|
Preek: |
20 Julie 2003 te Gereformeerde Kerk Lyttelton |
|
Lees: |
Handelinge 10:1-33 |
|
Teks: |
Handelinge 10:11-16 |
|
Tema: |
Wat het God teen kreef? |
PETRUS het op die dak geklim om alleen te bid maar begin honger word. Sy gedagtes het met hom die loop geneem en hy het in ’n beswyming verval. Toe speel daar ’n ontstellende toneel voor hom af. ’n Groot laken gevul met “onreine” soogdiere‚ reptiele en voëls het uit die hemel neergedaal. Handelinge 10 gee nie meer besonderhede nie‚ maar ’n goeie leidraad tot die aard van die spesies vind ons in Levitikus 11: varke‚ kamele‚ hase‚ aasvoëls‚ kraaie‚ uile‚ ooievaars‚ vlermuise‚ miere‚ kewers‚ bere‚ akkedisse‚ muishonde‚ skinke (soort akkedis wat baie na ’n egte akkedis lyk‚ waarvan party soorte vet of stomp is)‚ rotte‚ slange.
Petrus sou onthou het hoe sy ma vir hom gesê het: Simon‚ dis vieslik! Moenie eens daaraan raak nie. Gaan was jou hande onmiddellik! Waarom? Omdat ons anders is‚ daarom. Ons eet nie vark nie. Dit is vieslik‚ onrein. God het gesê ons moenie dit eet nie. Vir Petrus‚ soos vir elke ander Jood in Palestina‚ was hierdie voedsel nie net onsmaaklik nie‚ maar taboe‚ selfs verfoeilik. “Julle moet dit verafsku‚” het God gesê.
As Petrus in die loop van die dag toevallig aan ’n insek sou raak‚ sou hy homself en sy klere was en tot die aand “onrein” bly en hy sou nie die tempel in so ’n toestand kon besoek nie. En as ’n geitjie of spinnekop van die plafon in ’n kleipot sou val‚ sou hy die inhoud van die pot moes weggooi en die pot breek.
Nou daal hierdie verbode items op ’n laken neer met ’n hemelse stem wat beveel: “Staan op‚ Petrus. Slag en eet.” Petrus het God aan sy eie reëls herinner. “Darem seker nie‚ Here!” het hy beswaar gemaak. “Ek het nog nooit iets onsuiwers of onreins geëet nie.”
Die stem het geantwoord: “Moenie enigiets onsuiwer noem wat God rein gemaak het nie.” Die toneel het homself nog twee keer herhaal totdat Petrus‚ in murg en been geruk‚ van die dak afgeklim het om sy volgende skok van die dag te ervaar: ’n groep “onrein” nie-Jode wat by die volgelinge van Jesus wou aansluit.
Christene wat vandag varktjops‚ mossels‚ oesters en kreef geniet‚ kan maklik die volle betekenis van hierdie toneel mis wat so lank gelede op ’n dak afgespeel het. Die beste vergelyking met min of meer dieselfde skok waarde waaraan ek kan dink‚ is die volgende. Gestel ’n volledig toegeruste kroeg word op bonatuurlike wyse op Securicor Loftus neergelaat waar ’n groep geheelonthouers ’n vergadering hou en ’n luide stem uit die hemel beveel die geheelonthouers om te drink!
Ek kan my die reaksie voorstel‚ “Darem seker nie‚ Here! Ons is geheelonthouers. Ons het nog nooit gedrink nie.” Dit was die soort oortuiging wat Petrus teen onrein voedsel gehad het.
Die insident van Handelinge 10 het wel die spyskaart van die jong kerk vergroot‚ maar dit beantwoord nie die vraag: “Wat het God teen kreef gehad?” nie. Daarvoor wend ek my tot die boek van Levitikus waar God die verbod verduidelik. “Ek is die Here‚ julle God‚ wy julle aan my diens en wees heilig‚ want Ek is heilig.”
Skrifverklaarders hou die voordele van die Levitiese wette vir die gesondheid van die mense voor. Die verbod op vark het hulle teen die gevaar van triginose gevrywaar en die verbod op skulpvis het hulle teen die virusse beskerm wat soms in oesters en mossels voorkom. Ander wys daarop dat baie van die verbode diere aasdiere is. Nog ander meen dat spesifieke wette skynbaar teen die gebruike van Israel se heidenbure gemik was. Byvoorbeeld‚ die verbod om ’n jong bok in sy ma se melk gaar te maak‚ is waarskynlik ingestel om te verhoed dat die Israeliete ’n toorritueel van die Kanaäniete naboots.
