Preek:

9 September 2001 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Genesis 4:1-15

Teks:

Genesis 4:1-15

Tema:

Om mens te wees


OM MENS te wees beteken dat dinge partykeer nie uitwerk nie. Ons gesels oor hierdie probleem na aanleiding van die geskiedenis van Kain en Abel‚ soos dit in Genesis 4 beskryf word. Verstaan jy die drama van Kain en Abel? In Genesis 4:4‚ 5 lees ons: “Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem‚ maar nie vir Kain en sy offer nie.” God is mos regverdig en God het nie witbroodjies nie. Hoekom maak God dan onderskeid tussen Kain en Abel? Baie van die beste Ou Testamentiese geleerdes sê dat hulle nie weet nie.

Miskien kan ons tog by ’n antwoord uitkom.

Die woorde wat ons hier lees‚ weerspieël Kain se ervaring van God. God is nie onregverdig nie. Dit is egter die mens wat God blameer wanneer dinge nie uitwerk nie. Abel se kuddes het groter geword‚ en Kain se oeste het misluk. Kain se gevoelens word gereflekteer in die woorde dat die Here Kain en sy offer verwerp het. Toe word Kain jaloers en opstandig.

Ek en jy weet wat dit beteken as die lewe teen ons draai. Dinge werk soms nie uit nie‚ omdat daar sonde en onreg rondom ons is. Versekeringspremies gaan al weer op. Die groot maatskappye sê‚ die eintlike rede is miljoene der miljoene se verserkeringsbedrog. Jy en ek moet vir ander mense se oneerlikheid betaal. Miljoene is werkloos en hoeveel weet ek nie is aan dwelms verslaaf of voel eensaam‚ alleen en verstote. Talle ervaar dat die lewe sy sin en doel verloor het. En dan voel ons die jaloesie en die opstand in ons broei. Ons voel dat God nie omgee nie. Ons voel dat God ons en wie ons is verwerp het.

Wat beteken dit dus om mens te wees?
Om mens te wees beteken dat dinge soms nie uitwerk nie.
Dan word ons jaloers en opstandig.


So lees ons ook in vers 5 van Kain: “Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk.” Ons het dieselfde probleem. Ons wil so graag ander mense of die sisteem of omstandighede of God of ons kinderjare blameer wanneer dinge verkeerd loop. Jy word kwaad en bedruk. Dit is uiters gevaarlik. Daar kom dan desperate gedagtes in jou kop: van om dreigoproepe te maak‚ motorbande stukkend te steek‚ brand te stig‚ politieke teenstanders se ore af te sny‚ hulle te vermoor of om bomme te plant. Kain beplan desperate dinge teen sy broer.

Wat beteken dit dus om mens te wees?
Partykeer werk dinge nie uit nie.
Dan word ons jaloers en opstandig.
Ons beplan desperate dinge.


Toe sê die Here vir Kain (verse 6-7): “Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk? Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie?”

Die Here nooi Kain en jou en my uit om eerder iets goeds te doen. Hoe kan ons reg optree? Ek dink Jesus het aan Kain en Abel gedink toe Hy volgens Matteus 5 gesê het: “Elkeen wat vir sy broer kwaad is‚ is al strafbaar voor die regbank. … As dit jou dus byval dat jou broer iets teen jou het‚ … gaan maak eers vrede met jou broer.”

Dit is asof Jesus kommentaar lewer op Kain se desperate gedagtes. Hy meet eerder gaan vrede maak met sy broer. Wat maak jy met jou woede en jou jaloesie en jou opstand en jou desperate gedagtes? So baie van ons ignoreer dit; ons vee dit onder die tapyt in. Moenie dink dit verdwyn nie. Dit bou op en uiteindelik pootjie dit jou. Jesus sê nie net: “Moenie verkeerd doen nie”‚ Hy sê: “Doen die regte ding. Neem die inisiatief. Praat‚ voordat jy doen.”

