JULLE MOET LIEFHÊ SOOS GOD JULLE LIEFHET
Lees: 1 Johannes 3
Teks: 1 Johannes 3:1‚ 14
Ek wil begin deur jou kaalkop te konfronteer met die gewetensvraag:
Sê my‚ is jy ’n kind van God?
Ervaring toon dat meeste Christene hierop een van twee – albei VERKEERDE! – antwoorde neig te gee:
(Die een is:)
- Natuurlik‚ vanselfsprekend is ek ’n kind van God!
- Ek glo dan daar is ’n God in die hemel.
- Of: Ek glo mos in “die Voorsienigheid”.
- Of (erger nog): “ek behoort mos aan ’n kerk”! … “ek is mos gedoop!”
(Die ander is:)
- Haai‚ hoe kan jy so-iets vra?
- Ons mag mos nie ligsinnig wees nie!
- Ons ken mos nie die raad van God; sy ewige uitverkiesing nie.
- Dis nie vir ’n mens om te besluit: ek is ’n kind van God nie!
- Dis ’n geheim van God se verborge raad‚ wat eers na ons dood of eendag in die oordeelsdag geopenbaar sal word.
- Intussen probeer ek maar my bes!
Geliefdes‚ teenoor die voorafgaande twee antwoorde wil ek u ’n derde – nee! –‚ die ander antwoord gee. En ek glo en is verseker uit ons teksgedeelte dat dit die ware‚ Bybelse‚ Godgegewe antwoord is: In die mooiste‚ eenvoudigste taal in vers 1‚ toegelig met die pragtigste beeldspraak in vers 14‚ gee die Heilige Gees ons in ons hoofstuk ’n ander‚ die ware antwoord wat daar altyd op ons lippe mag wees:
Ja! Ons is kinders – Ja‚ ek is ’n kind – van God!
Hoe durf ’n verlore sondaarmens homself/haarself met soveel stelligheid ’n kind van God noem? Dit is tog ’n geweldige vraag! Om die vraag te beantwoord MOET julle en ek‚ ’n ent terug begin: daar waar ons was en sou wees as God nie sy genade oor ons uitgegiet het nie:
- Ons wat in onsself vuil sondaars was;
- ons wat‚ buite sy genade om‚ saam met die hele mensdom vyande van God was‚ rebelle teen sy koninkryk;
- ons wat geheul het met sy aartsvyand‚ die Duiwel – wel‚ van sulke mense‚ sê ons teks: die heilige God skaam Hom nie om ons voor die ore van die heelal‚ MY KINDERS‚ te noem nie!
En: As God iemand iets noem dan is hy dit!
Daarom is daar ook aan die begin van vers 1‚ ons teksvers‚ ’n juigkreet oor God se skeppende woorde: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God en – ONS IS DIT OOK!” God is‚ sê die Bybel in Romeine 4:171‚ die God wat die dinge wat nie is nie‚ roep asof hulle is; wat net spreek en dit geskied! Sy woord is skeppingsmagtig: In die begin was die aarde in duisternis gehul. En God het gesê: Laat daar lig wees – en daar was lig!
En nou noem Hy verlore sondaars: “kinders van God” – en sodra Hy dit oor hulle sê‚ verander alles vir daardie mense. Tot die dood gedoemde‚ verlore mense‚ vyande van God‚ word op die roep van God‚ ware kinders van die lewende God.
Vanuit hierdie blye boodskap stel Johannes in die res van hoofstuk drie ons voor die eis van ons kindskap: Is daar in my lewe die merktekens van my Godskind-wees? Immers: geliefde kinders in die ouerhuis doen tog‚ ja doen graag‚ wat hulle ouers wil hê dat hulle moet doen‚ nie waar nie?
Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie‚ en nie sy broer liefhet nie‚ behoort nie aan God nie. Wat presies is hierdie broederliefde wat ’n kerk regtig kerk maak? Hoe lyk dit en waar kom dit vandaan?
