|
Preek: |
23 April 2006 te Gereformeerde Kerk Lyttelton |
|
Lees: |
Jeremia 13:1-11 |
|
Teks: |
Jeremia 13:11 |
|
Tema: |
Ons is God se juwele. Skitter jy soos een? |
DIE meeste gelowiges dink – en sê! – dat hulle alles feil het vir die Here en sy saak. Ongelukkig word ons leunstoeluitsprake as leë woorde aan die kaak gestel wanneer ons die toetse in die praktyk druip. Om te sê en te doen is dikwels twee verskillende dinge. Christus het self ook oor dié sê-en-doen saak gepraat: “Nie elkeen wat vir my sê: Here‚ Here sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie‚ maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is” (Matt. 7:21). Jesus sê selfs dat die egtheid van ons belydenis aan ons dade gemeet sal word: Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie‚ het julle dit aan My ook nie gedoen nie (Matteus 25:45).
Dit is hoekom hierdie spieël wat Jeremia aan ons voorhou vir ons as gelowiges in ’n hoek vasdruk. Want Jeremia het sy roeping as profeet baie ernstig opgeneem. Hy is by uitstek vir ons ’n voorbeeld in die Ou Testament van iemand wat krom geloop het onder die las van die boodskap wat God op hom gelê het. Hy is in voortdurende stryd met sy volk en soms met God self. Sy las is des te swaarder omdat hy ’n roepende eenling onder sy mense was.
In die spannende dae van die krisistye op politieke gebied‚ binnelands sowel as buitelands‚ het hy ondanks sy eie verguising maar een lojaliteit geken: GOD. Dit is God self wat hom in staat gestel het om sy lydensweg enduit te kan loop. Lank vóór die apostel Paulus het die woord van 1 Korintiërs 4:9 alreeds waar geword in Jeremia se lewe: Dit lyk vir my God het aan ons‚ die apostels‚ die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is. Ons het ’n skouspel geword vir die wêreld‚ vir engele sowel as vir mense (1 Kor. 4:9). Jeremia het dikwels gratis teater aan die spottende en laggende skares verskaf. By geleenthede waar die volk bymekaar gekom het‚ het hy soms – nee‚ MOES hy soms‚ want die las is hom opgelê – sy boodskap op die mees onortodokse wyse aflewer. Dink maar net aan dié keer toe hy ’n erdepot moes breek as simbool van hoe die Here die volk en die stad gaan straf (Jer. 19:10‚ 11).
[Tofet
Plek in die dal van Hinnom waar die kinders deur vuur aan die diens van Molog gewy is (vgl. Jer. 7:31; 19:6‚ 11-14; 2 Kon. 23:10; 2 Kron. 28:3; 33:6). Soos Molog ’n vervorming van mèlech (=koning) was‚ is Tofet ook op dieselfde manier gevokaliseer deur die klinkers van bosjet (=skande) hier in te voeg; die woord was waarskynlik tèfet (broodstapel)‚ maar die spelling Tofet was bedoel om ’n veragtelike betekenis aan die woord te gee‚ iets waarteen ’n mens spuug. Jeremia het uit die stad Jerusalem deur die Potskerwepoort na Tofet gegaan (sien Jer. 19:2). Dis vermoedelik dieselfde as die Aspoort (sien Neh.. 2:13; 3:13; 12:31); dan moet ons die plek van die afgodediens waarvoor hulle hoogtes gebou het‚ Jer. 7:31‚ daar naby soek. In Jes. 30:33 word Tofet vir brandstapel‚ vuurherd‚ figuurlik vir graf of hel‚ gebruik.]
Om ten spyte van geseling en marteling steeds getrou te bly‚ kan alleen moontlik wees as jy regtig deur die Here gegryp is en daarom nie anders kan nie. Iets hiervan word ook in ons teksverse duidelik.
Nou is dit so dat dit soms baie belangrik is om voorraadopname van jou lewe te maak. Dan gaan staan jy as ’t ware stil en kyk terug na dit wat agter jou lê en jy vorentoe na dit wat op jou wag en jy maak ’n balansstaat op. Jy vra vir jouself: “Wat het ek met my lewe gemaak?” Wat staan onder aan my balansstaat – ’n wins of ’n verlies? En as jy genoeg moed het sal jy miskien ook vra: Wat se mens is ek nou eintlik? Wie is ek vir my omgewing; wie is ek vir my huisgesin‚ vir my werk; wie is ek vir God?
