Preek:

19 September 2004 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Daniël 1

Teks:

Daniël 1:3‚ 4 en Romeine 8:31-39

Tema:

Meer as oorwinnaars?


AS daar een mens was wat met reg kon vra: “Wat maak ek hier?” dan was dit Daniël. Soos ons in die boek Daniël vertel word‚ is hy gebore as lid van Jerusalem se bokantklas van rykes en vernames (Dan. 1:3-4). Sy stad‚ sou hy van kleins af gehoor het‚ is die Godstad‚ Sion‚ wat nooit vernietig sal word nie. Rondom Jerusalem is berge‚ so is die Here rondom sy volk‚ het Psalm 125:2 hulle verseker. Hoog bo dié stad het die tempel getroon‚ die woonplek van die Here. Daar is die Here geprys‚ offers gebring‚ en tot die God van hemel en aarde gebid. ’n Veilige wêreld‚ dié wêreld wat Daniël geken het – ’n wêreld waar jy beskut kon voel wanneer die woestynwind begin waai.

Daniël het dit dus nie sleg getref met plek nie‚ sou jy kon dink. Maar met tyd kon dié amperse yuppie uit Jerusalem kwalik slegter gevaar het. Want nog voor hy die plesiere van ’n bevoorregte lewe behoorlik kon begin geniet‚ het die woestynwind Jerusalem platgewaai. Nebukadneser van Babel het die stad ingeneem‚ die koning van Juda en sy vernaamste onderdane in ballingskap weggesleep‚ en die tempelskatte gesteel om sy eie god se tempel te versier (2 Kon. 25). Die verwoestende wind het ook vir Daniël en sy vriende opgetel en in die paleis in Babel gaan neersmyt.

Nou is die koning van Babel se paleis seker nie die slegste plek vir ’n balling om in te beland nie: Jy kry koningskos‚ goeie geleerdheid‚ die kans op ’n loopbaan wat jou na hoë plekke kan vat. Nie te sleg vir ’n Joodjie uit ’n verloorvolk nie. Al wat in ruil gevra is‚ was dat jy moet saamspeel‚ moet inpas. Jy moes eet wat vir jou voorgesit word‚ sluk wat jou geleer word‚ doen wat van jou verwag word. En dis toe net daar dat Daniël sê: Aikona! Ek wil nie. En dit nogal oor kos. Gee my groente en water‚ vra Daniël‚ ek sien nie kans vir julle koningskos‚ julle vleis en wyn nie.

Daniël‚ so lyk dit‚ is gebore op die verkeerde tyd‚ en toe deur die wind neergegooi op die verkeerde plek. Maar toe skop hy vas en weier om by dié plek en tyd in te pas. En hy protesteer met ’n gekibbel oor wat hy sal eet en sal drink‚ en wat nie. ’n Mens kan wel wonder of dit nou wys was – of sommer net eiewys? Die storie sê vir ons: Met sy aandrang op groente en water was Daniël besig om ’n antwoord uit te werk op die vraag na God se wil vir hom‚ juis op daardie tyd en plek.

Daniël se verhaal gaan oor oorlewing as die woestynwind waai.

Daniël is gebore in ’n wêreld waar hy ’n goeie kans gehad het om ’n wenner te word. Maar nou was sy koning en sy volk‚ en hy saam met hulle‚ totale verloorders. Maar dit was nog nie die ergste nie. In Jerusalem kon jy nog in die tempel staan en sing dat die Here regeer. Nie dat die mense van Jerusalem altyd danig gehoorsaam was aan die Here nie‚ maar tog. Daar was die tempel van die Here‚ met die ark in die Allerheiligste‚ die troon van die Here. In die tempel kon hulle sing: “As God verskyn‚ spat sy vyande uitmekaar” (Ps. 68:2). Maar nou het Nebukadneser die Here se tempelskatte kom wegvat Babel toe. En nou lyk die Here ook soos ’n verloorder‚ en die gode van Babel soos wenners.

