wanneer jy na ’n nuwe plek verhuis; jy rou oor die verlies van die bekende en beminde dinge en mense in jou lewe. Daarom rou jy ook oor ’n liggaam wat stukkend geraak het‚ byvoorbeeld na ’n mastektomie. Jy rou oor verliese waarvan ander mense niks weet nie‚ maar in jou eie lewe maak dit ’n geweldige verskil. Daarom huil jy daaroor. Hierdie roufase na enige vorm van verlies kan ’n mens nie vryspring of wegsteek nie.

Rou is noodsaaklik. Dit is die mens se natuurlike manier om verlies te verwerk. As jy na die Bybel luister‚ sal jy hoor dat die Oosterlinge in Bybelse tye ’n groot ding van die routyd gemaak het. Dit was ’n baie demonstratiewe gebeure. Daar is gekerm en geklaag‚ en deur middel van allerlei uiterlike handelinge blyke gegee van die hartseer oor die verlies.

Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê … (Job 1:20).
Daarna het hulle hardop begin huil‚ hulle klere geskeur en stof in die lug en op hulle koppe gegooi. Sewe dae en sewe nagte lank het hulle op die grond by hom gesit sonder om ’n woord met hom te praat‚ want hulle het gesien dat sy smart baie groot is (Job 2:12-13).

Ons vind die Oosterse roupraktyk vreemd. As hoogs gekultiveerde Westerlinge probeer ons baie hard om met selfbeheersing ons emosies binne te hou; die wêreld hoef nie te weet hoe ons voel nie. In dié proses mis ons iets van die genesende waarde van die normale rouproses.

Sielkundiges onderskei gewoonlik vyf fases (soos hierbo beskryf) in die rouproses: skok; ontkenning; onttrekking; woede; verwerking. As ’n mens enigeen van die fases probeer vermy‚ vertraag of verhinder jy die genesing wat deur die rouproses kan plaasvind.

Al is ons nie heeltemal so demonstratief in ons rouproses soos die mense in die Bybel nie‚ moet ons tog nie so hard probeer om alle emosie en sigbare uiting van ons hartseer te vermy nie. Om die afsterwe van ’n geliefde as voorbeeld te neem: die dood het te klinies geraak. Mense sterf selde tuis in die bekende omgewing van die gesin. Die sterwende word uit die lewe verwyder nog lank voordat hy of sy dood is. Ons verstaan baie goed dat die persoon in ’n hospitaal of inrigting beter behandeling kan kry en die laaste oomblikke vir hulle versag kan word. Maar wat gemis word‚ is die saamwees van die gesin rondom ’n sterfbed. Wanneer jy van ’n sterfbed af wegstap‚ moet jy nie die dokter of verpleegpersoneel of die hospitaalreuk onthou nie‚ maar jy moet die dood onthou. Die dood in al sy felheid is die raam waarin die lewe vir jou nuwe waarde verkry. Daarom is die eerste fase van ’n sinvolle rouproses die erkenning van die harde werklikheid van jou verlies.

Die volgende fase kan baie maklik ’n krisis word as ’n mens dit nie reg hanteer nie. Dit is wanneer daar byna te veel hande rondom jou is. Die roubeklaers‚ die simpatiseerders‚ sou ons hulle noem‚ wat dit baie goed bedoel en sonder wie jy eintlik nie kan klaarkom nie. Die probleem is egter dat hulle te goed vir jou kan wees. Hulle wil jou hartseer spaar en ontneem jou dikwels die kans om jou pyn uit te huil. Jy voel dat jy al die mense in die steek laat as jy voor hulle huil en jou opstand verwoord. Hoe kan jy ongelowige geluide maak as almal vir jou bid?

Die Oosterlinge van die Bybelse tyd leer ons in hierdie opsig ’n goeie les. Hulle het ’n gedoente van saamhuil gemaak: as en stof op die kop‚ geskeurde klere en ’n voortdurende geweeklaag. Hulle het ’n atmosfeer van totale verlies geskep waarin ’n mens niks anders kon doen as om verslae te wees en saam te huil nie!

