Preek:

20 Februarie 1994 te Gereformeerde Kerk Lyttelton

Lees:

2 Korintiërs 2:14-17; 3:1-18

Teks:

2 Korintiërs 3:2‚ 3

Tema:

Is jou lewe vir ander ’n inspirasie om ’n brief van Christus te word?


HOE aangenaam sou dit nie wees indien die opgestane Here Jesus Christus nou êrens op aarde sou leef nie! Dan kan Hy daar gespreek word en sou veel meer mense tot ’n opregte geloofsoortuiging kon kom. Sy mening sou deur die nuusmedia gedra word tot in elke huishouding. Dit is mos die wonder van die televisie … wêreldleiers se gesigte‚ gesigsuitdrukkings‚ houdings en woorde word wêreldwyd gebeeldsend.

Hulle word later sulke bekende figure dat jy begin reken hulle is maar deel van die normale daaglikse opset. Dit sou dus sekerlik wonderlik gewees het om Christus se kommentaar en mening oor elke saak te kon hoor. Reken net watter geweldige invloed sou dit nie gehad het nie. Sy mening daagliks in ons woonvertrek! Ons sou mos presies geweet het hoe om oor wêreldgebeure en tendense te dink; welke politieke party om te ondersteun; hoedanig en waar ons ons beleggings moes maak!

Nou is die boeiende (en ontstellende) egter dat God nog nouer teenwoordig is as deur ’n televisiebeeld. Nie net Christus (die tweede Persoon van die Drie-eenheid nie)‚ maar die Drie-enige God self is op ’n besondere manier op aarde teenwoordig en sigbaar. U sien‚ selfs al was Christus persoonlik hier teenwoordig‚ sou daar dalk weer ander argumente wees waarop mense hulle onbereidheid om te glo‚ baseer. Nee‚ God het dit juis soveel aangenamer‚ soveel opwindender‚ soveel anders gemaak deur in sy heilsplan van mense gebruik te maak om Hom sigbaar te maak! My betrokkenheid in die sigbaarmaking van God op aarde kom met ’n sterk appèl. Die vraag waarmee ek gekonfronteer word‚ is: Wat is my bydrae om God duidelik sigbaar te maak?

Miskien is daar by jou ook die vrese dat die kerk sal swig voor die aanslae van die Bose. Daarom‚ en veral in ’n veranderde Suid-Afrika‚ is dit belangrik dat ons as kerk daadwerklik ’n getuigskrif vir Christus en sy koninkryk sal wees. Dat ons gedring deur die liefde van Christus te alle tye ’n aanbeveling vir die evangelie sal wees.

Die apostel Paulus het in sy tyd ook teenkanting ondervind. In Korinte het vreemde leraars met aanbevelingsbriewe vir Paulus nageloop en oral agterdog teen hom probeer saai. Hulle ontken en bestry sy gesag as apostel en sy opdrag om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Hulle wys aan die gemeente hulle aanbevelingsbriewe en vra waar Paulus s’n dan is. Paulus waar is jou getuigskrifte?

Teen hierdie verdagmaking verdedig Paulus homself. Hy sê hy het geen aanbevelingsbrief nodig nie. Die evangelie wat hy verkondig is self sy aanbevelingsbrief. Kan ons as kerk dit vandag nog sê? Dit moet steeds ons ideaal wees om saam met Paulus te kan sê: Ons verkondig die Woord in opregtheid‚ in verbondenheid met Christus‚ in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.

Daarom kan Paulus sê dat hy geen aanbevelingsbrief nodig het nie. Maar indien die Korintiërs tog nog ’n aanbevelingsbrief van hom wil hê‚ moet hulle net hulle oë oop maak en na hulle self kyk. Julle is self ons aanbevelingsbrief‚ sê Paulus. Is dit nie ’n heerlike gedagte nie: die verhoogde Christus aan die regterhand van sy Vader skryf ’n brief aan hierdie wêreld. Christus korrespondeer met alle mense. En dit word nog wonderliker: die brief wat Christus aan die wêreld skryf is julle! Julle gemeente van Korinte in die eerste plek. Maar ook julle‚ gemeente van Lyttelton.

Ja‚ hierdie teks het ook 100% met u en met my te doen van hierdie gemeente. Julle is die brief. Julle is die materiaal waarop Christus hierdie brief aan alle mense skryf. Honderde jare gelede was Korinte se gemeente die materiaal. Nou is dit hierdie gemeente.

Wat vir Korintiërs gegeld het‚ geld ook vir ons. As gelowiges en as gemeente is ons ook ’n brief. Deur die werking van die Heilige Gees het daar ’n verandering in ons lewens plaasgevind en is ons ’n bewys daarvan dat ons die evangelieboodskap van verlossing in Jesus Christus aanvaar het. Dit‚ Broeders en Susters en Kinders‚ is onbegryplike groot genade dat God die flentertjie papier van ons lewens‚ waarop die Satan reeds soveel kwaad so diep ingegrif het‚ nog kan en wil gebruik om op te skryf.

