Leef voluit!

Lees: Lukas 24:13-35
Teks: Lukas 24:6

Vandag is die eerste dag van die res van ons lewe! Wat verby is‚ is verby. Die toekoms lê voor. Nou is die begin van die toekoms; die begin van die res van ons lewe. Is dit nie hoe ons as Christene dit moet sien nie?

Ons leef so maklik in die verlede. Dink aan wat verby is. Hunker selfs na die goeie ou tyd. Ons praat so baie oor die verlede. Dalk is dit die rede dat ons nie so baie gedoen kry nie. Die rede dat ons so bang is vir die toekoms. ’n Rede waarom ons huiwer en die dag nie aangryp nie.

Ons het so pas as deel van ons erediens ons skuld bely nadat ons geluister het na die Wet van die Here. Toe het ons die genade-aankondiging gehoor. God het ons ons skuld vergewe. Hy het dit wat verkeerd was uitgewis. Dit bestaan nie meer nie. Dit is weg! Daardie dinge in die verlede is gewoon nie meer daar nie. Ons begin nou nuut. Opnuut is ons verhouding met die Here herstel. Alles het nou nuut geword. Ons het so pas ’n totale en radikale nuwe begin betree. Daarom is vandag die eerste dag van die res van ons lewe. Daarom leef ons nou met die oog op die toekoms en nie met die oog op die verlede nie. Daarom hoor ons wat Jesus gesê het dat ons nie die hand aan die ploeg moet slaan en terugkyk nie. Kyk vorentoe: die oog op Jesus ons Leidsman wat vir ons die pad aanwys.

Dit is dan nie sonder betekenis dat die eerste dag van die res van ons lewe die eerste dag van die week is nie. Maar nie net sommer die eerste dag van die week nie‚ dit is ook die dag waarop ons die opstanding van Jesus herdenk en vier. Dit is juis die opstanding van Jesus wat ons lewe‚ ja ons nuwe lewe‚ moontlik maak. Hy het opgestaan. Hy leef. Met Hom het ons opgestaan tot ’n nuwe lewe. Met Hom leef ons en gaan ons lewe.

Vir Maria het die eerste dag van die res van haar lewe aangebreek toe sy op die eerste dag van die week na die graf van Jesus toe gegaan het. Sy was diep bedroef en het gegaan om die laaste eer aan ’n ontslape vriend en geliefde te bewys. Met olie wou sy sy liggaam gaan balsem. Alles het so vinnig gebeur. Sy het nie die geleentheid gehad om hierdie belangrike laaste eer aan Hom te bewys nie. Nou gaan sy afskeid neem. Maar dan ontmoet sy die opgestane Jesus. Hy leef! Die trane verdwyn. Nou is sy nie meer treurend nie. Sy word die eerste getuie van die opstanding van Jesus. Haar lewe verander!

Daardie twee dissipels was laat een middag op pad van Jerusalem na Emmaus‚ ’n klein dorpie. Dit was ’n tyd van groot ontsteltenis‚ ’n tyd van groot moedeloosheid. Dit was ’n sonsondergangpad‚ nie net omdat dit laat daardie dag was en die feit dat hulle letterlik in die rigting van sonsondergang geloop het nie‚ maar emosioneel‚ fisies en selfs geestelik was dit ’n sonsondergangpad. Die helder sonskyn het uit hulle harte en gemoed verdwyn en hulle was in ’n diepe geestelike en emosionele duisternis. Daardie sonsondergangpad het in sonop verander toe Jesus die lig van sy persoon‚ sy vreugde‚ sy genade en krag oor hulle en hulle pad laat skyn het. Hulle ontsteltenis oor Christus se dood sou in vreugde verander.

