|
Preek: |
30 Januarie 2005 te Gereformeerde Kerk Lyttelton |
|
Lees: |
Kolossense 1:9-14 |
|
Teks: |
Kolossense 1:12-14 |
|
Tema: |
’n Hallelujalied vir die Here |
Ons is in ’n helikopter en ons vlieg in die suidwestelike gedeelte van Turkye. Reg onderkant ons lê ’n pragtige vallei weerskante van die smal Lykusrivier‚ ’n sytak van die breë Menderes (destyds die Meander genoem). Soos wat ons vorder‚ sien jy verskillende klein nedersettings‚ maar daar is veral drie stede wat uitstaan: Hiërapolis‚ Laodisea en Kolosse (vgl. Kol. 4:13).
Laodisea is natuurlik baie bekend aan ons uit Openbaring 3. Die klag wat die Here Jesus teen die Christene in Laodisea gehad het‚ was dat hulle nie regtig koud of warm was nie. Die stad waarin hulle gewoon het‚ was egter welbekend vir sy goedontwikkelde wolbedryf wat baie geld ingebring het. Ongelukkig het dit nadelige geestelike gevolge vir die gelowiges gehad. Dit het gelei tot materialisme en geestelike selfverheffing.
Die tweede stad was Hiërapolis‚ aan die anderkant van die Lykusrivier. Dit was ook ’n baie vooruitstrewende plek en veral bekend vir sy gesondheidspa. En natuurlik ook as ’n vakansieoord. Dit het beteken dat veral ryk mense soontoe gekom het om te ontspan‚ maar daar was ook baie invalides wat genesing kom soek het. Op dié manier het die stad die reputasie van die heilige stad gekry. ’n Mens kan verstaan waarom dit gou-gou een van die belangrike sentra van heidense mistisisme geword het. Mense wat aan allerlei siektes gely het‚ het van heinde en ver soheentoe gestroom om gesond te word.
En dan was daar natuurlik Kolosse. In vergelyking met sy twee susterstede‚ was Kolosse eintlik maar ’n klein plek. Vroeër was dit wel groter‚ maar as gevolg van die politieke oorheersing van Laodisea en die steeds groeiende populariteit van Hiërapolis‚ het Kolosse in ’n groot mate ’n ondergeskikte plek ingeneem. In die tyd van die Nuwe Testament was Kolosse dus eintlik ’n plek wat agter gestaan het by sy twee susterstede.
Die fokus is op Kolosse
Niemand weet regtig presies wanneer die stad Kolosse gestig is nie. Al wat ons met sekerheid weet‚ is dat dit in die tyd van koning Kores van Persië (485-465 vC) was. Dit is dieselfde koning van wie ons in die boek Ester lees. Vóór die tyd van die Nuwe Testament was Kolosse ’n vooruitstrewende stad. Die historikus Herodotos verwys daarna as ’n groot stad van Frigië – so rondom die jaar 480 voor Christus. Teen die tyd van die Nuwe Testament het die stad egter alreeds sy rol in ’n groot mate verloor en was dit maar ’n kleinerige dorp in vergelyking met sy twee susterstede. ’n Mens kan aanvaar dat daar nie baie lidmate in die gemeente van Kolosse was nie.
Die dwaling in Kolosse
As ’n mens kyk na wat Paulus van die stad skrywe‚ ontdek jy dat daar verskillende dwalings was. Paulus het egter elke dwaalgedagte wat die kerk in Kolosse bedreig het‚ weerlê en in die regte perspektief gestel. Hierdie dwaling het sy oorsprong in verskeie ander dwalings gehad‚ wat almal die mens in staat wou stel om op eie krag sy saligheid te bevorder.
Vier redes om God te dank!
Daar is vier belangrike‚ wonderlike dinge wat tot my en jou voordeel strek‚ en wat ons ontvang het deurdat Christus vir ons die verlossing verkry het. Ons het dit nie self verdien nie. Daarom kan dit ook nooit net Paulus wees wat die Here dank vir die verlossing van die Kolossense nie. Hulle word self opgeroep – en daarmee saam ook ek en jy – om God met blydskap te dank vir dit wat Hy in Christus vir ons gedoen het. In ’n sekere sin vorm dit die hoogtepunt van die voorafgaande voorbidding wanneer Paulus in vers 12 sê: Julle moet die Vader met blydskap dank …
Dit is of Paulus ons stap vir stap wil naderbring na die persoon van Jesus Christus. Hoe anders is hierdie man se taal tog nie‚ want die gelowiges in Kolosse was ook maar onderdanig aan die aardse keiser‚ net soos ek en jy. Maar‚ hoewel ons wetlik aan die owerheid onderdanig is‚ het ons in werklikheid net een Koning‚ naamlik Jesus Christus. Paulus help ons as ’t ware om óór die gewone dinge van die dag in dankbaarheid na Hom‚ ons Verlosser‚ te kyk.
Let op dat Paulus nie dadelik begin om te velde te trek teen die leringe en valse filosofieë van die mense in Kolosse nie. Nee‚ hy besing eers wat Christus vir die gelowiges gedoen het – ook vir jou en vir my gedoen het. Dit is of die apostel eers sy lesers wil uitlig uit die vallei en uit die gewone gang van sake‚ en ons wil uitlei na die hoogtes.
