|
Preek: |
16 November 2003 te Gereformeerde Kerk Lyttelton |
|
Lees: |
Jeremia 1 |
|
Teks: |
Jeremia 1:5 |
|
Tema: |
Wees gerus; God ken jou |
VOORDAT Jeremia vir God geken het‚ het God vir Jeremia geken: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het‚ het Ek jou geken.” Dit sit alles wat ons ooit omtrent God gedink het in trurat. Ons beskou God as ’n voorwerp waaroor ons bepaalde vrae het. Ons is nuuskierig oor God. Ons doen navraag oor God. Ons lees boeke oor God. Ons neem deel aan groepbesprekings tot láát in die nag oor God. Af en toe val ons by die kerk in om te sien wat met God aan die gang is. Ons verlustig ons by geleentheid in ’n sonsondergang of ’n simfoniekonsert om so ’n gevoel van eerbied vir God te kweek.
Maar dis nie die werklikheid van ons bemoeienis met God nie. Lank voordat ons ooit so ver gekom het om ons te bemoei met God en vrae oor Hom te vra‚ het Hy Hom al met ons bemoei en vir ons vrae gevra. Lank voordat ons begin belangstel het in die onderwerp van God‚ het Hy ons volkome deurgrond‚ deur en deur leer ken. Voordat die gedagte nog ooit by ons opgekom het dat God moontlik belangrik kan wees‚ het God ons uitgesonder as belangrik. Selfs voordat ons in die moederskoot gevorm is‚ het God ons geken. Ons word deur God geken nog voordat ons Hom ken.
Hierdie besef het ’n praktiese uitwerking: ons hardloop nie meer heen en weer‚ paniekerig en vol bekommernis op soek na antwoorde op die lewensvrae nie. Die lewe is nie meer ’n raaisel wat opgelos moet word nie. Ons kom liewer na God toe. Hy is die Een wat ons ken en die waarheid omtrent ons lewe aan ons openbaar.
My identiteit begin nie wanneer ek begin om myself te verstaan nie. Voordat ek oor myself begin nadink‚ is daar reeds gedagtes oor my. Dis die gedagtes wat God oor my dink. Alles wat ek dink en voel‚ is dus van nature ’n reaksie en die Een teenoor wie ek reageer‚ is God. Ek sê nooit die eerste woord nie. Ek maak nooit die eerste skuif nie.
Jeremia se lewe het nie met Jeremia begin nie. Jeremia se verlossing het nie met Jeremia begin nie. Die waarheid omtrent Jeremia het nie met Jeremia begin nie. Hy het die eerste tree gegee in ’n wêreld waar die wesenlike aspekte van sy bestaan lank reeds geskiedenis was. En met ons is dit ook die geval.
Soms is ons druk in gesprek met drie of vier ander mense. Dan sluit iemand anders by die groep aan en begin meteens dinge sê. Hy redeneer oor standpunte en stel allerlei vrae. Intussen is hy totaal onkundig omtrent alles wat die voorafgaande twee ure gesê is. Hy is onbewus van die fyn balanse wat in die loop van die gesprek bereik is. Wanneer so iets gebeur‚ het ek altyd lus om te sê: “Sal jy tog net asseblief vir ’n rukkie stilbly? Sit net en luister totdat jy agterkom wat hier aangaan. Kry eers ’n gevoel van wat hier aan die gebeur is‚ dan sal jy ook welkom wees om deel te neem aan die gesprek.”
God is geduldiger as dit. Hy verdra ons onderbrekings. Hy loop terug op die spoor en lig ons in oor die ou verhale. Hy herhaal die noodsaaklike inligting. Maar dis soveel beter as ons tyd neem om die bedoeling van iets te snap‚ om uit te vind waar ons inpas. Die verhaal waarin elkeen van ons se lewe inpas‚ is alreeds goed op dreef wanneer ons die kamer binnestap. Dis ’n opwindende‚ briljante‚ meerstemmige gesprek. Die kuns is om die persone agter die stemme te ontdek en bekend te word met die verband waarin die woorde gebruik word. Dan eers behoort ons dit te waag om ’n stelling te maak‚ om ’n gedagte uit te spreek. Dan eers kan ons ’n vraag of twee stel‚ of dit durf waag om ’n beswaar te opper. Dit duur nie lank nie of ons is gereelde deelnemers aan die gesprek. Namate die gesprek dan ontvou‚ leer ons onsself ken soos ons ook geken word.
