|
Preek:
|
18 Junie 2000 te Gereformeerde Kerk Lyttelton
|
|
Lees:
|
Efesiërs 5:21-6:9 en Hosea 14:6
|
|
Teks:
|
Efesiërs 5:21‚ 22; 28-30 en Hosea 14:6
|
|
Tema:
|
Liefdevolle onderdanigheid en onderdanige liefde
|
HIERDIE gedeelte uit Efesiërs word die huistafel genoem omdat dit die verhoudinge rondom die huistafel behandel: die man-vrou‚ ouer-kind en eienaar-slaaf verhouding. Martin Luther het in sy Klein Kategismus ook ’n “huistafel” gehad en daarin die reëls vir die Christelike lewe in en om die huis verduidelik. Hierdie huistafel van Paulus het moontlik ook aangesluit by bestaande huistafels in daardie tyd wat moontlik ook gebruik is in die opvoeding van kinders. Hy gee natuurlik ’n eie unieke inhoud aan sy huistafel.
Die opskrif bokant alles wat Paulus oor hierdie sake te sê het‚ is: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” En as ek dan hierdie gedeelte reg verstaan‚ behoort ’n huwelik die simbool te wees van die verhouding tussen Christus en sy kerk. Ek glo dat trou in ’n huwelik die weerspieëling is van God se trou in hierdie wêreld. Waar huwelike hierdie trou vertoon‚ is dit ook vir hulle wat daar buite staan‚ ’n wonderlike aanmoediging om te kom deel in die vreugde van ’n huwelik wat gebou is op God se trou.
Dit beteken dat ek en jy opnuut sal moet aandag gee aan ons huwelikslewe. Ons sal die gesindheid van Christus daarin moet openbaar. Ons sal in ons daaglikse verhoudings moet wys ons glo dat ons saam onder die heerskappy van die Here staan. En Hy is die Een wat sy lewe vir ons afgelê het sodat ons sy bruid kon word. Dís getrouheid. Dit is wat by die huwelik hoort.
En tog lees ek van ’n psigiater in Gauteng wat vertel van sy ervaring van hoe die samelewing al hoe sieker word:
- Tienerselfmoord word meer.
- Verslawing neem toe.
- Gesinsgeweld en kindermolestering word algemeen
- Dit word al hoe moeiliker om mekaar te verstaan‚ omdat ons uit sulke geweldige moeilike ingewikkelde gesinsisteme kom.
Hy voorspel dat ons nóg moeiliker tye kan verwag.
Die geslag wat uit súlke huise kom‚ is die opkomende ouers van môre. Dis die mense in wie se hande die gesinstabiliteit van die volgende geslag lê. En moenie dink jy kan ’n kind ’n rat voor die oë draai nie. Soos jy doen‚ sal jou kinders doen:
- Die een oomblik vertel ek breedsprakig in ’n geselskap hoe ek iemand gekul het‚ maar die volgende oomblik sê ek vir my kind: Jy mag nie steel nie.
- Die een oomblik vertel ons hoe simpel die kerk en sy ampsdraers is‚ maar die volgende oomblik verplig ek my kind om kerk toe te gaan.
- Die een oomblik sit ons in die kerk – ’n goeie voorbeeld – maar die volgende oomblik leef ons asof God nie bestaan nie.
- Die een oomblik word ons baie kwaad as ons kinders dronk raak‚ maar by die werkspartytjie kan ons onsself nie bedwing nie.
- Die een oomblik sê ons dat ons God bo alles liefhet‚ maar die volgende oomblik sien ons kinders dat ons ons motor‚ werk‚ sport‚ geld‚ status baie meer liefhet as vir God.
Hoef ek aan te gaan? Daarom moet ons met groot aandag luister na wat God van ons in die huwelik verwag.
Wat beteken dit as vroue tot onderdanigheid aangespoor word? Sou dit beteken dat Paulus eintlik maar die vrou sien as die slaaf en ondergeskikte terwyl die man die alleenheerser in die huis moet wees?
Nee
! Hoewel daar ’n duidelike rolverdeling in hierdie gedeelte tussen man en vrou na vore tree‚ is dit ’n gelykwaardige verhouding. Hoekom sê ons so? Omdat hier staan
“soos julle aan die Here onderdanig is.” Die verwysing na die verhouding tussen Christus en sy gemeente maak dit nog duideliker dat die vrou nie hier as ’n slaaf van die man gesien word nie. Die gemeente is immers nie die slaaf van Christus nie‚ maar sy bruid wat vrywillig en met blydskap reageer op die Bruidegom se liefde deur aan Hom onderdanig te wees.