BROEDERLIEFDE: liefde met goddelike inhoud
Johannes het geweet dat die valse profete hulle eie klomp reëls van wat reg en wat verkeerd is‚ gehad het. Volgens hulle opinie sou dit moontlik kon wees om God lief te kan hê sonder om op aarde die taal van liefde tussen jou broers te praat (1 Joh. 6-7; 2:4; 4-20). Dié benadering wys Johannes ten sterkste af. Dié mens wat in die lig wandel en gemeenskap met God het‚ het sy broer lief. Dit is ’n gebod‚ ’n opdrag (1 Joh. 4:21) … En hierdie is nie sommer enige liefde nie. Dit is nie maar ’n vriendelike glimlag hier of ’n behulpsame gebaar daar nie. Nee‚ hierdie liefde is iets méér as net goeie maniere. Dit is ’n liefde wat nie alleen sy oorsprong nie‚ maar ook sy aard en karakter uit die God van die liefde het (1 Joh. 4:7).
Wat liefde is‚ die grense daarvan‚ die inhoud en aard daarvan‚ dit alles kan alleen vanuit die liefde van God omskryf en verstaan word. Maar dit beteken nou nie dat net God kan liefhê nie. Die mens kan ook liefhê maar dan soos God (1 Joh. 4:11).
BROEDERLIEFDE: die liefde van ’n wedergeborene
Waar God se liefde oor die mens vloei‚ kan dit nie anders as dat die stroom oor die walle van die mens se lewe stoot in die vorm van broederliefde nie. As 1 Joh. 3:14 die ewige lewe met die liefdesoptrede van die gelowige verbind‚ bring hy broederliefde in verband met die ingrypende wesensverandering wat die gevolg is van die nuwe geboorte (wedergeboorte) van die mens uit God.
In 1 Joh. 3:14 stel hy dit puntig en skerp. Die teenwoordigheid van broederliefde is juis die bewys daarvan dat iemand uit die dood in die lewe oorgegaan het. Die bron van waaruit hierdie lewe ontstaan‚ is God self – wie liefhet‚ is uit God self gebore (1 Joh. 4:17). As Johannes die heil dus in terme van geboorte‚ lewe‚ ’n Vader en broers teken‚ skets hy die gehoorsaamheid wat binne die goddelike gesin aan die wil van die Vader vereis word‚ as ’n liefdesaksie vir die Vader‚ maar ook vir die ander broers (1 Joh. 19-21). Jy het lief omdat dit die wil van jou Vader is (1 Joh. 4:21)‚ omdat dit die “atmosfeer” van God se wêreld is waarin jy gebore is en nou leef (1 Joh. 4:7).
BROEDERLIEFDE: liefde met hande in twee rigtings
Die valse leraars het op hulle liefde vir God geroem‚ maar dit in ’n kompartement gesit. Vir hulle het liefde vir God niks met broederliefde te doen gehad nie. Johannes wys hulle egter daarop dat daar ’n uiters belangrike verband is tussen God se liefde en broederliefde.
God se liefde bot onafwendbaar in die mens se lewe uit in die vorm van broederliefde. Wie se hand in liefde in die hand van God is‚ se hand sal ook in liefde die hand van sy broer omsluit.
BROEDERLIEFDE: liefde wat God sigbaar maak op aarde
Niemand het God nog ooit gesien nie (1 Joh. 4:12). Nogtans is God teenwoordig – Hy bly in die gelowige en die gelowige in Hom. Hoewel God “onsigbaar” mag wees‚ is Hy dus nie afwesig nie en nog minder onbetrokke. Dit is wat Johannes juis in 1 Joh. 4:12 wil sê: God is onsigbaar maar eintlik is Hy “sigbaar” in die vorm van broederliefde.
BROEDERLIEFDE: ’n voorbeeld … en meer as dit!
As die gelowige God dan in die wêreld “sigbaar” moet maak‚ is dit te verstane dat Johannes herhaaldelik vir Jesus en soms vir God as voorbeeld gebruik. Die gelowige moet wandel soos Jesus gewandel het (1 Joh. 2:6). Die optrede van Jesus is voortdurend ’n voorbeeld vir die optrede van die gemeente.
