Preek:

13 Junie 1993 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

Esegiël 47:1-12; Johannes 7:32-53

Teks:

Esegiël 47:3-5

Tema:

Wanneer vier maal drie dertien is


’N SIELKUNDIGE het eenkeer ’n baie interessante eksperiment gedoen. Hy het vyf kinders van so twaalf jaar oud by ’n tafel laat sit. Hulle het net een opdrag gehad. As hy hulle vra “Wat is vier maal drie?” dan moes hulle antwoord “dertien.” Natuurlik het hulle geweet die regte antwoord is twaalf‚ maar hulle moes ’n verkeerde antwoord gee. Toe bring die sielkundige ’n sesde kind in en laat hom ook aan die tafel sit.

Hierdie kind het nie geweet van die ooreenkoms met die ander vyf nie. Toe begin die speletjie. Kind nommer een word gevra wat vier maal drie is. Sonder om te aarsel‚ antwoord hy: “Dertien.” Dieselfde gebeur met nommer twee tot vyf. Elkeen het met groot oortuiging “dertien” geantwoord. Uiteindelik vra die sielkundige vir nommer ses‚ die outjie wat van buite af ingekom het‚ wat vier maal drie is. Raai ’n bietjie wat antwoord hy? En hy weet voor sy siel die regte antwoord. Tog sê hy ook dertien.

Hierdie eksperiment het ’n belangrike ding bewys‚ naamlik dat ons as mense vatbaar is vir groepsdruk. Ons wil graag wees soos ander mense rondom ons. Daar is iets binne-in ons wat wil konformeer. Die meeste van ons gaan saam met die stroom. Het dit nie al met jou gebeur nie? Jy verkeer saam met vriende. Julle drink ’n paar drankies. Jy weet waar jy moet stop‚ maar almal sê: “Vat nog een.” Jy doen mee‚ want almal doen dit. Die volgende dag is jy bitter spyt dat jy toegegee het aan die druk van die groep. Jy het iets gedoen wat teen jou beginsels is.

En julle kinders. Pa of ma het mos al met julle geraas oor iets wat julle verkeerd gedoen het. En dan is julle verskoning: “Maar Pietie het dit ook gedoen” of “Ousus het gesê ek moet dit doen!” Ons dink dit is versagtende omstandighede om te sê ’n ander persoon of groep het ons beïnvloed. Die ouer mense se geliefkoosde antwoord hierop is natuurlik: “As ek in die vuur spring‚ sal jy ook in die vuur spring?” Ja. Die mens is nou maar eenmaal só. As die groep hom lei‚ sal hy saam met hulle in die vuur gaan spring.

Dit is partykeer só gevaarlik. Almal slaap saam voor hulle getroud is. Daarom doen ek dit ook. Almal steel geld as hulle die kans kry en daarom is ek ook korrup. Almal hou maar skelmpies aan. Almal lieg. Almal bedrieg. Almal skinder. Almal …

Esegiël profeteer vir ’n volk wat met die stroom saam gegaan het. Die volke rondom hulle het afgode gedien. Toe doen hulle dit ook. Die mense om hulle het kinders vir afgode geslag en geoffer. Die Israeliete ook.

Almal het geen simpatie met arm mense gehad nie. Hulle ook nie. Dit was algemene praktyk om woekerwinste te maak. So‚ hulle het dit ook gedoen. Begin iemand om omkoopgeld te neem‚ is dit een twee drie mode regdeur die land. As iemand sê dat vier maal drie dertien is‚ is daar ’n koor van stemme om dit te beaam.

Hierdie saamgaan met die stroom het gevolge gehad. Nie net het God die volk in ballingskap laat wegvoer nie; nie net het droogtes en oorlog en pestilensie duisende laat sterf nie; maar dit het iets aan die mense self gedoen. Hulle het geestelik uitgedroog. Hulle binneste was soos ’n kaal‚ verdorde woestyn sonder water.

Ken jy ook hierdie dorheid?

Jy verloor al jou vertroue in jouself en kan nie meer besluite neem nie. Die lewe is nie meer vir jou lekker nie. Jy is moeg en afgemat. Binne-in raak jy leeg en het nie meer gevoelens vir mense om jou nie. Niks stel jou tevrede nie. Die toekoms lyk donker. Jy is geestelik dors en voel God het van jou vergeet. Daar is ’n groot probleem om in jou huwelik te ontwikkel en jy voel jy kan dit nie hanteer nie. Jy dra ’n groot hartseer en pyn in jouself rond waarvan min ander mense weet. Ja‚ ons weet wat geestelike dorheid en droogheid beteken. As jy saam met die stroom gaan‚ as jy “dertien” antwoord omdat almal dit doen‚ skeur dit jou binneste aan stukke.

Esegiël sien ’n gesig. Hierdie visioen handel oor hoe ’n woestyn ’n paradys word. Water begin op ’n wonderbaarlike manier by die tempel van God uitsyfer. Al gou word die stroom só diep dat ’n mens twee kilometer verder nie daardeur kan loop nie. Die water loop af na die Jordaanvallei toe en mond uiteindelik uit in die Dooie See.

Oral waar die water kom‚ bring dit geweldige veranderings. Vrugtebome groei langs die oewer. As jy die blare van die bome afpluk en op ’n seerplek of ’n wond sit‚ dan word dit gesond. Diere wemel langs die stroom. Binne die stroom is daar visse van alle soorte. Vissermanne staan langsaan en vang sonder dat die vis ooit opraak. Die grootste wonder vind plaas wanneer die water in die Dooie See uitmond.