Jy is reg as jy sê dat mens jou nie daaroor moet verknies nie. Dis waar. Aan die ander kant is dit ook nie altyd goed om hierdie tipe vrae te probeer ontwyk nie. Jy sien‚ dit hou die voordeel in‚ dat jy sien waar jy staan en dat jy geleentheid het om ’n ander koers in te slaan. Hier in die gedeelte wat ons saam gelees het‚ is ’n interessante ding besig om te gebeur: Nie die mens nie‚ maar God maak ’n balansstaat op. God gee rekenskap van die stand van sake oor die verhouding tussen Hom en sy volk. Hy vra: “Wie is Ek vir julle gewees?” EN: “Hoe staan julle teenoor My?”
Eintlik is dit beskamend dat God dit moet doen. Dit het mos veeleer op die volk se pad gelê om dit te doen. God doen wat die volk nagelaat het om te doen. Hy spreek die probleme‚ wat ons graag wil vermy‚ aan. Dit is sy manier om ons aan die dink te sit; om die proses van besinning by ons aan die gang te kry. In ons teksvers gebeur dit met ’n sinnebeeldige handeling. As die woorde van die profete nie meer indruk maak nie‚ dan praat God deur middel van dade met ons.
Jeremia kry opdrag om ’n linnegordel te gaan koop en dit dan vir ’n tyd lank om sy middel te dra. Dit was nie ’n sommerse-so gordel nie‚ dit was een van wit linne soos wat die priesters gedra het. Dit was werklik iets besonders – trouens die Oosterse man was baie kieskeurig oor die gordel wat hy gedra het. Gewoonlik is geen koste ontsien in die aankoop van so ’n gordel nie en selfs die armste het ’n mooi gordel gehad.
So ’n linnegordel moes Jeremia gaan koop en vir ’n tyd lank dra. Wat verder van die gordel belangrik was‚ was dat die gordel styf om die man se heupe gesit het. Ons kan sê dit het aan die man gekleef. Die man en sy gordel het een geword.
Nadat Jeremia die gordel ’n tyd lank gedra het‚ moes hy dit afhaal en by die Eufraat gaan begrawe.
|
Baie mense dink dat Jeremia na die Eufraat-rivier toe geloop het. Dit sou beteken dat Jeremia soontoe en terug ongeveer 1 120 km (700 myl) geloop het. Die Hebreeus vir Eufraat is (pera?). Dieselfde woord kan verwys na ’n klein nedersetting met die naam van Para (parâh) wat ongeveer 4‚8 km (3 myl) noordoos van Anatot van die stam Benjamin was (sien Josua 18:21‚ 23). As ons aanvaar dat Jeremia na die nader plek toe gestap het‚ dan sou dit die volk in staat gestel het om sy handelinge te aanskou‚ anders sou dit vir hulle nie moontlik gewees het nie. ’n Diep Wadi (droë rivierbedding) vandag bekend as ’Ain Farah pas perfek in by in by die beskrywing wat vir ons in Jeremia 13 geteken word. Nou is dit eintlik vanselfsprekend dat nadat Jeremia die gordel afgehaal en begrawe het dat dit baie vuil sou word en dat dit selfs kon verrot. Die pragtige kledingstuk sou nadat hy dit opgegrawe het‚ eintlik net ’n stuk vodde wees. Met hierdie stuk vodde van ’n gordel (alles behalwe ’n sieraad) moes Jeremia deur die strate van Jerusalem stap. |
Hierdie slegte volk wat weier om na my woord te luister‚ wat hulle eie harde koppe volg en agter ander gode aanloop en hulle dien en vereer‚ sal net so nutteloos word soos hierdie gordel. Soos ’n gordel stewig vas is om die lyf van ’n man‚ so het Ek al die mense van Israel en Juda aan My vasgemaak‚ sê die Here. Hulle moes my volk wees‚ hulle moes lewe tot my roem en eer en ’n sieraad vir My wees‚ maar hulle het nie geluister nie (Jeremia 13:10-11).
’n Interessante verhaal nê? Onthou die punt van die ooreenkoms lê in die woorde “stewig vas is” of soos in die OAV “kleef.” Soos die gordel stewig vas is om die lyf van ’n man‚ net so was God en sy volk aan mekaar vasgebind. Daar staan letterlik in die Hebreeus dat hulle aan mekaar vas gegom is. Daar het dus ’n intieme gemeenskapsband tussen God en sy volk bestaan.