Preek:

18 Junie 2004 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Johannes 12:20-36

Teks:

Johannes 12:20-26

Tema:

Om Jesus te ontmoet


Mense het verskillende motiewe om Jesus te ontmoet

BY DIE Paasfees was daar ’n aantal Grieke wat Jesus wou sien. (In die nuwe vertaling word gesê: ontmoet‚ maar in die oorspronklike word net van sien gepraat). Wie hulle was‚ word nie gesê nie.

Die Grieke (Hellnes) moet as egte Grieke onderskei word van die Griekssprekende Jode (Hellenistai). Indien hulle nog heidene was‚ sou hulle alleen in die voorhof van die heidene by die tempel toegelaat gewees het. Hulle kon ook “godvresendes” (phoboumenoi) gewees het‚ dit wil sê heidene wat op pad was om die Joodse godsdiens aan te neem‚ of proseliete‚ dit wil sê heidene wat reeds die Joodse godsdiens ten volle aangeneem en hulle ook laat besny het. Aangesien hierdie Grieke onder die mense was wat gereeld na die fees gekom het “om te aanbid”‚ dit is om aan al die verrigtings deel te neem‚ skyn dit aangewese te wees om aan te neem dat hulle proseliete was‚ en dat hulle dus die voorreg gehad het om verder as die voorhof van die heidene die tempel binne te gaan.

Tog is daar by die Grieke ’n terughoudendheid. Hulle gaan nie direk na Jesus nie maar soek die bemiddeling van Filippus. Hy was van Betsaida afkomstig (1:43)‚ waar die Hellenistiese invloed sterk deurgewerk het en Jode Griekse voorname gekry het (Filippus‚ Andreas‚ Petrus). Juis omdat Filippus uit die vergriekste omgewing kom‚ soek die Grieke aanknoping by hom‚ en hy vra die medewerking van Andreas wat uit dieselfde omgewing kom. Hoewel Betsaida aan die noordpunt van die See van Galilea buite Galilea lê‚ word dit tog in die volksmond tot Galilea gereken. Die versoek “om Jesus te sien” beteken dat hulle ’n gespreksgeleentheid soek.

Aangesien Jesus Hom tot dusver in sy optrede alleen tot die Jode beperk het (Matt. 10:5; 15:24)‚ was daar by die dissipels ’n mate van huiwering om die versoek van die Grieke aan Jesus oor te dra en gaan die twee saam om dit te doen. Hulle het vermoed dat Jesus nie ’n probleem daarmee sou hê om heidene te ontmoet nie‚ want Hy het al vantevore te kenne gegee dat Hy ook vir die skape van die ander stal gekom het en daarmee bedoel het dat hy nie net vir Jode gekom het nie. Maar nou met die Paasfees waar die suurdeeg uitgehaal moes word en hulle in die tempel was‚ kon dit dalk anders wees. Saam het hulle ook nie raad gehad nie en gaan toe maar na Jesus toe om Hom self te vra.

Of Jesus die versoek van die Grieke toegestaan het‚ word nie vertel nie. Blykbaar het Johannes die uitspraak van Jesus oor die koms van sy “tyd” en oor sy verheerliking van groter belang geag as ’n beskrywing van die gesprek met die Grieke. Jesus rig sy uitspraak aan “hulle”‚ die dissipels‚ maar in hulle persoon ook aan die wyer kring van almal wat Hom in die geloof aanvaar‚ insluitende die Grieke. Die feit dat die Grieke Hom soek‚ vertolk Hy as teken dat sy “tyd”‚ die uur waarop Hy gewag het (vgl. by ?2:4)‚ nou gekom het (die ww. in die perf.‚ soos in 17:1‚ dui op die feitelike toedrag). Sy Middelaarswerk nader volvoering; die tyd van verheerliking het aangebreek. Hierdie “verheerliking” dui egter nie op die lyding sonder meer nie‚ maar laat die klem op die opstanding‚ die oorwinning van lyding en dood val.

Vir Jesus is hierdie vers soos die Rubicon wat Hy moet oorsteek. Voor hierdie vers het die Johannes nog net verwys na die uur van Jesus. Maar nou het hierdie uur aangebreek. Die dodemars wat tot Jesus se dood sou lei‚ het begin speel. Die laaste bedryf het begin; die uur het aangebreek.