Die tweede stukkie agtergrondinligting wat oor Jeremia voorsien word‚ is: “Voordat jy gebore is‚ het Ek jou aan My gewy.” Gewy beteken eenkant gesit vir God. Dit beteken dat die mens nie net ’n rat in ’n masjien is nie. Dit beteken dat ’n mens nie die sleutelbord van ’n klavier is waarop omstandighede treffersparade-liedjies speel nie. Dit beteken wel dat ons uit die nikswerd stroom omstandigheid deur God die Almagtige uitverkies is vir iets belangriks waarmee Hy besig is.
Waarmee is God besig? God verlos‚ Hy red‚ Hy seën‚ Hy voorsien‚ Hy oordeel‚ Hy genees‚ Hy verlig ons verstand. Daar is ’n geestelike oorlog aan die gang‚ ’n volwaardige morele stryd. Daar is boosheid en wreedheid‚ ongelukkigheid en siekte. Daar is bygeloof en onkunde‚ onmenslikheid en pyn. God is in ’n voortdurende en energieke stryd gewikkel teen al hierdie dinge. God is ten gunste van lewe en staan die dood teë. God is ten gunste van liefde en gekant teen haat. God is ten gunste van hoop en ’n teëstander van wanhoop. God staan die hemel voor en voer stryd teen die magte van die hel. Daar is geen neutrale grond in die heelal nie. Oor elke vierkante meter oop ruimte word ’n stryd gevoer.
In hierdie oorlog was Jeremia reeds voor sy geboorte aan God se kant gelys. Hy is nie ’n paar jaar gegun waarin hy kon rondkyk en besluit aan watter kant hy wou wees nie. Hy kon nie eens besluit of hy hoegenaamd aan ’n kant wou wees nie. God het Jeremia reeds vooraf gekies om aan sy kant die stryd te voer. En dit is dieselfde met almal van ons. Niemand kom as ’n blote toeskouer hierdie lewe binne nie. Ons pak of die lewe aan waarvoor ons afgesonder is‚ of ons pleeg as ’t ware verraad en breek weg van daardie lewe. Ons kan nie sê nie: “Wag net so ’n bietjie! Ek is nog nie heeltemal gereed nie. Wag bietjie totdat ek my sake agtermekaar gekry het.”
Vir ’n lang tyd het alle Christene mekaar aangespreek as “heiliges.” Hulle was almal heiliges‚ ongeag of hulle ’n goeie of ’n slegte lewe gelei het‚ ongeag hoe ervare of onervare hulle was. Die woord “heilige” het nie verwys na die kwaliteit of deug wat uit hulle dade gespreek het nie. Dit het wel verwys na die soort lewe waartoe hulle uitverkies was: ’n lewe op die slagveld. Dit was nie ’n titel wat gegee is na ’n skitterende prestasie nie‚ maar ’n kenteken om aan te dui aan wie se kant hulle was. Die woord “heilige” is die naamwoordvorm van die werkwoord “afgesonder.” En dis wat bygedra het tot Jeremia se geestelike vorming selfs nog voordat hy ’n liggaamlike vorm gehad het.
By God is ek nie ’n nul nie. Ook nie ’n minus nie. Ek het ’n afgesonderde plekkie wat net ek kan vol staan. Niemand kan vir my instaan nie. Niemand kan my vervang nie. Voordat ek vir enigiets goed was‚ het God besluit dat ek goed was vir die werk waarmee Hy in my lewe besig was. My plek in die lewe hang nie af van hoe goed ek in die toelatingseksamen vaar nie. My plek in die lewe word nie bepaal deur watter mark daar vir my soort persoonlikheid is nie.
God is daarop ingestel om die wêreld deur liefde te wen. Elke mens is op dieselfde manier as Jeremia uitgesoek en elkeen word net soos Jeremia afgesonder om saam met God hierdie taak te vervul. God wag nie om te sien hoe ons in die lewe vaar voordat Hy besluit om ons te kies of nie te kies nie. Voordat ons gebore is‚ hét Hy ons gekies om aan sy kant te wees. Hy het ons aan Hom gewy.
God het nog ’n derde taak verrig nog voordat Jeremia enigiets op sy eie gedoen het: “Ek het jou as profeet vir die nasies aangestel.” Die woord “aangestel” beteken letterlik “het gegee” (nathan). God het Jeremia as profeet vir die nasies gegee. God gee. Hy is vrygewig. Hy is buitensporig vrygewig. Voordat Jeremia ooit regtig besef het waarom dit gaan‚ is hy reeds weggegee.
Dis die manier waarop God werk. Hy het dit met sy eie Seun‚ Jesus‚ gedoen. Hy het Jesus weggegee. Hy het Hom vir die nasies gegee. God het Jesus nie as ’n vertoonstuk gebêre nie. Hy het nie vir Jesus in ’n museum bewaar nie. Hy het nie met Hom gespog soos met ’n trofee nie. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het‚ sodat dié wat in Hom glo‚ nie verlore sal gaan nie‚ maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16).
