Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie‚ maar aan my getroue Verlosser‚ Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader‚ geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe
SO HET die oomblik dan aangebreek dat Isak op die hout moes gaan lê om vasgebind te word. Daar word egter nie vertel of Abraham toe vir hom vertel het dat hy eintlik die lam is wat God vooruitgesien het nie. Natuurlik moes Abraham dit vir hom gesê het‚ vir hom op die een of ander manier laat verstaan het dat die hele tog om hóm gedraai het‚ al lees ons daarvan niks nie. Hier staan egter glad nie dat Isak hom verset het of dat sy pa hom met geweld op die altaar moes dwing en hom al skreeuende moes vasbind nie. Nee‚ Abraham het Isak vasgebind – en wat ’n verskriklike taak moes dit vir hom as vader gewees het‚ ongetwyfeld die grootste van sy hele lewe! – maar Isak het hom ook láát bind‚ wat vir hom as jong man geen kleiner geloofsdaad was as dié van sy vader nie. Gaandeweg het hierdie jongeling begryp dat God sy vader beveel het om hom op die berg te offer.
(letterlik) Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. (v 10‚ OAV)
Gabe van Duinen het hier een van die mooiste dinge denkbaar geskrywe. Hy vra: “Het Isak na die mes gekyk? Of het hy na sy vader gekyk? Nee‚ hy het dit vir sy pa makliker gemaak. Hy het na bo gekyk. Hy het na … God gekyk. Toe het Abraham sy hand uitgestrek. Tóé kon dit.”
Daar het egter iets anders gebeur‚ iets wat Abraham voortdurend geglo het sou gebeur‚ en iets wat ons as lesers van hierdie Bybelgedeelte ook so halfonbewus verwag het‚ nie waar nie?
(letterlik) Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham‚ Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! (v 11‚ OAV)
Dit het in die elfde vers ter elfder ure gebeur‚ en dit kon geen minuut later nie. Tog het dit gebeur dat die Engel van die Here as’ t ware vir Abraham aan die arm gegryp het. Die Engel van die … Here! God openbaar Hom in die Bybel deur middel van baie name‚ en tog is twee van hulle sy hoofname‚ waarby Hy die meeste genoem word. Die eerste is (in die Hebreeus) Elohim wat ons in Afrikaans vertaal met “God.” Dit spreek van sy goddelikheid en mag. Hy is die Almagtige‚ die Meester oor alles en almal‚ die Een wat kan eis. En tog is dit nie sy hoofnaam nie. Dit is die Naam (in Hebreeus) Jahweh wat ons vertaal met “Here.” Dit is sy eintlike Naam‚ sy Verbondsnaam; ja‚ eintlik sy intieme en Genadenaam. Dit vertel ons gedurig dat Hy genadig is en dit altyd sal wees. So begin Genesis 22 met die Naam “God” in vers 1. Die Almagtige het Abraham geroep en beveel om sy seun vir Hom te offer. Wie kan Hom teëspreek? Maar Hy bly net die Almagtige‚ die Meester tot by vers 10. Sodra dit egter vers 11 word‚ neem die genade as ’t ware by en in Hom oor‚ word Hy die Genadige en roep sy Engel na Abraham om nie met die offer voort te gaan soos dit aanvanklik beplan is nie. Daar het nou ’n genadige wending gekom.
En wat ’n heerlikheid dat Abraham ook hier – dus vir die derde keer – met Hinéni kon antwoord! Dit beteken – “Hier is ek.” Dit is die antwoord wat die Israeli-soldate nou nog gee as die sersant hulle name uitlees om te hoor of hulle op hulle pos is. Abraham is op sy pos. Hy is nie net daar as die aangename bevele en geskenke uitgedeel word nie‚ maar ook as dit gaan om die bring van die grootste offer van sy lewe. Hy is geen Jona wat ver weg vlug as God na hom roep om – vir hom – ’n moeilike taak uit te voer nie. Nee‚ as die Here op die moeilikste plek denkbaar na hom roep‚ kan hy ook daar dadelik reageer en wys dat hy op sy pos is.
