Preek:

15 Augustus 1999 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Romeine 1

Teks:

Romeine 1:16‚ 17

Tema:

Skaam jy jou vir die evangelie?


U WEET geliefdes‚ ons preek en praat so baie oor Paulus se brief aan die Romeine dat ek wonder of ons nog daaraan dink hoe en wanneer die gemeente daar ontstaan het. Kom ons gaan kyk kortliks daarna:

Hoe en wanneer die evangelie die eerste maal in Rome verkondig is en daar ’n gemeente ontstaan het‚ weet ons nie.

Wat ons wel weet is dat die ontstaantyd in elke geval voor 49 nC gestel word in die lig van die interessante uitspraak van die Romeinse skrywer‚ Suetonius‚ wat in sy boek Die lewe van Claudius‚ in 49 nC beskryf: “(Claudius) Judaeos impulsore Chresto assidue tumultauntes Roma expulit” (“Claudius het die Jode uit Rome verban omdat hulle gedurig oproer gemaak het vanweë die onrusstoker Chrestus”). Teen 49 nC was daar dus reeds genoegsaam Christene in Rome dat die stryd van die Jode teen die Christene daartoe gelei het dat die keiser drasties teen alle Jode (ongelowige Jode en Christen-Jode) opgetree het.

Maar hoe het die gemeente daar ontstaan? Ons weet nie. Ons kan net gis:

Een moontlikheid lê natuurlik reeds in Hand. 2:10 opgesluit: Vir die Pinksterfees was daar ook mense uit Rome in Jerusalem en dus ook by die uitstorting van die Heilige Gees en die vroegste prediking van die apostels aanwesig!

Ook die bekering van die Romeinse kaptein Cornelius en sy huis (Hand. 10–11) verdien oorweging. Romeinse offisiere is vir beperkte periodes na die provinsies gestuur en daarna as kompensasie na Rome gerepatrieer.

Ons kom egter nie verder nie as hipotetiese beskouinge en die wete: teen 49 nC was daar al ’n sterk Christengemeente in Rome.

Maar terug na ons teks.

Wat beteken dit dat ons ons nie vir die evangelie moet skaam nie?

Skaam jy jou oor die evangelie? Dit is bietjie van ’n vreemde vraag‚ nê? Gewoonlik skaam ons ons vir iemand‚ nie vir iets nie. As ek my skaam vir iemand dan beteken dit gewoonlik dat iemand dan beteken dit gewoonlik die iemand doen iets wat maak dat ek wens ek was nie daar naby nie. Ek is bang die mense sien my by jou‚ en dan dink hulle ek ken jou‚ of nog erger‚ hulle dink ek is net soos jy.

Dit lyk my kinders skaam hulle nogal baie vir hulle ouers‚ veral as die kinders begin grootword en begin besef dat dit nou maar eenmaal so is dat mense mekaar begin beoordeel. Wanneer kry kinders skaam vir hulle ouers? In die algemeen. Maar ouers kry ook skaam vir hulle kinders‚ byvoorbeeld as hulle jou reputasie skaad deur regtig iets verkeerds te doen‚ byvoorbeeld as hulle dronk is in die openbaar‚ of as hulle skree of vloek in ’n winkel.

Wanneer ek my dus vir iemand skaam‚ dan maak ek of ek hom nie ken nie‚ of ek wens ek het hom nie geken nie. Nou is die vraag of ons ons ooit skaam vir die evangelie? Wie of wat is die evangelie? Vers 16 sê: “dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo.” Die evangelie is die blye boodskap wat God aan mense stuur dat Hy jou red‚ en dat jy nie eers hoef te presteer voordat dit waar word nie.