Net so het God vir Jeremia weggegee. Ek kan hoor hoe Jeremia beswaar maak: “Wag net ’n oomblik. Moenie so haastig wees om my weg te gee nie. Hieroor het ek ook ’n sê. Ek het my onvervreembare regte. Ek het ’n paar besluite omtrent die lewe wat ek self gaan neem.” Stel jou God se reaksie voor: “Jammer‚ maar Ek het dit gedoen nog voordat jy gebore is. Dis alreeds gedoen; jy is weggegee.”
In sommige dinge in die lewe het ons ’n keuse‚ in ander nie. In hierdie saak het ons nie ’n keuse nie. Dis die soort wêreld waarin ons gebore is. God het dit geskape. God onderhou dit.
Om te gee is hoe die heelal dinge doen. Om te gee is ingeweef in die struktuur van ons bestaan. As ons ons lewe probeer lei deur in te palm in plaas van om te gee‚ druis dit teen die gewone verloop van dinge in. Dit is net soos wanneer mens probeer om teen die wet van swaartekrag te werk. Die gevolg is kneusplekke en gebreekte bene. Om die waarheid te sê‚ ons sien heelparty verwronge‚ misvormde‚ kreupel lewens onder hulle wat die werklikheid ontken dat alle lewe ’n gawe is en dat hierdie gawe van lewe voortdurend gegee moet word om sodoende getrou te bly aan die aard van lewe.
Die ding wat ons die beste kan doen‚ is om te gee. Dis die atmosfeer waarin ons gebore is. Dis die handeling wat reeds voor ons geboorte in ons geskape is. Om te gee is eie aan die wêreld. God gee Homself. Hy gee ook alles weg wat bestaan. Hy maak geen uitsonderings vir enigeen van ons nie. Ons word weggegee aan ons familie‚ aan ons bure‚ ons vriende‚ ons vyande en aan die nasies. Ons lewe op aarde is ter wille van ander. Dis hoe die skepping werk.
Party van ons probeer desperaat om vas te hou aan onsself‚ om vir onsself te lewe. Ons lyk so beteuterd en pateties as ons dit doen. Ja‚ ons klou met alle mag vas aan die dooie tak van ’n bankbalans. Ons vrees die risiko van die vlerke van vrygewigheid wat nog nie uitgetoets is nie. Ons dink nie ons kan vrygewig lewe nie omdat ons dit nog nooit probeer het nie. Maar hoe gouer ons begin‚ hoe beter. Ons gaan in elk geval uiteindelik ons lewe totaal moet prysgee. Hoe langer ons dus wag‚ hoe minder tyd het ons om te deel in ’n lewe van genade wat ons deurgaans dra‚ dwarsdeur die hoogte- en laagtepunte in ons lewe.
Jeremia kon bly vasklou het aan die doodloopstraat in Anatot waar hy gebore is. Hy kon hom bly koester het in die veiligheid van sy pa se priesterskap. Hy kon hom aangepas het by die saai gewoontes van sy kultuur. Maar hy het nie. Hy het geglo wat aan hom vertel is omtrent sy agtergrond. Hy het geglo dat God hom lank tevore reeds weggegee het. En van daardie handeling van gee het Jeremia ook deel geword. Daarom het hy hom met oorgawe aan sy opdrag gewy.
In Psalm 139 hoor ons ook van ’n man wat van alle kante omsluit was (vgl. v. 5). Nie deur dinge of iets nie‚ maar deur Iemand‚ naamlik die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Eers het dié wete die digter baie bang gemaak. Want‚ dit beteken tog dat die Here alles van hom af geweet het: van elke gedagte‚ ook elke lelike gedagte wat hy gedink het‚ nog voordat hy dit gedink het; elke woord‚ ook elke lelike woord‚ nog voordat hy dit gesê het. So is dit: die Here weet wat ons adres is‚ waar ons skool en werksplek is‚ of ons reis en of ons oorbly‚ of ons sit en of ons opstaan‚ en op watter pad ons is (vgl. v. 2-4). Hy weet alles van ons af. Sy oog sien ons orals raak. Vir Hom is ons so oop en bloot soos ’n vis in ’n visbak. Daar is nêrens waar ons kan wegkruip nie. Nie eers ’n skulpie waaronder ons kan skuil nie. Geen privaatheid nie. So moes die digter gevoel het. Behalwe net dat die Here nog dieper sien. Hy sien ook dwarsdeur ons (vgl. v. 1)‚ dwarsdeur die vissie in sy bak. Vir Hom is ons so deurskynend soos glas: tot in die eerste verte en die diepste diepte van ons bestaan.