Al hierdie verduidelikings maak sin en kan wel lig werp op die logika agter God se eienaardige lys. Sommige van die diere kan egter nie so verduidelik word nie. Waarom kreef? Wat van konyne en hase‚ wat geen gesondheidsrisiko inhou nie en gras in plaas van aas vreet? En waarom verskyn kamele en donkies‚ die alomteenwoordige pakdiere van die Midde-Ooste‚ op die lys?
Wat het God teen kreef gehad? Die Joodse skrywer Herman Wouk meen dat “paslik” die beste vertaling van die Hebreeuse woord “kosjer” is wat Joodse gebruike tot vandag rig. Volgens Levitikus is sommige diere “gepas” of geskik en ander is onvanpas.
As ek die Ou Testament se wette oor onreinheid moet opsom dan sou ek sê: Geen afwykendes toegelaat nie. Die dieet van die Israeliete het nougeset alle afwykende of abnormale diere uitgesluit. Dieselfde beginsel het ook “rein” diere gegeld wat in aanbidding gebruik is. Geen aanbidder kon ’n verminkte of gebrekkige dier na die tempel bring nie want God wou die ongeskonde diere van die kudde hê. Vanaf Kain moes mense God se presiese instruksies uitvoer of die gevaar loop dat hul offerande verwerp word. God het op volmaaktheid aangedring; God het die beste verdien. Geen afwykendes toegelaat nie.
Die Ou Testament klassifiseer mense op ’n soortgelyke manier.
Dis een ding om diere onrein te noem‚ maar iets heel anders om mense onrein te brandmerk. Geeneen van jou nakomelinge met ’n liggaamlike stremming mag ooit ’n offer aan God bring nie. Geen persoon wat ’n liggaamlike tekortkoming het‚ mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met ’n misvormde gesig of liggaamsdeel‚ of met ’n gebreekte voet of hand‚ of met ’n boggel of onderontwikkelde liggaam‚ of met ’n pêrel op die oog‚ of met skurfte of veluitslag‚ of ’n beskadigde geslagsdeel nie.
Dus het diegene met liggaamlike tekortkomings of besoedelde stambome (basters) nie gekwalifiseer nie. Geen afwykendes toegelaat nie. Vroue met maandstonde‚ mans wat kort tevore ’n nagtelike uitstorting gehad het‚ vroue wat geboorte geskenk het‚ mense met velkwale of sere‚ enigiemand wat ’n lyk aangeraak het – al hierdie mense is seremonieel onrein verklaar.
In hierdie tydvak van politieke korrektheid is hierdie klassifisering van individue op grond van geslag‚ ras en selfs liggaamlike gesondheid haas ondenkbaar. Tog was dit die omgewing wat die Judaïsme gevorm het. Joodse mans het hul gebede elke oggend begin deur God te bedank “wat my nie ’n onbesnedene gemaak het nie … wat my nie ’n slaaf gemaak het nie … wat my nie ’n vrou gemaak het nie.”
Handelinge 10 wys duidelik die gevolge van so ’n houding‚ “die dodelike logika van die politiek van suiwerheid.” Toe Petrus uiteindelik onder dwang instem om die huis van ’n Romeinse bevelvoerder te besoek‚ het hy homself bekend gestel deur te sê‚ “Jy weet dat dit teen ons wette is vir ’n Jood om met ’n onbesnedene te assosieer of hom te besoek.” Hierdie toegewing het hy gemaak slegs nadat hy die argument met God op die dak verloor het.
Petrus het vervolg‚ “Maar God het my gewys dat ek niemand onsuiwer of onrein moet noem nie.” ’n Revolusie van genade was aan die gang‚ iets wat Petrus kwalik kon verstaan.
Jesus se verskyning op die aarde het saamgeval met ’n godsdienstige herlewing in Palestina. Die Fariseërs het byvoorbeeld spesifieke reëls neergelê om rein te bly: betree nooit die huis van ’n onbesnedene nie‚ eet nooit saam met sondaars nie‚ moenie op die Sabbat werk nie‚ was jou hande sewe keer voordat jy eet. Toe daar dus gerugte kom dat Jesus die lang verwagte Messias kon wees‚ was vroom Jode meer verontwaardig as opgewonde. Het Hy dan nie onrein mense soos melaatses aangeraak nie? Het Hy dan nie ’n losbandige vrou toegelaat om sy voete met haar hare te was nie? Hy het saam met belastinggaarders geëet – een het selfs by die binnekring van die Twaalf aangesluit – en Hy was berug vir sy laksheid omtrent die reëls van reinheid en die viering van die Sabbat.