Die hoofskap van Christus is tog nooit vir die gemeente ’n bedreiging nie. Inteendeel‚ die hoofskap van die Here kom die gemeente ten goede. Christus is nie ’n tiran-hoof nie‚ maar ’n
Verlosser-hoof (vers 23). Die voorveronderstelling van hierdie oproep tot die vrou is dat sy aan ’n man verbonde is wat‚ soos Christus‚ ’n verlosser-hoof is en homself dus vir haar oorgee (vers 25).
Die gemeente is nie geroep om traag en brommend ’n slawerol te speel nie‚ maar om haar hoogste geluk daarin te vind om Christus Here en Hoof te laat wees. So vind die Christenvrou haar hoogste geluk daarin dat sy haar man hoof kan laat wees en kan laat bly.
Aan die begin is gesê dat die sin
“Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig”‚ ’n opskrif vir die hele gedeelte is. Dit is egter nie die volle waarheid nie. Hierdie is eerder ’n sub-opskrif. Die eintlike opskrif is die oproep van vers 18:
“… laat die Gees julle vervul …” Daarom moet ons dit goed verstaan dat dit alleen moontlik is om ’n gesindheid van onderdanigheid te hê‚ indien ons aan hierdie oproep gehoorsaam is en onsself
elke dag onder beheer van die Heilige Gees te plaas. Laat ons dus nie in die eerste plek probeer om onderdanig te wees nie. Ons sal dit in elk geval nie regkry nie. Ons sondige aard dikteer vir ons die teenoorgestelde gesindheid. Laat ons ons eerder aan God
oorgee‚ en Hy skep in ons die moontlikheid om onderdanig te wil wees‚ dus om gelukkig getroud te wees.
Wat beteken ’n gesindheid van onderdanigheid vir die man in die huweliksverhouding? Doodeenvoudig: liefde! Tog is dit nie so eenvoudig nie. Slegs as ons Bybelse inhoud aan die begrip “liefde” gee‚ word dit
onderdanige liefde. Van hierdie liefde kan drie dinge gesê word:
Een‚
dit is ’n vanselfsprekendheid. “Soos hulle eie liggame” moet die mans hulle vroue liefhê (vers 28). Eintlik is dit beter om die “soos” liewer met “as” te vervang. Dan sal dit lees: “Die mans behoort hulle vrouens (asof dit hulle eie liggame is) lief te hê.” Soos wat Christus en sy bruid (kerk) so één is dat die kerk sy liggaam is‚ so is die eenheid tussen ’n man en sy vrou van so ’n aard dat die vrou as die liggaam van die man beskou word. Hierdie eenheid word veral beleef in die geslagsverkeer tussen man en vrou wanneer hulle byna letterlik een liggaam word. Maar onder alle omstandighede word die man geroep om sy vrou te sien en te behandel asof sy‚ sy eie liggaam is.
Ongelukkig is dit so dat mans (ook Christen-mans!) soms hulle vroue‚ wat so goed soos hulle eie liggame is‚ nie liefhet nie. Dit is so onverklaarbaar soos iemand wat ophou om sy eie liggaam te voed en te versorg. Die sonde is die enigste “verklaring” vir so ’n verskynsel. Maar omdat die sonde in hierdie wêreld ’n werklikheid is‚ volstaan Paulus nie maar met die gedagte dat die liefde eintlik vanselfsprekend is nie. Dit is vir elke man ook
’n opdrag en
’n roeping.
In Efesiërs 5:22 staan ’n duidelike opdrag: “Mans julle moet julle vrouens liefhê …” Hierdie bevelsvorm is selfs nog sterker in vers 28 “Die mans behoort hulle vrouens … lief te hê …” Op die man rus daar
’n verpligting om sy vrou lief te hê.