Die Dooie See is ’n meer in Palestina wat geen uitloop het nie. Die Jordaanrivier loop in hierdie meer in. Sonder ’n uitloop‚ verdamp die water. Só word die meer by die dag al hoe souter.

Jy kan die water nie drink nie. Niks‚ nie plant of vis‚ kan in die water van die Dooie See leef nie. Vandag is daar al soveel sout in die water dat die water baie dig geraak het. ’n Mens kan bo-op die water lê sonder om te sink. Jy dryf soos ’n stuk hout.

Esegiël sien in sy gesig dat hierdie stroom water die Dooie See in ’n lewende see verander. Die water word ontsout en gereinig en dit kan lewe gee vir mens‚ plant en dier. Net so kan die wildernis van ons bestaan in ’n paradys van lewe verander. Die visioen van Esegiël vra ons om in die water te spring. Dit roep ons op om ons deur die stroom te laat meevoer. Hierdie stroom is nie die druk van die groep of die omgewing nie. Dit is die water van God se teenwoordigheid. Dit kan die woestyn van jou leed omsit in ’n lushof van vreugde. As God daar is‚ bring dit oorvloed en lewe.

Is dit nie presies wat met Pinksterdag gebeur het nie? Pinkster word juis in Handelinge 2 in hierdie terme van oorvloed beskryf. Toe die Heilige Gees uitgestort is‚ is mense van alle nasies daardeur geraak. Die stroom van God het nie net hulle tonge aangeraak nie‚ nie net hulle ore nie‚ maar hulle lewens. Die mense het mekaar liefgehad‚ met mekaar gedeel‚ vir mekaar omgegee‚ by mekaar uitgekom. Dink maar hoe die stroom ná Pinkster al hoe dieper gevloei het.

Die uitstorting van die Heilige Gees raak 120 mense aan. Al gou was daar meer as 3000. Spoedig het die Evangelie uitgespoel oor die hele wêreld. Die stroom het al hoe dieper gevloei. Oral waar dit gekom het‚ het dit lewe gebring. Ja‚ God bring lewe waar die doodsheid van die sonde geheers het. Het jy ook deel in hierdie nuwe lewe? Of is jy nog stroomop? Gaan die rivier in‚ nie enkeldiep nie‚ maar totaal en heeltemal. Tot jy nie meer die bodem kan voel nie. Laat jou meesleur deur God se Gees. Gee die beheer van jou lewe oor aan Jesus. Moenie die Heilige Gees bedroef nie.

Die vraag ontstaan: Kan ’n visioen‚ wat maar ’n gesig of droom is wat die profeet sien‚ enige riglyn wees vir ons in ons moderne wêreld? Anders gestel‚ maak die feit dat die visioen moontlik nie op ’n gebeurtenis gegrond is wat in die geskiedenis plaasgevind het nie‚ enige verskil aan die boodskap vir ons vandag? Ek dink nie so nie. Die krag van die teks in ons lewe is nie gegrond daarop of dit waaroor die teks berig werklik plaasgevind het nie‚ maar op die boodskap wat die Here aan elkeen van ons wil oordra deur middel van die teks.

Hierdie woorde van die Here wil soos die son op ons lewens skyn en lig op ons pad en vreugde in ons hart verskaf. Daarom hoef ons nie te veel te doen om die teks te goed te verstaan nie. Ons moet net aanvaar dat die Here ons persoonlik in ons situasie wil aanspreek deur sy woorde – dit is sy radioberig‚ sy telefoonoproep aan ons adres gerig. Sy Heilige Gees wat ook teenwoordig was toe die woorde van die teks neergeskryf is‚ bring ons op die regte golflengte sodat ons kan verstaan wat die Here vir ons wil sê.

Daarom‚ waar die Here werk‚ kan ons groot dinge verwag! En vir die mens in nood bring hierdie verse hoop. Waar ek nie meer kan nie‚ kan God. Daar is nog altyd ’n God‚ my God. Van my verleentheid kan Hy sy geleentheid maak. My waaroms en hoekoms draai God om na waarheen’s en waartoe – na God toe natuurlik! My vraagtekens word deur God reguit getrek in die een Uitroepteken‚ Jesus Christus! Ons sien dit in die Nuwe Testament wanneer God se Seun aan die kruis sterf‚ in ’n diep donker gat gesit word met ’n klip voor (omdat die mense Hom nie in hulle wêreld soek nie). En dan ná drie dae vind die ontploffing plaas waarvan ons tot vandag toe nog die skokgolwe ervaar: Christus breek die dood oop en die klip uit om vir ons ’n nuwe hoop te word: Die grootste swaargewighoop van alle tye. Waar mense hulle einde bereik daar begin God.

Daar is Een saam met my‚ daarom is ek nie meer eensaam nie. Ek kan moed skep omdat God my herskep. Ek kan asem (gees) skep omdat God se wind oor my waai. Ek kan opstaan‚ want die arm van die Here is nie te kort om te help nie. Persoonlik staan God by ons. Dit is Hy (sy Gees) wat die lewensvlam weer laat opvlam en dit aanblaas (sy Gees) totdat dit weer hoog brand. Om te lewe is om in God se voortuin te bly‚ om elke dag sy gesig te sien‚ Hom te erken en bly oor Hom te wees.

By uitstek wil hierdie gedeelte vir ons sê dat nuwe lewensmoontlikhede moontlik is‚ selfs in die haglikste omstandighede. God self is die waarborg daarvan. Hy laat toe dat sy Gees in jou en my kom. As iemand jou dus vra wat vier maal drie is‚ sal jy sonder om te huiwer “twaalf” antwoord. Al sê die wêreld “dertien.” Want jy is nie deel van die stroom van die wêreld nie‚ jy word meegesleur deur God se rivier.

Amen

Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.