Maar die gehuil moet end kry; nie die rouproses nie‚ maar die sigbare emosionele uiting‚ want die rouproses gaan ’n nuwe fase van bestekopname en beplanning binne. Jy bereken jou verlies met die oog op die toekoms: hoe kan en behoort ek die pad vorentoe aan te pak in die lig van my verlies? Dit is in hierdie fase dat die skok dikwels plek maak vir woede en verbittering. Jy ontdek dat jy ondanks mense se hulp die impak van jou verlies alleen moet verwerk. Dit is dikwels die pynlikste deel van die rouproses. Die ware betekenis van die verlies dring nou tot jou deur. Skielik is daar nie meer so baie mense om jou te troos nie. Dié wat nog daar kom‚ weet nie hoe om jou te help nie. En ook dít is deel van die proses: om hulp te aanvaar‚ maar ook te weet dat daar dinge is waardeur jy self moet worstel.

Die rouproses is ’n langdurige proses. Dit is genesend wanneer ’n mens dit deurloop‚ en nie probeer vermy nie.

Die gespreksterapie

Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek.
Hy het gesê:
“Die dag waarop ek gebore is‚ moes nooit aangebreek het nie. die nag toe gesê is ’n seuntjie het in die wêreld gekom. Daardie dag moes net donkerte gewees het; God daarbo moes dit nie eens raakgesien het nie: geen lig moes dié dag deurgebreek het nie” (Job 3:1-4).
Toe sê Elifas die Temaniet: “Sal dit jou vermoei as iemand met jou redeneer? Ek kan nie stilbly nie. Jy het self baie mense reggehelp en dié wat moed verloor het‚ het jy weer moed ingepraat. Jou woorde het dié wat struikel‚ opgebeur‚ dié wat wou val‚ het jy weer opgehelp.
Nou het die ramp jou getref‚ en jy is platgeslaan; dit het jou oorgekom‚ en jy is verslae” (Job 4:1-5).

Job het aanvanklik goed gehou. In plaas daarvan dat hy oor al sy ellendes die kluts kwytgeraak het‚ het hy sy geloof helder en suiwer bely. Merkwaardig. Hy het inderdaad in ’n baie besondere verhouding met God geleef. Dit het hom egter nie van die skok en pyn gevrywaar nie. Hy was steeds ’n mens van vlees en bloed. Ook hy as toegewyde gelowige was blootgestel aan die aanslae van depressie en wanhoop. Dit was veral die knaende siekte wat hom ondergekry het …

Toe begin die gesprek. Job en sy vriende raak aan die gesels. En uit hierdie baie merkwaardige gesprek leer ons iets ken van die interaksie tussen God en mens in ’n ernstige krisistyd.

Oor Job en sy vriende se gesprek sou ’n mens baie kon sê. Ons sou kon praat oor Job se opstand teen God en sy vriende se netjies geformuleerde teologiese redenasies. Ons sou na die dieper sin van die gesprek kon vra. En uiteindelik sou ons asem ophou wanneer God self aan die gesprek begin deelneem. Maar ek wil nie op enige besonderhede ingaan nie. Al wat ek wil sê‚ is dat daar helende krag in ’n eerlike gesprek gevind word. Net die moontlikheid om te praat‚ om gehoor te word‚ om jouself te hoor uitspreek wat jy diep in jou hart gebêre het‚ om geleidelik uit die warboel woorde en idees helderheid te begin kry‚ dra tot jou genesing by. En dan die hoogtepunt: om deur die gesprekke begelei te word tot dié oomblik waar jy weer God self hoor praat.

