Om te verstaan sonder om te wéét!

Lees: Job 26:1-3; 27:1-6; 42:1-6
Teks: Job 26:1-3; 27:1-6; 42:1-6

Dit klink darem nie reg nie‚ om te verstaan sonder om te weet? Jy weet‚ maar eintlik weet jy ook maar nie‚ of jy begryp‚ maar nie werklik nie. ’n Mens wil dadelik hierop antwoord en sê‚ hoor hier‚ iets is of reg of weg‚ of wit of swart. Of jy weet of jy weet nie – dit kan tog nie altwee gelyk wees nie! Of dalk wel? Kan ’n mens dalk tog begryp sonder dat jy presies weet?

’n Jongmeisie sal met blink oë sê sy het die man van haar lewe ontmoet. Vra jy haar hoe wéét sy dit‚ gee presiese redes? Dan kan sy nie. Tog is sy doodseker dat sy met hierdie man moet trou. ’n Ma veral is goed met verstaan sonder om te weet. As haar 12-13 jarige dogter sommer uit die bloute opvlieënd raak‚ dan verstaan die ma dit is grootword. Sy vra nie allerhande vrae om te wil weet wat nou weer aangaan nie. Nee‚ sy hanteer hierdie dogter met groot wysheid. Sonder om presies te weet van allerhande hormone wat die dogter se lyf en siel deurmekaar maak soos wat sy ontwikkel‚ aanvaar die ma haar buie. Die ma voel aan hoe om reg op te tree. En met die meeste van ons gaan dit nie veel anders nie. Ons snap soms presies wat ons moet doen sonder dat ons presiese redes daarvoor kan gee; óf ’n motor koop‚ óf na ’n ander dorp toe trek‚ óf ’n nuwe werk gaan doen. ’n Dominee het vertel as hy ’n beroep kry dan stel hy ’n lang lys van redes op‚ daarvoor en daarteen. So wil hy wéét wat om besluit. As hy klaar is gooi hy die lys in die snippermandjie en gaan vra sy vrou wat hulle moet doen. En wat sy sê (sonder redes) is gewoonlik die regte besluit. Om te verstaan sonder om presies te weet is dus nie so vreemd nie. Dit is deel van die lewe.

En dit leer veral die boek Job vir ons baie treffend.

As daar nou al ooit ’n vroom mens op aarde was‚ was dit sekerlik Job. Selfs God het so gemeen. Vandaar die uitstekende hemelse getuigskrif oor Job se lewe: “Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg‚ hy dien My en vermy die kwaad” (1:8). Maar die Satan was egter nie beïndruk nie. “Dit is net omdat dit so goed gaan met hom en sy familie dat hy U dien‚” was sy reaksie hierop (1:10). Toe het God vir Satan ’n blanko tjek gegee om met Job te doen wat hy wil‚ mits sy lewe nie in die gedrang sou kom nie.

Satan het hierdie geleentheid met al twee hande aangegryp. Nie alleen is Job se rykdom in ’n oogwink vernietig nie‚ maar al sy kinders het ook wreedaardig gesterf. Ten spyte van hierdie rampe het Job egter nie sy geloof afgesweer nie. “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (1:21)‚ was sy vroom reaksie hierop.

God was natuurlik baie tevrede met Job se optrede en het dit ook aan Satan gesê (2:3). Maar nogeens het laasgenoemde God uitgedaag om Job se liggaam aan te raak en te kyk of hy Hom nie sou vervloek nie (2:5). Ook hierdie uitdaging het God aanvaar. Daarna het pynlike swere oor Job se hele liggaam uitgebreek (2:7). So erg was dit dat hy terneergedruk op ’n ashoop loop sit het. Maar selfs hier het hy nog nie sy rug op God gedraai en Hom vervloek soos wat sy eie vrou aan die hand gedoen het nie (2:9-10).

