|
Preek:
|
26 Mei 2002 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Handelinge 16:16-40
|
|
Teks:
|
Handelinge 16:25
|
|
Tema:
|
Kan jy nog sing?
|
DIT het daardie nag in die tronk in Filippi vir die bewaarders en ander gevangenes seker baie vreemd geklink: die lofliedere deur ’n bandiete-duet teen middernag. Dit was egter nie dronkmansvreugde wat Paulus en Silas laat dié nag so vrolik in hulle sel laat sing het nie. Dit was hulle Christelike vreugde wat onaantasbaar en ondempbaar gebly het te midde van hulle lyding.
Die Bybel vertel vir ons dat dié twee sendelinge op Paulus se tweede sendingreis Filippi‚ ’n belangrike stad in Masedonië waar ’n Romeinse kolonie gesetel was (Hand. 16:12)‚ aangedoen het. Op ’n dag het hulle ’n slavin ontmoet in wie ’n waarsêersgees en wat deur haar waarsêery vir haat eienaars baie geld verdien het. Vir dae lank het dié vrou Paulus en Silas agtervolg en hulle met haar uitlatings geterroriseer. So erg was dit dat Paulus dié agtervolging en uittarting nie langer kon verduur nie. Hy het die gees uit die vrou uitgedryf.
Dit het Paulus en Silas duur te staan gekom. Die eienaars van die slavin het hulle gegryp en na die owerheid op die stadsplein van Filippi gesleep om hulle aan te kla. Die uitspraak van die verhoor en hulle straf vir hierdie daad was afgryslik: Paulus en Silas se klere is van hulle lywe afgeskeur.
Nadat hulle baie geslaan is‚ is hulle in die tronk gegooi‚ en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem (Hand. 16:23-24).
Hier het die twee verrinneweerde manne van God nie wanhopig gesit en hulle wonde spreekwoordelik gelek of hulle treurige toestand betreur nie. In hulle lyding en teenspoed het hulle nie hulle onverdiende‚ jammerlike lot teenoor mekaar sit en bekla nie. Hulle komponeer nie hulle dodemars en sing nie ’n tranerige treurlied oor hulle traumatiese ondervinding nie. Hulle verknies hulle nie oor die onmenslike onreg wat hulle te beurt geval het nie.
Hulle sing! Hulle sing ’n loflied. Hulle sing die lof van God. Sonder klere sing hulle‚ want hulle is nog toegevou in God se hand. Met bloeiende wonde en stukkende liggame sing hulle‚ want hulle stembande is ongeskonde. Teen middernag in die stikdonkerte sing hulle‚ want hulle is kinders van die Lig oor wie die strale van die Son van Geregtigheid nooit ophou skyn het nie. Met hulle bene in houtblokke vasgeklem sing hulle‚ want hulle was verlostes en bevrydes‚ wat deur Christus waarlik vry gemaak is. In hulle treurige omstandighede sing hulle‚ want hulle het oor ’n blydskap beskik wat nooit van hulle weggeneem kon word nie (Joh. 16:22).
Dit was dieselfde benadering wat die Here Jesus en sy dissipels die nag voor sy Getsemane-ervaring gedemonstreer het. Nadat Hy die nagmaal in die bovertrek ingestel het‚ het Christus en sy dissipels eers die lofsang gesing voordat hulle uitgegaan het Olyfberg toe (Matt. 26:30). Jesus en sy dissipels sing ’n lofsang al is die beker‚ met die teken van sy bloed daarin‚ in sy hand.
Paulus skryf dat Christene hulle moet verheug in hulle swaarkry (Rom. 5:3)‚ want die lyding wat ons moet verduur‚ weeg nie op teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Rom. 8:18). Dit is ook die opvallende kenmerk van die Christene in Masedonië:
Al was hulle swaar beproef deur verdrukking‚ hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm‚ hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid (2 Kor. 8:2).