Dit is die wêreld waarin Daniël moes oorleef ’n wêreld waarin dit gelyk het asof die Here nie belangrik is nie. In Babel het die God van Israel maar min gewig gedra. Ander gode‚ ander magte‚ het veel belangriker gelyk‚ asof hulle meer vir jou kon doen. Die maklikste pad sou wees om van die Here te vergeet en jou lot in te werp by die gode van Babel. Dit sou die slimste ding wees vir ’n Jood wat iewers wou kom in die harde wêreld van ballingskap waarin die woestynwind hom neergegooi het.

Maar Daniël‚ só kom ons uit sy storie agter‚ het nie kans gesien vir die maklikste pad nie. Dit was nie die pad vir hom nie‚ want hy was God se mens. Dié boodskap het hy klein-klein al saam met sy besnydenis gekry. En dit het hom nooit gelos nie.

Die groot vraag waaroor dit vir Daniël gegaan het‚ was dus: Hoe oorleef ’n mens as God se mens in ’n wêreld waarin dit lyk asof God nie saak maak nie? En wanneer óns ook nadink oor God se wil en ek‚ in hierdie tyd en op hierdie plek‚ moet ons van die begin af besef hoe maklik dit vir ons is om “God” uit hierdie viertal weg te dink.

Want ook ons leef in ’n wêreld waar dit lyk asof God nie juis in tel is nie. Miljoene mense glo nie in Hom nie‚ en dit lyk asof hulle jollie lekker lewe. Nog miljoene glo‚ maar steur hulle nie veel aan Hom nie. God maak nie veel verskil aan hulle doen en late nie. Hulle leef ook lekker‚ lyk dit. Jy sal in elk geval nooit die verskil agterkom tussen hulle en die ouens wat glad nie glo nie. Al hierdie mense bou ’n wêreld waarin jy gemaklik kan leef asof God nie daar is nie. Jy kan jou week deur ploeter sonder dat iets jou ooit aan God herinner. Al wanneer jy dalk sy Naam hoor‚ is wanneer ’n karakter in ’n TV fliek vloek.

Dit lyk asof ander magte sterker is as God‚ ander dinge belangriker is as geloof. Maar jý glo jy is God se mens; jý glo God maak saak. Hoe oorleef mense soos ek en jy dan in hierdie wêreld? Hoe oorleef ons in ’n God-lose wêreld‚ wat boonop allesbehalwe ’n mens-vriendelike plek is?

Daniël het bloot in die paleis beland omdat hy deur ’n amptenaar van die koning vir die eer gekies is op grond van die feit dat hy manlik was‚ en mooi‚ gesond en slim. Dit was die vereistes wat Nebukadneser gestel het. Niemand het gevra of die koning se vereistes billik en menslik was nie. Hy was koning en kon daarom enigiets eis. Hy was die wenner hier‚ onthou? Wat moes hy met meisiekinders maak? Of met lelike gesigte in sy mooi paleis? Om van siekes en lammes nie te praat nie. Nee wat‚ met dommes en sukkelendes kon die koning nie veel doen nie. Hy het brein- en liggaamskrag gesoek. Bruikbaarheid.

Daniël was in omdat hy voldoen het aan al hierdie vereistes. Maar moenie dink hy was veilig nie. Toe Daniël sy vreemde eetplan voorstel‚ was die burokraat in beheer te bang om ja te sê: As julle nie so goed lyk soos die ander jongmanne nie‚ nie lekker op kondisie is nie‚ so het hy seker gesê‚ is ek in die sop by die koning! Daniël moet inpas en saamspeel‚ anders was hy dalk gou weer uit. In ’n wêreld van hoë eise moes hy staanplek kry en staanplek hou. En dit sou die swaard bo sy kop bly: Pas in‚ hou by – of kry jou ry.

Dit is die tweede vraag waaroor dit in hierdie storie gaan: Hoe oorleef ’n mens in ’n wêreld wat dikwels onmenslik hoë eise stel; in ’n tyd en op ’n plek wat nie omgee vir jou menswees nie?