Ons kry ook dikwels mense wat meer van Jesus wil weet‚ wat ’n ontmoeting met Hom wil hê en dan staan ons met ’n mond vol tande‚ want ons weet nie hoe om hulle te hanteer nie. Wanneer mense sê dat hulle Jesus wil ontmoet‚ is dit nie so eenvoudig nie‚ want wat wil hulle van Jesus hê‚ watter soort Jesus wil hulle ontmoet? Elkeen het ’n eie idee van Jesus. Elkeen het ’n eie verwagting van Jesus. Die Jesus moet daaraan voldoen. As sulke mense na Jesus toe kom‚ kom hulle nie na Jesus toe om Hom te ontmoet soos Hy regtig is nie‚ maar soos hulle Hom voorstel.

Dit is ’n vraag met ’n groot verskil oor die redes waarom jy God dien. Dien jy God sodat Hy vir jou kan sorg en na jou kan kyk? Dien jy Hom dalk sodat jy kan hemel toe gaan?

“Hoe lank moet ek om hulp roep … Here … voordat U red?” Ek roep mos na U sodat U kan red! Ek kla mos sodat U kan hoor‚ want dit lyk asof U nie hoor nie‚ en asof U nie daarvan weet nie! Ek dien U dan‚ waarom moet ek nou al die ellende aanskou? Hierdie klink nes die aanklagte wat deesdae deur politieke groepe heen en weer geslinger word. Hoe lank moet ons nog by julle kom kla voordat julle gaan luister en ons help? Hoe lank moet ons bly kla oor die geweld voordat julle ekstra polisie ontbied‚ of die droogtehulp verhoog en die belasting verlaag.

En die eintlike vraag wat ons dan vra is:

“En wat gaan julle daaraan doen? Ons het julle gekies‚ ons het vir julle gestem‚ ons het ons belastings betaal. Nou moet julle uithaal en wys.”


Ons het vir julle gestem SODAT julle kan regeer en kan toesien dat die dinge loop soos ONS dit wil hê.

Dit is alles wettige vrae hierdie as ons dit vra vir die regering in ’n demokratiese bestel. Ons het julle gekies SODAT dit met ons beter kan gaan. As ons nie so gedink het nie‚ sou ons iemand anders gekies het. Die probleem kom in wanneer ons hierdie manier van dink oorplaas na God toe. Ons dien Hom mos SODAT Hy vir ons kan sorg; SODAT Hy ons kan beskerm en bewaar; SODAT dit met ons beter kan gaan; SODAT ons gered kan word.

Dis hoekom ons vir Hom so kwaad word as dinge skeef loop‚ as rampe ons tref en teëspoed ons oorkom: nou werk God nie meer reg nie! Ons dien Hom dan‚ en kyk net hoe gaan dit! Elke keer as ons so ’n situasie gaan ondersoek‚ sal ons agterkom hoe lyk die fondament: ek dien die Here SODAT! Dit lyk my regtig ons dink soms ons het vir God uitgekies. Ons maak asof ons Hom op demokratiese manier verkies het omdat sy verkiesingsveldtog ons die meeste beïndruk het. Hy het gelyk na die een wat ons steun die meeste verdien‚ daarom kies ons Hom toe.

Nou moet Hy hom nie soos ’n politikus gaan gedra en sy verkiesingsbeloftes breek nie. Dan stem ons Hom uit en kry vir ons ’n ander god. Die vraag is natuurlik: “Wie dien vir wie en hoekom?” Byvoorbeeld‚ wat sal jy maak as jy ’n werknemer het wat vir jou sê: “Jy is ’n goeie werkgewer! Bring vir my tee in my kamer!” Wag ’n bietjie! Wie is die werkgewer en wie is die werknemer? Wie gee die bevele en wie voer dit uit? Luister bietjie hoe is ons:

“Here‚ U is ons God‚ U is ’n wonderlike God! Here‚ gee nou reën; Here‚ stop die geweld en bring sommer so tussenin die inflasiekoers ook af. Ons dien U mos SODAT U hierdie dinge vir ons kan doen!”


Dalk dink ons so. Dalk dink jy ook partykeer so. Maar dan het ons dit mis. Dan is jy in elk geval nie met die God van die Bybel besig nie. Dan dien jy nie die Vader van Jesus Christus nie. Hy kies jou nie omdat jy so oulik is of so hard probeer reg lewe nie. Hy kies jou omdat Hy jou liefhet. Hy kies jou omdat dit jou enigste kans is. Hy kies jou nie omdat jy Hom dien nie. Jy kan Hom dien‚ omdat Hy jou gekies het. Omdat Hy God is. Jy moet God dien OMDAT‚ nie sodat nie.