Job was gewis ’n vroom man. Onder die moeilikste omstandighede denkbaar het hy nog steeds na God opgesien. Maar tog beteken dit nie dat hy alles wat met hom gebeur het maar gelate aanvaar het nie. Inteendeel. Die res van die boek vertel juis hoedat Job in ’n ernstige debat oor sy lyding opgetree het teenoor God en met sy drie kwasi-vriende‚ Elifas‚ Bildad en Sofar wat hom wou kom bemoedig.

Job het sy lyding spoedig omskep in ’n hofgeding waarin God in die beskuldigde bank geplaas is en Hy die een aanklag na die ander moes aanhoor. Dit begin reeds in hoofstuk 3 met Job se vervloeking van sy eie geboortedag. Hy het naamlik gevoel dat hy sy uiterste bes gedoen het om God te dien. En wat kry hy toe hiervoor? Swaarkry op swaarkry. Op ’n hele paar plekke in sy lang betoog sê Job aan God dat hy eintlik onskuldig is (9:21; 10:7; 29:1-25). As bewys het hy aangevoer hoe hy deurentyd ander mense se belange op die hart gedra het. Die armes het hy gehelp en weduwees en weeskinders se regsaak behartig (29:12-16). Hoe kan dit dan wees dat hy wat van die oggend tot die aand net goed gedoen het‚ nou so verskriklik moet ly?

Hierop het Job se drie vriende‚ wat hulleself intussen sommer op eie stoom as advokate vir God aangestel het‚ ’n paar antwoorde gereed gehad. In hoofstuk 4 trek Elifas dan ook weg met die opmerking dat onskuldiges nooit ten gronde gaan nie. Slegs dié wat onreg plant‚ oes dit ook (4:7-11; 22:1-30). Bildad het min of meer dieselfde gevoel (8:1-4). Daarom sê hy aan Job dat hy maar sy trots in sy sak moet steek en vir God gaan jammer sê. Sofar‚ die derde advokaat vir die verdediging‚ het natuurlik ook geoordeel dat Job gesondig het en nou sy verdiende straf ontvang (20:1-29).

Job se vriende se lewenskennis was maar eina. Hulle het so iets van die lewe af geweet‚ maar van verstaan‚ niks nie. Hulle het gedink die hele lewe werk met oorsake en gevolge.

Iewers het hy kwaad gedoen en daarom straf God hom nou so. Hy verdien dit! Maar ons weet uit eie ervaring dat jy nie altyd kry wat jy verdien nie. Soms werk jy hard aan ’n projek en dan misluk dit in elk geval. Soms tref die ongeluk jou al leef jy ’n goeie lewe. Met Job dieselfde. Hy het ’n vroom lewe geleef en tog tref al wat ongeluk is hom. En dit maak sy swaarkry dubbel so swaar – hy ry onskuldig aan die pen. Daarom is hy so sarkasties as hy Bildad antwoord (Job 27:3): “Het jy nou raad gegee aan een wat nie wysheid het nie? Het jy jou groot insig laat blyk?” Bildad se kennis oor die lewe is maar effentjies; hy en sy vriende het maar net die helfte van die waarheid beet. Oor die ander helfte‚ naamlik om onskuldig te ly‚ daarvan verstaan hulle niks nie. Die vriende se raad gaan Job nie help nie. Hulle kry hom nie by verstaan uit nie.

En Job self?
Weet hy?
Dit wil half so klink: Job 27:5 “Daarom kan ek nooit toegee dat julle reg het nie … Ek bly daarby dat ek reg het … !” Job staan vas. Die vriende beskuldig hom vals – hy hét gesondig. Hy weet dit is onwaar. Die vriende probeer hom heeltyd in ’n skulderkenning in boelie. Job weier om dit van hulle te vat.

Iemand het opgemerk – dis asof jy ’n akkedis vat en hom slaan totdat hy erken hy is ’n krokodil. Job weier egter om te erken hy is ’n bose krokodil. Hy is onskuldig. Van alles wat hy nie weet nie‚ weet hy ten minste dit baie goed. Maar dit help hom steeds nie. Hy begryp nie dat hy onskuldig moet ly nie. Hy kan homself nie tot by verstaan bring nie.

