Preek:

23 Oktober 2005 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Genesis 16

Teks:

Genesis 16:8

Tema:

Noodoplossings – werk dit?


DIT HET waarskynlik al met jou ook gebeur dat jy ten spyte van jou opregte geloof in die Here en ten spyte van die feit dat jy wéét wat God se wil vir jou lewe is‚ nógtans jou eie koers inslaan. Die voortdurende stryd tussen belofte en omstandighede word by tye vir jou te veel. Jy wil maar self probeer plan maak met jou omstandighede. Nou wil jy darem ook nie God se plan en wil vir jou lewe so sonder seremonie oorboord gooi nie. Gewoonlik probeer ’n mens dan ter wille van jou gewete‚ jou eie planne met so ’n bietjie vroom godsdienstigheid inkleur. Om dit anders te sê: Ons doen op ’n mooi beskaafde‚ byna “Christelike” manier sonde!

Met so ’n verfynde sonde het ons in Genesis 16 te doen. Hierdie stukkie heilsgeskiedenis is propvol avontuur en aksie. Hier word mense ontmasker. Hier het ons te doen met mense wat deur baie woelinge en intriges probeer om God se beplanning oor te neem. Die verhaal hier vertel van kleingeloof‚ maar ook van ’n genadige God wat luister en raaksien ten spyte van mense se doofheid en blindheid. Uiteindelik bring die verhaal ons voor ’n krisis.

Hierdie verhaal van ’n Oosterse familielewe‚ is vir ons mense van die 20ste eeu baie vreemd en lê eintlik buite ons gesigskring. Maar ons moet hierdie verhaal lees teen die agtergrond van die ou wetgewing van Hammurabi‚ wat gegeld het in die land waar Abraham en Sara gebore was. Daarin word onder andere bepaal‚ dat ’n kinderlose vrou die reg gehad het om een van haar slavinne aan haar man te gee en dat die kind wat dan uit daardie gemeenskap gebore word‚ deur die ander vrou aangeneem word as haar eie. Die slavin moes die kind afstaan‚ maar verbeter self aanmerklik in posisie.

God het vir Abraham ’n ryke nakomelingskap beloof‚ ja‚ so talryk soos die sterre aan die hemel. Maar ’n kind word daar nie in die tent van die aartsvader gebore nie. En Abraham‚ ook maar mens‚ word moeg van al die wag en hoop. Toe God na baie jare nog nie sy Woord in vervulling laat gaan nie‚ het die nugtere Sara met hom gepraat en gesê: “Abraham‚ wees nugter en verstandig en doen wat enige ander mens in ons geval sou doen. Soek ’n oplossing nader aan ons. Waarom moet jy nou die grote en ongewone verwag‚ wat tog nie gebeur nie? Jy kan God tog nie forseer nie! Ek het ’n Egiptiese slavin‚ neem haar!”

En Abraham aanvaar hier ongeduldige oplossing. Hy luister na die stem van sy praktiese vrou‚ in plaas van om aan die herhaalde beloftes van God vas te hou. Hagar word die gemaklike uitweg. En toe hy dit doen‚ toe begin die moeilikhede eers. En die Bybel teken geen verhewe beeld van die gesinslewe van die vader van alle gelowiges nie. Jaloersheid‚ twis‚ geniepsige opmerkings‚ maak die daaglikse samesyn ’n marteling.

Hagar weet dat sy die moeder van die aanstaande erfgenaam is‚ en wil dan ook dienooreenkomstig behandel word. Sy wil Sara so stil stil opsy skuif. In haar hart verag sy vir Sara. Op haar beurt weer voel Sara‚ tereg‚ heeltemal gekrenk en bekla haar lot by haar man. “Die onreg my aangedoen‚ is op jou! Ek self het my slavin in jou skoot gegee‚ en nou dat sy sien dat sy swanger is‚ het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die Here oordeel tussen my en jou.”

En dan beroep Sara haar op dieselfde wette van Hammurabi‚ waarin bepaal word‚ dat ’n slavin by dergelike konflikte weer tot haar volle diensbaarheid teruggebring kan word. En Abraham gee vir Sara ’n vry hand: “… doen met haar soos dit goed is in jou oë.” Dit is presies wat sy wou gehad het en dankbaar maak sy van die toestemming van haar man gebruik om vir Hagar te verneder. Toe het Sara haar sleg behandel‚ ja soveel so‚ dat Hagar van haar af weggevlug het. Wat presies gebeur het‚ weet ons nie‚ maar wat ons wel weet is dat die lewe vir haar ondraaglik geword het en dat sy ten spyte van haar toestand op die vlug geslaan het.

Hagar se vlugroete lei na die onherbergsame woestyn. En daar verskyn die Here aan haar. By wyse van die Engel van die Verbond ontmoet God die hawelose en moedelose vrou. En hier by die fontein in die woestyn‚ vra die Engel aan haar twee eenvoudige vrae: “Hagar‚ slavin van Sara waar kom jy vandaan‚ en waar gaan jy heen?”