Toe Jesus hulle antwoord‚ gee Hy nie eers aandag aan hulle versoek nie. Hy praat met hulle tussen die baie mense wat daar was en maak algemene stellings‚ want wat Hy sê geld vir elkeen wat Hom wil ontmoet en regtig wil leer ken. Dan maak dit nie saak of jy ’n Griek‚ Jood of wat ook al is nie. Die beginsel geld oral en Hy maak nie onderskeid tussen mense nie. Alle mense wat dit snap en toepas‚ sal Hom kan ontmoet.

Hy sluit aan by dit wat Hy weet kort voor lank op Hom wag en Hy sê dat die tyd gekom het dat Hy sy laaste groot daad moet verrig‚ waarin Hy verheerlik gaan word as “die Seun van die Mens.” Dit Jode het dit verstaan‚ want hulle het geweet dat “Iemand” sou kom wat as die Seun van die Mens bekend sou staan om hulle te verlos‚ maar hulle het gedink dit was van ’n aardse oorheersing. Hulle het nie besef dat dit veel dieper sou gaan en die verlossing van die bose en die hel‚ die sonde en alles wat daarmee saamgaan‚ sou insluit nie. Hy het geweet dat Hy sou moes doodgaan om weer lewendig te kon word en in ’n verheerlikte liggaam uit die graf sou kom om die verlossing aan elkeen wat daarom vra in die geloof te kon gee. Daarom gebruik Hy die beeld van die koringkorrel wat eers in die grond gesaai moes word en byna asof dit eers moes doodgaan‚ weer met ’n nuwe gedaante te voorskyn kon kom en dan in staat kon wees om baie ander koringkorrels te kon maak. As dit nie daardie pad geloop het nie‚ sou dit net een koringkorrel kon bly en tot niks meer in staat gewees het nie.

Daarmee sê Hy dit op twee maniere. Hy moes eers self soos ’n koringkorrel sterf en opstaan om sy verlossingswerk te kon doen‚ maar ons moet ook eers aan onsself sterf voor ons Hom kan ontmoet. Om dit te kan doen vra weer ’n paar dinge. Jy moet Hom as die “Seun van die Mens” aanvaar. Jy moet besef dat Hy God is wat na die aarde toe gekom het om in ons plek te sterf. Jy moet besef dat Hy ver–Heer–lik moet word‚ dat jy Hom as Here moet aanvaar en so in Hom glo. As die heerlikheid van God nie in ons gedagtes is wanneer ons met Hom te doen kry nie‚ sal ons Hom nie kan sien soos Hy is nie‚ maar sal Hy net ’n “afgod” van ons denke wees. Ons verstandsbeelde van Hom moes deurgebreek word en Hy moet ons Here word. Solank as wat ons eie voorstellings van Hom in ons verstand heers‚ sal dit die sterkste beeld wees wat ons van Hom het en kan ons Hom nog nie ontmoet nie! Dan het ons Hom in ons koppe gevange geneem en ingeperk en kan Hy nie wees wat Hy is nie. Ons moet eers besef dat Jesus nie maar een van ons is nie‚ maar waarlik God is wat anders as mense is en deur die Heilige Gees aan ons bekend gemaak kan word. Dan sal Hy aan ons bekend word. En‚ ironies genoeg‚ kan dit eers plaasvind omdat Hy‚ die almagtige God‚ toegelaat het dat Hy sou sterf om daardeur die oorwinning te verkry. Hy moes op ’n wrede manier doodgemaak word‚ Hy alleen‚ soos een koringkorrel‚ om die baie daarna te kon laat leef. Dis alleen deur die dood dat Hy na ons toe kan kom. Dis juis omdat Hy soos ’n koringkorrel gesterf het dat Hy verheerlik kon word. Dat die mensdom in verwondering na Hom kan staar en dan kan lewe en sterwe in ’n ander hoedanigheid – as kinders van die lewende God. Dis ’n ander verheerliking as om oorwinnaar te wees van enige vyand deur middel van ’n wonderwerk‚ soos die Jode verwag het. God se verheerliking is om hier op aarde geheel en al nederig te word‚ om geheel en al te sterf en Homself geheel en al vir die paar dissipels‚ die paar Grieke en ook die hele mensdom te gee.