Wanneer God op die toneel kom‚ dan verstaan Job sonder om te weet. Hy weet nog steeds nie waar lyding vandaan kom nie en hoekom dit nou ook hier op aarde moet wees nie. En dan boonop onskuldiges tref nie. Maar ten spyte hiervan verstaan hy dat die lewe die moeite werd is en gelééf behoort te word. Die spieël van die skepping (Job 38-39) wat God heeltyd voor Job hou moet sy horisonne verbreed. Dit moet hom help om verder‚ wyer en dieper as net die geheim van sy eie swaarkry te kyk. Die skepping‚ sê God heeltyd‚ wemel van allerhande geheime. Geen mens wéét hoe alles ontstaan het nie. Geen mens begryp werklik die ingewikkelde bewegings van die sterre en planete nie. Geen mens weet hoe diere se instinkte werk nie. En tog pla dit niemand nie. Net so min moet die geheime van die menslike lewe jou nagte lank wakker hou. Al kan jy nie die geheim van lyding ontrafel nie‚ behoort jy steeds voluit te leef. Dit is belangriker om te weet in wie se hande jy is – die genadige God wat die hele lewe‚ raaisels inkluis‚ in sy hande hou. Ja‚ agter die skerp vrae wat God heeltyd vra is daar diepe deernis en liefde vir Job. God is soos ’n pa wat sy kind betig om hom op te voed‚ beter voor te berei vir die lewe.

God laat Job diep in sy groter wêreld inkyk‚ verby sy eie swaarkry.

In hierdie wêreld tel vertroue meer as antwoorde‚ verdoof verwondering menslike pyn en is daar vrede en hoop‚ ten spyte van.

Dit is wat ek die ginnam-evangelie noem!
God het ons lief ongeag wie of wat ons is. Dié wonderlike temamusiek hoor ’n mens nog maar sag en huiwerend in die Ou Testament. Daar is dit nog net enkele instrumente in die groot simfonie-orkes van God wat dit sagkens speel.

Maar dan kom die Nuwe Testament‚ dan kom Jesus Christus. En dan word dit die hooftema wat die volle orkes en al die instrumente uitjubel en in heerlike harmonieuse klanke uitsing. Ons in die gehoor klap nie net hande nie‚ nee‚ ons sing en jubel saam‚ want dit is ook vir ons bedoel.

Ja‚ dit is die evangelie van Christus dat jy nie eers nuttig moet wees voordat jy deur God as mens gereken word nie. Ons mag maar net daar wees. Ons bestaan is reeds geregverdig voordat ons presteer of iets vermag – deurdat Jesus Christus vir ons gesterf en opgestaan het.

Natuurlik is die gevolg daarvan juis nie dat ons nou so nutteloos moontlik sal bestaan en maar net daar sal wees nie. Inteendeel‚ ons gaan nou juis probeer om meer nuttig te wees en daar te wees tot God se verheerliking – maar dan nie om ons bestaan te verdien of te regverdig nie‚ maar uit dankbaarheid dat die sin van ons bestaan nie lê in ons nut nie‚ maar in die Here wat ons ginnam liefhet‚ sonder dat daar ’n bepaalde rede voor hoef te wees.

Nou gooi ons ook die nare nuttigheidsmotiewe wat ons gedurig bekruip‚ radikaal uit ons lewe uit: Ons gaan nie meer kerk en binnekamer toe omdat ons moet nie‚ maar omdat ons dit graag wil doen. Ons bid nie meer net wanneer ons in nood is en vir alles wat ons nodig het nie. Ons glo nie meer omdat alles geloofwaardig is nie. Nee‚ ons gryp na al hierdie dinge van die Here omdat dit ons voorreg is‚ omdat dit vir ons lekker is. En ons het nie meer ons huweliksmaat lief omdat hy/sy sus of so is nie‚ maar omdat hy/sy daar is. En ons laat die Here toe om werklike naasteliefde by ons te kweek. Ons maak dus ons verhouding met God en die mense ’n ginnam-verhouding‚ sonder bybedoelings en sonder winsmotiewe.

