Preek:

12 September 1999 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

2 Petrus 3:3-15

Teks:

Matteus 24:1-14

Tema:

Wanneer kom die Here?


DIT voel partykeer of die wêreld besig is om rasend te word. Die een staatshoof na die ander tuimel van sy troontjie. Die een land na die ander vlieg mekaar in die hare. Afrika en Asië het onverbiddelik ontwaak en die laaste van die groeipyne het ons sekerlik nog nie beleef nie. Die oliesjeiks het hulle mag begin besef. Die wêreld se monetêre situasie‚ ons geldstelsel‚ is uitermate wankelrig. Kulture krummel van binne uit inmekaar. Sedelike waardes wat die eeue kon trotseer werk skielik nie meer nie. Dis of die Weste se senuwees ingegee het. Europa het ’n ou man geword‚ moeg en afgeleef. Amerika is ook nie meer so selfversekerd nie.

En ons hier aan die suidpunt van Afrika? Dis of ’n stroomversnelling ons skielik oorval het.

Hoe lank nog … en waarheen?

Dis een van die talle mooi dinge in die Bybel. Die Woord van God sit nooit vir die Christen oogklappe aan nie. Christus sê dit dan ook keer op keer reguit vir sy dissipels. Dis nie ’n maklike pad wat hulle betree as hulle agter Hom aan stap nie. Vir die gelowige is die kruis nie maar ’n versiering aan ’n muur of ’n simbool op ’n kerktoring nie: dis iets wat u en ek dag vir dag op ons eie skouer moet dra.

As Christus dan ook in sy Profetiese Rede die gordyn voor die toekoms ’n bietjie wegtrek‚ spaar Hy nie sy dissipels nie. Hy sê dit reguit: Daar kom ontsettende tye. Dwaalprofete. Messiaspretendente. Selfaangestelde verlossers wat die wêreld in nood bestook met hulle resepte vir ’n hemel op aarde. Oorlogsgeweld. Oorloë en gerugte van oorloë. Oorloë ver en naby: botsings waarin mens self betrokke is‚ ander waarvan jy net die dreuning hoor. Gevegte wat reeds plaasvind‚ ander wat klaar dreig. Magskonfrontasie. Ook die natuurwetmatighede word aangetas. Nou is daar hier ’n aardbewing‚ dan weer daar. Hongersnood op hongersnood eis hulle slagoffers. Pestilensies en epidemies paddastoel orals op.

Dit klink nogal vreemd modern‚ nie waar nie? Al asof Christus van ons tyd praat!

En dit is ook so. Hy praat van ons tyd. Maar moenie u verbeel ons is so belangrik dat Hy negentien eeue sommer sal oorslaan om nou spesiaal net van ons tyd te praat nie. Wat Hy sê geld van alle tye van die wêreldgeskiedenis. Dit is wat Christus hier doen: Hy tipeer die hele wêreldgeskiedenis tussen Koms en Wederkoms. Maar Hy gee ons geen kaart van die geskiedenis nie‚ geen kronologiese program in volgorde soos die een gebeurtenis die ander sal opvolg: nou is dit die Bisantynse tyd‚ dan is dit die Middeleeue‚ dis die Renaissance‚ hier kom die Atoomeeu nie. Hy staar Hom immers nie blind op die buitekant van dinge of van mense nie – Hy kyk na die binnekant. Hy beskryf nie die uiterlike kontoere nie – Hy tipeer die wese‚ die kern‚ die essensie.

Daarom moet ons‚ wanneer ons oor hierdie dinge praat‚ versigtig wees om nie in die selfde slagyster te trap as waarteen Paulus die kerk in 2 Tessalonisense 2:2-3 waarsku nie:

2 Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie – of dit nou vir julle gesê word in ’n profetiese uitspraak of in ’n preek of in ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees. 3 Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is‚ sy verskyning gemaak het nie.