Hierdie gedeelte bevat onder andere die besondere waarheid wat ek vir julle wil uitlig. Dit was baie duidelik dat daardie twee deur ’n gevoel van verlies oorweldig is. Toe Jesus hulle vra wat hulle so ernstig loop en bespreek‚ vertel vers 17 vir ons‚ ‘Met somber (skythropós) gesigte gaan hulle staan.’ Het jy al gesien hoedat mense by ’n begrafnis of die toneel van ’n groot tragedie in twee’s en drie’s met geboë hoofde staan en gesels? Daar is ’n swaarmoedigheid‚ ’n sigbare‚ tasbare hartseer en smart‚ met hoofde gebuig‚ skouers wat hang‚ hande wat swaar langs die sye afhang het die twee dissipels daar gestaan. Hulle het vas geglo dat hulle alles verloor het. Vers 19 toon dat hulle gedink het dat hulle Jesus – ’n profeet‚ ’n gids‚ ’n leier‚ verloor het. Hulle het gesê Hy was magtig in woord en daad‚ ’n groot leraar‚ ’n groot vertrooster‚ ’n bron van krag en hoop. Hulle was baie bemoedig deur sy dade wat hulle gesien het. Hulle het waarskynlik al die wonderwerke wat Jesus gedoen het‚ gesien. Hulle het ’n warm‚ vertroostende vriend en helper verloor. Hulle het egter ook hulle hoop op die toekoms verloor omdat hulle oortuig was dat Hy die een was wat Israel sou verlos. Wanneer ’n persoon hoop verloor‚ voel hy dikwels hy het alles verloor.

Voel jy ooit soos daardie twee?
Miskien voel jy op die oomblik soos hulle. Miskien is jy op daardie sonsondergangpad op pad na Emmaus omdat jy ’n vrou‚ ’n man‚ ’n vriend verloor het as gevolg van een of ander ongelukkige omstandigheid soos ’n siekte‚ egskeiding‚ gebroke verhoudings‚ finansiële ramp. Jy het jou sin vir rigting verloor‚ jy voel alleen‚ verward‚ van vriendskap beroof. Dit lyk asof daar niemand is wat by jou sal staan nie. Die smart van die kruis het daardie dissipels feitlik heeltemal oorweldig. Hulle het wel gehoor van die opstanding (verse 22-23)‚ maar hulle groot probleem was twyfel. Die waarheid is reeds met hulle gedeel‚ twee groepe mense het vertel van die leë graf‚ maar hulle het getwyfel. Teleurstelling‚ ontnugtering‚ hopeloosheid kan dit aan ons doen. Omstandighede kan so sterk wees dat ons selfs God se Woord wat ons vroeër geglo het‚ betwyfel.

Tweedens het ’n vreemdeling by hulle aangesluit. Terwyl die twee op pad was‚ lees ons dat Jesus self nader gekom het en Hom by hulle aangesluit het. Jesus self! Dit beklemtoon die werklikheid van daardie wonder van die opstanding. Dis wonderlik dat Jesus heel eerste na sy dissipels kom om hulle te vertroos. Jesus was bewus van hulle groot teleurstelling‚ hulle swaar harte en Hy het met hulle saamgeloop. Vir my is dit belangrik dat daardie dissipels feitlik onbekend was. Jesus het nie na sy opstanding aan uitgesoekte belangrike mense soos Pilatus of Herodus of die godsdienstige leiers verskyn om ’n indruk te maak nie‚ maar Hy het twee gewone mense wat feitlik deur hartseer‚ smart‚ vertwyfeling en hopeloosheid oorweldig is‚ verskyn‚ en met hulle saamgeloop.

Ons kan so maklik die pragtige geaardheid van Christus uit die oog verloor – liefdevol‚ deernis‚ vergewensgesind en bemoedigend.
Omstandighede‚ swaarkry‚ probleme‚ smart‚ ’n gebroke hart‚ diepe teleurstelling‚ besorgdheid kan maak dat ons die Here nie raaksien nie. Miskien voel jy Hy is te besig‚ te belangrik‚ en te majestueus om aan jou aandag te gee. Miskien voel jy niksbeduidend soos die twee wat na Emmaus op pad was. Jesus sal egter almal wat Hom nodig het opsoek‚ wie hulle ook al is‚ wat hulle agtergrond ook al mag wees‚ wat hulle omstandighede ook al mag wees‚ en by hulle aansluit op hulle lewensreis. Sy groot hart vol liefde reik uit na ons almal. Hy dien almal wat Hom nodig het.
Vandag is weer Sondag en ons vier weer die oorwinning en opstanding van Jesus.