Met hierdie kort verwysing na Job se verhaal wil ek die belangrikheid van gespreksterapie beklemtoon. Moenie die gesprek beskou as die geleentheid waar jy antwoorde op jou vrae gaan kry nie. Moet ook nie as trooster by ’n gesprek met ’n verslae mens betrokke raak met die doel om hom of haar van die regte antwoorde te voorsien nie. Dit was miskien die groot fout wat Job se vriende begaan het en wat ons dikwels self onwetend begaan. Vir mense se grootste seerkry is daar nie maklike antwoorde nie. Die antwoorde (of die berusting) kry ’n mens eers as jy later vir God hoor praat. Die gesprek gaan nie oor antwoorde en oplossings nie‚ maar oor die loskom van gedagtes‚ die uitspreek van jou verlangens‚ vrese‚ ongeloof en verwyte. En aan die ander kant moet daar iemand wees wat luister en jou kan help om jou eie taal te verstaan.

As jy in ’n krisis verkeer en iemand stel voor dat jy met ’n vertroueling of goeie berader moet gaan gesels‚ doen dit gerus‚ nie om antwoorde te kry nie‚ maar om jou voete op die pad na genesing te plaas. Die beste behandeling vir ’n kloppende sweer is om dit oop te sny. Ek het al met mense gesprekke gevoer wat feitlik heeltyd gehuil het terwyl hulle dié dinge gesê het waarvoor hulle tevore nie die moed gehad het nie. En as hulle loop‚ bedank hulle my! Waarvoor? Dat ek daar was om hulle te help praat.

Ek kan nie vir Job los sonder om na die afronding van die gespreksterapie te verwys nie. Dis wanneer God op die toneel kom. Ja‚ die hele gesprek het oor God gegaan. Maar mense het oor God gepraat. Toe begin God self praat. Ek dink ’n mens (en veral geestelike leiers) moet nie vir God probeer dwing om te praat nie. Ons wil God te gou aan die woord stel met ons mooi en goedbedoelde teksies. Miskien moet ons baie goed luister na God se stem in ons eie hart. Dalk wil God net eers sy hande om die hartseer persoon se skouers vou en hom of haar ’n drukkie gee. Wees jy dan God se hande. Dalk wil God saam met daardie persoon huil oor die verskriklike lyding wat die sondeval teweeggebring het. Laat God se trane dan oor jou wange rol.

En later‚ as God wil praat‚ laat dit sag en duidelik en gerusstellend wees‚ want God wil altyd genesend praat.

Diensterapie

Josef se pad het ’n paar ernstige slaggate opgelewer. Die eerste was nogal diep – ’n put waarin sy broers hom gegooi het om te sterf. Die volgende een was ’n mooi vrou wat hom wou verlei. In beide gevalle loop dinge vir Josef skynbaar op ’n ramp uit. En in beide gevalle het die Here vir Josef op ’n baie besondere manier gehelp om sy teleurstellings en rampspoed te verwerk. Hoe het hy dit reggekry? Gaan lees gerus weer die Josef-verhaal.

Josef se genesing het moontlik in ’n positiewe benadering gelê. ’n Treffende kenmerk van dié jongman is dat hy telkens die geleentheid gevind het om diens te lewer. Hy het hom onderskei as ’n voortreflike en betroubare persoon in al die dinge wat hy gedoen het.

Ek het al dikwels gesien dat mense wat na ’n ramp in hulle lewe begin om diensbaar te raak‚ hulle pyn baie gouer verwerk. As ’n mens moeg gaan slaap en iets het om die volgende dag te doen‚ is daar minder ure om wakker te lê en rond te rol. En ook minder tyd vir hartseer en selfbejammering.

