Preek:

15 Oktober 2000 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

1 Samuel 17

Teks:

1 Samuel 17:45

Tema:

Koelkop in ’n krisis


ONSSELF of ons kinders word ewe skielik siek. Terwyl ons op die uitslae van die toetse wag kom die verskriklikste gedagtes in ons op: Hierdie siekte is kanker of malaria of breinvliesontsteking. Of ons werk kom in die weegskaal. Dit wat altyd jou inkomste was‚ is nie meer so seker nie. Daar is praatjies van afskalings en afleggings. Jy weet dat jy en jou werk in gedrang is. Of jy ontwikkel ’n krisis met een van jou kinders. Jy het ’n verbode middel in sy kamer raakgesien. Jou kind begin eienaardig optree. Jy wonder by jouself‚ “Is my kind nou ’n dwelmslaaf‚ kan dit wees dat hy of sy by so ’n groep ingetrek is?” Of jou huwelik begin te wankel. Daar het ’n derde persoon op die toneel verskyn en dinge is doodgewoon nie meer wat dit was nie.

Daar is ook die verhaal van ’n jongman in die Bybel wat in ’n krisis verkeer. Ons ken die agtergrond van die storie. Die Israeliete veg teen die Filistyne. Hierdie twee leërs is teenoor mekaar opgestel. Dan kom daar uit die Filistyne ’n reus met die naam Goliat. Goliat het die krag‚ hy het die wapentuig en die bravade. Hy maak ’n bespotting van die Israeliete. En die Israeliete het ’n krisis.

Hulle staan hier voor ’n uitdaging wat hulle nie glo hulle kan wen nie. Hulle krisis is dieselfde krisis wat ons in ons lewens het. Kom ons kyk na die verskillende elemente van die krisis.

Eerstens was die krisis groter as wat hulle ooit kon hanteer.
Ons lees daarvan in 1 Samuel 17:4-7

Toe kom daar ’n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank. Daar was ’n bronshelm op sy kop‚ en hy het ’n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar ’n bronsswaard. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel‚ en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop.

In die tweede plek daag die krisis ons krag uit.
1 Samuel 17:8-11

Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie ’n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom. As hy teen my kan veg en my verslaan‚ sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan‚ sal julle ons slawe wees en vir ons werk.” Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.” Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê‚ het hulle geskrik en baie bang geword.

Dit is wat krisisse met ons doen. Ons reël ons lewens so kalm as moontlik. Ons probeer om dit in die fynste detail te beplan. Maar dan kom daar ’n krisis en herinner ons hoe weerloos ons is. En dit hoef nie eers ’n groot krisis te wees nie. Dit kan ’n probleem by die huis wees‚ ’n probleem by die werk‚ ons onvermoë om van ’n nare gewoonte ontslae te raak – dit kan verskeie dinge wees. Maar een ding is seker: dit herinner ons daaraan dat ons eintlik kragteloos is.

Derdens het die krisis nie weggegaan nie.
1 Samuel 17:16

Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan.

Die probleem met ’n krisis is dat dit nie weggaan nie. Indien jy dit nie aanspreek nie‚ sal dit jou vernietig. Dit help nie om jou te verbeel dat dit nie bestaan nie; dit sal jou agtervolg en teister totdat jy dit aanspreek. Meeste krisisse kan nog in die vroeë stadiums geïgnoreer word. Dit gebeur ook min dat ’n krisis oornag vanaf klein na groot gaan. Gewoonlik is daar ’n proses van agteruitgang. In die huwelik kommunikeer man en vrou nie meer vir dae‚ maande‚ jare nie en dan begin die huwelik verbrokkel. ’n Finansiële probleem word vir maande ’n ongemaklikheid genoem voordat dit in ’n ekonomiese katastrofe omsit. Daar is verskeie tekens dat jy nie meer gesond is nie en as jy eers ver agteruitgegaan het‚ word ’n fatale diagnose gemaak.

Maar dan kom Dawid op die toneel. Kom ons kyk wat is sy reaksie op hierdie krisis.

Hy sien vir Goliat en hy sien ook dat die Israeliete bewe van vrees.
Kyk mooi wat Dawid doen en sê.
1 Samuel 17:26

“Wie is hierdie heiden‚ hierdie Filistyn‚ nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

Dawid het die krisis in perspektief gesien. Sy reaksie was dat God groter was as enige krisis waarin hy ooit kon verkeer. Selfs sy broers wat hom kritiseer kan hom nie van stryk af bring nie. Hy deins nie terug van hierdie krisis nie. Hy spreek dit daadwerklik aan. Tot nou toe kon Dawid beskryf word as ’n kind met groot idees‚ as ’n bogsnuiter‚ maar nou moes hulle hom ernstig opneem. Onmiddellik het Dawid hom begin regmaak vir die geveg (vers 40). Hy het sy kierie in sy hand gevat‚ vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in sy hand het hy op die Filistyn afgeloop. Die reus het met minagting na hom gekyk en gesê: (Vers 44)

“Kom ’n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.”

Hierdie jong man het hom nie laat intimideer nie.
Hy het van aangesig tot aangesig met die reus gestaan en gesê (vers 45‚ 46):

Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard‚ maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige‚ die God van die linies van Israel‚ wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee‚ sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ’n God het.”