Die Emmausgangers was verslae en verward op pad huis toe. Die eerste dag van die res van hulle lewe breek aan toe Jesus die brood breek en hulle verstaan het wat Hy gesê het. Toe is hulle nie meer verslae en verward nie‚ maar doelgerig. Sonder om te huiwer‚ pak hulle die pad in die nag aan om die blye boodskap met ander te deel. Onsekerheid verdwyn en maak plek vir sekerheid. Moedeloosheid maak plek vir doelgerigte optrede. Die lewe maak sin. Hulle begryp waarom dit gaan.

So baie van ons is soos die Emmausgangers. Op pad huis toe‚ maar verward oor alles wat ons hoor. Onseker oor wat ons moet glo. Verslae omdat dinge nie verloop het soos ons gedink het dit behoort te loop nie. Jesus wil dan ook hierdie dag vir ons ’n dag van sekerheid maak. Die eerste dag van die res van ons lewe: die dag van sekerheid; doelgerigtheid en kragtige optrede.

Op die eerste dag van die week was die dissipels in die bokamer. Daar het hulle hulleself toegesluit. Enersyds wou hulle nie ander sien nie omdat hulle drome van ’n aardse ryk waarin hulle besonder posisies sou beklee‚ aan skerwe gelê het. Andersyds was hulle baie bang omdat hulle gehoor het dat daar in die stad gerugte versprei is dat hulle die liggaam van Jesus gesteel het – en dit was ’n ernstige misdaad wat swaar gestraf kon word. Bang sluit hulle hulleself toe en af van die wêreld.
Maar dan breek die eerste dag van die res van hulle lewe aan.
Jesus staan tussen hulle. As Hy met hulle gepraat het en van hulle af weggaan‚ is hulle nie meer bang nie. Dan kan hulle die deure oopsluit en vir die hele wêreld sê dat Jesus leef.

Vir die onder ons wat nog bang is en hulle wil afsluit van die wêreld‚ om watter rede ook al‚ beteken Sondag as die eerste dag van die res van ons lewens‚ dat ons nie meer bang hoef te wees vir mense nie. Ons hoef ons nie toe te sluit nie. Ons kan die deure oopsluit‚ die wêreld in die gesig kyk en met selfvertroue sê dat Jesus leef. Ons het Hom ontmoet! Ons leef nie meer in vrees nie. Ons is nie bang vir die wêreld nie. Ons deins nie meer terug vir al die slegte dinge en onwaarhede wat oor ons vertel word nie. Ons leef sonder vrees. Jesus het gekom en die vrees verdryf.

Op die eerste dag het Jesus aan die twyfelende Tomas verskyn en het hy nie meer getwyfel nie‚ maar kon in vaste oortuiging voluit leef. Op die eerste dag het Jesus na die sukkelende dissipels gekom toe hulle vis gevang het en het hulle sukses behaal toe hulle na Hom geluister het.

Sondag beteken dan ook vir ons wat twyfel dat Jesus ons twyfel uit die weg wil ruim; ons vrae wil antwoord en ons wil ontmoet waar ons worstel met vrae. Hy wil aan ons sekerheid gee. Hy wil ons sukkelende bestaan verander. Sy opstanding bring nuwe hoop; nuwe visie. Nou kan ons nuut na die lewe kyk. Jesus leef en verander ons lewe.