Want sien‚ ware liefde is nie slegs mooi woorde of ’n warm
gevoel nie. Dit is
’n daad – ’n daad van selfoorgawe‚ ’n opoffering. Natuurlik is die gevoel of emosies van die grootste belang‚ maar hier word gepraat met mense wat reeds teenoor mekaar erken het dat hulle sulke mooi gevoelens vir mekaar koester. Liefde word eers werklik die naam “liefde” waardig‚ wanneer dit sigbaar word in dade. Hierdie liefdesdade kom nie sommer vanself nie‚ want ons sondige natuur dikteer vir ons om al ons energie net op onsself uit te stort. Daarom word ons vermaan en opgeroep om “soos Christus die kerk liefgehad en Sy lewe daarvoor afgelê het”‚ ook ons vroue lief te hê en dus onsself op te offer ter wille van hulle.
Waar ’n man en ’n vrou só liefhet en bereid is om opofferings vir haar te maak‚ is dit nie vir haar moeilik om aan hom onderdanig te wees nie. En dan werk dit in ’n aangename sirkel: as sy onderdanig is‚ is dit vir hom maklik om haar lief te hê met selfopofferende dade.
In die
derde plek is hierdie liefde ook ’n verheffing. Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat Christus homself vir Sy kerk met ’n doel gegee het: om die kerk te reinig (26)‚ maar ook “sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem‚ sonder vlek of rimpel of iets dergeliks‚ heilig en onberispelik” (27).
Sien jy op watter wyse is Hy met sy bruid besig? Die uiteinde van Sy betrokkenheid by haar‚ sal wees dat sy geen tekens van ouderdom sal toon nie. Eenmaal sal al die vlekke of rimpels weg wees. So behoort ’n vrou onder die hoofskap van haar man nie te krepeer nie‚ maar te floreer. ’n Man wat werklik liefhet se liefde verhef sy lewensmaat; dit bring die skone in haar na vore; dit wil nooit verneder nie‚ maar altyd vereer.
Daar is ongelukkig mans wat die oorsaak is vir hulle vrouens se rimpels en dowwe oë; mans wie se vroue lank voordat hulle oud geword het‚ al lewensmoeg is. Mans wat nie weet wat dit beteken om lief te hê met selfopoffering nie en daarom nie in staat is om ’n lewensmaat te verhef nie. Iemand het gesê ’n man is in sy wese egoïsties. Dit is natuurlik ook waar van die vrou omdat man én vrou sondaars is. Die feit is dat ons in wese selfsugtig is en daarom is dit alleen moontlik om onselfsugtig lief te hê‚ as Hy ons daartoe vernuwe. Slegs deur vervulling met die Heilige Gees kan ’n egosentriese‚ hovaardige en eiegeregtige man (mens) daartoe kom om sy vrou met selfopoffering lief te hê.
Daarom is Hosea 14:6 net so relevant vir ons huwelik omdat God in hierdie boek ook praat oor Sy huwelik met die volk. En in Hosea vertel God ook vir ons hoe Hy die huwelik‚ ja‚ ook ons s’n bedoel het. Hosea 14:6 is dus in die eerste plek ’n woord oor God se huwelik met sy volk en ’n aanduiding van hoe ons s’n moet wees.
Ek sal vir Israel wees soos die dou. Hy sal bloei soos ’n lelie en hy sal so vas staan soos die Libanon.
In die huwelik moet ons vir mekaar soos die dou wees. Hoor u weer? Ons taak is nie groot nie. Daarom hoef ons nie soos die reën en die sneeu te wees nie. Wees maar net ’n paar klein druppels dou vir jou huweliksmaat‚ en dit is genoeg. Dan blink ons huwelik soos die gras vol dou in die môreson.
Wat beteken dit om vir iemand soos die dou te wees? ’n Mens kan dit aflei as jy aan Palestina se dou dink. Veral twee dinge val op.
Eerstens is dou die getrouste saak op aarde: of dit Januarie of Julie is‚ of daar nou oorlog of vrede heers‚ of jy dit nou raaksien of nie – as daar nie wolke is nie‚ is die dou vannag daar. En net so getrou soos die dou moet ek ten opsigte van my huweliksmaat wees – getrou in die kleine en in die grote‚ getrou in morele sake en in opsionele sake én getrou aan my keuse.
