|
Preek: |
19 Mei 1991 te Gereformeerde Kerk Lyttelton |
|
Lees: |
Openbaring 2:8-11 |
|
Teks: |
Openbaring 2:9 |
|
Tema: |
Volhard! |
NADAT die briewebesteller die brief aan die gemeente in Efese in daardie stad afgelewer het‚ het hy noordwaarts gedraai en na die stad Smirna gegaan. Hoe verskillend was die omstandighede van die gemeente in hierdie stad! Die lippe wat sy kus van broederlike liefde ontvang het‚ was nog gespanne van lyding en pyn. Heel waarskynlik het die hande wat die brief ontvang het‚ die merke van onlangse mishandeling gedra. En toe die briewebesteller vra na die plek waar die gelowiges bymekaar kom om hulle Here te aanbid‚ is hy na ’n afgeleë en geheime plek gebring‚ om daar kennis te maak met die gemeente in Smirna.
Gemeentes verskil van mekaar‚ self binne een dorp of voorstad verskil hulle samestelling‚ atmosfeer en lewenswyse. God werk ook nie met alle gemeentes op dieselfde manier nie. Hy weet watter gemeentes ’n leraar nodig het en weet wie om na watter gemeente toe te stuur. Die manier waarop die Here met gemeentes praat‚ verskil ook. Soms praat Hy hard‚ ander kere bemoedig Hy.
Hy wéét wat sy gemeentes nodig het. Smirna het net troos en bemoediging nodig gehad. As die Here met hulle praat is daar niks wat negatief is nie. Hulle kan staatmaak op sy hulp en troos.
Smirna‚ soos Efese‚ was ’n handelstad en ook aan die kus geleë. Eintlik was daar tussen Efese‚ Smirna en Pergamum wedywering oor watter stad die belangrikste in Klein-Asië was. Smirna het egter die ander twee uitgestof toe hy op sy munte ’n klein sinnetjie laat aanbring het: “Eerste in grote en skoonheid.” Smirna was nie alleen groot en mooi nie‚ maar ook ’n uiters ryk stad‚ omdat ’n aanhoudende stroom van rykdom van die Ooste in Smirna se hawe ingevloei het.
Daar is ’n besondere rede waarom ons hierdie besonderhede noem. Die rykdom van die stad Smirna het op die een of ander wyse te doen met die inhoud van die brief wat ons nou wil bestudeer‚ of liewer met die omstandighede van die bepaalde gemeente aan wie hierdie brief gerig was.
Want om arm te wees te midde van algemene armoede‚ is ’n beproewing wat in die reël nie bo ’n mens se vermoë is om te verduur nie; maar om baie arm te wees in ’n omgewing van oorvloed en weelde – dit maak armoede dubbeld swaar om te verduur. Dit was in hierdie ryk stad dat die Here ’n gemeente laat ontstaan het. Wat die presiese datum was weet ons nie. Aangesien Efese en Smirna nie te ver van mekaar af was nie‚ kan dit wees dat die gemeente ontstaan het tydens die twee jaar dat Paulus in Efese gearbei het. Van die sewe gemeentes het hierdie een die swaarste gekry.
Aan die gemeente skryf die Here ook ’n brief en adresseer dit aan die leraar. Hy was heelwaarskynlik Polikarpus‚ ’n bekende leraar in daardie tyd. In dié brief kom drie gedagtes na vore‚ naamlik die lyding van die gemeente‚ die rykdom van die gemeente en die beloftes aan die gemeente.
DIE LYDING VAN DIE GEMEENTE
Hoe begin Hy die brief? So sê die Eerste en die Laaste‚ wat dood was en weer lewend geword het (v. 8). Dié gemeente was letterlik besig om in die dal van doodskaduwee in te gaan. Die vervolging was reeds fisiek‚ maar dit sou nog erger word. Meer mense sou sterf.