Om God te dank en te aanbid‚ is sekerlik die hoogste doel van elke Christen se lewe – en dan nie alleen met woorde nie‚ maar veral ook met die daad (vgl. 3:17). ’n Lewe soos dié waarvoor in vers 9-11 gebid is‚ kan net een doel voor oë hê‚ en dit is dat God daardeur gedank word. Dit is in werklikheid eintlik ook ’n baie goeie motivering vir sy oproep tot dank. Dit besing die almag van God soos dit tot uitdrukking gekom het in sy verlossingsdade. Kom ons kyk dan na die vier belangrike redes waarom ons elkeen volgens Paulus persoonlik vir God kan dank.
Hy het jou aanvaarbaar vir sy koninkryk gemaak
Julle moet die Vader met blydskap dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig (v. 12). Ja‚ God het ons geskik gemaak vir sy koninkryk‚ want ons is as sondaars en in sonde gebore – onmagtig en onbekwaam om in sy ryk te mag ingaan. Dawid skryf: Ek was al skuldig toe ek gebore is‚ met sonde belaai toe my moeder swanger geword het (Ps. 51:7). Dit is ’n goeie voorbeeld van wat ons gewoonlik die “erfsonde” noem. Dit beteken dat elke mens wat gebore is alreeds ’n sondaar is – selfs nog voordat hy enige dade verrig het. Hierdie erfsonde en daadsondes kleef elke mens aan. Daarom dat Paulus in Romeine 3:23 skrywe: Almal het gesondig en is ver van God af.
Die basiese rede waarom ons dus kan dankie sê‚ is omdat ons as Christene ’n nuwe status voor God gekry het. Hierdie status het God onse Vader vir ons moontlik gemaak deur die offer van sy Seun. Ons het as aangeklaagde sondaars en beskuldigdes voor die ewige Regter gestaan. Ons was alreeds veroordeel vanweë die sonde wat ons van voor ons geboorte af aankleef‚ wat nog te sê van al die daadsondes wat ons verrig het! Dis alleen deur die genade van God dat ons aangeneem is as lede van God se familie. Daarom mag ons nou die Regter aanspreek as “ons Vader.”
Paulus skryf natuurlik hierdie dinge teen die agtergrond van die Ou-Testamentiese geskiedenis. Toe hulle die beloofde land Kanaän ingetrek het‚ het die Israeliete hulle erfdeel van die Here ontvang. Deur dit wat Christus vir ons gedoen het‚ het die Vader ons toegelaat om in te gaan in ons geestelike Kanaän. Ons mag nou in die lig van die gemeenskap met God self leef. Wat ’n genade wat God aan ons betoon het! Ons het dit nie self verdien nie. En onthou dat ons hierdie geestelike erfenis saam met ander gelowiges besit. Dit beteken dat ons as die nuwe Israel van God eenkant gesit is in die wêreld. Ek en jy is deel van ’n geestelike volk wat tot stand gekom het deurdat ons ons erfenis in besit kon neem. Wat ’n rede tot blydskap!
Hy het jou uit die mag van Satan bevry
God het ons uitgeruk uit die mag van die Satan: Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk … (v. 13). Tydens ’n konferensie het iemand aan die teoloog Karl Barth gevra wat hy nou eintlik van die duiwel dink. Nadat hy ’n oomblik nagedink het‚ het hy geantwoord: “Die duiwel? Ons hoef die duiwel nie te vrees nie. Christus het hom oorwin – Hy is die Heer‚ die enigste Heer‚ óns Heer!” Barth het dit bedoel: Jy kan die duiwel maar ’n deurdringende en ontmaskerende blik gee‚ maar dan moet jy van hom af wegkyk‚ hom ignoreer en alle oë rig op die Here. Want jy kan só meegesleur word deur die Bose se meesterlike sette‚ dat hy jou betower en bedwelm; dat hy jou vasvang en insuig in die donker draaikolk van sy duiwelse doenighede. Jy kan Christus helaas uit die oog verloor.
Die Bybel kry die duiwel goed in die oog‚ noem hom trouens op die naam. Nie minder as dertig name nie vlek sy diaboliese wese en werkswyse treffend oop: dan is hy moordenaar (Joh. 8:44) en brullende leeu (1 Pet. 5:8)‚ dan weer engel van die lig (2 Kor. 11:14) en die owerste van die wêreld (Joh. 14:30). Ja‚ wie hom so deur die bril van die Bybel in die oog kry‚ sien hom woel en werk in die wêreld – in die groot gange van die geskiedenis en die klein gebeurlikhede van elke dag; leer ken sy brutale en bloedige verminking en vernietiging van mense. Hy skuil op ’n slinkse en sinistere wyse in bewegings‚ strukture en ideologieë. Maar ons moet goed kyk om hom werklik in die oog te kry‚ want hy kamoefleer hom vernuftig in ’n goddelike gewaad‚ in kerklike kleed‚ met vroom Bybelspreuke in die mond.
Daarom waarsku NP van Wyk Louw:
Die veles meen
hulle ken my gesig‚
maar ek skuil te glansryk‚
te na aan die lig …
(“Ballade van die Bose”‚ uit Versamelde Gedigte‚ NP van Wyk Louw‚ Tafelberg/Human en Rousseau‚ Kaapstad.)
Die Bose se blus is uit!
Die Here se heerskappy is in!
Dit was trouens nog nóóit uit nie!