Nee‚ al die mense moet nou nie dink dat ons ons daarop beroem dat ons ’n brief van Christus is‚ asof ons vanweë ons eie voortreflikheid en eie waarde deur Christus daartoe uitverkore sou wees nie. Asof Christus sou gesê het: die lewe van hierdie man en hierdie vrou is só ’n vlekkelose‚ skoon blaadjie dat Ek dit uitstekend vir my brief kan gebruik. Hoegenaamd nie!

Was Paulus se lewe altyd ’n skoon vel papier? Was Dawid ’n skoon skryflei? Was daar nie lelike vlekke op die lewens van Jakob‚ Manasse‚ Petrus nie? Nee‚ ons lewenspapier is swart en smerig van die sonde. Maar dít is die genade‚ dat die bloed van Christus ons vuil menselewens waarin die ongeregtigheid en goddeloosheid diep weggevreet het‚ rein en skoon was en ons tot witglansende skryfpapier omskep‚ geskik vir ’n brief van ons Heiland.

As ek dan skryfpapier van Christus is‚ weet dit: Die papier is niks. Die woorde en die skrywer is alles. En as die wêreld die brief lees‚ moet hulle nie die papier bewonder nie. Sekerlik moet die papier goed wees‚ skoon‚ sodat die woorde en ink duidelik wys. Dit wil sê as die mense die brief lees‚ dan moet hulle nie vir u en my lees nie‚ maar hulle moet Christus lees.

Die mense moet nie sê as hulle lees: Hoe groot Christen is hy‚ hoe ’n goeie Gereformeerde nie. Maar: Hoe heerlik en groot is Christus! Nie my naam en eer moet met die brief groot gemaak word nie‚ nie die goeie kwaliteit van die papier nie‚ nl. die beginselvastheid‚ getrouheid‚ ywer vir die Here‚ offervaardigheid‚ moet geroem word nie. Maar Christus moet uit die brief skitter en skyn.

As dit so is‚ as ons so skryfpapier van Christus wil wees‚ dan kom dit nie daarop aan watter soort papier ons is nie‚ watter posisie of eienskappe ons het nie. Die een groot saak is dit: of Christus op ons lewe skrywe. En Christus kan die eenvoudigste stukkie papier‚ wat die wêreld in die snippermandjie gooi‚ vir sy brief gebruik. Die stil moeder by die huis‚ wat niemand sien en hoor nie; die sieke in die hospitaal. Dit is alles goeie skryfpapier waarop Christus aan die wêreld sy brief skrywe. Van die gemeente as brief sê Paulus verder: Dit is “geskrywe op ons harte.” Die Korintiërs is ingegrif in die hart van die apostel‚ omdat hy hulle so innig lief het; hy is die vader van die gemeente (1 Kor. 4:15) en hulle is sy roem in die Here (vgl. 1 Kor. 15:31; 2 Kor. 7:4). As Paulus weens die aanvalle van sy teenstanders self sou twyfel oor sy apostelskap‚ hoef hy slegs sy eie hart te raadpleeg. Daar lees hy die naam Korinte en word hy opnuut verseker dat God vrug gegee het op sy apostoliese arbeid en sodoende die egtheid daarvan verseël het.

Ons kan onsself maar net afvra: Is ons as “briewe” ook op mekaar se harte geskrywe? Is daar by ons die onderlinge belangstelling en liefde vir mekaar? Gee ons vir mekaar om‚ of is ons geneig om verby mekaar en selfs in haat en afguns teenoor mekaar te lewe. Ook in ons land moet ons gevoelig wees vir mekaar. As briewe moet ons op mekaar se harte geskrywe wees en mekaar liefhê. Die Here verwag dit van ons as ons dit enigsins ernstig bedoel met ons Christenskap.

Nog ’n belangrike vraag is: Wie is die lesers van hierdie brief? Paulus sê dat die gemeente ’n aanbevelingsbrief is vir almal om te lees en te verstaan. Met ander woorde die lesers van hierdie brief is die mense met wie die Christen elke dag in aanraking kom. ’n Brief kan ook soos die gemeente ’n openbare of publieke karakter hê. Almal kan sien dat daar ’n gemeente is en hoe goed dit funksioneer.

Ons het ’n ontsettende verantwoordelikheid. Ons is briewe wat geken en gelees word deur alle mense. Alle mense is lesers en in ons optrede elke dag in die huis‚ op straat‚ by die skool‚ by die werk‚ op die sportveld – maak nie saak waar nie – lees hulle of ons lewe tot eer van God is‚ al dan nie. Orals waar ons gaan‚ in ons handel en wandel lees die mense met wie ons in aanraking kom‚ watter invloed die evangelie van Jesus Christus op ons lewe het‚ en die vraag is: Wát lees die mense in ons?