Wat is Jesus se antwoord op die vraag van sy dissipels oor wanneer die einde kom? Wel‚ Jesus se antwoord hang saam met sy opmerking oor die verwoesting van die tempel in vers 1-2. Daar kondig Hy aan dat die tempel binnekort tot op die grond afgebreek gaan word.

Die tempel in Jerusalem was natuurlik deur die eeue heen vir Israel die simbool van God se teenwoordigheid. Dit was sy aardse adres‚ sy woonplek by die mense. Vir die Israeliete was dit ondenkbaar dat die tempel ooit vernietig sou word. God sou volgens hulle self na sy huis se sekuriteit omsien. Maar Jesus het nie hierdie beskouing gedeel nie. Inteendeel. Terwyl sy dissipels hulle verwonder het oor die pragtige tempelgebou daar in Jerusalem met al sy glans en glorie‚ kondig Jesus aan dat dit een van die dae vernietig sou word. Wat ’n skok vir die arme dissipels. Die hartklop van hulle volk se godsdiens vernietig …! Dan moet die einde van die wêreld mos bitter naby wees‚ het hulle gedink.

Hoe reg was die dissipels nie. Jesus se eie optrede het die laaste dae hier op aarde ingelei. Die eindtyd het met sy koms aangebreek. Ons almal is van toe af deel van die laaste dae. Die geskiedenis se sandglas is van toe af besig om korreltjie vir korreltjie leeg te loop. Die wederkoms is daarom vandag nader aan ons as ooit vantevore. In Paulus se woorde in Romeine 13:10-11:

10 Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
11 En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word‚ want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.


Binne hierdie nuwe tyd wat Jesus gebring het‚ is die tempel oorbodig. God bly immers nie meer by ’n aardse adres daar in Jerusalem nie. Hy het verhuis. Die kerk‚ ons almal wat in Jesus glo‚ is nou sy nuwe adres. God bly gedurende die laaste dae hier op aarde in lewende tempels.

Daarom is Jerusalem se tempel ook sowat 40 jaar na Jesus se woorde tot op die grond gelyk gemaak. Om presies te wees: dit het in die jaar 70 nC gebeur nadat die Romeinse leër Jerusalem vir ’n lang tyd beleër het. Toe hulle die stad uiteindelik inval‚ het hulle ’n reuse-slagting onder die mense van die stad aangerig. En uiteindelik het hulle ook die tempel verwoes presies soos wat Jesus voorspel het. Matteus 24:1-2 het dus reeds in die dissipels se eie leeftyd‚ en kort na Jesus se hemelvaart‚ waar geword.

Slegte gebeure kenmerk die eindtyd (Matt. 24:4-14)

Die dissipels wou graag van Jesus ’n aanduiding kry waarvolgens hulle kon bereken hoe ver die wederkoms nog in die toekoms lê. En toe gee Hy in vers 4-14 vir hulle een. Wel‚ ten minste ’n kalender wat werk volgens hulle manier van dink oor die tyd. Jesus gebruik gebeure-tyd om vir hulle te wys dat daar nog allerhande slegte dinge in die wêreld gaan gebeur voor sy terugkeer‚ dinge soos hongersnood‚ aardbewings en oorloë. Al hierdie dinge moet vir hulle – en vir ons – sê die einde is naby. Dit is vyf voor twaalf op die hemelse horlosie.

Onthou nou‚ Bybelse mense se kalenders en horlosies werk anders as ons s’n. Ons wil altyd konkrete datums hê as ons oor die tyd praat. Met ander woorde‚ ons sou graag iets wou hoor soos dat‚ sê nou maar‚ ’n oorlog op 2 Mei 2002 gaan wees wat die einde van die wêreld inlei. Maar Jesus doen dit nie. Hy noem slegs dat die laaste dae voor die einde van die wêreld gekenmerk gaan word deur ’n klomp slegte gebeure.