Paulus sê in die evangelie kom dit tot openbaring‚ met ander woorde word dit duidelik‚ dat God mense van hulle sondes vryspreek … enkel en alleen omdat hulle glo. Ek wens ons kan almal skielik ’n nuwe taal praat sodat ons die boodskap in nuwe woorde kan hoor. Ek dink ons het dit al so baie gehoor‚ dat ons dit nie meer hoor nie. Of ons hoor die woorde‚ maar dit bly woorde in ons koppe; dit tref nie ons harte nie. God red uit genade. Ons verdien dit nie. Ons word van ons sondes vrygespreek enkel en alleen omdat ons glo. Wanneer ek glo‚ wanneer ek God ken en vertrou‚ bring dit my in die regte verhouding met God. En wanneer ek in die regte verhouding met God is‚ sal ek lewe!

Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan …

Romeine 5:2

Kyk mooi na die uitdrukking “deur Hom het ons toegang verkry.” In die Grieks staan hier letterlik “om in die teenwoordigheid van ’n koninklike ingebring te word.” Christus ontmoet jou buite die troonsaal‚ vat jou hand en lei jou tot in die teenwoordigheid van God. Wanneer ons daar ingaan‚ beleef ons genade‚ nie veroordeling nie; begenadiging‚ nie straf nie. Waar ons vantevore nooit toestemming sou gekry het om met die Koning te praat nie‚ word ons nou verwelkom in sy teenwoordigheid.

As jy ’n ouer is‚ sal jy dit verstaan. As ’n kind wat jy nie ken nie‚ aan jou deur kom klop en vra om die nag daar te slaap‚ sal jy dit doen? Waarskynlik sal jy vra wat sy naam is en waar hy bly‚ uitvind waarom hy op straat is‚ en sy ouers skakel. Maar as ’n jongmens saam met jou eie kind in die huis inkom‚ is daardie kind welkom.

Dieselfde is waar van God. Deur vriende te word met sy Seun verkry ons toegang tot die Vader.

Jesus het belowe: “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek‚ vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is” (Matt. 10:32). Omdat ons sy Seun se vriende is‚ het ons toegang tot die troonsaal waar ons die goedheid van God kan geniet.

Ek hoef nie daaraan te twyfel nie‚ en ek hoef nie daaroor te wonder nie. En julle het dit seker al duisend keer gehoor. En elke keer as ons iewers in ’n gesprek die vraag teëkom: “Hoekom moet ek die wet nakom?” dan hoor ons‚ “Want as jy dit nie doen nie‚ word jy nie gered nie?” Op soveel verskillende maniere vang ons onsself uit dat ons steeds volgens verdienste leef‚ en nie volgens genade nie. Dis asof ons die evangelie nie ken nie.

As jy aanhou maak asof jy my nie ken nie deurdat jy in die winkels by my verby loop‚ my nie groet nie‚ die kans om met my te gesels en my beter te leer ken‚ verby laat gaan‚ dan gaan ek later begin wonder of jy dalk skaam is vir my. Is dit vir jou ongemaklik om saam met my gesien te word? Gaan jou vriende jou spot omdat jy met my staan en gesels het? Is dit ’n bietjie vreemd as jou maats sien jy ken die dominee?

Dis reg … as jy jou vir my skaam … maar vir die evangelie? Vir die krag van God wat mense red wanneer hulle glo? Vir die boodskap wat dit duidelik maak dat genade‚ en nie verdienste nie‚ die maatstaf is wat God aanwend wanneer Hy na ons kyk?

Skaam jy jou dalk daarvoor? My eerste reaksie is: Nooit! Ek skaam my nie vir die evangelie nie! Ek is trots daarop en dankbaar daarvoor! Ek wonder dan net hoekom ek partykeer optree asof ek hierdie boodskap nie ken nie. As ek trots is op die evangelie‚ hoekom is dit dan so swaar om dit aan ander mense “voor te stel”; teenoor party mense uit te leef?

Die evangelie sê‚ God red elkeen wat glo. Hy spreek mense vry van hulle sondes enkel en alleen omdat hulle glo. Daar word nie ander‚ ekstra voorwaardes gestel waaraan enige iemand moet voldoen om aanvaar te word nie. God vat jou nes jy is. En dis Goeie Nuus‚ ’n Blye Boodskap wat almal moet hoor en ervaar. En wat gebeur binne in jou as hier ’n boemelaar in die vol kerk sou inloop en hy soek plek om te sit? … en kom sit dalk langs jou‚ want daar was nog plek?