Ons sien elke dag die goeie vrugte wat praat kan lewer. Die toestande in ons land sou ’n totale anargie en bloedbad gewees het‚ as leiers nie met mekaar gepraat het nie. Daar word egter nie genoeg gepraat nie. Ons het die tweede hoogste moordsyfer in die hele wêreld. Meer as ’n derde van volwasse vrouens word deur hulle mans of mansvriende mishandel. Daarom moet ons leer om met mekaar te praat: nie net om die stilstuipe in ons huwelike te breek nie‚ maar ook die stilte oor die geweld en die misdaad en die oneerlikheid en die korrupsie in ons land.

Wat beteken dit dus om mens te wees?
Partykeer werk dinge nie uit nie.
Opstand en jaloesie maak hom van ons meester.
Ons dink desperate gedagtes.
Dan moet ons praat en probeer vrede maak.


Verse 8-9 sê: “… toe hulle in die veld was‚ het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak. Toe vra die Here vir Kain: ‘Waar is jou broer Abel’? en Kain antwoord: ‘Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas’?” Kain het presies die verkeerde ding gedoen. Hy het sy desperate gedagtes in dade oorgesit. Toe God hom uitvra‚ antwoord hy: “Moet ek dan my broer oppas?” Ja. Ons moet mekaar oppas. Ons moet vir mekaar omgee. Ons moet die leed en die hartseer en die eensaamheid in die oë van ons medemense raaksien. Voel ons nie maar ook dat ons nie ons medemens se oppassers is nie? Ons gee nie om wat met ander mense gebeur nie – solank dit net nie met ons gebeur nie. Ons almal is potensieel soos Kain. Ons maak met mekaar soos Kain met Abel gemaak het. Ons vermoor mekaar miskien nie fisies nie‚ maar ons laat na om iets te doen om die lewe en die lewenskwaliteit van mense in die algemeen te bevorder.

Ons moet ander mense sien soos God hulle sien. Hoe sien Hy hulle? Hy kyk na hulle met Christuslig in sy oë; Hy sien hulle in terme van die dood en opstanding van sy Seun. Dood: ons ou‚ sondige mens het saam met Jesus aan die kruis die laaste asem uitgeblaas. Opstanding: ’n nuwe Christusgelykvormige mens het uit Jesus se graf verrys.

Só moet ons mense sien! Ons moet elke mens sien as iemand vir wie Christus gesterf het en opgewek is. Of dit nou die onvriendelike vrou agter die toonbank is‚ of die irriterende boemelaar voor die deur‚ of die besopene wat jou op die sypaadjie onderstebo loop. Om soos God na mense te kyk‚ beteken nie om net so te kyk na mense van wie ons hou nie!

Nee‚ ons moet niemand meer volgens menslike maatstaf beoordeel nie (2 Kor. 5:16). Om volgens menslike maatstaf te beoordeel‚ beteken om mense te takseer na gelang van die waarde wat hulle vir ons het; om volgens Goddelike maatstaf te beoordeel‚ beteken om mense te takseer na gelang van die waarde wat hulle vir God het. In ons oë mag hulle waardeloos lyk‚ maar vir God is elke mens ’n mens vir wie sy Seun gesterf het en opgewek is‚ ’n mens vir wie die magtige daad van verlossing op Golgota en Paasmôre plaasgevind het.

Elke mens wat jou pad kruis‚ is eintlik drie mense: die mens wat in verhouding met homself staan; die mens wat in ’n verhouding tot ander mense staan en die mens wat in ’n verhouding tot Jesus staan – selfs al wil hy nog niks daarvan weet nie. Anders gesê: die driedubbele mens wat voor jou staan‚ is die mens soos hy homself sien; die mens soos jy hom sien en die mens soos Jesus hom sien. Hierdie laaste siening is die deurslaggewende‚ en eintlik die enigste ware een.