Is ons goeie aanbevelingsbriewe van Christus se reddende genade in ons hart en lewe – of nie? Trek ons ander mense met ons lewe nader aan die koninkryk van God of verstoot ons hulle? Iemand het eenkeer gesê: “Die grootste struikelblok wat die kerk het‚ is die onbevredigende lewe van sy Christene.” Iemand anders het gesê: “Julle Christus lyk goed‚ maar met julle Christene wil ek niks te doen hê nie.” Met ander woorde Christene lewe nie soos Christene behoort te leef nie. ’n Aanklag wat ons tot nadenke móét stem. Die vulpen van ons lewe moet nie verstop wees nie. Die ink van die Heilige Gees waarmee ons lewe vervul moet wees‚ moet vrylik vloei. Ons lewe moet volkome in die skrywende hand van Christus wees.

Want Hý skryf hierdie brief. Hy skryf self‚ maar gebruik mense soos Paulus en elkeen van ons as sy instrument‚ sy skryfpen. Christus maak van mense gebruik om ander mense se lewe sodanig te verander dat dit van Hom en tot sy eer kan getuig. Op hierdie manier verkry u en my lewe ’n dubbele roeping en taak. Ons self moet ’n lewende brief van Christus wees – ’n advertensie vir God en sy Koninkryk en ons moet ander mense sodanig bearbei en beïnvloed dat hulle ook weer briewe vir Christus kan wees.

Waarmee‚ waarop geskryf?

Christus skryf sy brief op die hart van die gemeente nie met ink nie‚ maar “met die Gees van die lewende God.” Dít is die enigste ink wat diep genoeg indring. Slegs met die Heilige Gees‚ met die lewende God self‚ kan ’n hart só beskryf word dat die harde hart week en die dooie hart lewend word. Alleen die lewende Gees kan die dooie hart met lewe beskryf. In die ink van die Gees wil Christus sy pen doop; met die Gees van die lewende God wil Christus sy dienaars salf en vervul sodat hulle soos Stefanus word: “manne vol van die Heilige Gees.”

Watter heerlike vertroosting vir God se getroue diensknegte! Nou maak dit immers nie saak of ons as pen van beskeie waarde is nie‚ of ons weinig gawes of talente gekry het nie. Wat saak maak‚ is dat Christus ons in sy hand geneem en in sy Heilige Gees gedoop het. En dan is alles in orde. Dan kan groot dinge deur ’n geringe kneg verrig word‚ want dan “is ek tot alles in staat deur Christus wat my krag gee!”

Geliefdes‚ as die evangelie maar net ’n mooi boodskap was wat op papier geskrywe gestaan het‚ was dit miskien lankal reeds vergeet en verlore vir die nageslag. Maar juis omdat die evangelie mense se harte binnegedring het om van hulle dissipels van Christus te maak‚ brei dit steeds uit. As briewe van Christus‚ het ons dan die heerlike voorreg om deel te mag hê aan die uitbreiding van sy koninkryk.

Die vraag wat elkeen moet beantwoord is: Is jy waarlik ’n lewende brief van Christus? Is jy al ’n getuigskrif vir Hom? Lees mense vir Christus in jou lewe? En is jou lewe vir ander ook ’n inspirasie om ’n brief van Christus te word? Ons moet besef elke gelowige is ’n ope brief vir Christus. Die eer van die kerk‚ die eer van Christus‚ is in die hande van ons as sy volgelinge.

Ek moet God so sigbaar maak dat ander mense deur my optrede vir Hom kan raaksien. U sien‚ selfs al was God hier iewers op aarde‚ sou daar nog altyd by sy woonplek na sy mening gesoek word. Onderhoude met Hom sou geliefde artikels en beeldmateriaal verskaf het. Maar nou is Hy nie net op een plek nie. Hy is alomteenwoordig. Orals waar sy kinders is‚ is Hy self teenwoordig.

Dit is die oorweldigende verantwoordelikheid waarmee ons te kampe het: hier is geen ontsnap kans nie. Hy moet orals en altyd vertoon word. My woorde‚ my mening‚ my gebare en my optrede moet Hom teenwoordig en sigbaar maak. My hele handel en wandel‚ met oud en jonk‚ vriend en vyand‚ moet Hom herkenbaar maak. Dit moet duidelik word op kantoor en op die sportveld‚ in my besigheid en in my ontspanning.

Maak ek Hom nie sigbaar nie‚ is ek besig om Hom te verduister. Waarmee‚ en hoe ernstig is u besig?

Amen

Outeur
Ds. Hentie Krüger
Gereformeerde Kerk Lyttelton
hentie@midweek.co.za
www.midweek.co.za
Sel. 082-572-6812


Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word.