Die navolging van die voorbeeld van Jesus moet egter nie verwar word met dorre wettisisme wat net sê: Ek doen dit wat ek moet nie. Die navolging lei beslis nie na die kettings van slawerny aan die wet nie‚ maar na ’n liefdesverhouding soos dié van ’n Pa wat sy gehoorsame kinders teen Hom vasdruk en versorg. God se wil of gebod is nie ’n losstaande opdrag nie‚ maar die “huisreëls” wat ’n liefdevolle Vader aan sy kinders wat Hom liefhet‚ gee ( 1 Joh. 3:23; 4:21). Die persoon wat werklik liefhet‚ is dus die een wat soos Jesus lewe …
BROEDERLIEFDE: aksie tussen mense‚ nie abstraksie nie
Ware liefde‚ só het God deur sy liefdesoptrede in sy Seun bewys (1 Joh. 3:16; 4:9)‚ is aktiewe betrokkenheid by ander mense (1 Joh. 5:1). Liefde is aksie‚ maar nie enige soort aksie nie – dit is aksie in waarheid (1 Joh. 3:18). Aksie-in-waarheid beteken aksie soos die God van waarheid dit wil‚ soos die God van waarheid dit in Jesus geïllustreer het.
Die liefde veronderstel ook interaksie tussen mense. Johannes gebruik graag die uitdrukking dat die gelowiges mekaar moet liefhê (1 Joh. 3:11‚ 23; 4:7‚ 11‚ 12). Dit beteken dat die liefde in die gemeente nie alleen gegee is nie‚ maar ook ontvang is. Liefde is die onbreekbare band wat God tussen sy kinders deurvleg om hulle só as sy gesin op mekaar aangewese te maak.
BROEDERLIEFDE: liefde as selfopoffering tot ander se voordeel
Dit is maklik om van en oor liefde te praat (1 Joh. 3:18)‚ maar wat is liefde presies? Johannes gee in sy hele brief ’n enkele konkrete voorbeeld van wat liefde is (1 Joh. 3:16-17). Na die voorbeeld van Jesus‚ moet selfopoffering liefde sigbaar maak en moet liefde die voordeel van die “ander” soek‚ afgesien van die konsekwensies wat dit het vir die een wat liefhet.
Wat die selfopoffering behels‚ illustreer Johannes met ’n voorbeeld (1 Joh. 3:17). Die liefde het vir Jesus na die kruis gelei; vir die gelowige lei liefde na die broer wat gebrek of behoefte het.
BROEDERLIEFDE: liefde wat altyd eerste reageer
God het ons eerste liefgehad (1 Joh. 4:19). As die voorbeeld wat Sy liefde stel, in gedagte gehou word, beteken dit dat broederliefde op ’n soortgelyke wyse eerste en sonder eie belang uitreik na ander om so die ander se voordeel te soek. Liefde is nie reaksie-liefde nie‚ maar aksie-liefde. As iemand werklik liefhet‚ en hy merk ’n behoefte by sy broer op (NIE sy broer VRA hom nie)‚ sal hy hom help. Liefde wag nie om eerste aangespreek te word nie‚ maar spreek eerste aan; dit gee sonder om eers gevra of gesmeek te word.
Hierdie nalewing van die wil van ons hemelse Vader is die heerlike sigbare merktekens in ons lewe dat ons (i) reeds kinders van God is; (ii) reeds ingetrek het in sy ewige huis van die lewe‚ ja reeds die lewe van die Nuwe Eeu begin lewe het! Maar ag‚ dan moet ons met skaamte bely‚ hoe ondermyn ons dikwels ons eie geloofsekerheid! Daardie sekerheid wat God ons in liefde wil skenk. Hoe ondermyn ons dit deur ons ongehoorsaamheid as kinders. Soos regte stout kinders in die ouerhuis‚ so wil ons so dikwels eenvoudig nie luister na ons Vader nie; ons HET NIE ORE nie!
- Ons bly lê in die sonde‚ terwyl ons Vader vir ons sê: Ek het jou my Gees geskenk sodat die sonde jou nie meer in sy mag het nie (3:9);
- Ons troetel ons wrokke en hartskoudheid en lamhandigheid teenoor ons naaste‚ terwyl ons Vader sê: Jou broederliefde is die merkteken dat jy nie meer in die huis van die dood woon nie.
- Ons bly so skaam om Jesus in alles openlik te bely‚ terwyl ons Vader sê: Elkeen wat Jesus nie bely nie‚ het nie die Gees van God nie (4:3).
Kyk tog weer watter groot liefde die Vader ons bewys het: Hy noem ons kinders van God EN ONS IS DIT OOK!
Amen
Ds. Hentie Krüger
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.