En let op‚ hierdie gebeure is dinamies‚ herhalend van aard. Hierdie slegte gebeure vind met ander woorde weer en weer plaas. Dit is nie net beperk tot een geslag mense nie. Solank as wat ons in die laaste dae leef‚ sal hierdie slegte tekens orals in die wêreld te siene wees. Jesus het nooit gesê daar gaan slegs een oorlog of een groot aardbewing wees wat die einde inlei nie. Hy praat hier in Matteus 24 van gebeure wat sedert sy optrede op aarde van geslag tot geslag voorkom. Dit gaan oor dinge wat altyd met die mensdom is. Kort na Jesus se hemelvaart weet ons byvoorbeeld al van ’n baie groot hongersnood wat Judea en Jerusalem tref (vgl. Hand. 11:27-30). Wanneer Paulus later in Korinte werk (vgl. Hand. 18)‚ weet ons ook vanuit buite-Bybelse bronne dat daar ’n groot kosskaarste in die stad geheers het. En natuurlik was oorloë in daardie tyd aan die orde van die dag; net soos in ons eie tyd.

Om dus soos party Skrifuitlêers te beweer daar is vandag baie meer aardbewings as ’n paar honderd jaar terug‚ is om iets in die Bybel in te lees wat daar nie gesê word nie. Jesus sê regtig nie vir sy dissipels al hierdie slegte natuurrampe gaan meer word‚ soos wat party mense beweer nie. Hy sê slegs dit gaan orals in die wêreld plaasvind.

(Terloops‚ natuurlik sal ons vandag van meer aardbewings bewus wees as ’n honderd jaar terug omdat ons beter wetenskaplike apparaat het om dit mee te meet‚ maar sulke natuurrampe kom gereeld deur die loop van die geskiedenis voor. So is die stad Korinte byvoorbeeld al in die sewentiger jare van die eerste eeu deur ’n reuse aardbewing grootliks vernietig.)

Jesus se woorde sê vir ons die einde is naby. Ook in ons eie dag. Net soos wat slegte gebeure al vir die dissipels 2 000 jaar gelede gewys het hierdie wêreld gaan nie vir altyd bestaan nie‚ sê dit nog steeds presies dieselfde vir ons. Ons is maar net pelgrims hier op moederaarde. Dis nie ons ewige tuiste nie. God se kalender sê ons dis nie meer lank nie‚ dan is alles hier op aarde oor en verby. Kyk maar net rondom jou na die vernietiging van die skepping‚ na al die rampe en katastrofes rondom jou‚ dan besef jy dit. Lees God se kalender voor dit te laat is!

Slegte mense bepaal die eindtyd (vgl. Matt. 24:4‚ 9-12)

Bo en behalwe al die slegte dinge in die skepping wat vir ons sê dis naby aan middernag‚ sê Jesus vir ons dat die laaste dae ook gekenmerk sal word deur die optrede van vals profete‚ vervolging van die kerk deur slegte mense‚ en vals messiasse (vgl. Matt. 24:4‚ 9-12). En weer eens is dit dinge wat regdeur die geskiedenis gebeur‚ tot vandag toe. Aan die begin van die tweede eeu hoor ons byvoorbeeld hoe ’n man met die naam Simon bar Kogba homself tot messias van die Jode verklaar. ’n Lang lys voorbeelde tot reg in ons eie dag sou nog hier bygevoeg kon word. Om nie eens te praat van dinge soos vals leringe‚ nuwe kultusse en wat nog alles‚ wat oral vandag kop uitsteek nie. As mens rondom jou kyk‚ kan jy nie anders nie as om Jesus se woorde doodernstig te neem dat ons in die eindtyd leef.