Bowendien het Jesus doelbewus die terrein van die onbesnedenes betree en by hulle betrokke geraak. Hy het ’n Romeinse bevelvoerder geprys omdat hy dan meer gelowig as enigiemand in Israel sou wees en het aangebied om sy huis binne te gaan om sy bediende te genees. Hy het ’n melaatse baster-Samaritaan gesond gemaak en het ’n lang gesprek met ’n Samaritaanse vrou gevoer – tot die ontsteltenis van sy dissipels wat geweet het “Jode assosieer nie met Samaritane nie.” Hierdie vrou wat deur die Jode op grond van haar ras verwerp is en deur die bure omdat sy dikwels getroud was‚ het die eerste “sendeling” geword wat deur Jesus aangestel is. Sy was ook die eerste persoon aan wie Jesus openlik gesê het Hy is die Messias. En Jesus het sy tyd op aarde afgesluit deur sy dissipels die “Groot Opdrag” te gee – om die evangelie aan onreine nie-Jode in “die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” te gaan verkondig.
Jesus se houding teenoor “onrein” mense het sy medeburgers ontstel en het uiteindelik tot sy kruisiging bygedra. Op die keper beskou‚ het Jesus die gekoesterde beginsel van die Ou Testament‚ geen afwykendes toegelaat nie‚ van die tafel gevee en dit deur ’n nuwe reël van genade vervang: “Ons is almal afwykendes‚ maar God het ons in elk geval lief.”
In die Evangelies is daar net een geval waar Jesus geweld gebruik het: die reiniging van die tempel. Met ’n sweep in die hand het Hy tafels en banke omgegooi en die handelaars uitgedryf wat hul stalletjies daar ingerig het. Die Joodse hiërargie het neerslag in die argitektuur van die tempel gevind: onbesnedenes is slegs in die buitenste hof toegelaat. Jesus was verontwaardig dat handelaars die gebied van die nie-Jode in ’n Oosterse mark omskep het waarin diere geblêr en handelaars oor pryse gekibbel het‚ voorwaar ’n atmosfeer wat kwalik bevorderlik vir aanbidding was. Markus vertel dat nadat Jesus die tempel skoongemaak het‚ die hoofpriesters en die skrifgeleerdes “na ’n plan gesoek het om Hom om die lewe te bring.” Jesus het inderdaad sy lot verseël deur sy woedende aandrang op die nie Jode se reg om God te nader.
Jesus het die afwykendes‚ sondaars‚ vreemdelinge en onbesnedenes – die onreines! – na God se feestafel genooi.
Het Jesaja dan nie van ’n groot feesmaal gepraat waarna alle nasies uitgenooi sou word nie? Deur die eeue is Jesaja se verhewe visioen sodanig afgewater dat sekere groepe die uitnodigingslys tot Jode beperk het wat nie liggaamlik gestrem was nie. Jesus se weergawe van die groot banket staan in skrille kontras: die gasheer stuur boodskappers die strate en stegies in om die “armes‚ kreupeles‚ verlamdes en blindes” te nooi.
Jesus se heuglikste verhaal‚ die van die verlore seun‚ eindig ook met ’n feesmaal met die held ’n niksnuts wat die familie se reputasie geskaad het. Jesus se punt was dat diegene wat deur almal as ongewens beskou is‚ oneindig wenslik vir God is‚ en wanneer een van hulle tot inkeer kom‚ word daar fees gehou. Ons is almal afwykendes‚ maar God het ons nietemin lief.
’n Ander beroemde gelykenis‚ die van die Goeie Samaritaan‚ het die oorspronklike gehoor getreiter deur twee godsdienstige beroepsmense te betrek wat ver verby die slagoffer van die rooftog gestap het omdat hulle bang was vir besmetting deur wat na ’n lyk gelyk het. Vir die held van sy verhaal het Jesus ’n veragte Samaritaan gekies – ’n keuse wat net so skokkend vir daardie gehoor was as wanneer ’n rabbi vandag ’n verhaal sou vertel wat ’n vegter van die Palestynse Bevrydingsorganisasie verheerlik.
Ironies genoeg het Petrus die visioen van die onrein diere in Joppe ontvang‚ die einste hawe vanwaar Jona probeer het om God se opdrag te ontwyk dat hy God se boodskap na die heidense Nineviete moes oorbring.