Dié wete het die digter so bang gemaak dat hy wou weghardloop‚ wou wegkruip. Maar‚ waar sou hy wegkruip? Dalk in ’n wolkie in die hemel? Miskien is dit te hoog vir die Here om by te kom. Dalk agter ’n grafsteen in die begraafplaas? Miskien is die Here te bang om daar te kom. Dalk in die ooste of die verre weste? Miskien is die Here te moeg om so ver te reis. Of‚ dalk sou hy in die donkerte in sy klerekas kon gaan wegkruip. Dis ’n goeie plek. Die Here sal tog nooit daaraan dink om hom daar te gaan soek nie‚ of hoe? (vgl. v. 7-12).
Maar … ook dáár haal die Here hom in‚ nee‚ ook daar is die Here alreeds‚ en wág die Here alreeds vir Hom. Van alle kante af word hy omring … soos ’n vis in die water.
Toe ontdek die digter ook iets anders. Dat dit nie nodig is om vir hierdie Here weg te hardloop nie. Hy het ons dan gemaak‚ ons reeds in ons moeder se skoot gevorm. Hy ken ons verlede‚ maar ook ons toekoms. Hy het al ons lewensdae in sy boek opgeskryf (vgl. v. 13-16). Hy weet alles van ons af … en nogtans het Hy ons lief. Ons hoef nie vir God bang te wees nie.
Het jy al ooit ’n vis gesien wat bang is vir water? Visse kan skrik vir mense‚ maar vir water? Nee‚ ’n vis is so tuis in die water soos net ’n vis tuis kan wees in die water. Hy hoort in die water. Hy kry sy suurstof uit die water. En sy kos. Hy lééf uit‚ en in‚ die water. Om die waarheid te sê‚ as ons ’n vis uit die water sou haal en langs die visbak sou neersit‚ sou hy ’n paar gape gee en na ’n tyd dood wees. So is ons ook. As ons uit die Here se teenwoordigheid gehaal sou word‚ sou ons ook doodgaan. Nie eers na ’n tyd nie‚ maar oombliklik. Ons het nodig om deur die Here omring te word‚ net soos dit vir ’n vis nodig is om deur die lewegewende water omring te word.
My kinders vra soms vir my: Waar is Jesus dan? Is Hy bo in die hemel‚ of by die plafon‚ besig om na ons toe af te kyk? Dan moet ek sê: Ja‚ Hy is. Is Hy dalk onder die bed‚ besig om van onder na ons te kyk? Ja‚ Hy is ook daar. Staan Hy dalk agter die deur? Ja‚ Hy staan ook daar. Hy is orals‚ om ons. Sy teenwoordigheid vul elke kamer en huis‚ elke dorp en stad‚ elke doodloopstraat op hierdie aarde en elke uithoek in die groot heelal. Laat ons programme dan maar probeer om ons in te sluk; laat die onsekerheid probeer om ons in te sluit; laat die beproewing probeer om ons neer te druk; die Een wat ons eerste‚ en die nouste omsluit‚ is die Here.
Martin Luther het gesê: Die Here is nader aan ons as ons hemp of rok. Dis naby. Maar Hy is nóg nader. Hy raak aan ons hele vel‚ soos die water aan die vis se hele vel raak. Dis naby. Maar Hy is nóg nader. Hy kruip onder ons vel in. Hy is binne-in ons‚ Hy neem ons in besit (vgl. v. 5).
C.S. Lewis skryf so hieroor:
Dit is nie ’n abstraksie genaamd “mensdom” wat gered moet word nie. Dit is jy … jou siel‚ en‚ op ’n wyse wat ons nog nie ten volle verstaan nie‚ ook jou liggaam‚ wat geskep is vir die hoë en heilige plek. Alles wat jy is … elke vou en elke plooi van jou individualiteit is van alle ewigheid af ontwerp om God te pas soos ’n handskoen ’n hand pas. Al daardie intieme uniekheid wat jyself nie eers kan begryp nie‚ nog minder aan jou medeskepsels kan kommunikeer‚ is geen geheim vir Hom nie. Hy het daardie fynste besonderhede van jou gemaak sodat Hy dit kan vul met Homself. Daarop het Hy aan jou so ’n unieke lewe gegee omdat dit die sleutel is wat gemaak is om daardie één spesifieke deur‚ te midde van die ontelbaar ander deure‚ in God self te omsluit.