As die Here kom‚ sal almal weet (vgl. Matt. 24:23-26)

Jesus waarsku dat baie mense hulle as die Messias sal voorhou en sal maak asof hulle die eindtyd inlei. Maar Hy sê vir ons in vers 23-26 om hulle nie te glo nie want hulle is leuenaars. Jesus sal op so ’n manier terugkom aarde toe dat almal dit sal weet. Sy koms sal soos ’n weerligstraal wees wat die ganse wêreld tot stilstand sal ruk. Alles en almal sal in ’n oogwink verander word. Jesus gaan nie iewers in ’n afgeleë plekkie sy opwagting maak nie. Nee‚ sy terugkoms is daar vir elkeen om te sien en te beleef!

Jesus se koms sal nie net ons mensewêreld dramaties verander en ’n einde bring aan die geskiedenis soos wat ons dit tans ken nie. Nee‚ Hy sal die ganse kosmos verander (vgl. v. 29-31). Wanneer Jesus saam met sy hemelse weermag die aarde betree‚ sal die son doodgaan en die planete uit hul baan geslinger word. Alles en almal gaan dan persoonlik met die Heer van die here‚ die Koning van alle konings te make hê.

Die wederkoms kom onverwags (vgl. Matt. 24:37-44)

Net soos Petrus in 2 Petrus 3‚ waarsku Jesus sy dissipels hier in Matteus 24:37 om nie dieselfde fout te maak as die mense daar in Noag se tyd nie. Hulle het mos gedink Noag bou sy groot ark vir die grap‚ toe tref die groot water hulle!

Jesus sê vir ons om nie “sommetjiemakers” te wees nie. Dis nie ons werk om van vroeg tot laat te probeer uitreken wanneer Hy eendag terugkom nie. Dit berus by God om te besluit wanneer die tyd reg is. Hy is immers die Koning. Hy weet presies. En Hy sal nie laat wees nie. Daarvan kan ons seker wees! Maar onthou‚ sy koms sal onverwags wees. Die meeste mense sal op die verkeerde voet betrap word as Jesus terugkom. Twee mense sal staan en werk: een sal gereed wees vir sy koms en die ander een nie. So sal dit dwarsdeur die wêreld gaan.

Die enigste taak van ons as gelowiges in hierdie laaste dae‚ is om gedurig op ons pos te wees. Ons moet leef soos mense wat die Here enige oomblik te wagte is‚ selfs al kom Hy in die middel van die nag. Ons mag nie onkant betrap word nie.

Wat moet ons dan doen? Doen wat Christus vir ons sê om te doen! Laat ons ons prioriteite regkry. Laat wat vir Hom hoofsaak was‚ ook vir óns hoofsaak wees. Voluit. In alle opsigte.

In sy Bergrede‚ die grondwet van die koninkryk sê Hy (Matt. 6:33):

“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God‚ dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Al hierdie dinge – kos‚ klere‚ huisvesting‚ voortbestaan‚ eie identiteit – is belangrik‚ maar hulle is nie die hoofsaak nie. Hoofsaak is die koninkryk van God en die wil van God‚ dit wat Hy van ons vra. Die ander dinge word by–gegee: hulle is by–sake‚ by–voegsels.

En dit is wat God by uitstek van ons tyd eis: Verkondig die evangelie! Leef die evangelie! Doen die evangelie! – ondanks die konsekwensies waarvoor ons klein-menslike verstandjie bang mag wees. Ons Vader beveel ons om die konsekwensies‚ die bysake‚ in sy almagtige Vaderhand te laat: Hy sal daarvoor sorg. Ons hande mag voltyds met die hoofsaak besig wees – so ryk word ons begenadig!

Die evangelie in die kombuis. Die evangelie op kantoor. Die evangelie by die dorsmasjien. Dit is die sin van die tussentyd. Hierin breek die koninkryk van God in ons tyd by uitstek deur.

Waarom laat God nog nie einde‚ u einde‚ ons einde‚ die wêreldeinde aanbreek nie? Omdat u nog werk het. Evangeliewerk. Genadewerk. Koninkrykswerk. U moet die evangelie verkondig‚ uitdra‚ uitleef. Aan álle mense. Dink daaraan elke môre as u wakker word en u besef: God het my nog ’n dag geskenk.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.