Vanwaar – en waarheen?

Ja‚ ek het gevlug uit dit wat vir my na “hel” gevoel het‚ maar nou kom ek in ’n nuwe “hel.” Want in Egipte het niemand haar nodig nie‚ daar sal sy maar net nog ’n slavin met ’n kind wees‚ een van baie in hierdie harde wêreld. Maar om daar uit te kom moet sy nog eers ’n ander verskrikking deurgaan‚ nl. deur die dorre en doodse woestyn van Sur. En nou het God hierdie vrou in haar doodsjag gestuit. Ja‚ Hy is barmhartig‚ maar Hy spaar haar nie. Ons hoor nie ’n woord van medelye nie.

Inteendeel‚ die Engel beveel haar: “Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande.” Vir ons gevoel is dit ’n bietjie hard nê? Hy plaas haar terug onder die jurisdiksie van die één mens vir wie sy seker die minste tyd gehad het. Maar God openbaar Hom ook aan Hagar as ’n God van ryke genade. Sy leer Hom in die woestyn ken as die God wat in sy hart vir haar ook ruimte het. God beloof aan haar ’n groot nageslag. “Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder‚ sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.” Jy sal ’n seun in die wêreld bring en jy moet hom Ismael noem‚ want:

Die Here het jou in jou ellende verhoor.

God het jou gehoor. En nou kan sy terug gaan. Nou is niks meer onmoontlik nie. Nou is daar nuwe krag om haar leed te dra. Voortaan sal daar bokant haar lewe geskryf staan dat GOD HOOR en nou kan sy na die tente van die aartsvader terugkeer as ’n getroosde mens met ’n nuwe lewe.

Vanwaar kom jy en waar gaan jy heen?

Hoe dikwels kry ons in die pastoraat nie met sulke situasies te doen nie. Situasies soos die van Hagar. ’n Vrou wie se huwelik vir haar een groot ontnugtering geword het. Die oorsake? Botsings as gevolg van verskil in karakter‚ probleme met kinders‚ finansiële probleme‚ die man wat net in sy werk belangstel‚ ’n derde persoon in die huwelik. Sy veg teen haar verdriet. Maar skielik is al haar weerstand eenvoudig net weg en dan pak sy haar tasse en vlug na haar ouers. Sy kan nie meer nie. Maar na verloop van tyd begin sy oor haar troubelofte te wonder. In die woestyn van haar lewe kan sy nie vooruit of agteruit nie. Vanwaar kom jy en waar gaan jy heen? Dis dan dat ’n mens in die pastoraat met so iemand te doen kry en dan sê die Here eenvoudig soos Hy hier vir Hagar sê: Gaan terug! En as sy teruggaan is alles voorlopig nog dieselfde: die moeilikhede‚ die las wat sy moet dra‚ die eensaamheid‚ maar tog is alles anders en kan sy dit dra‚ want GOD HOOR! Die raad van God aan dié mens is dat jy nie gehelp kan word deur op die vlug te slaan nie‚ maar deur doodeenvoudig gehoorsaam te wees aan dit wat God vir jou sê. En saam met God kan ’n mens die toekoms aandurf‚ want Hy is die waarborg vir die toekoms. So was Hy by Hagar en so is Hy ook by elkeen van ons.

Hagar is ook die beeld van so baie wat diep teleurgesteld is in die lewe. Soos een jong man my per geleentheid vertel het: My ma het my geleer bid en my pa het my geleer vloek en die laaste het gewen. Dan gebeur dit dat jy so ’n mens vind in saal so en so van die hospitaal of in sel nommer so van die gevangenis. En dan kan jy ook die eenvoudige vraag vra: Vanwaar kom jy? En dan hoor jy‚ ek het in die kerk groot geword‚ belydenis van geloof afgelê‚ maar dit het niks beteken nie – dit het my nie veel gehelp nie. Waar gaan jy heen? En as hulle eerlik genoeg is‚ dan sal hulle vir jou sê: ek is op pad om ’n liggaamlike wrak en morele skipbreukeling te word. Arm‚ leeg en hopeloos! GOD HOOR JOU maar God is nie sag nie. In geen onduidelike taal sê Hy vir jou dat jy moet breek met dit wat jou lewe so stukkend maak. Die Here sê vir jou‚ staan op en stry die goeie stryd; doen wat God van jou vra om te doen. God bly getrou – dit kan jy altyd onthou. Hierdie vasgeloopte lewe kry dan ’n ander middelpunt en ’n ander doel. Want soos God almagtig en barmhartig met Hagar was‚ so is Hy ook by jou.