Hoopterapie

Moet nooit ophou hoop nie. Dit is die koord wat jou met die toekoms verbind. Hoop is die nuwe dag wanneer jy weer sal jubel. Maar waarop hoop ’n mens as jy jou dierbare verloor het‚ of gehoor het jy het ’n terminale siekte of wanneer jy al jou aardse besittings verloor het? Waarop hoop jy dan? Kom ons praat daaroor …

’n Mens moet nooit hoop om dit wat jy verloor het‚ weer terug te kry nie‚ maar om in die plek daarvan nuwe lewensvreugde en ’n nuwe lewensdoel te vind. Natuurlik sal jy nie weer iemand kry soos die dierbare wat jy verloor het nie‚ maar deur die Here se genade kan jy in nuwe sinvolle verhoudings te staan kom waarin jy ander met liefde en begrip kan bedien‚ en waarin die Here vir jou deur hulle met sy liefde sal bedien. Jy sien‚ dit gaan oor ’n nuwe betekenis wat jy in die lewe vind. Dis nie ’n vervanging van wat jy verloor het nie‚ maar ’n aanvulling.

As jong seun was die verhaal van Douglas Bader‚ die Engelse vlieënier wat albei sy bene in ’n vliegongeluk verloor het‚ vir my ’n geweldige groot aansporing. Bader het hom nie deur hierdie verlies laat onderkry nie. Hy het ’n droom gehad – om weer te vlieg – en dié droom het hom ’n lewensdrif gegee. Teen alle verwagting in het hy dit reggekry. Dit het natuurlik geweldige deursettingsvermoë geverg. Hy moes onderweg baie pyn en teleurstellings verduur. Maar hy het bly hoop en sy droom het waar geword. Bader het geweet dat hy nooit weer sy bene sou terugkry nie. Daarom het hy hom daarop ingestel om met die tweede beste op die heel beste manier te probeer klaarkom.

Hoop en droom – dié twee woorde spel dieselfde eindproduk. Hoop is die ingesteldheid waarmee jy aan ’n droom werk. As jy bereid is om te hoop‚ moet jy ’n droom kry. Dink vir jou ’n droom uit! Dink aan iets wat jy graag wil bereik. Werk hard daarvan.

Ons natuurlike reaksie op moeilike omstandighede is om te bid dat ons daarvan verlos moet word. Ons bid vir “deliverance”‚ sê Larry Christenson. Maar‚ gaan hy voort‚ die saak waaroor dit gaan‚ is nie in die eerste plek verlossing van omstandighede nie‚ maar groei en ontwikkeling te midde van omstandighede. Dus nie “deliverance” nie‚ maar “development”. Ons moet bid dat die Here ons sal help om in meer volwasse mense te ontwikkel. Ons moeilike omstandighede moet die groeimedium wees wat ons sal help om sterker mense te word. Ons moet dus in die omstandighede soek na geleenthede om ons potensiaal‚ die gawes wat God vir ons gegee het‚ te eksploiteer: Wat kan ek doen om die Here beter te dien‚ juis in hierdie omstandighede?

Geloofsterapie

Ek het hierbo ’n aantal terapieë voorgestel om jou deur die proses van verwerking te help. Nou wil ek afsluit met ’n gedagte of twee oor ’n geloofsterapie. Ek is baie versigtig om geloof as ’n maklike oplossing vir moeilike probleme voor te hou. Daarom is dit eers nodig om geloof te definieer. Wat bedoel ek daarmee? Vir my is dit die manier waarop jy met God saamloop. Dit is die aard van jou verhouding met God. As ek dus ’n geloofsterapie voorstel‚ vra ek niks anders nie as dat jy met nuwe toewyding aandag sal gee aan jou verhouding met God. Die krisis waarin jy jou bevind‚ sal onteenseglik implikasies hê vir die manier waarop jy met God saamloop‚ Hom ervaar en met Hom verkeer. Kom ons luister na die profeet Jeremia om iets hiervan te probeer verstaan.

Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink‚ draai my gedagtes vas.
Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie‚ dit is elke môre nuut. U trou is groot.
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe‚ daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop‚ vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here (Klaagl. 3:18-26).