Wonder jy dalk nou of daar in die Griekse Nuwe Testament ook ’n woord is soos die Hebreeuse ginnam in die Ou Testament? ’n Mens sou kon antwoord dat die héle Nuwe Testament daarop gebaseer is‚ maar daar is nogtans verskeie spesifieke woorde wat presies sê wat die Hebreeuse ginnam wil sê. Die belangrikste en mooiste voorbeeld is miskien die Griekse woord dorean. Romeine 3:23-24 is een van die belangrikste verse in die Nuwe Testament waarin dorean die hoofwoord is: “Almal het gesondig … maar hulle word‚ sonder dat hulle dit verdien (dorean)‚ op grond van sy genade vrygespreek.” Wat dus in die boek Job nog slegs vaagweg deurkom‚ word in die Nuwe Testament die eintlike boodskap: ons word dorean vrygespreek‚ sonder dat ons dit verdien of dit werd is‚ net omdat die Here genadig is en dit wil doen‚ omdat Hy by Betlehem in Persoon na ons toe gekom het‚ en op Golgota deur (’n mens kan amper sê) Job se vriende gekruisig is om hierdie genade te probeer vernietig‚ maar wat uit die oop graf op die opstandingsmôre gestap het om vir elke gelowige te kom sê: Nou is hierdie dorean-genade die grootste werklikheid onder die son. Nou is dit vandag en môre en oormôre en elke dag daarna tot in ewigheid waar: Ons hoef niks by God te verdien nie‚ nie eens te presteer‚ enige bydrae te lewer‚ ’n besondere taak te vervul‚ aan vereistes te voldoen‚ ’n offer te bring‚ voordat Hy ons aanneem nie!

Selfs die feit dat ons in Christus moet glo en ons sondes in berou moet bely‚ is nie regtig ’n vereiste nie. Dit is maar net die Here se manier om ons hande heeltemal leeg te kry‚ sodat Hy hulle met genade kan oorlaai‚ want as ons nog dinge in ons hande het wat ons in ruil vir Hom wil gee – selfs ons vroomheid – is ons hande nog nie leeg om alles van Hom te kan ontvang nie.

Want sy alles skenk Hy vir ons ginnam‚ dorean!

Deur so na God te kyk maak ’n mens sterk en help jou oorleef. Nou verstaan Job al wéét hy steeds nie: Job 42:2 “Nou weet ek … nou het ek u gesien.” Job wat vroeër so baie en so hard gepraat het‚ praat nou min en sag. Vroeër het hy hom verset‚ nou praat hy soos een wat aanvaar en vertrou. Nou snap hy beter.

As ons mooi gaan dink‚ dan klink ook Christus se onverdiende‚ onskuldige lyding nie heeltemal so regverdig nie. Hy boet vir ons! Hoekom kies God juis “lyding” om die wêreld te verlos? Kon dit nie maar op ’n ander manier gebeur het nie? Daarom het die Grieke in Korinte in Paulus se tyd die kruis ’n dwaasheid genoem (1 Kor. 1). Maar ook in die Nuwe Testament gaan daar vir ons ’n wêreld oop‚ ’n toekoms waar dit alles groot betekenis het. Kyk ons na God se bestuur van die lot van die wêreld hier‚ dan word die lewe op aarde besonder leefbaar. Dan kry ons moed al is die lewe soms baie hard. Om te verstaan sonder om te weet is deel van die lewe. Ons funksioneer buitendien daagliks so. Hierdie “verstaan” maak vir ons ’n groter wêreld oop waar God vir ons net die beste in die oog het. Dan word die hoekoms‚ waaroms en waarheens – daardie presiese wéét – nie meer ’n obsessie by ons nie. Dan kan ons met oorgawe leef; en ook toekoms toe leef‚ al wéét ons soms maar min.

Amen

Ds. Hentie Krüger


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.


ePos: hentie@midweek.co.za
Webblad: www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812