In elke samelewing is daar die mense wat die kitaar slaan‚ wat die mag het om vereistes te stel. As jy een van dié groep is‚ het jy nie ’n probleem nie. So was oorlewing ook nie vir Daniël ’n kwessie toe hy nog veilig in Jerusalem deel van die bolaag van die bevolking was nie. Maar in Babel het dit ’n pynlike kwessie geword‚ omdat ander mense nou die reëls gemaak het.

Ons samelewing is ’n warboel van verskillende stelle reëls en vereistes. Elke advertensie sê: Om in te wees‚ moet jy kan koop wat jou hart begeer‚ jy moet jonk en mooi en maer en oulik wees. Ons vertel ons kinders: As jy iewers wil kom in die wêreld‚ beter jy hard werk‚ ondernemingsgees hê‚ geld maak‚ en kwalifikasies kry waarmee jy oorsee kan gaan. Hoërskoolkinders het al vir my gesê: “Ons is bang om uit die skool te gaan‚ want grootmense praat ons so bang oor hoe moeilik die wêreld daar buite is. Ons is bang ons kry nie werk nie; of as ons kry‚ dat ons dit nie gaan maak nie.”

Elke tyd en plek het sy eie vereistes. Daar is mans wat reëls maak vir hulle vrouens: Jy moet op jou plek wees‚ maak soos ek sê‚ goed in die kombuis‚ mooi versorg en spaarsaam met die geld. Pas in‚ of jy is uit. Daar is ook reëls vir mans: Jy moet alles kan hanteer‚ nooit swakheid wys nie‚ nooit huil of sukkel nie. As jy swaar kry‚ steek dit weg. As jy jou werk verloor‚ moet dit vir niemand vertel nie. Dan is jy ’n man!

Vir beide geslagte is dié vereistes meestal hard. Dit vee jou menswees uit die pad. “Jammer‚ maar u voldoen nie aan ons vereistes vir die pos van ontvangspersoon nie.” (Of liewer: Ons soek iemand wat jonk en mooi en maer is‚ van wie die kliënte dadelik sal hou. Jy is te oud‚ te rond‚ te onaantreklik.) As méns tel jy dus nie. Jy is amper nie meer mens nie. Jy is nog net ’n stel eienskappe wat geweeg en dikwels te lig (of te swaar!) bevind word.

So was dit ook met Daniël-hulle in Babel. Hy en sy vriende was skaars daar‚ of hulle hoor hulle Judese name is nie meer goed nie‚ en hulle kry nuwes. Vir ons is dit nie juis ’n so ’n groot saak nie‚ want ’n naam is ’n naam: ’n gerieflike etiket. Jou naam is dalk Piet‚ maar dit kon net sowel Koos gewees het. Maar in Daniël se tyd het hulle anders gedink oor name. ’n Mens se naam het ’n storie vertel. Dit het gesê wie jy is‚ waar jy vandaan kom‚ wat jy glo. Jou naam was jou identiteit‚ dit was jy. As iemand vir jou omgegee het‚ het hy dit gewys met respek vir jou naam.

Aan dié tradisie het die mense in Babel hulle nie gesteur nie. Daniël se naam het nie lekker op Babelse ore geval nie; ook nie Gananja‚ Misael en Asarja nie. Dus is hulle name weggevee en vervang deur meer bruikbare Babelse etikette. Hulle identiteit is platgestryk‚ hulle het ’n nuwe identiteit gekry – een wat lekker sou inpas met die Babelse paleisagtergrond. Babel het vere gevoel vir wie hulle was‚ wat hulle storie was. Hulle drome en vrese‚ plesier en pyn‚ geloof en twyfel het in Babel glad nie punte getel nie. Net hulle bruikbaarheid.

Hoe oorleef ’n mens in ’n wêreld wat nie vir jou omgee nie? Tyd en plek kan soos stoomrollers oor jou identiteit loop‚ jou platdruk totdat jy inpas. En dan bly daar niks oor van jou andersheid nie. Tyd en plek kan saamspan om van jou ’n mens sonder naam te maak. Dan word die vraag: Hoe klou jy aan jou naam vas?