En dan weer aan die ander kant kan ons eers besef wat dit behels as ons soos ’n koringkorrel sterf aan onsself om in Hom weer te kan opstaan in ’n nuwe lewe. Ons moet eers weer gebore word om Hom te kan ken. Daarom sê Jesus verder dat niemand sy eie lewe bo Hom moet liefhê nie‚ want dan sal hy dit verloor. As jy nog nie geleer het om Jesus jou Here te maak nie‚ sal jy Hom nie kan ken nie en sal jy doodgaan en dood bly‚ maar as jy ’n werklike ontmoeting met Hom gehad het en jou “lewe in hierdie wêreld” nie bo Hom liefhet nie‚ sal jy dit “vir die ewige lewe behou.” As jy nog aan jou eie eer en alles wat om jou draai in die lewe wil vasklou‚ sal jy Hom nooit kan leer ken nie. Want dan gaan jy nog vasklou aan jou eie beelde van Hom om jou te pas‚ wat jy kan inroep wanneer jy Hom nodig het en wat jy kan aansê om tot jou diens te wees.

Waar leer jy Hom so ken? Daar waar fees gevier word‚ waar mense gelukkig saam is. Daar waar getreur word‚ waar mense saam huil. In die lewe‚ daar waar Hy homself gee vir die mense en waar mense hulleself vir Hom gee. In jou eie lewe waar jy minder word en Hy meer. In ander se lewens waar Hy die belangrikste is. Waar mense hulle gemaklike bestaan opoffer om in ’n sendingveld te gaan werk sonder ’n inkomste‚ maar wat met soveel ander dinge geseën word dat dit vir hulle meer werd is. Waar iemand vir ’n siek persoon al haar tyd en aandag gee. Eenvoudige mense waaroor geen koerant skryf nie. Hulle werk is niks om oor te romantiseer nie en tog is hulle geseën met soveel vreugde wat hulle uit die dankbaarheid van ander mense kry. Selfs vandag nog is daar mense wat Jesus letterlik tot in die dood volg‚ omdat hulle vir hulle geloof moet sterf. Dit is nie die maklikste manier om Jesus te leer ken nie en dit was ook nooit so voorgehou nie‚ maar dis alleen wanneer jy is waar Jesus is en waar Hy wil hê dat jy moet wees dat jy die heerlikheid van God in jou lewe sal ervaar. Dit het alles met ’n oënskynlik onskuldige versoek begin. En tog is dit nie so ’n eenvoudige antwoord nie. Die Grieke het waarskynlik nie besef dat dit die belangrikste vraag was wat elke mens in die lewe moet vra nie: ons wil Jesus graag ontmoet. Jesus se antwoord het ook na ’n oënskynlike verwysing na ’n eenvoudige koringkorrel gelyk‚ maar het die grootste lewenswaarhede bevat wat mense nodig het om Jesus te kan ontmoet en vir ewig te kan leef. Het jy al vir Jesus ontmoet?

Ek mag Hom nou dien uit dankbaarheid OMDAT Hy my God is.
’n SODAT–godsdiens bevraagteken vir God as my wil nie geskied nie.
’n OMDAT–godsdiens kan jubel al geskied my wil nie.
’n SODAT–godsdiens dien die Here vir die voordele wat jy hoop om daaruit te kry.
’n OMDAT–godsdiens se voordeel is dat jy God mag ken en dien.
’n SODAT–godsdiens kan maar op ’n stadium ’n bietjie laat slap lê‚ want waarskynlik het ek nou genoeg gedoen sodat Hy my kan beloon.
’n OMDAT–godsdiens besef: omdat ek net dankie kan sê‚ kry ek nooit klaar nie.
’n SODAT–godsdiens plaas myself en my behoeftes in die middelpunt.
’n OMDAT–godsdiens sê: “Dit gaan om God. Omdat Hy die Here is‚ sal ek probeer om met my hele lewe vir Hom dankie te sê dat ek Hom mag dien; en ek mag Hom dien OMDAT Hy my geroep het.”

Daar word vertel dat iemand vir Martin Luther gevra het: “Wat sal jy maak as God jou in die hel gooi?” Sy antwoord was: “Dan loof ek Hom vir die voorreg wat ek gehad het om Hom te kon ken terwyl ek op aarde was.”

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.