En die brief wat nou van die preekstoel af voorgelees word‚ is gestuur deur Iemand wat ook daardie dal betree het en die dood gesmaak het. Dit was nie ’n brief van ’n vreemdeling‚ van iemand wat op ’n afstand staan en nie die gemeente se droefheid kan verstaan‚ of sy pyn kan aanvoel nie. Nee‚ Hy wat daardie brief geskryf het‚ het dieselfde droefheid gesmaak en dieselfde pyn gely; daarom kon Hy sê: Ek ken dit.
Hoe duidelik moet die gemeente in Smirna daardie Sondagoggend die teenwoordigheid van hulle Here onder hulle gevoel het! Hoe naby was Hy! Hoe kosbaar moet daardie vereenselwiging van hulle Here met sy kerk vir hulle in hulle omstandighede gewees het! Het die dood aan julle deur geklop? Ook dit is iets waarmee Ek nie onbekend is nie. Ek‚ die Lewende‚ was dood‚ maar kyk‚ Ek leef tot in alle ewigheid. Hieraan kan julle vashou. Glo dit. Onthou dit. In vers 9 sê Hy vir hulle‚ Ek sien hoe julle verdruk word‚ ly‚ arm is. Dié verarming en vervolging was as gevolg van die Jode in Smirna. Hulle het die Romeinse owerheid teen die Christene aangehits. Ons‚ het die Jode gesê‚ óns is volk van God. Ons is die nageslag van Abraham. Nie die Christene nie.
Nee‚ hulle is eintlik vir ons almal en vir die staat ’n gevaar. Dié kwaadstokery teen die Christene het gemaak dat hulle hul werk verloor het en van hulle besittings ontneem is. Die misdade waarvan hulle aangekla is‚ het die soort straf tot gevolg gehad. Op dié wyse is die Christene verarm. Hulle het hulle eiendom verloor‚ hulle huise‚ hulle kos. Hulle het verskriklik arm geword.
Vir die meeste van ons is dié situasie moeilik verstaanbaar. Ons weet min van ernstige vervolging. Ons weet min van werklike armoede‚ van sonder ’n huis wees en nie weet waar vanaand se kos vandaan gaan kom nie. Ons ken dit nie. Miskien is dit makliker om arm te wees as almal arm is. Dan is mense sáám in hulle nood. Maar dié mense was arm tussen ryk mense. Dié verarming het net die Christene te beurt geval. En nog erger: hulle was vroeër deel van die rykdom. Hulle het weens hulle geloof arm geword. Hulle was vroeër gerespekteerde mense. Nou loop hulle hul eertydse vriende raak en kry swaar om‚ in hulle armoede‚ dié mense in die oë te kyk.
Maar die Here troos: Ek ken dit. Ek het ook nie ’n plek gehad waar Ek my hoof kon neerlê nie. Toe Ek sterf‚ was my hele boedel maar vyf kledingstukke. Ek verstaan julle armoede. Ek wéét daarvan. Dié feit het nie net Smirna getroos nie. Dit troos elke Christen wat swaarkry. Die Here weet van my. As ek ly as gevolg van siekte of pyn‚ weet Hy van my. As ek ly as gevolg van ’n kind wat my laat swaarkry of as gevolg van ’n moeilike huwelik‚ weet Hy van my. Hy ken my.