Om jouself te wees. Om mens te wees. Om God se mens te wees. Dit is die uitdagings waarvoor tyd en plek jou stel.

Die antwoord lê nie daarin dat ons moet opklim uit tyd en plek nie. Ons moet inklim. Dit is in die lekker en lelik van die plek waar ek is‚ in die vrolikheid en verskrikkinge van die tyd waarin ek leef‚ dat ek God teëkom. En in die proses ontdek ek myself as God se mens.

Weet ek‚ in Jesus Christus is ek meer as ’n oorwinnaar is ek oortuig dat niks my van God se liefde kan skei nie.

Wat maak jou bang? Wat knaag aan jou? Wat laat jou sleg slaap? Is dit die lading werk wat lê en wag? Die toestand van jou bankbalans? Die feit dat jou kinders hierdie jaar die harde wêreld ingelanseer moet word? Kyk‚ van die onsekerhede kan ons seker wees: dit kan nie weggewens word nie. Maar as dit dan op jou móét neerreën‚ sê die volgende vir jouself oor en oor as ’n refrein van versekering: Niks! Niks! Niks is groot of sterk genoeg om my van die liefde van God te skei nie. Hiervan is ek oortuig. Ek bevind my in absolute sekerheid.

’n Mens kan ongelukkig ook dit‚ soos alle ander goeie dinge in die Bybel‚ verkeerd verstaan. Jy sou die anker op die verkeerde plek kon uitgooi. Let wel: hierdie sekerheid het wel te make met my gemoedstoestand‚ maar oorskry dit ook verreweg. Dis baie meer as net ’n geborge gevoel of ’n goeie bui. Dit bang nie af van die gelykmatigheid van my hartklop nie. Trouens‚ is ons hart‚ dit wil sê ons innerlike mens‚ nie bedriegliker as enigiets anders nie? (Vgl. Jer. 17:9). Hierdie sekerheid is daarom nie iets wat ek het‚ in dié sin dat dit nou ’n wesenlike kenmerk van my menslike natuur word nie. Dis eerder iets wat telkens aan my geskenk moet word‚ elke oggend nuut en vars as gawe uit God se hand. Dis iets waarvan ek telkens oortuig moet word‚ waarin ek my elke keer weer nuut mag bevind‚ omdat God my daarin plaas.

Anders gesê: sekerheid‚ in die Christelike sin van die woord‚ lê buite myself‚ lê geanker in die objektiewe heilsdade van God‚ en in die besonder sy heilsdade in Christus. My sekerheid lê in die geboorte‚ lewe‚ lyding‚ kruisdood‚ opstanding en verheerliking van Jesus. Immers‚ Hy het sy eie Seun nie gespaar nie‚ maar Hom oorgelewer om ons almal te red … Christus Jesus het gesterf‚ maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek Hy sit aan die regterhand van God‚ Hy pleit vir ons (v 32‚ 34). Alleen daarom het ek op hierdie oomblik absolute sekerheid.

Die anker van my sekerheid is buite die skommelende bootjie van my onseker bestaan uitgewerp. Wie is in elk geval dwaas genoeg om die anker in die bootjie self te wil gooi? My sekerheid is geanker in die onverganklike liefde van God‚ in dit wat die sentrum van die heelal is‚ in dit wat nooit vergaan nie‚ wat ewig is‚ in die nie-wispelturige‚ bestendige‚ duursame‚ betroubare‚ onwankelbare wese van God; ja‚ is geanker in God self. Laat die storms maar kom‚ laat die bootjie maar skommel‚ laat die sirenes maar loei en die bomme maar val‚ laat alles maar verander en alles maar vergaan; God se liefde bly staan.

Sal ons siek word? Dalk. Sal ons en ons kinders in ’n krisis gedompel word? Moontlik. Sal ons net nog ’n stukkie misdaadstatistiek word? Miskien. Sal al ons mooi drome‚ ons goeie voornemens stukkend gebreek word? Waarskynlik. Van niks in my lewe is ek seker nie.

Maar niks kan my van die liefde van God skei nie. In Christus is ek meer as ’n oorwinnaar!

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.