Hoe versigtig moet ons nie na mekaar kyk nie! Ons kan mekaar dood kyk. Ons kan mekaar stukkend kyk. Dan kyk ons iets van God stukkend. ’n Skepsel van God. ’n Medemens. Bestem om Christusgelykvormig te wees …

Kom ek maak dit vir jou prakties – jy onthou mos nog van Petrus en Jesus en die haan in Lukas 22:60‚ 61. En onmiddellik‚ terwyl hy [Petrus] nog praat‚ het daar ’n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk …


Ons het almal die tye wanneer dinge nie uitwerk nie‚ wanneer ons jaloers en opstandig word en desperate gedagtes dink.
Dan moet ons praat en vrede maak.
Ons moet ons broer se oppasser wees.


Verse 10-12 gaan voort: “Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. Vervloek is jy dan nou‚ verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het. Wanneer jy die grond bewerk‚ sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie.”

Deur ons gierigheid en geweld‚ deur ons weiering om die lewe te bevorder‚ word die ekologie versteur. Snaaks‚ vernietiging van die natuur gaan hand aan hand met onreg en geweld. Die grond word geruïneer en Kain word verban om te swerf waar die grond nie vrugbaar is nie. Wanneer ons mekaar wil vernietig‚ vernietig ons die omgewing met ons radioaktiewe bestraling en met ons afvalstowwe. En wanneer ons die natuur vermoor‚ vermoor die natuur weer mense. Dit beteken dat elkeen van ons indirek moordenaars is.

Wat beteken dit dus om mens te wees?
Soms werk dinge nie uit nie.
Dan word ons jaloers en opstandig en dink desperate gedagtes.
Dan moot ons praat en vrede maak.
Ons moet ons broers en susters oppas.
In feite is ons almal reeds skuldig aan moord.


Vers 15 gaan voort: “Toe gee die Here vir Kain ’n teken sodat niemand wat hom raakloop‚ hom sou doodmaak nie.”

Dit is ’n merk van beskerming. Dit is ’n teken van genade. Elkeen van ons is sondaars. Elkeen van ons verdien die dood. Ons almal het beskerming nodig: die genade van God. En so het die drama van Kain en Abel ’n verrassende einde. Die siklus van geweld word gebreek. Net God kan dit doen en net God kan die lewe laat voortgaan.

En dit is ook vandag wat God se kinders moet doen. Ek en jy. Hoe ons praat en hoe ons leef moet ’n teken wees van God se liefde en God se genade. En ons leef hierdie teken‚ as ons bereid is om jammer te sê‚ bereid is om te vergeef‚ bereid is om my suster se oppasser te wees. En ja‚ ons kan dit doen‚ omdat Jesus juis sy bloed vir ons op die grond gestort het.

Wat beteken dit dus om mens te wees?
Soms werk dinge nie uit nie.
Dan word ons jaloers en opstandig en maak desperate planne.
Ons weet ons moet praat en vrede maak en mekaar oppas.
Ons is skuldig aan moord.
Maar God gee vir ons die teken van die kruis‚ sodat ons kan jammer wees‚ en vergewe en voortgaan en lewe.


Soli Deo gloria!

God is te groot om net deur een mond of een volk geloof te word. Die gejubel van alle nasies en die liedere van alle volkere moet in sy ore opklink‚ uit alle oorde en kontinente‚ alle era’s en eeue‚ totdat die heelal gevul is met een: “Halleluja‚ prys die Here!”; totdat daar ’n geluid uit die hemel kom wat soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer klink‚ soos dié van duisende der duisende‚ ja miljoene der miljoene‚ soos dié van siterspelers wat op hulle siters speel‚ soos dié van mense wat die nuwe lied van die lof sing (vgl. Op. 5:11; 14:2‚ 3).

Wie sy keel skoonmaak vir die lof‚ doen dit nie alleen nie; wie die eerste note van aanbidding aanhef‚ val in by ’n koor. Wat ’n merkwaardige ding gebeur nie wanneer ons God begin prys nie! Ons word ingeskakel by ’n netwerk wat tyd en plek oorspan‚ word deel van ’n versameling van mense wat hulle diepste sin gevind het.

Soli Deo gloria!

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.