Preek:

25 April 1993 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

2 Korintiërs 4

Teks:

2 Korintiërs 4: 7-15

Tema:

Kleipotte wat maklik breek


IN die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is‚ was kleipotte baie belangrik. Mense het dit gebruik om hulle kos en drank‚ hulle meel‚ droë boontjies en water in te stoor. Hierdie kleipotte is met groot sorg vervaardig. Op die buitekant is patroontjies geverf. Die potte is ook in oonde gebak sodat dit lank moes hou en mooi moes lyk. Hierdie potte het een nadeel gehad: hulle het maklik gebreek.

Daar het maar min heel kleipotte uit daardie tyd oorgebly. Die wat jy in die museums kan sien het almal merke op‚ kepe en gate. In sommige gevalle het slegs ’n paar potskerwe oorgebly – getuienis van hoe broos en breekbaar hierdie potte was.

Paulus sê dat ons as mense kleipotte is. Die mens is broos en breekbaar. Van buite af lyk ons baie maal mooi en jonk en begeerlik. Ons is ryk en voel só onaantasbaar. Wanneer die lewe jou egter slaan‚ dan knak en breek jy maklik. Met die verloop van tyd kry jy merke en littekens op jou liggaam en ook op jou gees.

Ek dink daar is maar min van ons wat nie nog merke of littekens het wat ons in ons kinderjare opgedoen het nie. Vir die kinders is dit mos altyd vreeslik interessant om te weet waar kom hierdie of daardie littekens van pa of oupa dan vandaan. Ek self sit met ’n af en krom vinger uit my kinderjare. Ons almal dra maar die een of ander litteken met ons saam – al is dit net nog ’n merkie van die waterpokkies toe ons klein was. Want die mens is‚ soos Paulus sê‚ ’n kleipot wat maklik breek.

Party littekens wat jy opdoen is ernstiger as ander. In ’n ongeluk kan jy byvoorbeeld die gebruik van jou bene of vingers of hande verloor. Siekte kan jou permanente skade berokken. Beroerte kan jou geheel of gedeeltelik verlam. Jy kan aan drank of dwelms verslaaf raak. Dit takel jou liggaam af; dit verander jou kleur; dit laat letsels op jou liggaam en gees. Dit tas jou verstand aan.

Jou planne kan misluk:


Hierdie teleurstellings en mislukkings laat hulle letsels op jou gees. Jy keer in jouself en word ’n eensame mens. En die letsels aan ons binneste is partymaal baie erger as die letsels aan ons liggame. Ons kan depressief en terneergedruk word. Dit kan ons radeloos maak‚ só eensaam dat ons selfs voel God het ons verlaat. Moedeloosheid kan ons oorval‚ vrees vir hoogtes of noutes‚ of foute‚ of vir ’n hartaanval‚ of vir kanker‚ of vir onluste‚ of vir die dood‚ of selfs net vir ander mense.

Die verkeerde dinge wat ons doen‚ die foute wat ons maak‚ die sondes wat ons sondig‚ laat maar sy letsels. Ja‚ soos Paulus sê‚ die mens is ’n kleipot wat maklik breek‚ wat maklik seerkry‚ wat maklik versplinter en verpoeier.

Nou waarvoor is hierdie stukkende kleipotte nuttig? Kan ons‚ menslike mislukkings‚ sondaars‚ iets verrig en tot stand bring? Ek het ’n bietjie in die Bybel gaan kyk of dinge wat gebreek is iets kan doen.

In Rigters 7:19-21 het Gideon gebreekte erdekruike gebruik om fakkels in te plaas.
Dit het genoeg lig gegee dat hy ’n aanval op die vyand in die nag kon loods en wen.

In Matteus 14 lees ons dat Jesus vyf brode gevat het en dit gebreek het.
Dit het kos gegee vir meer as vyf duisend mense.

In Markus 14:3 lees ons dat ’n vrou ’n albastefles met egte‚ baie duur‚ nardusolie gebreek het‚ en dat die inhoud genoeg was om Jesus mee te salf.

In Jesaja 53:5 lees ons: “… deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
In 1 Korintiërs 11:23-24 staan daar: “Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is‚ brood geneem en‚ nadat Hy God daarvoor gedank het‚ het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.’”