Dit is ook interessant om hier te hoor dat daar nie (soos in vers 1) net een maal na Abraham geroep word nie‚ maar twéé keer. Twéé keer weergalm sy naam tussen die klowe deur sodat Abraham nie dalk kon dink dat hy maar sy eie stem gehoor het nie. By God is jy op die veiligste plek denkbaar‚ al lyk dit soms of jy daar die grootste dinge moet prysgee. Wat jy egter vir Hóm prysgee‚ gee Hy teen 100% rente aan jou terug.
(letterlik) En Hy sê: ‘Moenie jou hand na die seun uitsteek nie‚ en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun‚ jou enigste‚ van My nie teruggehou het nie.’ (v 12‚ OAV).
Iemand wat aan die Here gehoorsaam is‚ kom nooit iets oor nie. Isak ook nie. Geen haar is op sy hoof gekrenk nie. Hy is heelhuids gered. En dan volg dit: “Want nou wéét Ek …”
As ’n mens bereid is om jou enigste kind prys te gee‚ kan jy wéét dat dit bedoel word. Nou weet die Here dat Abraham God vrees. Nee‚ “vrees” beteken nie hier “om bang te wees nie.” Abraham het seer sekerlik nie dit alles gedoen omdat hy bang vir God was nie. Nee‚ “vrees” beteken hier “om te dien”; ja‚ nog meer: dit beteken eintlik “liefhê.” Want dis net die liefde wat gewillig kan prysgee‚ kan offer.
Toe Abraham weer kyk‚ sien hy agter hom ’n skaapram wat aan sy horings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien” (letterlik: Jahweh Jireh). Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” (v 13‚ 14)
’n Mens stel jou voor dat hulle twee daar bly staan het totdat die vuur heeltemal uitgebrand was. Isak kon nie ophou dink dat hy so byna daar gelê het‚ dat hy eintlik daar móés gelê het nie. En Abraham het gedink aan die wonder dat God voorsien; dat God in die plek van sy seun voorsien het sodat die offer nog volkome kon plaasvind‚ maar sodat sy seun gespaar is. Daarom word daar nou nog verwys na die absolute feit dat God altyd op sy berg voorsien. Hy lei jou teen die steiltes van dié berg op‚ en dit word vir jou amper te hoog en die lug byna te dun‚ en jy wonder of Hy van jou vergeet het. Maar nouliks is jy heel bo of Hy voorsien. Hy voorsien sodat dit goed word‚ sodat jy eintlik niks oorkom nie.
Vir Abraham-hulle onbegryplik …
Kyk ’n mens na hierdie verhaal in sy volle teologiese diepte‚ is wat hier gebeur‚ selfs nog verskrikliker as wat jy aanvanklik gedink het. Daar is minstens drie vlakke wat ’n mens moet raaksien.
Die eerste vlak is dié van gewoon menslike ervaring en emosie. Ons almal wat kinders het‚ kan dink hoe diep so ’n ervaring in ’n mens se lewe moet gryp.
Maar wat hier bykom‚ en dit is die tweede betekenisvlak‚ is dat Isak die egpaar se enigste kind was‚ ’n kind wat hulle gekry het toe dit fisiologies gesproke eintlik reeds te laat vir hulle was om kinders te hê. Om in normale omstandighede ’n kind van sy ouers te eis is klaar erg genoeg. Maar om te wag tot mense té oud is‚ dan vir hulle ’n kind te gee‚ en die kind dan na ’n tyd terug te vra – dit is darem baie‚ baie hard‚ so voel ’n mens.
Reeds op hierdie vlak kry ’n mens die gewaarwording dat iets nie lekker sin maak nie. Ons almal weet dat die Here soms in ’n mens se lewe van jou vra om dinge prys te gee. Meestal is dit egter gevaarlike dinge; dinge wat op die rand van die sonde lê en waarvan jy met ’n bietjie verbeelding (en die inspraak van die Heilige Gees) kan insien hoekom die Here dit van jou vra. Maar met Isak was dit tog anders. As daar een ding in Abraham en Sara se lewe was wat nie verkeerd was nie‚ was dit dié seun. Vir hom het hulle uit die hand van die Here self ontvang.