In sy sosiale omgang het Jesus ook die Joodse kategorieë van “rein” en “onrein” omvergewerp. In Lukas 8 word byvoorbeeld drie insidente kort na mekaar opgeteken wat gesamentlik die Fariseërs se bedenkinge oor Jesus moes bevestig het. Eers seil Jesus na ’n streek wat deur onbesnedenes bewoon word en waar Hy ’n nakende besetene genees en hom as sendeling in sy tuisdorp aanstel. Dan word Jesus aangeraak deur ’n vrou met ’n bloeding van 12 jaar‚ ’n “vroulike probleem” wat haar verhinder het om te aanbid en daarom ’n bron van skaamte vir haar was. (Die Fariseërs het geleer dat sulke kwale die gevolg van iemand se sondes was; Jesus het hulle regstreeks weerspreek.) Daarna gaan Jesus na die huis van ’n sinagoge-owerste wie se dogter pas gesterf het. Reeds “onrein” van die onbesnede besetene en die bloeiende vrou‚ gaan Jesus na die binnekamer en raak die lyk aan.
Die Levitiese wette het teen besmetting gewaak: kontak met ’n siek mens‚ ’n nie-Jood‚ ’n lyk‚ sekere soorte diere‚ of selfs muf en skimmel sou iemand besmet. Jesus het die proses omgekeer: Hy is nie besmet nie‚ maar het die ander persoon heelgemaak. Die naakte besetene het Jesus nie besoedel nie; hy is genees. Die arme vrou met die bloeding het Jesus nie beskaam en Hom onrein gemaak nie; sy het genees weggegaan. Die twaalfjarige meisie het Jesus nie besmet nie; sy is uit die dood opgewek.
In Jesus se benadering voel ek die vervulling‚ nie die afskaffing nie‚ van die wette van die Ou Testament aan. God het die skepping “geheilig” deur die gewyde van die ongewyde te skei‚ die reine van die onreine. Jesus het nie die beginsel van heiliging ongedaan gemaak nie‚ net die bron verander. Ons kan self agente van God se heiligheid wees‚ want God woon nou in ons. In ’n onreine wêreld kan ons soos Jesus maniere soek om ’n bron van heiligheid te wees. Die siekes en verminktes is nie vir ons ’n broeiplek van besmetting nie‚ maar potensiële reservoirs van God se genade. Ons word geroep om daardie genade uit te dra‚ om draers van genade te wees‚ nie mense wat besmetting vermy nie. Soos Jesus kan ons help om die “onreine” rein te maak.
Dit het die kerk lank geneem om by hierdie dramatiese verandering aan te pas – anders sou Petrus nie die visioen op die dak nodig gehad het nie. Insgelyks het die kerk ’n bonatuurlike aansporing nodig gehad om die evangelie na nie-Jode uit te dra. Die Heilige Gees was graag van diens en het Philippus eers na Samaria gestuur en hom daarna op ’n woestynpad gelei waar hy ’n vreemdeling‚ ’n swartman‚ ontmoet het‚ iemand wat ingevolge die wette van die Ou Testament onrein was (hy was ’n eunug en sy testikels daarom beskadig). Kort daarna het Philippus die eerste sendeling na Afrika gedoop.
Die apostel Paulus‚ aanvanklik onder dié wat verandering die sterkste teengestaan het‚ ’n “Fariseër onder die Fariseërs” wat God daagliks gedank het dat hy nie ’n nie-Jood‚ slaaf of vrou was nie – het uiteindelik hierdie revolusionêre woorde geskryf: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek‚ slaaf of vry‚ man of vrou is nie: in Jesus is julle almal een.” Jesus se dood‚ het hy gesê‚ het die versperrings van die tempel afgebreek en die skeidsmure van vyandigheid gesloop wat die verskillende klasse mense van mekaar geskei het. Genade het ’n weg gevind.
Nagenoeg twee eeue het verloop sedert God die apostel Petrus op ’n dak ingelig het. In daardie tydperk het baie omstandighede verander – niemand is meer begaan oor die ontjudaïsering van die kerk nie. Tog het die verskuiwing wat Jesus aangebring het belangrike gevolge vir alle Christene. Jesus se revolusie van genade raak my diep op minstens twee maniere.
In die eerste plek raak dit my toegang tot God.
Broers‚ ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom‚ en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen‚ dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het‚ laat ons tot God nader …