Maar ons skaam ons nie vir de evangelie nie.
As jy jou nie skaam vir die evangelie nie‚ hoekom sukkel jy partykeer so om jou huweliksmaat te vergewe?
As jy so goed bekend is met die evangelie‚ hoekom is dit so moeilik om vergifnis te vra wanneer jy weet dat jy verkeerd was? Jy skaam jou nie vir die evangelie nie‚ maar jou kind moet 80% kry‚ al is sy/haar vermoë net 60%‚ anders is die duiwel los? Ek skaam my nie vir die evangelie nie‚ maar jy moet weet besigheid is besigheid‚ en goeie besigheid is nog beter. Moenie nou kom kerm oor beginsels soos eerlikheid en opregtheid en betroubaarheid nie. As die ander ou nie die fyn skrif gelees het nie‚ is dit sy moeilikheid.

Die antwoord op al hierdie moeilike vrae is natuurlik‚ “Eintlik skaam ek my soms vir die evangelie.” Dit is soms baie swaar om die evangelie se beginsels in ’n gesprek voor te stel‚ want ek weet ek gaan dalk nie so gewild wees nie. Dit vra moed en oortuiging om jou vriende teen te gaan as die dinge op die partytjie begin skeef loop. Petrus het die aand in die binneplein gesê hy ken nie vir Jesus nie‚ want hy het nie kans gesien vir wat dit van hom gaan vra nie. Hy was skaam en bang om verbind te word met iemand wat ’n magtelose gevangene is.

En dit is so dat die uitstaande kenmerk van Jesus sy magteloosheid is: sy gebrek aan grootheid‚ sy oënskynlike swakheid. Hierdie swakheid was egter ter wille van ons. Deur hierdie Jesus het God ook sy krag bekend gemaak. Die Heilige Gees het gewys dat Hy die Seun van God is wat met mag beklee is op grond van die opstanding! Daardie selfde Petrus het later sy liefde weer en weer verklaar en die opdrag gekry: “laat my lammers wei‚ en gee my skape kos.” Ons ken die Jesus wat opgestaan het. God het klaar bewys dat Jesus sy Seun is wat met mag beklee is. Dié mag is nou tot ons beskikking‚ en werk in ons. Hierdie krag van God red elkeen wat glo.

Wat meer is‚ Jesus skaam Hom nie vir ons nie. Inteendeel‚ in dieselfde brief word dit aan ons bevestig. … God is vír ons. Wie kan dan teen ons wees? (Rom. 8:31). Die vraag is nie maar net: “Wie kan teen ons wees?” nie. Jy kan dit maklik beantwoord. Wie en wat is teen jou? Siekte‚ inflasie‚ korrupsie‚ uitputting. Rampe konfronteer jou en vrees maak van jou ’n gevangene. As Paulus gevra het: “Wie kan teen ons wees?” sou ons baie makliker ons vyande kon opnoem as wat ons hulle kan beveg. Maar dis nie wat hy vra nie. Die vraag is: As God vír ons is‚ wie kan teen ons wees?

Verduur my asseblief ’n oomblik. Vier woorde in hierdie vraag verdien jou aandag. Luister aandagtig: “God is vír ons.” Kom ons wag ’n rukkie voor ons aangaan. Luister weer: God is vír ons. Ek gaan die sin vier maal herhaal en elke keer ’n ander woord beklemtoon. (Komaan‚ jy’s nie so haastig nie!)

God is vir ons.

God is vir ons.

God is vir ons.

God is vir ons.

God is vir jou. Jou ouers het jou dalk vergeet‚ jou onderwysers het jou dalk oor die hoof gesien‚ jou kinders skaam hulle dalk vir jou; maar binne bereik van jou gebede is die Skepper van die heelal. God!