Daar is ook ’n derde vlak van hierdie verhaal. Isak was nie net ’n bloedkind nie; hy was ook die seun van die belofte: Wat beteken het dat hy ’n onontbeerlike skakel in God se plan vir die redding van die wêreld was. Isak was die seun wat na Abraham se dood die heil van God aan “al die volke van die aarde” (Gen. 12:3b) verder moes dra. Die seën was verknoop met sy lewe; die hele heilsplan het na sy menslike kant om hom gedraai.
En nou kom eis God sy lewe?
Uitleggers sê tereg dat dit dalk die grootste krisis vir Abraham was. Wat gaan nou aan? Breek God dan nou sy beloftes? Het Hy nou ’n ander plan? Het ons iewers iets verkeerd gedoen sonder om dit agter te kom? het hy en Sara waarskynlik gewonder.
Die Hervormer Martin Luther het meermale aangrypend oor hierdie saak geskryf. Ons grootste beproewing of toets‚ sê hy‚ kom juis oor ons pad wanneer daar dinge gebeur wat ons net glad nie verstaan nie‚ omdat dit vir ons lyk af God besig is om lynreg teen sy eie planne in te gaan.
Ons geloof word wérklik getoets wanneer dit lyk of God op ’n manier volkome in teëspraak met Homself optree.
Vir ons effens makliker
Vir ons as moderne mense sit daar egter ’n groot stuk troos juis in hierdie aspek van die Genesis 22-verhaal. In dié gebeure sien ons dat sulke dinge in die lewe gebéúr – ook met gelowiges. Ook aan ons kom stel die Here soms snaakse‚ byna skrikwekkende toetse vir ons geloof. Ook ons kinders kom soms in die gedrang. Die lewe saam met God loop plek-plek langs vreemde weë.
En nou is die troos: wanneer dit gebeur‚ kan ons weet dat ons nie die eerstes is wat daar moes deur nie. Verder moet ons ook onthou dat ons darem ’n groot voordeel bo Abraham het. Vandag weet ons dat die Here van die begin af nooit bedoel het dat Abraham regtig vir Isak moes offer nie. As ’n mens die verhaal mooi lees‚ sien jy immers dat daar reeds in 22:1 uitdruklik vir ons gesê word dat God hiermee Abraham se geloof bloot “op die proef gestel het.” Sedert die koms van Christus kan ons ook hierdie soort voorvalle beter hanteer. Wanneer episodes soos dié oor ons pad kom – en dit gebeur vandag nie minder as destyds nie – het ons die voordeel dat ons meer van God en van sy hart en van sy werklike intensies weet as wat Abraham geweet het. Daarom behoort ons dit eintlik baie beter as Abraham en Sara te kan hanteer.
Geen finale antwoorde nie
Met die Nuwe-Testamentiese mens se beter insig in die hart van God (omdat ons dit in die lewe van Jesus kon sien) behóórt ons geloofskrisisse beter te kan hanteer.
Maar die vrae sit maar steeds in ons hart: Hoekom dóén die Here dit aan mense? Wat is sy bedoeling daarmee? Watter belang sou Hy kon hê om sy kinders deur bitter ervarings soos dié van Abraham en Sara te laat gaan?
Soos altyd wanneer hierdie soort hoekom-vrae op die tafel kom‚ moet ’n mens nie voorgee dat jy regtig finale of volledige antwoorde kan gee nie. Tog lyk dit vir my of daar in die Genesis 22-verhaal self en in dit wat die Bybel wyer oor hierdie saak sê‚ een of twee perspektiewe is wat ons kan help om ’n bietjie meer lig op dié vrae te kry.
’n Deel van die antwoord agter die toetsingsgeskiedenis in Genesis 22 is waarskynlik dat die Here‚ ter wille van sy heilsplan‚ moes seker maak dat Isak nie ’n té sentrale plek in Abraham se lewe begin inneem het nie. Soms gebeur dit met ons ook dat ons bepaalde gawes en stukkies genade so aangryp dat ons skoon vergeet dat dit maar deel is van die pad saam met God; dat sy plan vir ons nog verder gaan; dat die beste trouens nog voorlê.