Jeremia is die gemeente se dominee in ’n tyd toe alles vir hulle skeef geloop het. Hulle het hulle land verloor. Vir die Oosterling wat so naby die aarde geleef het‚ was dit materieel gesproke die heel grootste verlies. Nie net hulle eiendom nie‚ maar ook hulle volkstrots was daarmee heen. En dan ook hulle “kerk”. Die tempel‚ wat die middelpunt van hulle bestaan was‚ is met die grond gelyk gemaak. Hulle verkeer in armoede en ellende. Mooi preke help nie nou nie. Alles is verlore.

In hierdie haglike omstandighede sit ds. Jeremia sy preek en voorberei. Hy krabbel op ’n stukkie boekrol. Hy sê as hy aan sy ellende dink‚ is dit soos gal en gif vir hom. Hoe anders kan hy tog daaroor praat? (Verstaan jy sy swaarmoedigheid? Ken jy ook ’n proeseltjie gal en gif vanuit jou eie herinneringe?) En‚ gaan hy voort‚ my gedagtes draai vas‚ ek dink myself telkens in ’n doodloopstraat vas. (Dit is mos hoe jy ook al gevoel het‚ of selfs op hierdie oomblik voel‚ nie waar nie? Jy dink jou suf en kry niks daarvoor nie …) En nou volg die openingswoorde van sy klaagsang: “Ek het gedink dis klaar met my en my hoop op die Here.” Hy praat as 'n gelowige. En hy kom tot die belydenis dat dit vir hom lyk asof sy geloof nie help nie. Sy “hoop op die Here”‚ sy vashou aan die Here‚ het niks opgelewer nie. (Is dit nie dalk jou diepste ontsteltenis wat jy nog nie wou uitspreek nie? Dat jy wonder wat jou geloof nou eintlik werd is? Of dit nog regtig help om te bid?)

Watter sombere inleiding vir 'n preek! Maar so is dit met 'n goeie preek: dit moet uit die hart uit kom. Dit moet uit die werklikheid van die lewe kom. En daarin slaag Jeremia se preek. Mense sou ten minste kon sê dat die dominee weet waarvan hy praat. Dis presies soos ons voel. Dan gaan die preek verder …

Hy onthou iets wat hy ter harte neem‚ iets wat hy opnuut weer aan sy eie hart wil vasdruk – so kosbaar is dit vir hom: “Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie‚ dit is elke more nuut. U trou is groot.”

Dit is vir my persoonlik hoendervleiswoorde. Ek sien as ’t ware die arme man en sy ellendige gemeente in rou‚ in vodde‚ in pyn en teleurstelling … Maar skielik skyn daar ’n helder lig‚ ’n hemelglans wat in die verrotte atmosfeer nuwe lewe gee. Iemand het onthou van God se liefde. Want kyk‚ sê Jeremia‚ ons lewe nog. En dan is daar nog die trou van God. Ons troue God en die gawe van die lewe is die resep vir ’n nuwe dagbreek van God se genade. Die lewe is nog nie verby nie? God is nie verby nie! Daarom is daar vir ons ’n toekoms en daarom bly ons hoop.

“Dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here‚” stel Jeremia voor. Ek wil met hom saamstem. Wag op die Here. Nie ledig en ongeduldig soos iemand wat wag dat die telefoon moet lui nie. Wag geduldig soos iemand wat saad in die grond gesit het en weet die produk kom eers na verloop van tyd. Daar moet eers groei en rypwording plaasvind. En intussen moet daar natgemaak en versorg word. Want so werk dit met ons wag op die Here: ons is nog besig om te groei en ryp te word. En ons is dag vir dag self besig om as medewerkers van God die eindproduk te help voorberei.

Dan kan ons saam met die profeet Habakuk ’n lied sing:

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie‚ al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie‚ al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees‚ nogtans sal ek in die Here jubel‚ sal ek juig in God‚ my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok‚ op hoë plekke laat Hy my veilig loop (Hab. 3:17-19).



Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.