Jy sien‚ hulle het nog gesing. Daar was ’n onvervreembare vrolikheid in hulle lewe. Vir die Christene in Filippi‚ waar Paulus en Silas so swaar gekry en gely het‚ skryf Paulus later weer uit ’n tronksel‚ maar nou in Rome:
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! (Fil. 4:4).
Terwyl die Nederlandse predikant‚ Gabe van Duinen‚ tydens die Tweede Wêreldoorlog die interneringskamp van die 19de Bataljon by Bandoeng in Japan besoek het‚ het hy in die voorjaar van 1945 die Woord aan die geïnterneerde soldate verkondig. Sy teks was Handelinge 16:25. In sy preek vertel hy die verhaal waaroor ’n Nederlandse gedig handel. Dit is van ’n voëltjie wat sy nessie op ’n brose tak aan een van die bome in ’n groot woud gebou het. Op ’n dag het ’n geweldige storm dié woud getref. Die takkie‚ met die nessie daarop‚ het afgeknak. En die voëltjie se reaksie? Hy het ná die storm teruggekom nessie toe en aan die gebreekte takkie by sy nessie gehang … en nog lustig sy deuntjie luiduit getjirp. Die tema van ds. Van Duinen se preek was: ‘Zingen‚ al breekt ook de tak’ (Evenwel).
Dit is die basiese waarheid waarvan Dawid ook in Psalm 34:5 skryf:
Dié wat swaar kry‚ sien op na Hom en straal van blydskap‚ hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie (Ps. 34:5).
Habakuk het dié les van die fluitende voëltjie op sy gebreekte takkie uitgeleef in sy teenspoed.
Hy sing in Habakuk 3:17-19:
Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe
aan die wingerde wees nie‚
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie‚
al sou daar geen kleinvee
in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees‚
nogtans sal ek in die Here jubel‚
sal ek juig in God‚ my Redder.
Die Here my God gee vir my krag.
… op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Wanneer ons nie meer kan sê nie‚ kan ons ten minste nog sing. Wanneer ons denke doodloop en ons nie verder weet nie‚ mag ons nog ervaar dat die ritme van die lof ons inhaal. Want sang is ’n verhoogde vorm van die woord‚ is intensivering van betekenis. Al is dit nie poëties nie‚ al is dit sonder woorde‚ al is dit bloot ’n kreun en ’n steun wat uit ons opklink‚ is dit ’n begin. Dit pas. Dis reg. En om só te sing‚ is nie ’n ontvlugting van die werklikheid nie. Paulus en Silas kyk trouens die werklikheid‚ die pynlike paradokse van hulle tyd voluit in die oë en dan loof hulle die Here. Hulle loof die Here omdat die paradokse klaar oorwin is!
Hulle sing vanuit hulle konteks waarin sosiale wanorde‚ magsmisbruik en politieke rampokkery aan die orde van die dag was‚ waarin die kloof tussen oormatige weelderigheid en matelose armoede oneindig groot gegaap het.
Nou kan ons dit aanvoel: hierdie lied kan nie uitgesing word in ’n enkele erediens nie‚ nie afgehandel word met ’n paar Kersliedere of afgerigte koorstukke nie. Dit spoel oor in die alledaagse‚ in die werklikheid. Dis ’n loofstyl wat ’n leefstyl word wanneer ons die ratte van ons motors verwissel‚ of lê in sonbrand op die strand‚ of worstel met die groot vraagstukke van ons tyd‚ met die soeke na geregtigheid en vrede vir almal.
Dis ’n lofprysing wat tegelyk ook ’n lofprotes téén die werklikheid is. Dit kombineer die verwondering oor die groot daad van God in Christus met die aandrang op die verandering van die wêreld waarin Christus gebore is. Paulus en Silas hou as ’t ware die pynlike paradokse van hierdie wêreld al lofprysende en lofprotesterende na God toe op en sê: Here‚ U hét alles verander. Verander dit tog ook nou! Hulle prys en protesteer. Om Christus ontwil.