Ek kan nie later ontdek dat ek ’n foutiewe keuse gemaak het omdat ek nou iemand gevind het wat beter in my smaak val nie. Dit is interessant dat die Bybel die liefde bevéél‚ natuurlik nie vóór my huwelik nie‚ maar beslis daarná. Vóór my huwelik kies ek wie ek gaan liefhê‚ maar ná my huwelik het ek dié een lief wat ek gekies het. Dan móét ek liefhê‚ dan is dit ’n gebod: Joh. 13:34; Ef. 5:25!
Die tweede opsig waarin dou met die huwelik in verband staan‚ is dat dou laat groei. In Palestina val daar op plekke byna géén reën nie‚ en tog staan die bome in die somer boordevol vrugte en die struike armsvol blomme – omdat die dou wat val‚ laat groei en bloei.
Dan word ons huwelik ’n fees: as ons vir mekaar soos die dou is en mekaar laat uitgroei en laat opbloei tot die vrye en blye mense wat God ons oorspronklik bedoel het om te wees. Dis ook daarom dat God ons as huweliksmaats by mekaar bring‚ sodat ons ménse van mekaar kan maak.
Die belangstelling wat ons gedurende ons verlowingstyd vir mekaar gekoester het‚ moet ons in ons huwelikstyd in dade omsit en mekaar begin bou en sodoende laat groei. As ek as man my vrou konsidereer en waardeer en idealiseer‚ en as ek haar raaksien en probeer verstaan‚ na haar luister as sy praat‚ as ek haar prys en bedank en belangrik maak‚ dan bly sy net so mooi soos altyd en staan sy deur dik en dun by my – én andersom. As ek my vrou begin kritiseer en vergeet en verstoot‚ dan is ek dom en nalatig. Want dan weerhou ek die dou‚ die noodsaaklike groeikrag van haar en sal sy kwyn‚ en my tuin‚ my huwelik én ek gaan skade ly – en andersom (sy ten opsigte van my).
Besef u waarop dit alles aankom? Daarop dat ek in my huwelik ’n Christen moet wees. Dit is die geheim wat Paulus ons in Efesiërs 5 meedeel. As ek ander vroue galant en begrypend behandel‚ vir hulle stoele nader trek en deure oopmaak‚ met hulle gesels en in hulle geesgenote vind en ek doen dit nie met my eie vrou (en andersom met my eie man) nie‚ dan verstaan ek nog nie die liefde nie.
Ten slotte twee vrae: Eerstens aan die manne: Is jou vrou ’n blommende lelie (Hosea 14:6)? Nie? – dan sal u die hand in eie boesem moet steek en moet ontdek dat hierdie lelie sonder dou moes leef. Gee dit aan haar. Tweedens aan die vroue: Is jou man standvastig soos die berg Libanon (Hosea 14:6)? Nie? – dis die dou wat van jou kant ontbreek. Begin weer en wees vir jou lewensmaat soos die dou. Sodoende sal jy die feesvure in jou huwelik aanblaas‚ die feesvreugde laat opvlam.
Ek is soos ’n groen sipres. Alles wat jy het‚ sal van My af kom (14:9). Met hierdie beeld van die groen sipres in vers 9 wil die Here vir ons sê dat die boom die simbool is van dit wat lewe gee. Hier is dit dubbel gelaai met betekenis want dit staan teenoor die bome wat so belangrik was in die Baälkultus. Die Here sê dus hier‚ Ek alleen‚ as die almagtige God is die enigste bron van vrugbaarheid en nuwe lewe. Ék is vir julle soos ’n groen sipres.
Dit word deesdae opnuut beklemtoon dat die boom ’n baie belangrike skakel in die ekologiese ketting is. ’n Boom gee nie net woonplek aan voëls en ander diere nie‚ maar daar is werklik ’n hele mikrokosmos van insekte en mikro-organismes in en onder die boom aanwesig.
As God sê dat Hy vir ons soos ’n boom is‚ bedoel hy daarmee dat Hy in al ons behoeftes wil voorsien. Die God wie se liefde vertrap word deur die ontrou van sy kinders‚ sal nie met woede ingryp nie (11:9)‚ maar vir hulle wees soos ’n groen sipres. Hy wat hulle eintlik in sy toorn moes verdelg oor die owerspel wat hulle op die heuwels onder die bome van Baäl gepleeg het‚ het hulle so lief dat Hy eerder self vir hulle ’n boom word.
Mag God ook met sy liefde ons oorwin sodat ons uit Hom en deur Hom en tot Hom sal lewe …
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.