Hagar is ook die beeld van al die mense wat lewensleed ervaar en vir wie dit swaar is om te verwerk. Soos byvoorbeeld ouers wat treur oor ’n kind wat dood is of oor iets soos byvoorbeeld kanker. Die lied is uit hulle lewe weg. Hulle is op vlug vir mense‚ vir hulleself. Hulle bid en bal hulle vuiste gelyk. Bestaan God rêrig? Is Hy betrokke by ons ondraaglike leed? Hoe kan ons nog in sy liefde glo. In hulle binnekamer skreeu hulle hierdie pyn uit. Ook hier geld dit: GOD HOOR JOU! Ook in jou alledaagse lewe is Hy by jou. Hy laat jou nooit in die steek nie.

Die Here is die God wat na mense se hulpgeroep luister en daarop antwoord. So het ons nou reeds gehoor. Maar die Here is ook Lagai-Roï – die lewende God wat sien. Die lewende God wat hoor en sien en antwoord. Miskien is u nie bereid om hierdie stelling sommerso sonder teenspraak te onderskryf nie. Miskien kan u ervarings aanhaal waar dit gelyk het asof God nié hoor en sien nie – ervarings waartydens u selfs begin wonder of daar ’n lewende God bestaan. Wanneer ’n mens deur die Psalms blaai‚ vind jy dat dit ook by herhaling die Psalmdigter se probleem was: ’n swygende God. En soos die Psalmdigter‚ moet ons ook leer dat die lewende God wat sien en hoor op sy eie tyd en op sy eie manier antwoord. So het Hagar ook geleer.

Tussen ’n mens se eerste hulpgeroep en God se uiteindelike antwoord word soms baie trane gestort en baie onbeantwoorde vrae gevra. Soms is God se antwoord so anders as wat ons verwag het. Maar in alle gevalle ontdek ’n mens op ’n dag: My Here is die lewende God wat hoor en sien en antwoord. En dié antwoord is altyd die regte een.

Want die lewende God wat hoor en sien en antwoord‚ het die nood van ’n sterwende wêreld raakgesien. En God het sy enigste Seun gestuur om voorsiening te maak vir hierdie wêreld in sy nood. Jesus gee lewe! Elkeen wat in Hom glo kan saam met Hagar uitjubel: Lagai-Roï: die lewende God het ook vir my raakgesien!

TEN SLOTTE

God kan of daardie sware laste van die lewe‚ die kruis wat jy moet dra‚ en dit wat soveel leed en pyn in die hart veroorsaak wegneem en verlig‚ of Hy kan die krag gee wat nodig is om dit te dra. By geleentheid het die apostel Paulus ook gevra dat die doring in sy vlees weggeneem word. Ja‚ Paulus het ontslag gevra. God het dit geweier‚ maar Hy gee krag. Nie ontslag nie‚ maar krag. So is dit: Die stryd is daar‚ die harde werklikheid van die lewe wat jy nie kan wegdink nie. Ontvlugting sal nie help nie. Beproewinge‚ teleurstellings‚ die satansvuishoue‚ die versoekinge‚ u stryd teen die sonde‚ boesemsondes en karaktergebreke‚ die kruis elke dag. So veel is daar wat die vreugde uit die hart wegneem. So groot die eise en verantwoordelikhede sodat dit vir menigeen voel: Nou word dit te veel vir my. Ek kan dit nie meer dra nie.

Heerlik die uitnodiging van onse Here Jesus Christus:

KOM NA MY TOE‚ ALMAL WAT VERMOEID EN BELAS IS EN EK SAL JULLE RUS GEE.

Maar dan laat Hy onmiddellik daarop volg: “Neem my juk op julle” – en dan praat Hy van die kruis.

Daarom solank as wat ons in hierdie lewe is‚ nie ontslag nie‚ maar krag. Vir Paulus het die Here gesê: “My genade is vir jou genoeg.” En Paulus kon aan die einde van sy lewe getuig: “Ek het die goeie stryd gestry‚ ek het die wedloop voleindig – ek het die geloof behou!” (2 Tim. 4:7). Ja‚ as jy en ek ook maar net die geloof kan behou.

Want hierdie gedeelte wil ons leer dat geloof nie primêr ’n vertroue is dat God aan my begeertes sal voldoen nie. Geloof is in wese ’n vertroue in God self‚ dat Hy‚ wat ook al gebeur‚ in beheer is‚ my ondersteun‚ en op pad is met sy koninkryk en die mensdom – selfs al kan ek nie die sin verstaan of die rigting waarin Hy beweeg‚ onderskei nie. Geloof is ’n aanvaarding dat ek geroep is om ’n bousteen in God se koninkryk te wees en dat die hemelse Bouer presies weet waar Hy my moet gebruik‚ selfs al kos dit vir my offers en smarte. Want ten laaste is dit nie wat ek bereik of wat ek in die lewe ervaar wat belangrik is nie‚ maar of ek my funksie as God se instrument effektief kan vervul. So gesien‚ raak geloofsvertroue die wese van ’n mens se bestaan.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.