Die eerste gemeente het die gebruik gehad om op die eerste dag van die week bymekaar te kom. Dan het hulle fees gevier. Hulle het saam geëet‚ saam gebid en saam gesing. Baie van die eerste gemeentelede was baie arm. Maar op daardie dag het hulle ryk geword. Hulle beste klere aangetrek. Hulle het die beste kos saamgebring. In die week sou hulle skaars brood eet‚ maar op hierdie dag sou hulle soos konings eet. Die armes het ryk geword. Die eensames het deel van ’n groter familie geword: Die mismoediges het nuwe hoop gekry omdat hulle mekaar bemoedig het. Swaarkry het die agterste plek ingeneem. Dit was telkens vir hulle die eerste dag van die res van hulle lewe. En vir ons behoort dit ook so te wees. As ons hier bymekaarkom‚ moet eensaamheid verdwyn. Hier word ons bemoedig en versterk.

Die eerste dag was nie net die dag van die viering van die opstanding van Jesus nie‚ maar ook van die uitstorting van die Heilige Gees. Op Pinksterdag het die Heilige Gees gekom. Dit was die eerste dag van die res van hulle lewe vir almal wat die Gees ontvang het. Hy het hulle gevul. Hulle het toe verstaan wat Jesus hulle geleer het en wat Hy vir hulle beteken. Hulle het sekerheid gehad. Die Heilige Gees het hulle ook met krag gevul. Kragdadig kon hulle toe optree. Nou was hulle nie meer bang nie‚ maar die kragtige getuies. Petrus verloën Jesus nie meer uit vrees vir ’n klompie slawe en dienaars nie‚ maar sê selfs vir die Joodse Raad dat hulle hom maar kan doodmaak as hulle wil‚ maar hy sal nie swyg oor wat gebeur het nie. Paulus die vervolger word die sendeling as die Heilige Gees sy lewe vol maak. Alles het vir hom nuut geword.

Sondag is vir ons ’n feesdag.
Die dag waarop ons die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees vier. Die oorwinning oor die dood; die ewige lewe; die nuwe hoop. Dit bring mee dat ons met geloof en hoop toekomsgerig kan leef.

Sondag is die feesdag waarop ons die vervulling met die Heilige Gees vier: die Trooster en Leidsman.

Sondag is veral die dag van die verskyning van die Here. Die erediens is eintlik ’n teofanie: ’n Godsverskyning. God verskyn. Hy is hier. Hy stel Homself bekend en praat met ons. Hy steek die hand na ons uit. Hy maak alles vir ons nuut. Daarom word dit die eerste dag van die res van ons lewe. As nuwe mense gaan ons hiervandaan weg om die week te leef as antwoord op sy Woord. Vandag is die eerste dag van die res van ons lewe. Is dit vir jou so? Het alles al nuut geword?

’n Belastinginspekteur kom eendag by ’n arm Christen aan om vas te stel hoeveel belasting hy moet betaal.

“Watter besittings het jy?” vra die gaarder.

“Ek is regtig baie ryk‚” antwoord die Christen.

“Gee my ’n lys van jou besittings‚ asseblief‚” wil die agent weet.

Die Christen antwoord:
  1. Ek het die ewige lewe‚ Joh. 3:16;
  2. Ek het ’n huis in die hemel‚ Joh. 14:2;
  3. Ek het vrede wat alle verstand te bowe gaan‚ Fil. 4:7;
  4. Ek het onuitspreeklik vreugde‚ 1 Pet. 1:8;
  5. Ek het liefde wat nie vergaan nie‚ 1 Kor. 13:8;
  6. Ek het ’n getroue en vlytige vrou‚ Spr. 31:10;
  7. Ek het gesonde en gehoorsame kinders‚ Eks. 20:12;
  8. Ek het goeie en betroubare vriende‚ Spr. 18:24;
  9. Ek het liedere in die nag‚ Ps. 42:9;
  10. Ek het die kroon van die lewe‚ Jak. 1:12
Die agent maak sy boek toe en sê: “Meneer‚ jy is waarlik skatryk‚ maar jou rykdom is nie belasbaar nie.”

Amen

Ds. Hentie Krüger
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za

Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.

Oggenddiens – 26 Junie 2005