Kyk‚ só ’n lied is nie deel van óns natuurlike repertoire nie. Dis nie die uitvloeisel van ons genialiteit of ons voortreflike vroomheid nie. Ook nie van dié van Paulus en Silas nie. Dis die gevolg van God se trou.
Okke Jager vertel êrens van ’n vader wat nie terugkeer ná die oorlog nie. Almal het later alle hoop laat vaar dat dit sou gebeur‚ behalwe sy kinders. Hulle het bly glo dat pa se figuur eendag weer die deur sal volstaan. Die ma is na ’n tyd weer getroud. Juis toe gebeur dit dat die pa‚ ná baie ontberinge en ’n lang verblyf in verskeie hospitale‚ weer sy opwagting by die huis maak. Toe hy egter sien dat sy vrou weer getroud is‚ was hy so ontredderd dat hy besluit het om sy gesin vir altyd te verlaat. Toe die trein stadig van die stasie begin wegbeweeg en die pa vir die laaste keer deur die vallende sneeuvlokkies terugkyk‚ sien hy hoe sy twee kinders agter hom aangehardloop kom‚ hoe die seuntjie in die dik sneeu struikel en val‚ hoe die dogtertjie se serp deur die snerpende wind weggewaai word. Toe kon die pa dit nie meer uithou nie. Hy het uit die trein in die sneeu gespring‚ na sy kinders gehardloop‚ hulle omhels en met soene bedek.
God kan dit nie oor sy hart kry om ons te laat in die ellende waarin ons onsself gedompel het nie.
Só is God‚ die troue God. Hy kán ons nie in ons eensaamheid laat nie. Hy het ons‚ en die wêreld‚ met sy vaderlike arms omhels en met soene bedek. Sou ons dit sommer net só vir mekaar kon sê? Seker. Maar ons doen beter as ons dit sing. Miskien nog met benoudheid ja‚ maar ’n blye benoudheid.
Dit klink dalk vir jou na ’n klomp goedkoop sêgoed‚ want partykeer gebeur dinge met ons waaraan ons net nie kan verander nie. Soms moet ons maar aanvaar wat met ons gebeur. Ons kan tog nie ’n geliefde wat dood is weer lewendig maak nie. Ons kan tog nie die gevolge van ’n ongeneeslike siekte ongedaan maak nie. Ek kan tog nie my arm of my been of my oog wat ek verloor het weer terugkry nie. Party dinge wat met ons gebeur is onomkeerbaar‚ niks kan daaraan verander word nie. Ja‚ broers en susters‚ aan sommige dinge is niks te verander nie‚ maar tog – ons kan besluit hoe ons hierdie situasies wil benader. Ons kan besluit die lewe sonder my geliefde is nie die moeite werd nie. Ons kan besluit ek het nou kanker en al wat ek kan doen is om te wag om dood te gaan. Ek kan besluit dat die lewe sonder ’n liggaamsdeel my verskriklik bang maak.
Of ek kan iets anders doen. Ek kan om my kyk en raaksien dat God ook op my pad vir my mense stuur wat tog vir my omgee en my liefhet al is my geliefde nie meer daar nie. Ek kan die tyd wat die Here nog vir gee gebruik om soos Paulus en Silas van my geloof te getuig en dalk ’n indruk op iemand anders se lewe maak soos wat hulle ’n indruk op die tronkbewaarder se lewe gemaak het. Ek kan besluit om sonder ’n liggaamsdeel nog steeds ’n heel mens te wees‚ ’n mens wat vir ander iets beteken.
Maar dit hang alles van onsself af; dit hang af of ons gaan bly vashou aan die troos van die opstanding van Jesus Christus; dit hang af van ons geloof dat God in die goeie en slegte tye ons nooit alleen los nie.
Wees gewillig om te sing en te dans in die duisternis!
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.