God is vir jou. Nie “miskien” nie‚ nie “was” nie‚ nie “sal wees” nie‚ maar God is! Hy is vir jou. Vandag. Hierdie uur. Hierdie oomblik. Terwyl jy luister. Dis nie nodig om tou te staan of môre terug te kom nie. Hy is by jou. Hy kan nie nader wees as wat Hy op hierdie oomblik is nie. Sy lojaliteit sal nie meer word as jy beter is en ook nie minder word as jy slegter is nie. Hy is vir jou.

God is vir jou. Kyk na die kantlyn; dis God wat jou aanmoedig. Kyk agter die wenstreep; dis God wat jou toejuig. Luister hoe skree Hy jou naam. Te moeg om aan te gaan? Dan dra Hy jou. Te moedeloos om te veg? Dan tel Hy jou op. God is vir jou.

God is vir jou. As Hy ’n kalender gehad het‚ sou jou verjaardagdatum daarop omkring gewees het. As Hy ’n motor bestuur het‚ sou jou naam op sy bufferplakker gewees het. As daar ’n boom in die hemel is‚ dan het Hy jou naam in die bas uitgekerf. Ons weet Hy het ’n tatoeëermerk‚ en ons weet wat daarop staan‚ want Hy verseker ons: Ek het jou naam in my handpalms gegraveer … (Jes. 49:16).

Kan ’n vrou haar eie baba vergeet‚ haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? … vra God in Jesaja 49:15. Watter vreemde vraag! Kan julle ma’s julle voorstel dat julle julle baba voed en dan later vra: “Wat is daardie baba se naam nou weer?” Nee‚ ek weet mos hoe ma’s hulle babatjies versorg; hulle streel hulle haartjies‚ hulle raak aan die gesiggie‚ hulle sing die naampie oor en oor. Kan ’n ma vergeet? Nooit gesien nie. Maar … selfs al sou so iets kon gebeur‚ Ek sal jou nie vergeet nie (Jes. 49:15).

God skaam hom nie vir jou nie; Hy is by jou. As jy dit weet‚ wie kan dan teen jou wees? Kan die dood jou skade aandoen? Kan siekte jou van jou lewe beroof? Kan jou lewensdoel weggeneem of jou waarde verminder word? Selfs al staan die hel teen jou op‚ kan niemand jou verslaan nie. Jy word beskerm. God is by jou.

As ek my nie vir die evangelie skaam nie‚ beteken dit ek leef in my privaatheid en in die openbaar daarmee saam. Ek steek dit nie vir my vrou en kinders weg nie en ook nie vir my vriende en vennote nie. Ek stel die goeie boodskap voor aan die mense met wie ek te doen kry.

Dit vra dat ek die genade waarvan ek al duisend maal hier in die kerk gehoor het‚ eenmaal op ’n slag sal waar maak as ek hier uitgaan. En dis nie te moeilik nie‚ broers en susters. Jy hoef maar net jou kind onvoorwaardelik lief te hê‚ dan lewe jy uit hierdie genade. Jy kan maar net jou werk getrou en eerlik doen omdat God ook dit vir jou moontlik maak. Mense sal wel begin navraag doen oor wat met jou fout is as jy betyds begin werk en aanhou werk tot die tyd om is‚ as jy nie verneuk nie‚ en as dit wat jy hulle vertel het‚ toe al die tyd die waarheid is.

Dit vra dus nie van ons groot evangelisasie veldtogte nie. Jy hoef nie na Rusland te gaan om daar te gaan sendingwerk doen nie. Jy kan maar net huisevangelisasie en werkevangelisasie lewe. Sommer net hier in Suid-Afrika.

Skaam jy jou vir die evangelie? Partykeer‚ ja. Maar ek is skaam omdat ek my skaam.

Want ek hoef nie. Die evangelie is dan die Blye Boodskap wat ek gehoor het. Dit verseker my dat God my uit genade red. Dit gee my die moed om elke dag aan te gaan met my lewe‚ en om die ander mense rondom my ook aan die genade voor te stel en bloot te stel. Hou aan daarmee.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.