Ons kan ons indink hoedat hierdie tiener met soveel dapperheid met die reus gepraat het wat omtrent twee keer sy grootte is. Kom ons dink aan die uitdagings in ons lewens. Hoe praat jy met die reuse? Wat is jou benadering tot die stryd waarin jy verkeer? Dawid het die stryd met ’n onverskrokkenheid benader‚ want hy het geweet dat die uitkoms daarvan in die hande van die Here was. Hoor wat sê hy vir Goliat‚ “Die oorlog behoort aan die Here en Hy sal jou in my mag oorgee.” Ons weet wat die uitkoms was‚ hoedat Dawid die reus met sy slingervel en een klippie dodelik verwond het.

Die vraag is nou wat ons uit al hierdie dinge kan leer: Wat het Dawid gehad wat die ander Israeliete nie gehad nie? Hoe was dit moontlik dat hy‚ eerder as soldate wat baie ouer was as hy en meer ondervinding gehad het‚ die vyand verslaan het?

Die antwoord is nie dat Dawid dapper was en die soldate van Israel lafaards was nie. Die uitslag het niks met wenners en verloorders te doen nie. Dawid het die reus aangevat omdat hy geglo het aan die goedheid van God. Omdat God goed is kan die krisis nie voortduur nie. Jy mag dalk besig om teen ’n Goliat in jou lewe te veg. Onthou Dawid se antwoord in sy krisis. Hy het vas geglo dat God groter is as sy probleem. Onthou Dawid se benadering tot die stryd: Die oorlog en die uitslag daarvan behoort aan die Here.

Die God van die Bybel is geen lewensvreemde‚ Griekse deus ex machina wat al ons angs‚ droefheid en wanhoop in ’n oomblik laat omslaan in vreugde nie. Hy is die menslike God. In Christus toon Hy aan ons nie bloot sy onnaspeurlike Goddelikheid nie‚ maar ook en veral sy egte‚ opregte menslikheid. In Christus kom deurworstel Hy al ons vrae‚ onsekerheid en onbegrip saam met ons. Aan die kruis‚ die hoogtepunt van God se selfopenbaring aan die mense‚ die plek en oomblik waar ons die diepste kan inkyk in die hart van God self‚ vertolk sy Seun die ervaring van ’n ganse mensdom in nood: “My God‚ my God‚ waarom het U My verlaat?” By die kruis op Golgota sien ons twee dinge tegelyk: oordeel én redding‚ wanhoop én uitkoms‚ magteloosheid én triomf‚ dood én lewe. Die kruis is die onthullendste metafoor van ons lewe voor God in die wêreld. As ons opkyk na die kruis‚ sien ons hoe ons lewe is: ’n strompelgang in die dubbelsinnigheid van nederlaag en oorwinning‚ angs en uitsig‚ droefheid en vreugde.

Dalk voel jy ook om te vra soos die digter van Psalm 88:11-13: “Sal U met dooies ’n wonder laat gebeur? Kan gestorwenes opstaan en U loof? Word daar in die graf vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan‚ van u trou vertel? Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood‚ u redding in die land van vergetelheid?”

Aan die voet van die kruis‚ kan jy nou op hierdie vra “JA” begin antwoord in plaas van “NEE.” Want wat by Golgota plaasvind‚ is die “wonder wat met dooies kan gebeur.” Die kruis is niks anders nie as die “vertelling van God se troue liefde in die dood en in die graf.” Dis die hoogtepunt van God se “wondermag in die duisternis van die dood”‚ van sy “redding in die land van vergetelheid.”

Daarom is die kruis van Christus die verhaal van lewe in en uit die dood. Want drie dae later was die graf leeg. Deur die vereenselwiging van die menslike God met ons in ons nood‚ kom oorwin Hy dit in ons plek. In Christus laat slaan God die “nee” van ons blindheid‚ ons eiegeregtigheid‚ ons sonde‚ om in die “ja” van sy genade‚ hoop en toekoms. Daarmee haal Hy die angel‚ soos Paulus skryf‚ uit die dood. Pyn‚ droefheid‚ sorge‚ wanhoop sal weliswaar in die lewe van ’n Christen nie in ’n oomblik soos mis voor die son verdwyn nie. Dit sal ons bly treiter. Dis immers deel van die lewe. In Christus kom wis God dit nie in ’n oomblik uit nie‚ maar kom stel Hy Hom saam met ons‚ in ons plek‚ daaraan bloot. En Hy oorwin dit. Dit waarborg Hy ons. Sy leë graf is ons versekering dat die dood nie ons permanente metgesel sal bly nie. God is die metgesel wat die lewe leefbaar maak – ook in angs en pyn‚ ook in onsekerheid en wanhoop‚ tot in die dood en daarna.

Die geloof in die dié God wat in Jesus Christus solidêr met die mense is‚ is daarom nie ’n uitweg uit die lewe nie‚ maar ’n uitweg in die lewe. Wie glo in dié God het nie dadelik antwoorde op al hulle vrae‚ verligting van al hul pyn‚ bevrediging van al hul behoeftes‚ gemoedsrus in al hul angs nie. Ons lewe bly ’n lewe in hierdie wêreld met al sy wanklanke en teenstrydighede. Maar geloof in dié God wat ingegaan het in ons dood sodat ons met Hom kan uitstap in sy lewe‚ maak die lewe draaglik en leefbaar. Dit bewaar my van ondergang aan my sorge en ellende. Ek wil jou nou oproep. Hou Jesus voor oë. Sy opstanding ontmasker sy swakheid as krag‚ sodat ons ook mag wéét: al ons einde-van-die-pad-ervarings is slegs oomblikke vol moontlikhede‚ bloot beginpunte van nuwe lewe‚ geboorteplekke van nuwe hoop.

Jy sien soos met Dawid maak Hy selfs van ons donkiekar met af wiele‚ ’n arend met vlerke.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.