Maar ons kan nie net uit die Ou Testament lees sonder om te onthou wat Hy wat in die middelpunt van die Nuwe Testament staan‚ vir ons gesê het nie: dat ons die Ou Testament moet lees as die boek wat oor Hóm getuig (vgl. Joh. 5:39). Ons hoef ook nie ver in die Nuwe Testament te soek na plekke waarin Genesis 22 met Hom‚ met Jesus‚ in verband gebring word nie. Miskien is die belangrikste die vers Romeine 8:31 en 32‚ verse wat soveel direkte verband met Genesis 22 het dat dit byna lyk of Paulus daarop kommentaar lewer.
Wat is nou die gevolgtrekking wat ons oor “al hierdie dinge” moet maak? So vra Paulus daar. Dit sluit al die dinge in waarna Paulus in die vorige verse verwys het‚ en veral die feit dat die hele skepping sug (vgl. v. 22); ja‚ dat ook ons‚ ondanks die feit dat ons reeds die Gees ontvang het‚ nog dikwels moet sug (op ons tog na ons Morias!). Maar‚ sê Paulus‚ as ons net kon weet dat God vir ons is; dat God vír ons lief is‚ kan niks eintlik meer teen ons wees nie. Wat kan ons daarop antwoord? Hoe weet ons dat God ons liefhet?
God het in Genesis 22 gewéét dat Abraham Hóm liefhet omdat Abraham bereid was om sy seun‚ sy enigste‚ die een wat hy liefhet‚ nie terug te hou nie‚ maar bereid was om hom te offer. Die antwoord lê dus daarin dat ons ten volle seker kan wees dat God óns liefhet‚ omdat Hy bereid was om ook sy eniggebore en geliefde Seun vir ons te offer.
Ja‚ God vra nooit iets van mense wat Hy nie self ook gedoen het nie. Aan die einde van al vier Evangelies lees ons dat God op daardie groot dag net soos Abraham met sy eie Seun teen die hoogte van Golgota uitgestap het. En die heel merkwaardige is ook moontlik: dat Moria en Golgota presies dieselfde plek is! Hierdie ware Isak het ook self sy “hout” daarheen op sy rug gedra‚ op sy smarteweg na sy smarteberg. Sy hout was so swaar en Hy so uitgeput dat Hy selfs daaronder gestruikel het en iemand anders Hom moes help dra. Maar wat ’n verskil! Daarbo was dit nie sy Vader se tere hande wat Hom (soos Abraham) op die hout gelê het nie‚ maar gevoellose soldatehande‚ nádat hulle eers al sy klere van sy lyf afgeruk het.
En het daar toe teen elfuur‚ ter elfder ure‚ ’n stem op Golgota weerklink wat dié verskriklikheid beëindig het? Nee. Op Golgota het dit elfuur‚ twaalf-‚ een-‚ twee-‚ drieuur geword. En van twaalfuur af tot drieuur toe het ’n duisternis alles bedek‚ so asof die son sy oë wou toemaak om nie te sien watter onreg gepleeg word nie. Daar het geen stem uit die hemel gekom om dit alles te verhinder nie. Al stem wat daar opgegaan het‚ was die kreet van die sterwende “Isak”: “My God‚ my God‚ waarom het U My verlaat!”
God het nie op Golgota ingegryp nie. Daarom skryf Paulus: “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie‚ maar Hom óórgelewer” – aan elkeen en almal. Waarom? Daar kan talle geldige redes genoem word‚ maar een van die belangrikstes is seer sekerlik: sodat ek en jy en almal wat in Hom glo sonder die minste twyfel kan uitroep: “Nou wéét ons dat God vir ons is‚ dat God ons liefhet‚ omdat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie‚ maar Hom vir ons almal oorgegee het.”
As ek twyfel of God vir my is en my liefhet‚ ontken ek Golgota‚ betwyfel ek die kruisiging. Dít mag ons nooit glo nie. Wat wel moet gebeur‚ is dat ek en jy van nou af so sal leef dat ons elke oomblik op sy wonderlike roepstem kan antwoord: “Hinéni.”“Hier is ek!”