Ja‚ Jesus het ten volle mens geword. ’n Kleipot wat maklik breek. En Jesus het ook hierdie letsels opgedoen. Op pad na Golgota is Hy geslaan. Daar is ’n doringkroon op sy kop geplaas. Spykers is deur sy hande en voete gedryf om Hom aan die kruis vas te nael.

Vanaand staan ons ook stil by die hemelse Kleipot‚ wat vir ons gebreek is. Hoekom is hierdie Jesuskleipot só gebreek? Sodat ons kan heel word. Jesus se verminkte en gekneusde liggaam het God uit die dood opgewek‚ sodat elkeen van ons kan lewe. Paulus sê‚ God het vir ons ’n skat in die kleipotte gegee‚ ’n lig in ons harte laat skyn‚ kennis gegee van God se heerlikheid wat van Jesus af uitstraal.

U sien‚ Christus het nie net plaasvervangend in ons plek gely nie; nee‚ sy lyde was ook mede-lyde‚ want: Hy het ons krankhede op Hóm geneem‚ en óns smarte – dié het Hy gedra. Maar dit beteken nou nie dat ons in hierdie lewe geen lyde meer sal hê nie; dit beteken nie dat krankheid en smart en al die bitterheid van die lewe net vir ander mense bestem word nie. Nee‚ dit beteken dat daar in ons lydensgang verandering gekom het‚ om Christus wil.

Die krankhede en smarte‚ ja‚ die ganse lyde wat ons hier deurworstel‚ het nou so anders geword – omdat Christus met sy lyde die angel en die vloek daaruit weggeneem het! Die lyde wat ons ly‚ is nie die straf van God wat ons verdien het nie; ag‚ as God hier op aarde oor ons moes bring wat ons waarlik verdien het‚ sou ons in hierdie lewe al die hel gesmaak het.

Nee‚ ons lyde is ’n lyde sonder vloek; ’n lyde wat losgemaak is van die verdoemenis en vasgebind is aan Jesus Christus. Want deur sy lyde en dood het hy die lyde oorwin – ook u lyde en my lyde! En nou wonder ek‚ broeders en susters‚ of hierdie evangelie-woord vir u al ’n werklikheid geword het op u eie lydensweg. Het u Christus al in u lyde gesien?

O‚ ek weet hoe verskriklik dit soms kan wees: dat dit voel asof God vloer en dak en mure bymekaar bring om ons te vermorsel! Dat dit voorkom asof God ons lewensgeluk en lewensverwagting aan flenters slaan‚ sodat daar vir ons niks meer oorbly nie! Maar nou is die evangelie juis dat ons nie alleen hoef te gaan staan nie – Christus het in ons plek gaan staan‚ onder die straf en oordeel van God. Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons smarte gedra! In die ontsetting van sy het Hy die vloek uit ons lyde weggeneem!

Daarom is daar mense wat in die grootste armoede en gebrek tog nog kan dank vir die gawes van God – selfs wanneer daar nie eers genoeg is om in al die behoeftes te voorsien nie!


Daarom‚ o kind van God – as die Here die drinkbeker van die lyde in jou hand geplaas het‚ as dit voel of Hy jou oopskeur met sy gesel en jou hart stukkend breek‚ weet dan dat jy deur die geloof Christus sal ontmoet in jou lyde – Christus‚ wat die drinkbeker eenmaal gedrink het tot die laaste bitter druppel toe – vir jou!

Moet daarom nie mismoedig word omdat jy ’n kleipot is nie. Moenie terugtrek omdat jy aan jou liggaam en jou persoonlikheid al ’n paar kepies en stampplekke het en hier en daar al ’n bietjie nerf-af is nie. Want hierdie kleipot is die draer van ’n skat.

Al word jy verdruk‚ jy sal nie neergedruk word nie. Al soek jy raad‚ is jy nie radeloos nie. Al word jy vervolg‚ God is by jou. Al word jy op die grond neergegooi‚ is jy nie verslaan nie. Al sterf jy‚ sal jy lewe. Want hierdie stukkende kleipotte dra die skat van Jesus Christus. Gekneus en nerf-af en vol littekens is ons goed genoeg vir God se koninkryk!

Amen

Outeur
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.

©