DIE RYKDOM VAN DIE GEMEENTE
Ten spyte van die lyding en verdrukking en armoede‚ sê vers 9: en tog is julle ryk. Hoe kan dit wees? Die Here sê vir hulle: Julle is ryk‚ want in julle moeilike omstandighede het julle nie opgehou glo nie. Inteendeel‚ in dié tyd was julle geloof julle anker. Dit maak julle ryk. Julle geloof is daardeur gelouter. Dit dra die stempel van egtheid. Julle weet wat opoffering is. Julle weet dat dit die moeite werd is om vir die Here te ly. Dan kom daar baie eienaardige woorde. Die Here sê nie: Julle gaan ophou ly‚ nie. Hy sê nie: Hou uit die swaarkry is amper verby‚ nie. Hy sê ook nie dat Hy hulle uit die situasie gaan bevry nie. Wat sê Hy? Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk‚ die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp‚ sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Aan ’n gemeente‚ alreeds swaar belas‚ beloof die Here ander laste wat binnekort bygevoeg sou word. Sommige van die lidmate gaan in die tronk beland. Maar die Here sê verder: julle sal tien dae lank verdrukking hê. Dit is ’n troos. Die tien dae moet nie letterlik opgeneem word nie. Dit dui daarop dat die tyd van vervolging tog beperk gaan word. Al sal dit hewig en intensief wees‚ is die tyd daarvoor tog afgemeet. Die verdrukking sal egter nie by armoede en die tronk ophou nie. Dit sal oorloop in lewensverlies. Hy sê: Bly getrou tot die dood toe. Daar sal dood wees. En so hét dit gebeur. Polikarpus‚ die leraar‚ het op ’n hoë ouderdom ’n marteldood op die brandstapel gesterf. ’n Groot deel van die gemeente het so gesterf. Hulle was letterlik tot die dood toe getrou.
Ons verstaan die situasie werklik moeilik. Ons lewe so anders. Maar dat ons dalk êrens vorentoe in so ’n situasie mag beland‚ is nie onmoontlik nie. Indien dit so sou gebeur‚ beteken dit nie dat die Here ons minder liefhet nie. Hy het Smirna tog nie minder liefgehad nie‚ of die Hugenote wat in Europa gely het en moes vlug nie. Dit was alles deel van sy groot plan.
Daarom beteken dit ook nie dat die Here sulke omstandighede moet ophef nie. Wie sulke beloftes maak‚ verkondig ’n goedkoop godsdiens. Egte godsdiens is om te weet dat die Here in sulke omstandighede by ons is en ons nie aan ons self oorlaat nie. Dit maak nie saak watter lyding ons deurmaak nie‚ Hy os by ons en troos ons deur sy bystand. So ’n tyd kan juis vir ons geestelike lewe ’n besonder ryk tyd wees. Smirna kon daarvan getuig.
DIE BELOFTE AAN DIE GEMEENTE
Die mooiste van die brief volg nou. Die Here gee aan dié verdrukte gemeente twee beloftes. Eerstens‚ die een wat die oorwinning behaal sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie (v. 11). Met die “eerste dood” word bedoel die gewone afsterwe van die mens‚ wat niemand kan ontkom nie. Elkeen moet daardeur. Met die “tweede dood” word die ewige sterwe in die hel bedoel – daar waar liggaamlike en psigiese lyding sonder ophou is. Die belofte is dat diegene wat in lyding volhard‚ nié deur hierdie dood getref sal word nie. Dit is die troos vir Smirna. Dit is die troos vir elke gelowige wat ly. Deur die eerste dood moet ons gaan. Die tweede dood sal ons egter nie tref nie.
Die tweede belofte vind ons aan die einde van vers 10: Ek sal julle die lewe as kroon gee. Hierdie mense is Grieke. Langafstand-marathons is vir hulle bekend. Die marathon is gehardloop deur bosse‚ oor strome‚ langs berge. As ’n hardloper die stadion binnekom‚ juig almal. As hy eerste die lint breek‚ word die lourierkrans om sy nek gehang. Die woord vir kroon en krans is dieselfde. Dit is die simbool van oorwinning.
Die belofte is dus dat die lewensreisiger na die lang‚ aardse marathon met sy hoogte- en laagtepunte‚ sy vreugde en smart die hemel sal ingaan en die lewe as krans sal verkry. In dié geval is nie net een die wenner nie‚ maar élkeen wat volhard. Elkeen ontvang van Jesus die oorwinnaarskrans.
Ten slotte‚ of die lewe voorspoed of teenspoed‚ vreugde of hartseer inhou‚ is nie belangrik nie. Wat wel belangrik is‚ is dat ons oorwinnend sal lewe met die wete dat God by ons is. Kyk ons vorentoe‚ wéét ons dat ons ná die aardse reis die lewe as hemelse krans sal ontvang.
Amen
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812
Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.